Infanta. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
koop die Argus byna toevallig, iets om te doen terwyl hy sy vis en skyfies uit ’n kartonboksie eet, die meeue wat soos aasvoëls op die reling langs hom vir aalmoese wag. Hy slaan die koerant op die houttafel voor hom oop. Hy lees eers die hoofberig sonder veel aandag – nog politieke onderstrominge in die Wes-Kaap, beweringe van korrupsie en die gewone ontkennings. Hy doop die skyfies in die seekossous.
En dan sien hy die kleiner storie, regs onder:
COPS CALLED ‘INCOMPETENT’ –
BABY RAPIST CASE DISMISSED
Hy lees dit. Toe hy klaar is, stoot hy die kos eenkant toe. Hy kyk uit oor die stil water van die hawe. Plesierbote, met rooigebrande toeriste op die dekke, wat in ’n ry uitvaar om teen sononder by Llandudno en Clifton hul skemerkelkies te gaan bedien. Maar hy sien dit nie. Hy sit lank só, starend en bewegingloos, sy groot hande wat die berig raam. Dan lees hy dit weer.
* * *
Daar’s ’n klop aan die studeerkamerdeur en die dominee sê: “Binne.”
Die vrou wat haar kop insteek, is in haar middeljare, haar swart hare kort teen haar kop geknip, haar neus lank en elegant. “Jammer dat ek steur. Ek het iets gemaak om te eet.”
Hulle meet mekaar met vinnige oë. Christine sien die valse selfversekerdheid, die onderdanigheid, die skraal lyf weggesteek onder die sindelike rok. ’n Besige vrou, deugdige hande wat net in die kombuis woeker. Die soort vrou wat seks het om kinders te hê, nooit vir plesier nie, ’n vrou wat stug sal wegdraai as haar man sy mond en sy tong laer as die klein, moeë borsies wil laat gly. Sy ken haar soort, maar sy wil dit nie wys nie, probeer onskadelik lyk.
Die dominee staan op, loop na sy vrou toe en neem die skinkbord by haar. “Dankie, Mamma,” sê hy.
“Plesier,” sê sy en glimlag met ’n klein mond vir Christine, die oë wat net vir die kortste van oomblikke sê: “Ek ken jou soort,” en dan is die deur saggies toe.
Afgetrokke plaas hy die skinkbord op die lessenaar – toebroodjies, hoenderboudjies, agurkies, servette.
“Hoe het julle ontmoet?” vra sy vir die predikant. Hy het gaan sit op sy stoel.
“Ek en Retha? Op universiteit. Haar kar het gaan staan. So ’n ou Mini Minor. Ek het met my fiets by haar gestop.”
“Was dit love at first sight?”
Hy lag saggies. “Vir my was dit. Sy’t ’n ou in die Weermag gehad.”
Hoekom, wil sy vra. Wat het jy in haar gesien? Wat het jou háár laat kies. Het sy na ’n ideale pastoriemoedertjie gelyk? ’n Virgin? Onbevlek. Sy sien die romanse, die korrektheid daarvan en sy weet dit sou haar, op daardie ouderdom, tot die dood toe verveel het.
“Toe vry jy haar af?” vra sy, maar stel nie meer in die antwoord belang nie. Sy herken ’n ou jaloesie in haar.
“Uiteindelik.” Hy glimlag met ’n sekere selftevredenheid. “Kry vir jou iets om te eet.”
Sy is nie honger nie. Sy neem ’n toebroodjie, sien daar is blaar-slaai en tamatie op, die brood in perfekte driehoeke gesny. Sy plaas dit op ’n bordjie, sit dit op haar skoot. Sy wil hom vra hoe hy gewag het, hoe hy die drange onderdruk het tot ná die huwelik. Masturbeer leerlingpredikante, of is dit ook sonde in hulle wêreld?
Sy wag tot hy begin eet aan ’n hoenderboudjie, die beentjie klein in sy hande. Hy sit vooroor sodat hy oor die bord eet, sy lippe blink van die vet.
“Ek het die eerste keer seks gehad toe ek vyftien was,” sê sy. “Regte seks.”
Sy wil hê hy moet stik in sy kos, maar sy kakebeen staan net vir ’n oomblik stil.
“Ek het die seun gekies. Ek het hom uitgesoek. Die slimste een in die klas. Ek kon enigeen gekry het, dit het ek geweet.”
Hy is hulpeloos met die hoender halfgeëet in sy hand, sy mond vol vleis.
