Ena Murray Keur 5. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
glimlag nou sy lui, skaars glimlag.
“Ek bedoel maar net jou Magriet se voetjie sal moet wyk wanneer ek my groot voet neersit. Nou sê ek eers goeienag. Ek het net ’n bietjie vars lug kom skep. Jooste, soos jy weet, het hierdie dametjie môreoggend ’n afspraak met my. Moenie dat sy te laat in die bed kom nie. Daar wag ’n vermoeiende dag op haar.”
Toe Thero heelwat later by Magriet se kamer inloer, maak Magriet asof sy slaap. Sy het nie eens die moeite gedoen om aandete te gaan eet nie. Thero draai saggies om en gaan na haar eie kamer, maar lank nadat die lig afgeskakel is, lê Magriet nog helder wakker in die kamer langsaan. Sy weet self nie hoekom die man haar so ontstel nie. Sy het tog niks met hom te doen nie en wat hy van haar dink, behoort aan haar geen bloue duit verskil te maak nie. Die onregverdigheid van sy aantygings steek haar egter dwars in die krop.
Maar omdat hy hier op Abendruhe koning kraai, verbeel hy hom dat hy net kan sê wat hy wil en kan veroordeel soos hy lus het. Almal hier beskou hom mos as ’n soort godjie wat nooit verkeerd kan hê nie. Almal is siek van bewondering en heldeverering vir hom. Al die vroumense hier op Abendruhe staar hom aan asof hy die eerste Adam is.
Wel, wat haar betref, kan hy na die maan vlieg. Hy sal gou besef daar is ten minste één lid van die vroulike geslag wat nie swak raak van bewondering wanneer hy na haar kyk nie. “Na die maan met hom!” herhaal sy ’n tweede keer en draai beslis om om te slaap. Môre – of so gou moontlik – keer sy terug na haar ou lewe …
Voordat sy aan die slaap raak, dink sy nog half deur slaapnewels: Hy behoort ’n baard te hê. Alle kluisenaars het baarde.
Die volgende oggend is Magriet verbaas dat Thero nie weer die storie van die wegganery ophaal nie. Dis eers net voor haar vertrek vir haar tienuur-afspraak met dokter Fraser dat sy weer daarna verwys.
“Ons praat later oor jou besluit om nie langer te bly nie, Magriet. Laat ons maar eers hierdie ondersoek agter die rug kry. Miskien vind hulle dit glad nie eens nodig dat ek behandeling moet ontvang nie en dan was al die bohaai oor niks.”
Magriet knik instemmend. Sy wil haar niggie nie graag vanoggend onnodig ontstel nie. Thero lyk bleek en moeg en daar is ’n gespanne trek om haar mond en oë. Sy kry haar skielik innig jammer, slaan haar arms spontaan om haar skouers en gee haar ’n drukkie.
“Ek sal aan jou dink, Thero. Sterkte, hoor!”
Thero lag, maar haar senuweeagtigheid is duidelik waarneembaar.
“Hemel! Jy klink asof ek op pad is graf toe!”
“Thero! Moenie sulke ydel goed sê nie!”
Die blonde hare word weer op die ou traak-my-nieagtige manier na agter gegooi.
“Ek makeer niks nie – altans nie veel nie.” Sy lag hard en Magriet skrik. Thero klink paniekerig. “Dit sal nogal jammer wees as hulle niks ernstigs vind nie en ek nie vir behandeling hoef te bly nie. Ek sou werklik graag nader wou kennis maak met die groot en, ag, so afsydige dokter Fraser!”
Magriet skud net haar kop. Sy hou niks daarvan as Thero in so ’n onverskillige bui is nie – te meer omdat sy ’n sterk vermoede het dat dit maar net ’n skans is waaragter haar niggie skuil om nie haar ware gevoelens te laat blyk nie. Sy besef dat Thero werklik bang is vir wat op haar wag. Met ’n onverskillige swaai van die hand verdwyn Thero in die rigting van die hoofgebou.
Magriet is dwalende gedurende die lang ure wat volg. Teen etenstyd is daar nog geen taal of tyding van Thero nie en Magriet drink net ’n koppie tee. Dan begin sy maar weer in die tuin ronddwaal, maar sy sorg dat sy nie te ver van die hoofgebou beweeg nie. Teen vieruur die middag voel dit vir haar asof die spanning breekpunt in haar wil bereik. Wat maak hulle dan so lank met Thero?
Dis eers teen vyfuur se kant dat dokter Fraser skielik sy verskyning by die hoofingang maak. Die eerste keer sedert hul kennismaking is Magriet bly om hom te sien. Sy stap hom vinnig tegemoet, maar toe sy voor hom staan, het sy skielik geen woorde nie.
“Kom ons gaan stap.”
