Ena Murray Keur 6. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
eenvoudig moet leer om sonder hom klaar te kom.
Sy sit nog so met bekommerde oë voor haar op die mat en uitstaar, toe daar aan haar woonsteldeur geklop word. Haar hart bokspring. Dit kan net Neil wees wat hierdie tyd van die aand nog na haar woonstel sal kom. Sy spring op, bewus van ’n opborrelende blydskap en verligting in haar. Maar toe die deur oopswaai, is dit ’n wildvreemde man wat voor haar staan. Vir Norman Zietsman is dit duidelik dat hierdie meisietjie iemand anders verwag het en hy is gou om hom bekend te stel, sy sjarmantste glimlag om sy lippe.
“Juffrou Retief? Goeienaand. Ek is Norman Zietsman. Ek moet verskoning vra dat ek jou ná nege kom opsoek, maar ek het so pas in die stad aangeland en sommer direk hierheen gekom. Is dit moontlik dat ek jou ’n paar minute kan spreek?”
Sy frons liggies. ’n Meisie ontvang nie vreemde mans alleen in haar woonstel hierdie tyd van die aand nie, al is hulle so aantreklik soos hierdie meneer Zietsman.
“In verband waarmee is dit, meneer?”
“Dis in verband met die sangprys wat jy gewen het.” Sy hand skiet uit na haar. “Ek wil jou nog van harte gelukwens. Dit was ’n groot prestasie en ek is seker dat jy die belowendste vonds is sedert Mandy Cullinghan.”
Deidre glo geen oomblik sy vleitaal nie, maar tog kan sy ’n blos van plesier nie onderdruk nie, en haar houding raak sommer vriendeliker.
“Jy oordryf nou natuurlik, meneer Zietsman, maar kom binne. Is jy van die SAUK?”
“Nee. Ek is nie verbonde aan die uitsaaidiens nie. Ek sal verduidelik wie ek is. Ek is die man wat Mandy Cullinghan ontdek het. Ek het haar toevallig by ’n geleentheid hoor sing en onmiddellik besef dat haar stem groot moontlikhede inhou. Ek het haar dadelik genader en sy was bereid dat ek haar bestuurder word. Dit was ek dan ook tot haar tragiese dood ’n jaar gelede.”
Deidre knik.
“Ja. Dit was baie tragies. Sy het so ’n pragtige stem gehad en was aan die begin van so ’n belowende toekoms, en toe moes sy so tragies verongeluk. Dit moet vir jou, wat so na aan haar gestaan het, ’n geweldige skok gewees het.”
“Ja, dit was. Maar … so is die lewe. Sedert haar dood was ek gedurig op die uitkyk vir iemand wat in staat sal wees om haar plek in te neem. Ek het daardie persoon uiteindelik gevind.”
Hy kyk haar stip aan. “Dit is nie vleitaal nie, juffrou Retief. Ek, as die man wat Mandy ontdek en opgebou het tot die ster wat sy was, behoort te weet. En ek sê jou, jy gaan Mandy Cullinghan se leë plek in ons sangwêreld vul.”
Haar oë rek wyd.
“Hoe kan jy so seker wees as jy my nog nie hoor sing het nie? Of het jy toevallig ingeluister toe ek die aand met die talentejag oor die radio gesing het?”
“Nee, juffrou. Ek was een van die beoordelaars by die talentejag. Onthou jy my nie?” Hy lag toe sy haar kop verleë skud. “Ek het so gedink! Toemaar! Ek voel nie beledig nie! Ek het daardie aand gesien dat alles ’n bietjie oorweldigend vir jou was. Jy weet, jy het byna-byna jou prys verbeur deur jou senuweeagtigheid. Dit is die eerste ding wat jy sal moet leer om aan te kweek – selfvertroue. Dis ’n absolute vereiste in die kunstenaarswêreld.”
“Ek weet,” erken sy selfbewus. “Dit was die eerste keer in my lewe dat ek alleen in die openbaar moes optree, en dit nog oor die radio en met ’n paneel van twaalf beoordelaars wat elke nootjie met ’n kennersoor sou ontleed. Die twaalf beoordelaars was net ’n waas voor my oë. Ek was so bang dat ek kon sterf!” erken sy met soveel kinderlike eerlikheid dat die man se blik verskerp.
Norman Zietsman, kenner van die kunstenaarswêreld, besef dadelik dat hy hier ’n ongeslypte diamant voor hom het. Haar stem is reg. Weliswaar lê daar nog harde ure van oefen voor om dit tot sy volle wasdom te laat ontwikkel, maar hy het onmiddellik, toe hy daardie aand na haar geluister het, die potensiaal daarvan besef. Hy het aan homself gesê: hierdie stem kan geld maak. Hierdie meisie moet jy in die oog hou. Maar behalwe haar stem wat soveel potensiaal inhou, is daar in die res van haar niks wat hierdie wêreldwyse man beïndruk nie. Daarvoor is sy te kort, te klein, te fyn en te kinderlik. Sy is nie volwasse genoeg om gehore te trek en te boei nie. Om ’n sukses in die kunstenaarswêreld te wees, moet jy nie net mooi kan sing nie. Jy moet ook ’n sterk persoonlikheid hê. Dit, het Norman Zietsman uit persoonlike ervaring geleer, is net so belangrik as die stem. Want die gehoor sien jou eerste, en dan hoor hulle jou.
