Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg. Lilian ParamorЧитать онлайн книгу.
huil en volgens ’n skedule te voed.
Ek maak hierdie kategoriese stelling op grond van baie jare se waarneming van dié besondere verhouding. As jy jou nie teen daardie intieme eenwees verset nie, rus die gewigtige taak van ouerskap sommer ligter op jou skouers. Jy skep dikwels probleme deur jou baba voortydig “onafhanklik” te probeer maak.
Elke probleemsituasie bevat ’n geheime sleutel wat die lewe vir ’n mens makliker en beter kan help maak. Ouers kan gerus die positiewe aspekte van hierdie benadering in hul lewe verwelkom. Jy en jou kind sal veel aangenamer herinneringe deel as jy in die eerste maande en jare aanvaar dat hy maar net ’n baba is. Ek glo dat ouers ’n stabiele, sorgsame samelewing help bou, wat waarde heg aan emosies as een van die spesiale menslike talente, wanneer hulle met grasie aanvaar dat hul baba nodig het dat hulle haar moet ronddra, dat sy snags veilig by hulle wil slaap en nog nie te lank van hulle geskei wil wees nie. Die teendeel is ongelukkig ook dikwels waar. Babas wat noodgedwonge te gou moet “grootword”, regresseer dikwels wat vaardighede soos toiletmaniere betref of die vermoë om afskeid te neem wanneer hulle meer onafhanklik behoort te raak.
Hierdie gedagte sal ongetwyfeld antagonisme uitlok in ons individualistiese samelewing. Ek kan egter nie die werklikhede ignoreer wat ek so dikwels deur die jare in my werk met ouers en kinders, geboortes en babas gesien het nie.
’n Meer deernisvolle benadering tot ouerskap beteken hoegenaamd nie dat jou baba moet grootword met die gedagte dat hy of sy belangriker as enigiemand anders is of dat dit nie nodig is om respek vir volwassenes te hê nie – inteendeel. Sien gerus die hoofstuk oor dissipline en gewoontes.
Moet vir geen oomblik dink jy gaan altyd oorloop van liefde vir jou baba van die eerste oomblik dat sy haar oë oopmaak nie, veral nie indien die geboorte onpersoonlik of baie uitputtend was of gekompliseer is deur ander faktore soos depressie, ’n onbeplande swangerskap of verhoudingsprobleme nie. As jy voel dat jy glad nie met jou ongebore kind kan identifiseer nie, mag dit eenvoudig ’n geval wees dat jou liefde tyd nodig het om te ontluik. Indien dit nie gebeur nie, moet jy dalk oorweeg om professionele berading te kry.
Respek is egter nie onderhandelbaar nie, en dit is in werklikheid ’n baie liefdevolle eienskap waaraan jy jou baba moet blootstel. As jy jou kind en sy natuurlike, aangebore verwagtinge respekteer, sal jy hom innig en vriendelik verwelkom. Jy sal ook twee keer dink voordat jy toelaat dat enigiets aan jou kind gedoen word in die naam van hospitaalprosedure of standaard- mediese praktyk.
Glo my vry, jy is die enigste een wat genoeg omgee om die verantwoordelikheid vir die koestering van jou kind te dra. Natuurlik sal jy soms professionele raad en hulp nodig hê, maar die geïntegreerde fisieke en emosionele welsyn van jou kinders bly jou verantwoordelikheid. Ek gee heeltemal toe dat dit jou in ’n ongemaklike posisie kan plaas deurdat jy jou teen die stelsel verset en jou nek uitsteek deur miskien ’n ongewilde mening uit te spreek. Al sou ek baie meer mense paai deur die heersende stelsel van geboortesorg en vroeë kraamnasorgpraktyk in Suid-Afrika te ondersteun, sou dit nie eerlik wees om dit te doen nie. ’n Mens moet getrou wees aan jou siening van die waarheid, en ek, as iemand wat die voorreg gehad het om intiem betrokke te wees by sowel die begin as die einde van die lewe, kan eenvoudig nie stilbly terwyl ek oortuig is dat ons ons benadering moet hersien nie.
’N GOEIE GRONDSLAG
Die keuse van die kliniek of kraaminrigting waar jy geboorte skenk, is belangrik vir ’n goeie grondslag – nie net fisiek nie, maar ook emosioneel. Daar is ’n internasionale inisiatief bekend as “babavriendelike hospitale”. Hoewel dit steeds verbeter, is daar ongelukkig te min inrigtings wat selfs probeer om enige van die internasionaal erkende vereistes vir babavriendelike hospitale na te kom. Die inisiatief berus op ’n hele aantal beginsels wat daarop gemik is om babas op ’n vriendeliker wyse in die wêreld te verwelkom, die emosionele versorging van babas en kinders in hospitale te verbeter en nie te streng reëlgebonde te wees ten opsigte van die liggaamlike roetines wat die grondslag van kindersorg vorm nie.
