Ena Murray Keur 5. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
van plan nie …” Sy swyg toe hy haar sag maar beslis uit die deur wegstoot en die kamer binnestap. Hy gaan reguit na die ingeboude kas, haal die kleinerige tas wat bo-op lê af en sit dit op die mat voor die divan neer. Hy knip dit oop en toe hy regop kom, ontmoet hul oë vlugtig. ’n Oomblik staar hulle mekaar so vas aan. Dan begin hy die laaie van die spieëltafel ooptrek.
Met een tree is Magriet by hom terwyl haar oë byna uitpeul van verontwaardiging.
“Hoe durf jy my laaie oopmaak?” Sy gryp ’n stukkie onderklere uit sy hand en hou dit agter haar rug, hoewel die oop laai elke netjiese bondeltjie duidelik ten toon stel. “Watter reg het jy? Hoe durf jy –?” stotter sy.
Hy val haar kalm in die rede.
“Gee pad, Magriet. Gaan sit. Jy hou my op.”
Sy probeer die laai toestoot, maar hy hou dit terug. “Gaan sit, Magriet. Ek praat nie weer nie!”
“Dokter Fraser, ek waarsku jou …” begin Magriet terwyl sy nog vergeefs probeer om die laai toe te stoot.
“Ek het jou klaar gewaarsku! Sit daar!” Sy voel hoe haar voete van die grond lig en dan word sy sonder omhaal op die stoel neergeplak. “En waag dit net om daar op te staan! Jy kort lankal ’n afgedankste loesing en vandag is die dag dat jy dit gaan kry. Roer net van daardie stoel af!”
Hy lyk heeltemal kapabel om sy dreigement uit te voer en Magriet kyk hom verskrik aan. Hy sal darem seker nie regtig nie … Maar tog sit sy doodstil toe hy omdraai en ewe kalm van haar intiemste kledingstukkies uit die laai begin haal.
“Ek sal … ek sal nou self inpak,” waag sy dit, bloedrooi in die gesig.
“Dankie, maar ek kom heeltemal goed reg,” is die rustige antwoord en hy gaan bedaard met sy selfopgelegde taak voort. “Pragtige goedjies wat julle vroumense dra. Jammer ’n man sien so min daarvan … ek bedoel nou natuurlik ongetroude mans. Eintlik net in die winkelvensters,” gaan hy gesellig voort.
’n Mens sou sê hy gesels oor die weer, dink Magriet, terwyl dit vir haar voel asof sy elke oomblik net rooier en rooier raak. Om haar so in die verleentheid te stel! Sy sal hom dit nooit vergewe nie! Sy waag dit om vinnig na sy gesig te kyk, maar dié is doodernstig.
“Dokter, asseblief …” Haar stem bewe skielik verraderlik, maar hy kyk nie eens in haar rigting nie.
“Die naam is Emile. Terloops, ek sit hierdie enetjie hier eenkant neer. Ek sien daar is ’n naat los.”
“O!”
“Die goedjies is werklik onweerstaanbaar. Kyk nou net hierdie enetjie met die valletjies. Ek het al dikwels gewens dat ek ’n vrou het sodat ek vir haar daarvan kan koop. My hande jeuk soms as ek in die stad is om by een van die winkels in te stap as ek hulle so in die vertoonvensters sien. So ja. Nou is ons hiermee klaar. Nou nog net so twee of drie rokke.” Hy stoot tot Magriet se grootste verligting die laaie toe en maak die deure van die ingeboude kas oop. “Laat ek sien … wag, ek dink hierdie langbroek en baadjie en die bloes … en … ja, hierdie rok en hierdie pakkie ook. Ek wil hê jy moet deftig en mooi lyk.”
“Regtig?” Magriet het weer haar selfvertroue teruggekry noudat die laaie toegedruk is. “Vir wie moet ek nogal deftig en mooi lyk?”
“Vir my, natuurlik. Daar is nog ’n tweede rede ook, maar dié sal ek jou vertel wanneer ons eers daar is. Daar is nie nou tyd daarvoor nie.” Hy plaas twee paar skoene ook netjies in die een hoek neer en kyk peinsend op die tas af. Dan verhelder sy gesig. “O, ja, ek wou sê daar moet nog iets wees! Kouse en … het ons al die nodige onderklere in?”
Magriet spring haastig op.
“In die badkamer. Ek sal dit kry. En my toiletgoed ook. En onder in die hangkas is ’n leertassie waarin ek gewoonlik my skoene sit.”
