Ena Murray Keur 5. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
oproepe van Magriet waarin sy hulle van Thero se herstel op die hoogte hou.
Twee weke gaan so verby en Magriet is weer, soos gewoonlik, langs Thero se bed getrou op haar pos om die lang vervelende ure vir haar niggie te probeer veraangenaam, toe Ron ook binnekom.
“Ons pasiënt raak elke dag mooier, nè, Magriet?” sê hy opgewek terwyl sy blik teer op die jong meisie in die bed rus.
Magriet speel saam hoewel sy onrustig voel. Die arme Ron. Hy is smoorverlief op Thero – en sy kan hom dit nie kwalik neem nie. Soos Thero daar bleek en klein in die wit hospitaalbed lê, besit sy ’n eteriese skoonheid wat geen man van vlees en bloed sal kan weerstaan nie. Soos Thero nou daar uitsien, sal sy die beskermingsdrang van die gehardste vrouehater opwek – en Ron is ’n doodnormale jong man, bitter jonk en onervare.
Hoewel Thero nog altyd vriendelik teenoor hom was, weet Magriet dat sy die jong man se openlike verliefdheid net amusant vind. Magriet is seker daarvan dat Ron nog gaan seerkry, maar daar is niks wat sy kan doen om dit te voorkom nie. Miskien moet sy dit tog waag om op ’n taktvolle manier dit vir hom aan die verstand te probeer bring dat hy nie te veel van Thero se kant moet verwag nie. Sy beskou sy geselskap net as ’n aangename tydverdryf solank sy hier in die hospitaalkamer afgesonder is. As sy hom onder gewone omstandighede moes ontmoet het, sou sy nie twee keer na hom gekyk het nie.
’n Oomblik later verskyn dokter Fraser ook skielik langs die bed. Magriet hou sy gesig onwillekeurig dop. Daar is egter niks op sy gelaat wat haar vertel dat hy meer as net professionele belangstelling vir sy pasiënt het nie. Wat Magriet wel opmerk, is dat Thero skielik alle tekens van verveeldheid verloor en opmerklik ophelder. Dit laat Magriet se gevoel van kommer verdiep.
Hulle drie stap ’n rukkie later saam die kamer uit. In die gang draai Ron na sy senior.
“Ek hou môreaand ’n partytjie in my woonstel. As jy lus het om te kom, is jy baie welkom, dokter.”
“Dankie, maar dokter Pienaar kom môreoggend assisteer. Indien hy lus voel, mag ek hom seker saambring, of hoe?”
“Maar natuurlik.” Hy draai na Magriet. “Die partytjie is eintlik om jou die geleentheid te gee om ons personeel beter te leer ken, Magriet. Dit sal gaaf wees as dokter Pienaar ook hier gaan wees. Dan kan jy sommer met die derde van ons driemanskap kennis maak. Jy sal van hom hou.”
“Ja. Van hóm sal sy hou,” laat dokter Fraser hoor en Magriet kyk vinnig na hom.
“Hoekom is jy so seker dat ek juis van hóm sal hou?” vra sy reguit.
Hy kyk op haar af, die wenkbroue weer opgetrek.
“Geen diepsinnige rede nie, juffrou. Jy soek altyd dieper betekenis in alles wat ek sê, nè? Ek het dit maar net gesê omdat ek nog niemand ontmoet het wat nié van Lukas Pienaar hou nie.”
Teen haar sin voel sy hoe sy bloos. Sy trek haar skouers onbewustelik agteroor op ’n wyse wat Emile Fraser al leer ken het. Die meisietjie maak haar al weer slaggereed, dink hy geamuseerd. Tergend praat hy oor haar kop met Ron: “Snaaks dat ek altyd juffrou Marais se veginstink wakker maak!”
Ron kyk glimlaggend af op die ontstoke gesiggie tussen hulle en sê versigtig: “Het jy nog nie die rose gestuur nie? Dalk help dit!”
“Helaas, my jonge kollega! Sy het net die dorings raakgesien! Ek het baie mooi om verskoning vir hul aanwesigheid gevra, maar ek wonder of ’n kaktusplantjie nie meer gewaardeer sou word nie.”
Magriet lig haar ken en kyk hulle beurtelings uit die hoogte aan.
“As julle jul grappie ten koste van my klaar geniet het, sal ek maar goeienag sê. Terloops, Ron, praat net as daar iets is waarmee ek kan help met die partytjie.”
Maar terwyl sy wegswaai van hulle af en na haar kamer koers kry, moet sy onwillekeurig glimlag toe die aandluggie Emile Fraser se hartlike lag na haar aandra. Werklik, ’n mens weet nie hoe jy dit met dié man het nie. Jy weet nooit wat om van hom te verwag nie. Thero sal darem ook hierdie keer agterkom dat sy ’n ander soort vis as dié waaraan sy gewoond was, aan die hoek het – dit wil sê, as Emile Fraser hom laat vang. En tog, hy is ’n mens – ’n mansmens boonop. Die een of ander tyd sal hy voor haar aanslae moet swig, en dat Thero wel sulke planne in die mou voer, is vir Magriet maar te duidelik.