Sy bevel is kortaf, bot, en haar hart sak in haar skoene terwyl sy in ’n dwaal gehoorsaam. Sy kyk angstig op in sy gesig, maar dit is onleesbaar. Dan kan sy dit nie langer uithou nie en vra bekommerd: “Wat skort, dokter? Is dit … baie ernstig?”
“Ek kan nie met sekerheid sê voordat ek al die toetse se uitslae ontvang het nie. Party sal ek eers môre kry.”
“Maar … maar wat is jou bevinding tot dusver?”
“Dat ek lanklaas ’n mens teëgekom het wat so doelbewus daarop uit was om selfmoord te pleeg as jou niggie.”
Magriet verbleek.
“Wat … wat bedoel jy?”
“Haar gesondheid is tot in die ergste graad verwaarloos, haar lewensomstandighede in ag geneem. As ’n mens daaraan dink dat sy uit ’n rykmanshuis kom waar geld nie ’n kwessie is om die allerbeste kos te koop nie, is dit ongelooflik om te sien hoe ondervoed haar gestel is en hoe verswak sy is weens ’n tekort aan die regte voedingstowwe. Met ander woorde, juffrou Marais, jou niggie is besig om onder jou en die res van die familie se oë te sterf van honger – liggaamlike honger en ook sielshonger!” kom dit afgemete.
Sy woorde tref haar soos ’n hou tussen die oë. Die beskuldiging is so duidelik in sy woorde dat sy dit onmoontlik kan ignoreer. Maar sy kan hom net aanstaar.
Hy gaan in die kil, veroordelende stemtoon voort: “Dis nommer een. Ondervoeding. Blykbaar verkeer sy nou al maande, of selfs jare, onder die indruk dat talle drankies en die soutigheid wat gewoonlik daarby bedien word, voldoende is om ’n liggaam sterk en gesond te hou. Dan, nommer twee, is sy in ’n staat van volslae uitputting. Elke vesel in haar liggaam is tot die uiterste ontdaan van energie. Sy het geen reserwekrag nie. As sy nou, sê byvoorbeeld, ’n ernstige verkoue moet opdoen, het sy geen kans nie. Met ’n roekelose plesiermal lewe het sy haar liggaam so afgetakel dat ek dit as niks anders as selfmoord kan bestempel nie. Veral haar spysverteringstelsel is baie verswak.”
Hy kom tot stilstand en die groen oë skiet nou vuurvonke op haar. Sy hande is in vuiste saamgeklem.
“Sy is ’n ryp teelaarde vir al wat kiem en ellende is. Trouens, sy kan kies watter soort siekte sy wil hê! Sy is presies reg vir tuberkulose met haar verswakte gestel en nikotienbelaaide longe!”
In sy erns gryp hy Magriet pynlik aan die skouers vas. “Watter soort ouers is dit wat toelaat dat hul enigste kind onder hul oë in so ’n toestand verval en dit in ’n huis waar geld soos water vloei? Watse soort familie het sy wat nie eens ’n oog knip terwyl sy voor hul oë selfmoord pleeg nie? Julle is gisteroggend van die huis af weg, juffrou Marais. Noem vir my op wat sy geëet het tot vanoggend toe sy na my toe moes kom.”
“Ek … ek is nie seker nie,” erken Magriet stamelend en konsentreer hard. “Seker maar dieselfde as ek …”
“Jy weet niks nie, juffrou Marais. Sal ek jou vertel, hoewel jy by haar was gedurende maaltye en nie ek nie? Niks. Totaal niks, om die eenvoudige rede dat die oomblik dat sy vaste kos in haar maag kry, sy dit dadelik weer sal opbring omdat haar verswakte spysverteringstelsel dit nie kan verwerk nie. Weet jy dat sy weke laas ’n ordentlike maaltyd binnegehou het – ’n maaltyd wat haar kon voed? Nee, jy weet dit nie en jy is haar niggie en haar enigste vriendin, soos ek verstaan.”
Magriet het geen woorde om haarself te verdedig nie. Sy staan net spierwit en verslae voor hierdie man se reguit beskuldigings. Dis asof daar skielik ’n rolprent voor haar oë afspeel. Sy dink terug aan die ete in die motel. Thero het haar kos gesit en deurmekaarkrap terwyl sy die hele tyd met die mense by die tafels om hulle gesit en ginnegaap het. Sy het nooit opgemerk dat Thero in der waarheid niks eet nie. Gisteraand het sy net ’n koppie tee gedrink, en vanoggend dieselfde. Magriet het maar gedink dis as gevolg van die spanning oor die ondersoek wat voorlê dat Thero geen eetlus het nie. En nou moet sy hoor dat Thero weke laas werklik geëet het. Trouens, sy moet hoor dat Thero nie meer kán eet nie, al wil sy ook!
’n Siddering trek deur haar. Liewe Heer, was hulle dan almal blind?
Dokter