Een van die hoekstene van die inisiatief is dat Ma en Baba ’n kamer deel (“rooming in”). Mense dink soms dit beteken dat Baba die eerste aand van sy lewe in die babakamer slaap en in die loop van die volgende dag in ’n wiegie in Ma se kamer geplaas word. Ander mense dink weer dit beteken die baba bly bedags by die ma en slaap snags saam met die ander babas in die babakamer. In werklikheid beteken dit dat babas glad nie van hul ma’s geskei word van ná die geboorte nie, behalwe die tydjies wanneer Ma bad of as Baba intensiewe mediese sorg in ’n spesiale eenheid nodig het. Intieme liggaamlike kontak behoort aangemoedig te word en is belangriker as die roetinetake soos om Baba te weeg, te meet en te bad. As Ma die eerste paar dae geweldig moeg is, moet Baba verkieslik deur Pa of ’n familielid versorg te word terwyl sy slaap, en wanneer dit voedingstyd is, moet daardie persoon Ma en Baba bystaan.
Dit gee die ma die geleentheid om elke nuanse van haar baba se gedrag te leer ken sodat dit nie so ’n groot skok is wanneer sy huis toe gaan nie. Babas is rustiger as hulle nie weggeskeur word van die een persoon wat hulle die beste ken nie. Dit verseker ook dat daar geen prosedures of voedings plaasvind sonder jou toestemming nie. Teen die tyd dat jy huis toe gaan, sal jy reeds meer selfvertroue hê wat jou hantering van Baba betref, en dit is bemagtigend en gerusstellend.
HOEKOM HUIL MY BABA?
Alle ma’s weet dat ’n baba huil omdat hy een of ander nood ervaar, en dat sy gou heelwat van dié huilgeluide sal leer ken en mettertyd uit ervaring sal weet hoe om die probleem redelik maklik op te los. Die meeste ma’s oorleef hul baba se huilery heel goed, mits dit nie te dikwels gebeur en te lank aanhou nie. Maar as niks wat jy doen skynbaar help nie en die gehuil eindeloos voortduur, kan jy desperaat begin voel en heel verstaanbaar begin dink dat daar iets ernstigs verkeerd moet wees. Dit kan jou selfvertroue as ma aftakel en dra dikwels by of gee aanleiding tot nageboortelike depressie.
Die tipiese redes waarom ’n baba huil en wenke oor hoe om jou baba se liggaamstaal en verskillende huilgeluide te verstaan, word elders in hierdie boek bespreek. As Baba se gehuil jou besonder ontstel, beproef een van die volgende wenke om die kabaal – en jou senuwees – te laat bedaar:
•Ongeag watter tyd van die dag of nag dit is, tap ’n diep, warm bad en lê ’n halfuur lank daarin saam met Baba. Plaas ’n waslap oor Baba se magie en bied ’n bors- of bottelvoeding aan.
•Masseer jou baba. Beweeg jou vingerpunte liggies in sirkels tussen die wenkbroue, langs die slape en agter die ore. ’n Daaglikse liggaamsmassering sal Baba geleidelik laat kalmeer. Jy kan hom ook op ’n groot swangerskapsbal laat lê, eers op sy maag en dan op sy rug, en dit versigtig vorentoe en agtertoe rol.
•Speel strelende of melodieuse musiek en dans met Baba, dit sal hom herinner aan die musiek wat hy in die baarmoeder gehoor het toe jy swanger was.
•Laat lê Baba onder ’n boom waar sy haar kan verkyk aan die aanhoudende beweging van die blare in die briesie, die wolke wat bo verbydryf en die patrone van die sonlig deur die blare. Wissel ook die bewertjies bo die bababedjie af.
•Laat Baba by jou in die bed slaap as sy droewig huil. Dit is dikwels die enigste manier waarop jy self ook slaap gaan kry. Onthou: al wat tel, is jou behoefte om hierdie stadium te oorleef en oplossings te vind wat vir jóú werk.
Wenwenke vir emosionele welsyn in die eerste maande
•Leef net vir die oomblik. Moenie waardevolle energie verspil deur te wonder hoe en wanneer hierdie fase gaan eindig en hoe op aarde jy dit gaan oorleef nie. Dit sal verbygaan. Leer by die diereryk: doen net wat jy werklik moet doen, moenie jou program oorlaai nie, moenie jouself verkwalik oor wat jy nie op hierdie oomblik kan verander nie, en jy sal ’n diep, verrykende kalmte ervaar.
•Omring jouself van ondersteunende mense. Dit mag moontlik beteken dat jy ander vriende moet maak, nuwe mediese hulpgewers moet kry en familielede onder vier oë moet spreek, maar dit is onontbeerlik om mense om jou te hê wat jou benadering tot ouerskap bevestig, hulp aanbied wanneer dit nodig is en weet hoe om nuttige raad te gee wat nie na kritiek klink nie. Daar is nie net een regte manier