As die wiel draai. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
vergifnis dat Charlene die paar note op die tafel neergooi en haar arms om haar pa se geboë skouers slaan.
“O, Paps! O, Pappa! Dit maak nie saak nie. Dis alles reg. Ons sal regkom.”
“Nee, my kind. Ons sal nie regkom nie. Ek het jou weer in die steek gelaat. Jy het ’n slegte pa, my kind. Hoekom laat jy my nie liewer staan en probeer vir jou ’n toekoms uitwerk nie? Ek sal wel regkom. Daar is inrigtings wat na mense soos ek omsien.”
’n Harde snik van sy dogter maak Petrus Killian stil. Binne-in Charlene is dit rou en stukkend. Om haar eens so trotse pa te hoor praat van sulke dinge is amper te veel vir haar om te dra. Sy klou krampagtig aan hom asof sy hom deur haar fisieke aanraking wil beskerm teen sy leed wat ook haar leed is. Toe sy bedaar, streel sy bewend oor sy grys hare.
“Ek wil nooit weer hoor dat Paps sulke goed praat nie. Ons het net mekaar. Ons sal saamstaan. Ons sal anderkant uitkom. Ons sal weer vir Paps ’n werkie kry.”
Maar haar pa skud sy kop.
“Wat vandag gebeur het, sal maar weer gebeur, my kind. Ek kan dit net nie help dat my gedagtes so wegdwaal nie, Karlientjie. As ek my kom kry, is ek terug op Ebenhaeser …”
Hy hoef dit nie vir haar te vertel nie. Sy weet dit. Sy weet dat haar pa die grootste deel van die dag in die gees op Ebenhaeser is. Sy weet hoe hy terughunker na sy geboortegrond, hoe die erfenis van sy vadere vir hom eers werklik dierbaar geraak het toe hy dit verloor het. Met nuwe insig besef sy dat haar pa weer mens sal raak as hy kan teruggaan plaas toe.
En hy kán terugkeer. Daar ontstaan ’n tweestryd in Charlene. Het sy die reg om haar pa in die duister te hou oor hierdie aanbod? Durf sy haar persoonlike gevoelens in die pad laat staan van haar pa se geluk? Wie is sy om te oordeel wat goed en reg vir hom sal wees? Sy weet dat hy wat sal gee om terug te wees op Ebenhaeser. Miskien sal hy hierdie aanbod in ’n heeltemal ander lig as sy sien, nie as ’n belediging of nog ’n knou vir sy trots nie. Miskien sal hy, as hy daarvan moet kennis dra, met albei hande daarna gryp.
“Pappa, Pa kan terugkeer na Ebenhaeser as Pa so voel …”
Dis of daar ’n elektriese skok deur hom gaan.
Charlene vervolg stil, haar oë op sy verstarde gesig gerig: “Meneer Du Preez het my vanmiddag laat roep. Die eienaar van Ebenhaeser het gesê ons kan terugkeer daarheen as Paps bereid is om plaasbestuurder te wees.”
Sy hou haar pa se wisselende gesigsuitdrukkings angstig dop en voordat hy nog praat, weet sy reeds wat sy antwoord gaan wees.
“O, Karlientjie, wat vertel jy my? Kan ek regtig terugkeer na my plaas?”
Desperaat probeer sy keer.
“Pappa, Pappa kan terugkeer na Ebenhaeser, nie na Pa se plaas nie. Onthou, dit behoort nou aan iemand anders. As Pappa terugkeer, keer Pa terug as ’n werknemer, ’n … voorman.” Haar oë versag. “Dink Paps nie dis beter om liewer nie te gaan nie? Dit gaan nie maklik wees om as voorman terug te gaan nie.”
Maar dis of daar van die ou vurigheid van lank gelede in Petrus Killian terugvloei. Hy is so bewoë dat hy amper sukkel om die woorde gelykmatig uit te kry. “Ek gee nie om nie, Charlene. As dit beteken dat ek moet voorman word om na my erfgrond te kan terugkeer, dan aanvaar ek dit met ’n dankbare hart.” Die trane blink onbeskaamd op sy wange. “My kind, al behoort die plaas op papier aan ’n ander man, sal Ebenhaeser my erfgrond bly. Dit is my pa en oupa, en hul pa’s en oupas se bloed en sweet wat daar staan. Niks sal dit ooit kan verander nie, allermins ’n paar geskrewe woorde op ’n stuk papier. Wat maak dit saak of my sweet as voorman of eienaar daar val? Hierdie afgelope twee jaar het alle valse trots van my gestroop. Daarom is daar niks wat my terughou om hierdie aanbod te aanvaar nie.”
