Infanta. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
wees nie. Dit kan mos nie reg wees nie. Daar moet mos ’n hemel wees, iewers … Hy kyk op na die blou lug en hy wonder. Was Miriam daar, tussen groen, golwende heuwels, om vir Pakamile te verwelkom? Sal daar vir die kind speelplek en maters en liefde wees? Al die rasse gelyk, in oorvloed, almal met dieselfde sin vir geregtigheid? Waters waar rus is. En God, ’n forse swart figuur, koninklik, ’n vol grys baard en wyse oë, wat elkeen in die Groot Kraal met ’n omhelsing en sagte woorde begroet, maar wat met groot pyn oor die deinende landskap van groen soetgras uitkyk na dié aarde wat stukkend is. Wat sy kop skud omdat niemand iets doen nie, omdat almal so blind is vir Sy doel. Want Hy het hulle nie só gemaak nie.
Hy loop stadig op teen die hoogte na die opstal en gaan staan weer bo.
Sy grond, so ver as wat hy kan sien.
Die besef dat hy dit nie meer wil hê nie. Die plaas het vir hom nutteloos geword. Hy het dit gekoop vóór Miriam en Pakamile. Toe was dit ’n simbool, ’n droom, ’n nuwe lewe – en nou is dit niks, ’n meulsteen, ’n herinnering aan moontlikhede wat nie meer bestaan nie. Wat help dit jy het grond, maar jy het niks?
6
In ’n tweedeverdieping-woonstel in Mouillepunt, waar jy die see kan sien as jy die hoek by die venster regkry, lê die vrou in die slaapkamer en speurder-inspekteur Bennie Griessel staan in die sitkamertjie en kyk na die foto’s op die klavier wanneer die ou van Forensies en die toneelfotograaf inkom.
Forensies sê: “Jissis, Bennie, jy lyk kak,” en hy antwoord: “Flattery wil get you nowhere.”
“Wat het ons?”
“Vrou in haar veertigs. Verwurg met die ketelkoord. Geen geforseerde toegang nie.”
“Dit klink bekend.”
Griessel knik. “Dieselfde MO.”
“Die derde een.”
“Die derde een,” beaam Griessel.
“Fok.” Want dit beteken daar’s geen vingerafdrukke nie, die plek sal skoongevee wees.
“Maar dié een is nog nie ryp nie,” sê die fotograaf.
“Dis omdat haar char op ’n Saterdag inkom. Ons het die ander eers op die Maandag gekry.”
“So hy’s ’n bok vir ’n Vrydagaand.”
“Lyk so.”
En as hulle langs hom verbybeweeg slaapkamer toe, snuif Forensies teatraal en sê: “Maar iéts ruik kak.” Dan sê hy sagter, vertroulik: “Jy sal wil stort, Bennie.”
“Doen net jou fokken werk.”
“Ek sê maar net,” sê hy en loop slaapkamer toe. Griessel hoor hoe die knippe van hul kassies oopgaan en Forensies sê vir die fotograaf: “Dis die enigste girls wat ek deesdae kaal sien. Lyke.”
“Hulle praat minstens nie terug nie,” kom die antwoord.
’n Stort is nie wat Griessel nodig het nie. Hy wil drank hê. Waarheen gaan hy? Waar slaap hy vanaand? Waar sal hy sy bottel bêre? Wanneer gaan hy weer sy kinders sien? Hoe gaan hy konsentreer op dié ding? Daar is ’n drankwinkel in Seepunt wat oor ’n uur oopmaak.
Ses maande om te kies tussen ons en die drank.
Hoe het sy gedink gaan hy dit regkry? Deur hom uit te gooi? Deur nóg druk op hom te sit? Deur hom te verwerp?
As jy kan droog bly, kan jy terugkom, maar dit is jou laaste kans.
Hy kan hulle nie verloor nie, maar hy kan nie droog bly nie. Hy is gefok, hy is totaal en al gefok. Want as hy húlle nie het nie, sal hy nie die drank kan los nie – verstaan sy dit nie?
Sy selfoon lui.
“Griessel.”
