Terug na Kolkbaai. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
stap uit die fabriek na sy motor toe. Niemand op Kolkbaai sal glo dat hy seker die eensaamste mens hier is nie. Niemand sal glo hoe dikwels hy sy werknemers beny nie. En Hanchen se dogter sal nooit glo dat ’n Bernhardi ’n vrou so lief kan kry dat hy haar streng voorwaardes aanvaar nie – net om naby haar te kan wees; om vir haar te sorg en te weet as hy vanaand alleen in sy bed lê, is sy saam met hom onder dieselfde dak.
Hy stap die groot huis binne, af met die gang wat na die woonstel lei. Dié woonstel was een van Hannie Krause se voorwaardes – ’n aparte plek, nie in die kasteel nie. Hoe dikwels was hierdie klein sitkamer waarin hy nou stap vir hom die veilige hawe waarna sy stormgeteisterde gees soveel jare gesmag het. Maar haar dogter glo dit nie, vertel die oë waarin hy kyk. Haar dogter kan nie glo dat ’n Bernhardi selfs een ding in die lewe mooi en ongeskonde kan hou en bewaar nie.
Hy kan sien dat sy hom verwag het. Die ou man sug saggies terwyl hy in die stoel oorkant haar gaan sit.
“Hannelore, ek weet wat jy dink. Maar ek wil jou verseker dat daar tussen my en jou ma net die suiwerste vorm van vriendskap bestaan. Nie dat ek probeer voorgee ek het die afgelope vier jaar in ’n heilige verander nie. Ek is nog dieselfde man wat ek al die jare was. Maar as ’n mens vier jaar lank saam met ’n engel leef, moet ’n bietjie van haar goedheid aan jou afskaaf. Ek sou verskriklik graag meer as net ’n vriend vir haar wou wees, maar dis al wat sy my nog altyd toegelaat het. Ek het haar lief met ’n liefde wat ek nie gedink het ek ooit vir ’n vrou kan voel nie. Sy het ’n ander mens van my gemaak. Sy kan verby die Christoff Bernhardi kyk wat die wêreld ken. Sy het die gejaag na wind in my stilgemaak. Sy het my gehelp om my oppervlakkige lewe van materialisme te verander en dieper waardes na te streef. Ek het jou ma al baie jare lief, Hannelore – toe sy nog met jou pa getroud was.”
Hy hoor die intrek van haar asem en kyk haar met sy kenmerkende reguit blik aan. “Ek is jammer as dit jou skok, maar dis die waarheid. My gevoel vir jou ma kom van lank gelede. Ek onthou so goed die dag toe julle hier aangekom het – die nuwe skoolmeester en sy vrou en twee kinders. Jy was ’n kleintjie van iets meer as drie jaar toe ek jou ma die eerste keer gesien het. Ek was ook al ’n pa en vasgevang in ’n ongelukkige huwelik waaruit ek beswaarlik sou kon loskom. En toe verskyn jou ma op Kolkbaai. Wat ek hierbinne gevoel het, het niemand geweet nie. Jou pa het ’n vriend van my geword. En toe sterf hy.
“Dit was my skuld dat sy toe nie weggegaan het van Kolkbaai af nie. Ek het haar gesoebat om hier te bly, want dit was al wat ek van haar gehad het, die wete dat sy naby was, dat ek soms ’n paar woorde met haar kon wissel, dat ek ’n paar minute in stilte by haar kon gaan sit om nuwe krag te kry vir my koue, hebsugtige vrou. Jou ma het geweet dat ek van my frustrasies probeer ontslae raak het deur anderkant die duine los te lewe. Maar sy het my nooit veroordeel nie. Want sy het verstaan. Sy het geweet my geld kan alles in die lewe vir my koop, behalwe die een ding – die vrou wat ek liefhet.”
“Maar hoekom het u nie van u vrou geskei nie?”
“Jy het my oorlede vrou nie geken nie. Sy het nooit met die Kolkbaaiers gemeng nie. Sy was verhewe bo die vissersmense.”
Sy knik. Sy onthou. Sy het net ’n vae prentjie van mevrou Bernhardi in haar geheue. Die vrou met die stywe, geslote gesig agterin die luukse motor wat deur ’n chauffeur bestuur is, op pad stad toe op een van haar inkopietoere. In die elf jaar anderkant Kolkbaai se duine het Hannelore baie mevrou Bernhardi’s leer ken – vroue met ’n skynbaar onversadigbare honger na aardse goed, wat hul leë harte met ’n nuwe meubelstuk in die huis of duur juwele probeer vul. Duur troospryse vir al die frustrasies van ’n sinnelose, doellose lewe.
“Sy het geweet ek het haar nie lief nie. Sy het ook geweet wie ek liefhet. Sy het uitgevind van my onskuldige besoekies aan jou ma en haar gaan dreig.”
Hannelore frons. Van al hierdie drama weet sy niks. Sy was daardie tyd op die naburige dorp op skool en het net naweke teruggekeer Kolkbaai toe. Sy het meneer Bernhardi nooit oor naweke by die rietdakhuisie sien besoek aflê nie.