“O, ekskuus,” sê hy ewe gehoorsaam en haal die skoene uit die groot tas. Magriet verdwyn in die badkamer en nou, die eerste keer, breek ’n fyn glimlaggie oor sy streng lippe en vonkel die groen oë openlik. So ja, juffrou Hardekop, dit sal jou leer!
“Wat dink jy gaan Thero sê as sy hiervan hoor?” kom Magriet se stem uit die badkamer.
“Ek het haar gesê ek vat jou saam om vir ons ’n paar belangrike sakebriewe te gaan tik, wat ook gedeeltelik die waarheid is. Die hospitaal se sekretaresse op Simonsvlei is met verlof en daar is ’n paar briewe wat afgehandel moet word. Jy kan sommer terselfdertyd jou sout verdien.”
Sy verskyn in die deur en kyk hom verontwaardig aan. “Ek betaal vir my losies!”
“Hier op Abendruhe, ja. Nie op Simonsvlei nie.”
“Is dit my skuld dat ek Simonsvlei toe gaan?”
“Is dit my skuld dat jy nie weet hoe om jou te gedra nie en ek jou oral met my moet saampiekel?”
Magriet is dadelik weer gereed vir ’n volgende ronde, maar op daardie oomblik is daar ’n klop aan die deur en Lukas Pienaar se stem klink op.
“Waar bly julle twee so lank?” Hy druk die deur effens wyer oop en sy oë vonkel moedswillig toe hy die oop tas voor Emile sien. “G’n wonder julle kry nie klaar nie! Dit lyk my julle twee pak saam in!”
“So min of meer, ja,” antwoord Emile kalm.
Magriet werp hom ’n vernietigende blik toe en sê haastig: “Noem my asseblief Magriet, dokter Pienaar. Ek is jammer ek het jou laat wag. Ek het my tyd by Thero verspeel …”
Lukas Pienaar se aangename geselskap verdryf gou die spanning wat aan die begin in die motor heers en Magriet is die ene belangstelling vir alles wat hy te vertel het.
“Ons kry dikwels kapok hier en minstens een of twee keer per jaar is Abendruhe ’n paar dae lank geheel en al van die buitewêreld afgesny,” vertel dokter Pienaar. “Die bergpas is dan onbegaanbaar.”
Emile sien haar oë rek en hy voeg by: “Ons is darem altyd gereed vir so ’n gebeurlikheid. Veral in die reënseisoen dra ons sorg dat Abendruhe minstens ’n volle maand lank genoeg van die nodige voorrade het, sodat ons kan klaarkom sonder die buitewêreld as dit moet. Nie dat ons ooit werklik so lank afgesny bly nie. Dis hoogstens ’n week, of tien dae in baie ernstige gevalle.”
Maar Magriet is geensins gerusgestel nie.
“Maar veronderstel daar gaan iemand dood in daardie tyd, of iemand raak baie ernstig siek en sy familielede moet kom, of so iets? Wat dan?”
“Dan word daar met die Rooi Kruis in aanraking gekom en hulle stuur ’n helikopter. Ek het ook ’n radiosender in my huis vir so ’n noodgeval,” stel hy haar gerus.
Sy haal nou vryliker asem. Die gedagte dat sy miskien ’n onbepaalde tyd op Abendruhe vasgekeer kan word, staan haar glad nie aan nie.
“Sneeu die bergpas heeltemal toe, sodat ’n mens glad nie die pad kan sien nie?”
“Soms, ja, en selfs nadat die kapok gesmelt het, bly dit nog dae lank gevaarlik weens die glibberige pad, want hier is ’n paar verraderlike plekke.”
“En Simonsvlei? Vertel my meer daarvan.”
“Simonsvlei is ’n redelike groot dorp waarvan die meeste inwoners te doen het met bosbou. Jy het seker opgemerk hoe wyd uitgestrek die plantasies hier lê. Die hospitaaltjie daar was jare lank heeltemal ontoereikend vir die groot gemeenskap wat dit moes bedien. Danksy Emile het toestande egter verander,” verduidelik dokter Pienaar.
“Vertel my meer van die boswerkers,” vra Magriet belangstellend.
“Daar is natuurlik die opgeleide personeel in diens van die Departement van Bosbou, maar die oorgrote meerderheid is die gewone boswerkers – merendeels arm en ongeskoold. Hul omstandighede het natuurlik deur die jare ook baie verbeter, maar toe ek die eerste keer hier gekom het, was dit treurig. Daar was byvoorbeeld ’n ondertrouery onder hulle aan die gang, natuurlik met die mees tragiese gevolge van liggaamlike gebreke en verstandelike agteruitgang. Maar dis stadigaan besig om reg te kom, hoewel hulle in baie opsigte nog