“Nog een, Bennie?” Senior superintendent Mat Joubert. Sy baas.
“Dis dieselfde MO,” sê hy.
“Enige goeie nuus?”
“Niks sover nie. Hy is slim, dié fokker.”
“Hou my op die hoogte.”
“Ek sal.”
“Bennie?”
“Ja, Mat.”
“Is jy okay?”
Stilte. Hy kan nie vir Joubert lieg nie – daar’s te veel geskiedenis. “Kom praat met my, Bennie.”
“Ek sal later kom praat. Laat ek eers hier klaarmaak.”
En dan besef hy Joubert weet iets. Het Anna …
Sy is ernstig, dié keer. As sy selfs vir Mat Joubert gebel het.
* * *
Hy ry met die motorfiets Alice toe, na die man wat die wapens met die hand maak. Soos hul voorvaders.
Die binnekant van die geboutjie is halfdonker en wanneer sy oë gewoond is aan die swak lig, soek hulle tussen die assegaaie deur wat in blikke gebondel is, steel na onder, blink lemme na bo.
“Wat maak jy met alles?”
“Dit is vir die mense wat nog tradisie het,” sê die grysaard, sy hande besig om ’n steel uit ’n lang loot te vorm. Die skuurpapier rits ritmies op en af, op en af.
“Tradisie,” eggo hy.
“Maar hulle word minder. Al hoe minder.”
“Waarom maak jy die langstele ook?”
“Dit is tog deel van ons geskiedenis.”
Hy draai om die bondel met die korter hewwe. Sy vinger streel oor die lemme – hy soek na ’n spesifieke vorm, ’n sekere balans. Hy trek een uit, toets dit, sit dit terug, neem ’n ander.
“Wat wil jy met ’n assegaai maak?” vra die man.
Hy antwoord nie dadelik nie, want sy vingers het die regte een gevind. Dit lê met gemak in sy palm.
“Ek gaan jag,” sê hy. Wanneer hy opkyk, is daar ’n groot tevredenheid in die gryskop se oë.
* * *
“Toe ek nege geword het, het my ma my ’n stel plate vir my verjaardag gegee. So ’n kassie met tien seven singles en ’n boekie met prentjies van prinsesse en goeie feë. Daar was stories op en elke storie het meer as een einde gehad – drie of vier. Ek weet nie presies hoe dit gewerk het nie, maar elke keer as jy daarna luister, het die naald na een van die eindes toe gespring. ’n Vrou het die stories vertel. In Engels. En as dit na die unhappy ending gespring het, het ek die naald teruggesit en weer geluister, tot dit reg eindig.”
En dan weet sy nie mooi waarom sy dit opgediep het nie en die dominee sê: “Maar die lewe werk nie so nie?”
“Nee,” sê sy, “die lewe werk nie so nie.”
Hy roer aan sy tee. Sy sit met haar koppie op haar skoot, al twee haar voete nou op die vloer en daar is iets wonderliks aan die toneel wat sy sien, asof sy ’n buitestander is: die vrou en die dominee in sy studeerkamer, besig om by die lamplig uit fyn wit porselein te drink. So normaal. Sy kon ’n dorpenaar gewees het, onskuldig, soekend na raad oor haar lewe. Dalk oor ’n verhouding? Met ’n jong boer? En hy kyk vaderlik na haar en sy weet: Hy hou van my, hy dink ek is okay.
“My pa was in die Weermag,” sê sy.
Hy neem ’n klein slukkie van sy tee om die temperatuur te toets.
“Hy was ’n offisier. Ek is in Upington gebore, hy was toe ’n kaptein. My ma was eers ’n huisvrou. Later het sy by prokureurs gewerk. Partykeer was hy lank weg grens toe, maar ek kan dit net vaagweg onthou, want dit was toe ek klein was. Ek is die oudste, my broer is twee jaar ná my gebore. Gerhard. Christine en Gerhard van Rooyen, die kinders van kaptein Rooies en mevrou Martie van Rooyen van Upington. Die ‘Rooies’ was net oor sy van, dit was ’n Weermag-ding, elke tweede