Ikarus. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
hoekom ek drink?”
“Dis ’n stukkie van die legkaart, kaptein. Die gewilde interpretasie van depressie, in ’n neutedop natuurlik, was dat mense by wie dit manifesteer, geen sinvolle toekoms kan sien nie. Dit is die depressie van selfbelang en kommer oor status. Maar die meer onlangse navorsing wys daar is ook ’n ander soort depressie – dié waar mense verskriklik skuldig voel en ’n baie hoë mate van empatie het vir die noodlot van ander. Hul altruïsme is só sterk dat hulle patogeniese gewaarwordings ervaar, waarin hulle hulself as ’n gevaar vir die mense naby aan hulself beskou. Ek vermoed dit is waarop ons moet fokus.”
Griessel het nie daarvan gehou nie. Depressielyers is mense wat soos zombies rondloop, kop omlaag, en diep en donker dinge dink, soos om hulle polse te sny. En dis nie iets wat hy al oorweeg het nie. Toe verwerp hy die twak wat sy praat, maar uit ordentlikheid het hy sy kop net ligweg geskud.
Toe sê sy met daardie paaiende stem: “Alles wat jy my vertel het, dui daarop. Nie net die voorval waarin jou kolonel geskiet is nie. Elke keer as jy op ’n moordtoneel kom, is daar ’n gevoel van aandadigheid, dat jy dit moes voorkom het. Dit is nie uitsonderlik in jou beroep nie. Maar die groot faktor is die feit dat jy begin verantwoordelik voel vir al jou geliefdes, jy ontwikkel ’n onnatuurlike drang om hulle te beskerm teen die euwels wat jy op ’n daaglikse basis ervaar. Op ’n sekere vlak besef jy dit is onmoontlik. Ons moet gaan verken of dit nie die depressie en drinkgewoontes veroorsaak nie.”
Gaan verken. Fok. Asof hy ’n wildernis is.
Hy sit by die kroeg en onthou. En hy drink, in die hoop dat hy sal vergeet. Want Vollie Vis se demone het in Edgemead in sy kop ingevaar.
5
Advokaat Susan Peires se kantoor in Hugenote Kamers het ’n perfekte uitsig oor die groen uitgestrektheid van die Kompanjiestuin. Dit is op dié snikwarm dag voor Kersfees ’n drukgang van besoekers.
Soms, wanneer sy ’n saak moet oordink, sal sy die blindings ooptrek en uitkyk. Dit help haar om haar gedagtes te orden. Maar nou is haar volle aandag by die jong wynboer Francois du Toit.
Sy sit oorkant hom aan die konferensietafel. Sy luister na elke woord wat hy sê, sy notuleer in haar kop sy stemtoon, spraakgewoontes en -ritmes. Hy sukkel geweldig om aan die praat te kom, maar dit verwag sy. Sy vergelyk soms haar werk met dié van ’n geneesheer in die ongevalle-afdeling: As hulle hiér inkom, is die trauma ’n gegewe.
Sy weeg Du Toit se liggaamstaal, die gesigsuitdrukkings, die oë wat nou na haar kyk, dan weer starend na iets teen die muur.
Sy weet sy moet versigtig interpreteer.
Want Peires het as jong advokaat ’n waardevolle professionele les geleer. Dit was ’n pro Deo-saak, in die laaste, onstuimige jare van apartheid. ’n Wit munisipale dieselwerktuigkundige wat tereg gestaan het op aanklag van moord op sy vrou. Die omstandigheidsgetuienis was sterk – hy is ’n dag voor die moord deur ’n kennis vertel van sy eggenoot se ontrouheid, daar was bure wat die luide konfrontasie-rusie gehoor het in die engte van Goodwood se opmekaar-huisies. Hy het vingernaelmerke op sy wang gehad, en ’n opgeskorte vonnis vir ’n sewe jaar oue aanrandingsaak. En toe sy hom die eerste keer sien in die ondervragingskamer van die polisiestasie, het Peires geweet hy is skuldig. Want die man se gesig was ru, primitief. Onder swaar wenkbroue het sy oë haar blik leuenagtig ontwyk. Hy was lank en sterk, met voorhamer-hande. En sy manier was stug, hy was verbaal lomp en vaag. Peires het saam met die ondersoekende speurders geglo dat sy alibi – hy’t volgehou hy was by sy ma se huis in Parow gedurende die moordnag – ’n sameswering tussen moeder en seun was.