“Hoe meer my pa gebid het oor die duiwels in my, hoe meer wou ek dié duiwels sien. Elke aand. Elke aand moes ons in die lounge gaan sit en dan het hy die Bybel gelees en lank gebid en vir die Here gevra dat Hy die Bose uit Christine moet uitdryf. Die sondes van die vlees. Die versoekinge. Terwyl ons sit en hande vashou en hy sweet en praat dat die vensters bewe en die hare in my nek regop staan, hoe meer het ek gewonder wátter duiwels? Hoe lýk hulle? Wat dóén hulle? Hoe sal dit voel as hulle uitkom? Hoekom focus hy só op my? Is dit iets wat ek nie kan help nie? Ek het eers nie ’n clue gehad nie. Maar toe begin die seuns by die skool vir my kyk. Vir my lyf.”
Sy wil nie meer die bordjie op haar skoot hê nie. Sy plak dit op die lessenaar neer, vou haar hande onder haar borste. Sy moet bedaar, sy het hom nodig, perfekte vrou en al.
Haar pa het haar elke oggend geïnspekteer, soos een van sy troepe. Hy het haar nie by die deur laat uitgaan voor hy nie die lengte van haar rok goedgekeur het nie. Soms het hy haar teruggestuur om haar hare vas te maak, of om die byna onsigbare maskara te gaan afwas, sodat sy geleer het om ’n bietjie vroeër te loop en in die spieël van die skooltoilette haar grimering te gaan aansit. Want sy wou nie die pas ontdekte aandag van die seuns verbeur nie. Dit was ’n eienaardige ding. Op dertien was sy maar net nóg een van die massa meisies, plat van bors, vaal en giggelrig. En toe begin alles groei – borste, heupe, bene, lippe, ’n metamorfose wat haar pa hondsdol gemaak het en ’n vreemde invloed op al die ander mans om haar gehad het: matriekseuns het belangstellend begin groet, onderwysers het by haar skoolbank begin talm, standerdsessies het skelm geloer en agter bakhande vir mekaar gefluister, en eindelik het sy gesnap. Dit was die tyd toe haar ma begin werk het en Christine deel van ’n groep geword het wat eers smiddae na ’n ouerlose huis gegaan het om te rook en soms te drink. En Colin Engelbrecht van agter ’n Chesterfield se blou dampe vir haar gesê het sy het die sexyste lyf in die skool, dit word nou amptelik aanvaar. En of sy bereid sal wees om haar borste vir hom te wys, net een keer, hy sal enigiets daarvoor doen.
Die ander meisies in die vertrek het hom met kussings gegooi en op hom gegil dat hy ’n vark is. Sy het opgestaan, haar hemp oopgeknoop en haar bra losgeknip en haar tiete vir die drie seuns ontbloot – sy het daar gestaan met haar groot tepels en sy het vir die eerste keer in haar lewe die mag gevoel, die beswyming in hul oë gesien, die oopmond-hangkakebeen-swakheid van wellus. Hoe anders was dit nie as haar pa se verskriklike afkeuring nie.
Dis hoe sy die duiwels leer ken het.
Daarna was niks weer dieselfde nie. Die wys van haar borste is oorvertel, het sy later besef, want die toonhoogte van belangstelling het toegeneem, die aard van hul toenadering het verander. Met dié daad het sy die moontlikheid van wildheid geskep, die moontlikheid van ’n los geluk. En sy het dit begin benut. Dit het ’n wapen geword, ’n skans en ’n spel. Dié van wie sy gehou het, is soms beloon met toelating tot haar kamer en ’n lang, swetende vryery in die middaghitte van Upington, die voorreg om haar borste te streel en te lek terwyl sy hul gesigte met absolute konsentrasie dophou en die onmoontlik diepe behaaglikheid vertroetel – dat sý verantwoordelik is vir die genot, die jagende asem, die donderende hartklop.
Maar wanneer hul hande laer begin daal, het sy dit sag en ferm teruggebring na bo die midrif, want sy wou besluit met wie dít gebeur, en wanneer. Soos sý dit wil hê, presies soos die fantasie wanneer sy in die laataand in haar bed lê en masturbeer, stadig die duiwel met haar vingers terg tot sy hom met ’n sidderende kom uit haar uitdryf. Net om die volgende aand te voel hy is weer terug daar binne, hurkend, wagtend vir haar hand.
Dit was met die huissportbyeenkoms van haar standerdagtjaar dat sy die mooi, vrome, slim, skaam Lukas Erasmus met sy goueraambrilletjie en sy fyn hande verlei het, in die donker van die lang gras agter die busloods. Hy was die een wat te bang was om na haar te kyk, wat rooi gebloos het as sy hallo sê. Hy was sag – sy oë, sy stem, sy hart. Sy wou vir hom haar geskenk gee omdat hy nie daarvoor gevra het nie.
En sy hét.
10
“My naam is Bennie Griessel en ek is ’n alkoholis.”
“Hallo,