“Ek het eers daarvan uitgevind toe dit te laat was. Jou ma het skielik, terwyl ek weg was, met Willem Krause getrou.”
Hannelore dink terug aan daardie tyd. Die skok was vir haar net so groot as wat dit vir Christoff Bernhardi moes gewees het. Sy het daardie naweek huis toe gekom en Willem Krause het op haar pa se stoel in die rietdakhuisie gesit. Sy moes hoor hy is haar nuwe pa. Van daardie oomblik af het die bitterheid wat altyd vlak in die jong hart gelê het, wortel begin skiet.
Vandag eers besef sy waarom haar ma nie van Kolkbaai weggetrek het nie. Waarom sy daar gebly het en met Willem Krause getrou het: sy kon haar nie van Kolkbaai … en Christoff Bernhardi losskeur nie.
Maar waarom Willem Krause? Hy was ’n skipper op een van die Bernhardi-skuite en soos almal op Kolkbaai geweet het, ’n dronklap. ’n Baie goeie skipper op see, maar gewoonlik moes hy skuit toe gedra word omdat hy te dronk was om self te loop.
Was dit dalk dat haar ma met die eerste die beste man getrou het om te keer dat mevrou Bernhardi haar wreek? Het Hannie Dorffling destyds met Willem Krause getrou om Christoff Bernhardi teen sy vrou te beskerm?
Die jare wat daarop gevolg het, kan Hannelore goed onthou. Twee kinders is uit die huwelik gebore – ’n huwelik wat soos menige ander visserman se huwelik gelyk het. Veertien dae, soms langer op see. Dan tuis en dronk. Haar oë pen die man vas.
“Jy het hom altyd by die huis kom haal en saam met jou gevat. Ek onthou daardie kere dat daar sommer ’n vliegtuig gehuur is om julle na ’n rugbytoets te neem. Geld het geen rol gespeel nie. Ordentlikheid ook nie. Dan is Willem Krause besope by die huis afgelaai en gewoonlik nog voordat hy weer nugter was na sy skuit gedra. En my ma moes sien en kom klaar met twee klein kindertjies. Is dit wat jy liefde noem?”
Die man vee oor sy wit hare en oor sy oë asof hy moeg is.
“Jy het alle rede om bitter te wees. Maar jy verstaan nie.”
“Verstaan nie? Wat is daar om te verstaan? Wat moet ek verstaan as jy sien hoe swaar jou ma kry, hoe hard sy werk, as jy hoor hoe sy snags in haar kamer snik? En jy weet dit was nie nodig nie, al die hartseer en vernedering en ellende? My ma was ’n onderwyseres. Sy kon ná my pa se dood weggegaan het van Kolkbaai en op ’n ander plek ’n ordentlike toekoms vir haar en haar kinders gaan opbou het. Maar dis jy wat haar teruggehou het. Dis jou skuld dat sy met Willem Krause gaan trou het om haar te beskerm teen jou vrou en Kolkbaai se giftige tonge. Jy kon haar nie beskerm nie, want dit was deur jou toedoen dat sy met die eerste die beste man moes gaan trou. En of dit nie genoeg is nie, maak jy toe van Willem Krause jou drinkebroer, jou boesemvriend wat jy pal met jou saamsleep.”
“Dit was hoofsaaklik om haar ontwil, hare en die kinders s’n. Hannelore, Willem Krause sou dronk gewees het al was ek nie naby hom nie. Dis ter wille van jou ma en die kinders, die kleintjies, dat ek hom altyd daar kom wegvat het, liewer saam met my geneem net. Dis ook hoekom ek gesorg het dat hy terug was op sy skuit voordat hy behoorlik nugter was.”
“En my ma? Sy moes so hard werk.”
“Omdat sy geen hulp van my wou aanvaar nie! Geldelike hulp het sy altyd geweier. Die kos wat ek gestuur het, het sy aan ander uitgedeel. Vir die huishulp wat ek vir haar gereël het, het sy ’n maand se salaris gegee en haar ontslaan. Die enigste manier waarop ek haar kon help, was om te sorg dat Willem Krause so min moontlik tuis was wanneer hy van die see gekom het.”
Hannelore voel verward, want die prentjie wat hier vir haar geskilder word, lyk skielik anders as die een wat sy al die jare met verbittering in haar hart vasgehou het.
Bernhardi beduie met sy hande in ’n vreemde gebaar van magteloosheid. “Ek erken dit was vir my maklik om dit te doen. Ek sou graag ’n swart doek oor daardie jare trek. Noem enige oortreding of sonde en ek kon my naam daaragter skryf. My wêreld het in duie gestort dié dag toe ek op Kolkbaai terugkom en hoor dat jou ma getroud is. Die enigste vrou by wie ek rigting kon gaan terugvind, was nie meer daar nie. Sy was nou die vrou van ’n ander man en ek kon nie meer my hart by haar gaan ontlaai nie. Daardie jare het ek die pad totaal byster geraak.”
Dis die Bernhardi’s wat sy die duidelikste onthou. Sy onthou hoe sy by haar broer