Sy het die ma gaan ondervra. Sy was ’n senuagtige kettingroker wat geen goeie indruk op die hof sou maak nie. Eers toe Peires vir die vrou sê daar is ’n baie goeie kans dat haar seun lewenslank tronk toe sal gaan, het sy huilend en bang beken: Hulle was nie alleen in haar huis nie. Haar minnaar, ’n offisier van die Suid-Afrikaanse Weermag se Kaapse Kleurlingkorps, kan ook die alibi bevestig.
En hy het, ’n waardige, welsprekende bruin man met ’n sagte, besliste stem.
Toe die saak teen die werktuigkundige teruggetrek is en die polisie se aandag na die slagoffer se getroude skelmpie verskuif het, het sy haar kliënt gevra of hy só skaam was oor die ras van sy ma se minnaar dat hy bereid was om tronk toe te gaan.
“Nee,” het hy geantwoord.
“Wou jy jou ma beskerm? Was jy bang die mense praat?”
Hy het sy kop geskud.
“Nou waarom het jy my dan nie gesê nie?”
“Want jy het so ’n kwaai gesig.”
Dit het Susan Peires ontstel. Dat sy, wat haarself as professioneel maar deernisvol gesien het, as ’n “kwaai vrou” ervaar kan word. Dat hierdie oënskynlik harde, groot man vir haar bang kon wees oor hoe sy lyk. Dat die wederkerende invloed van voorkoms hulle al twee se persepsies van karakter so kon verwring het.
Sy het dit alles lank oordink. Sy het te veel tyd voor die spieël deurgebring, en stelselmatig en onwillig vrede gemaak met haar spaarsame gelaatstrekke wat klaarblyklik, kop in een mus met haar beroep, die rede was waarom sy nog nie ernstige belangstelling van die manlike geslag geniet het nie. Sy het haar voorkoms met grimering en klere en ’n rustiger aanslag probeer versag.
Sy het gefilosofeer oor die mens se geneigdheid tot kategorisering en etikettering op grond van voorkoms, sy het gewonder en gespekuleer oor die invloed van gelaatstrekke op die vorming van persoonlikheid, maar bowenal het sy haar voorgeneem om nooit weer dieselfde fout te maak nie.
Daarom laat sy haar nie beïnvloed deur die feit dat Francois du Toit ’n aantreklike, bruingebrande, welsprekende man is nie. Sy luister en sy neem waar.
Sy wil haar uitsprake oor eerlikheid of bedrog heeltemal voorbehou.
6
Woensdag 17 Desember. Agt dae voor Kersfees.
Om 17:03 skakel die SAPD-stasiebevelvoerder van Table View-stasie die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke se kantoor in Bellville en vra om met die bevelvoerder te praat.
“Brigadier Manie is nie op die oomblik op kantoor nie, kolonel,” sê sy sekretaresse.
Die stasiebevelvoerder sug, want dit is daardie tyd van die jaar. Kerspartytjies en Kersinkopies en Kersetes vir personeel … “Wie is nou hoof by Geweldsmisdade?”
“Majoor Mbali Kaleni, kolonel.”
Van haar het hy al baie gehoor. Hy onderdruk nog ’n sug. “Kan ek met haar praat?”
“Hou aan …”
* * *
Bennie Griessel is in ’n kokon. Hy is onbewus van die mense agter sy rug, die kroeg wat stelselmatig voller begin word in die laatmiddag. Hy sien nie die sokkerwedstryde op die groot platskerm-TV’s nie, hoor nie die geroesemoes van stemme van mededrinkers wat in groepies gesels en lag nie.
Dis net hy en die sesde dubbel Jack, en die dapperheid en wysheid van dronkenskap.
Hy laat sy kop hang, hy probeer sy dansende gedagtes orden.
Hy het daar by Vaughn Cupido voor die huis in Edgemead gestaan en die gewaarwording het hom stadig in die hart gesteek, met die mes van insig: Die shrink was reg.
Adjudant Tertius van Vollenhoven het die verskriklikste, ondenkbaarste, hartverskeurendste daad gepleeg omdat hy sy geliefdes wou beskerm teen die hond van onheil wat met sy kwylende bek en sy bloedbelope oë deur die wêreld loop. Want niemand kan daardie hond keer nie, sy honger word net groter.
Die shrink was reg – hy wat Bennie Griessel is, suip omdat dit die hond van sy deur en sy geliefdes af weghou. Die drank is sy skans, die muur wat keer dat hy nie soos Vollie …
Hy is nog nie dronk genoeg om na daardie plekke toe te gaan nie.
Maar hy sal daar kom. Vanaand nog.
Twee das-en-baadjie-mans in hul