Hy kyk skerp na haar, onbewus daarvan dat Deidre al hoe meer selfbewus raak onder sy arendsblik. Hy frons. Tog is daar iets in Deidre Retief wat hom boei, iets wat hom vertel dat dit die moeite werd gaan wees om haar sy diens aan te bied. Miskien is dit juis hierdie kinderlike onskuld, hierdie ongeveinstheid wat aan haar kleef, wat uiteindelik haar sukses gaan bepaal. Miskien sal sy vir die gehore ’n verfrissende verandering wees van die kunstenaars wat aldag voor hulle verskyn.
Die opgewondenheid roer in hom, en Norman Zietsman besluit finaal. Hierdie ongeslypte diamant is syne. Hy gaan met haar maak soos hy goeddink, en hy weet presies watter rigting hy met haar gaan inslaan. Haar stem gaan tot sy maksimum ontwikkel word, maar origens moet sy bly soos sy is: ongekunsteld, kinderlik, naïef. Dit gaan die lokaas wees wat gehore na haar toe gaan aantrek.
Nie een van die twee dink dat dit voorbarig van hom is toe hy haar een hand in syne neem nie.
“Jy erken dat jy niks van die kunstenaarswêreld wat jy nou gaan betree, weet nie, en ek is ’n kenner daarvan. Ek bied jou my diens as bestuurder aan. Ek verseker jou, Deidre, dat jy met my hulp hoogtes gaan bereik. As jy sonder iemand soos ek hierdie nuwe wêreld gaan betree, gaan jy ’n paar CD’s maak en van die toneel verdwyn soos dit al met soveel ander belowende talent in die verlede gebeur het. Jy moet iemand hê wat vir jou die regte deure oopmaak, sorg dat jou stem reg ontwikkel en, ag, talle ander dinge waarvan jy niks weet nie. Ek bied jou my diens aan omdat ek soveel vertroue in jou stem het. As dit nie was dat ek aan jou toekoms as sangeres glo nie, sou ek nie nou hier gewees het nie.”
Deidre frons. Dit het spontaan in haar opgekom om hom te sê dat sy eers oor die saak wil dink, menende om Neil eers te raadpleeg. Net betyds het sy die woorde gekeer. Neil is kwaad vir haar. Hulle het rusie gemaak. En wat van haar besluit dat sy van nou af self haar lewe sal reël en op eie bene staan? Sy kyk op en glimlag.
“Dankie, meneer Zietsman. Dis baie gaaf van jou. Ek weet dat ek my toekoms met ’n geruste hart in jou hande kan plaas. Ek weet niks van hierdie dinge af nie. Ek sal jou hulp en raad baie waardeer.”
Norman Zietsman sug saggies en hierdie keer druk hy haar handjie innig.
“Jy sal nooit spyt wees nie, Deidre. Terloops, my naam is Norman. Aangesien ons so pas sakevennote geword het, kan ons gerus maar minder formeel wees. Ek noem jou reeds Deidre.”
“Dankie, Norman. Jy weet nie watter groot las jy van my skouers neem nie,” erken sy laggend. “Hoewel opgewonde en in ekstase, was ek tot ’n paar minute gelede doodbang vir die wonderlike toekoms wat ek gedink het op my wag. Maar met iemand soos jy om die pad gelyk te maak …”
Die voordeurklokkie lui skril en die man wat verbaas, vraend na haar kyk – dis darem al laat vir gaste – sien hoe haar oë verskrik oopvlieg en sy verbouereerd opspring.
Soos sy instinktief geweet het toe sy die klokkie hoor lui, is dit Neil wat voor haar staan toe sy die deur oopmaak.
“Mag ek ’n oomblik inkom, Deidre? Ek wil met jou praat.” Sy het geen ander keuse as om hom binne te nooi nie, maar Neil vind haar ongemak nie juis vreemd nie. Eers toe hy die sitkamertjie betree, kom hy die werklike rede daarvoor agter en al sy goeie voornemens verdamp soos mis voor die son.
“Dis professor Maritz, Norman. Neil, dis Norman Zietsman,” en as nagedagte, uitdagend, “my bestuurder.”
2
Die twee mans se oë ontmoet waterpas ná Deidre se uitdagende aankondiging. Neil se blik is skerp, priemend, ontevrede. Norman lyk eerder nuuskierig, asof hy geensins deur die ander man se ondersoekende blik ontstel word nie.
“So?” kom Neil se stem droog sonder dat