Sy skud haar skouers ongeduldig asof sy die kommer van haar wil afskud. Sy het tog niks met hulle uit te waai nie. Hulle is al drie grootmense wat seker sonder haar hulp of inmenging hul eie heil kan uitwerk. En as een of meer in die proses seerkry, kan sy ook niks daaraan doen nie.
Solank sy self net buite die kring staan.
Tot almal se verbasing en verrassing gee dokter Fraser sy toestemming dat Thero, al is dit net vir ’n halfuur en as toeskouer, Ron se partytjie mag bywoon. Magriet het gedink dis net sy wat weet hoe bitter verveeld Thero is en sy het al gewonder of die afsondering en gedwonge niksdoenery nie meer kwaad as goed aan haar niggie doen nie. Maar dokter Fraser moet haar rusteloosheid ook opgemerk het – daarom sy verrassende voorstel. Hoe hy dit agtergekom het, weet sy nie, want Thero is altyd stralend wanneer hy die kamer binnekom. Sy wonder of daar iets is wat sy skerp arendsblik ooit ontgaan, en of hy dus ook bewus is van die feit dat sy pasiënt meer as net die gewone belangstelling in hom koester. As hy so iets agtergekom het, laat hy niks blyk nie.
Magriet maak vroeg die aand klaar. Haar spieël vertel haar dat sy baie mooi lyk. Sy was maande laas op ’n partytjie en sy sien werklik uit na die aand. Sy besef nou eers watter neerdrukkende uitwerking die afgelope weke ook op haar gehad het – veral die lang ure in Thero se hospitaalkamer waarin sy haar bes moes doen om die tyd vir die pasiënt aangenaam te laat verbygaan.
Dan stap sy oor na die hospitaal om Thero te help om haar ook gereed te maak. Hoewel dokter Fraser beslis geweier het dat sy haar mag aantrek, dink Magriet dat Thero beswaarlik meer indruk sou kon gemaak het met ’n rok as wat sy met die spierwit vollengte-kamerjapon maak. Sy lyk meer na ’n bruid as na ’n pasiënt! Hoewel dit vooraf gereël is dat Thero in ’n rystoel na die partytjie vervoer sal word, tel Ron haar sonder meer in sy arms op toe hy hulle kom haal en dra haar na sy woonstel, ongeag die geamuseerde blikke van die personeel in die gang.
Magriet volg hulle op ’n afstand, terwyl sy met kommer die jong dokter dophou wie se gevoelens so onmiskenbaar is.
Dan is dokter Fraser ook skielik by hulle. “En wat gaan hier aan? Hoe lyk dit vir my jy loop met een van my pasiënte weg, Jooste?”
Ron raak laggend iets kwyt en dan stel Emile die middeljarige man aan sy sy voor.
“Ontmoet dokter Lukas Pienaar. Die meisie wat dokter Jooste soos ’n kosbare kleinood vashou, is Thero van Zyl. En daardie een,” en hy wink na Magriet wat onwillig nader kom, “is Magriet Marais, die …” Hy aarsel en twee paar oë ontmoet mekaar vlugtig. Magriet is seker hy wil sê “vuurvreter”, maar sy is reg vir hom. Laat hom dit net kwytraak!
“Die wat?” vra die vreemde dokter laggend.
Dokter Fraser voltooi die sin droogweg terwyl hy onskuldig vraend na Magriet se uitdagende ken kyk: “Die niggie, natuurlik.”
Magriet slaak ’n sug en draai na die vreemdeling. Daar is niks opvallends aan Lukas Pienaar nie, maar tog trek die vriendelike innemendheid wat van hom uitstraal ’n mens dadelik aan.
Ron herinner sy twee kollegas daaraan dat hulle beloof het om sy partytjie by te woon en Lukas Pienaar antwoord: “Ek wil net gou die pasiënte van môre gaan ontmoet. Ons sal beslis inloer.” Dan voeg hy skertsend by: “Dit wil sê as Magriet Marais, die niggie, versigtig sal wees met my ou rumatiekbene en pynende liddorings!”
Die twee dokters staan die optoggie ’n rukkie agterna en kyk.
“Oulike meisie daardie,” merk die ouer dokter dan op. Emile Fraser se wenkbroue lig op.
“Ek het nie geweet jy het nog ’n oog vir ’n mooi vrou nie, kollega.”
Lukas Pienaar laat nie op hom wag nie.
“Ek is miskien al oud, maar darem nog nie blind nie! Ek praat ook nie van die blonde