Daar is ’n skewe glimlaggie om sy lippe en dis of sy oë haar om verskoning vra toe hy sag byvoeg: “Daar was ’n ou gesegde onder ons voorgeslagte wat ’n mens vandag nie meer so baie hoor nie. Arbeid adel. Miskien sal ek ’n deeltjie van my verlore adel terugwin as ek nou teruggaan en op Ebenhaeser gaan werk. Ek sal nie van jou verwag om saam te gaan nie, my kind. Ek was lank genoeg ’n meulsteen om jou nek. Jy het al swaar genoeg deur my gehad. Jy kan môre die prokureur bel en hom sê ek aanvaar die aanbod met dank.”
Toe Charlene in haar pa se oë kyk, weet sy dat daar niks meer is om te sê nie.
Met ’n emosielose stem stel Charlene die prokureur die volgende dag per telefoon in kennis dat haar pa besluit het om die aanbod te aanvaar.
“Ek is baie bly om dit te hoor, juffrou. Hoe gou sal julle gereed wees om te vertrek?”
“My pa kan enige tyd vertrek, meneer. Ek gaan nie saam nie.”
“E … juffrou, ja, dis ’n bietjie moeilik. Jy is gister so vinnig hier uit dat ek nie al die besonderhede met jou kon bespreek nie. Ek wonder of jy nie weer na my kantoor toe kan kom nie, dan kan ons die saak volledig afhandel.” Meneer Du Preez se stem klink huiwerig. Charlene frons.
“Ek weet nie wat daar nog te bespreke kan wees nie, meneer. Die aanbod is aan my pa gedoen en hy het dit aanvaar. As daar dan nog iets is, moet u dit liewer verder met my pa bespreek.”
“Ek sou liewer die saak eers met jou wou bespreek, juffrou,” dring die prokureur egter aan, sodat Charlene verplig is om eindelik in te willig, hoewel duidelik teen haar sin.
Meneer Du Preez lyk bekommerd toe Charlene ’n ruk later weer voor sy lessenaar gaan sit.
“Die huidige eienaar van die plaas het spesifiek gemeld dat indien jou pa sy aanbod aanvaar, jy hom moet vergesel,” deel hy haar versigtig mee.
“Maar dis … belaglik! Hoekom dring hy daarop aan dat ek ook moet saamkom?” vra sy, haar stem vol agterdog.
“Dis glo noodsaaklik dat daar ’n vrou op die plaas moet wees. Daar is byvoorbeeld ’n groot hoenderboerdery waarvoor hy nie tyd het nie en wat aan jou sorg opgedra sal word.”
Haar ma het ook altyd ’n groot hoenderboerdery op die plaas aan die gang gehad. Sy was altyd so trots daarop en nou moet sy, Petronella Killian se dogter, terugkeer daarheen om na ’n ander man se hoenders om te sien! Nee! ’n Honderd maal nee!
“U kan hom vertel dat ek beslis weier om my pa te vergesel.”
Haar hele houding is so beslis en uitdagend dat die prokureur se moed sak.
“Ek is bevrees, juffrou Killian, dat jou pa dan nie die aanbod kan aanvaar nie. Ek is jammer, juffrou,” kug hy ongemaklik onder Charlene se strak blik. “Die ding is, meneer De Beer is ’n ongetroude jong man en hy voel dis noodsaaklik dat daar ’n vrou op die plaas moet kom. As jou pa graag plaas toe wil gaan, sal jy verplig wees om saam te gaan.”
“U sê sy van is De Beer? Wat is sy voorletters?” vra Charlene skerp.
“Ek dink sy handtekening is J. de Beer. Hoekom? Ken jy hom miskien?”
“Nee. Die van het net ’n oomblik baie bekend geklink,” antwoord sy ontwykend en kyk vinnig op haar hande af. Dis verspot van haar om die kaalvoetseun van hul eertydse voorman te verbind met die naam van die huidige eienaar van Ebenhaeser. Waar sal die brandarm Henk de Beer geld vandaan gekry het om ’n plaas soos Ebenhaeser te koop?
“Wel, juffrou?” dring die prokureur se stem tot haar deur.
As sy net van hierdie vereiste geweet het voordat sy haar pa van die aanbod vertel het! Maar nou is dit te laat. Hoe sal sy dit oor haar hart kan kry om terug te gaan huis toe en hom te sê dat hy nie meer plaas toe kan gaan nie? Sy kan in haar verbeelding sien hoe die nuwe hoop, die nuwe moed, die nuwe lus om te lewe en te stry uit hom wegsypel. En dit net omdat sy te trots is om as bywoner terug te keer na haar geboortegrond. Haar pa het gesê dat die afgelope twee jaar hom gestroop het van alle valse trots. Blykbaar het dit haar nie van alle trots gestroop nie. Miskien … miskien is dit ook vir haar noodsaaklik om terug te keer na Ebenhaeser. Sy sluit haar oë. Wat sal dit ook help om teen die prikkels te skop? Op die ou end sal sy tog maar ingee, weet sy.
“Dan sal ek seker maar moet saamgaan, meneer.”