Эротические рассказы

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek. Lilian ParamorЧитать онлайн книгу.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor


Скачать книгу

      

      Suster Lilian se

      Swangerskap- & geboorteboek

      Human & Rousseau

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Suster Lilian se Swangerskap- & geboorteboek mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

      Inleiding

      Ons leef in ’n bevoorregte tyd wat swangerskap en geboorte betref. Vroue het verskeie keuses wat hulle kan help om die spesiale drome te verwesenlik wat hulle vir hierdie ongelooflike fase in hul lewe koester. Daarbenewens is dit lankal baie veiliger om swanger te raak en geboorte te skenk as in die ou dae.

      Danksy mediese ontwikkelinge kan die meeste gesondheids- en swangerskapskomplikasies doeltreffend hanteer word. Met goeie swangerskapsorg hoef vroue selde bekommerd te wees oor hul eie of hul babas se welsyn. En indien daar wel probleme opduik, kan hulle gerus wees dat uitstekende sorg beskikbaar is.

      Die emosies wat gewek word deur die dra van ’n baba en die skenk van geboorte geniet egter nie altyd dieselfde aandag nie. Dit is ’n spesiale tyd in die lewe van elke vrou en paartjie, ’n ervaring wat hulle bemagtig vir die uitdagende reis van ouerskap. ’n Vrou het veertig weke van swangerskap om meer uit te vind oor die opsies tot haar beskikking om die hoogtepunt van die kraam- en geboorteproses, baba se geboortedag, ’n wonderlike ervaring te maak. Daar is nie net een regte manier om ’n baba te kry nie; die beste swangerskap en geboorte word bepaal deur elke individuele vrou en baba se spesifieke behoeftes.

      Dit was nooit tevore moontlik om optimale mediese veiligheid en terselfdertyd die enorme voordele van ’n meer natuurlike benadering te geniet nie. Hierdie Swangerskap- en geboorteboek is die sleutel tot die insig dat hierdie twee benaderings geïntegreer kan word om jou te help om jou spesiale droom te vervul. Dit sal jou die wysheid gee om die keuses te maak wat die beste vir jou is.

      Dit is doodnatuurlik om angstig te voel – oor jou baba se veiligheid en gesondheid, die mediese ondersoeke, jou verlies aan privaatheid, hoe jy die kraam gaan hanteer, en hoe jy liggaamlik en emosioneel gaan voel ná die geboorte. Bemagtig jouself met kennis en steun op die wysheid van Moeder Natuur, in die gerusstellende wete dat die veiligheidsnet van gevorderde mediese sorg jou beskerm. Swangerskap is ’n opwindende deel van die lewe, ’n ongelooflike tyd waartydens jou gees en liggaam sal wys waartoe die mens alles in staat is. Elke vrou verdien om hierdie kosbare tyd te geniet en kan dit ook geniet.

      Neem hierdie boek saam op jou swangerskapsreis – ek dra dit op aan al die vroue wat die toekoms van die wêreld in hul baarmoeders dra. Beleef elke nuwe emosie met vreugde en verwondering namate jou klein wonderwerkie in jou groei. Speel ’n aktiewe rol in jou swangerskap en die geboorte – dit is jou belewenis. Dit is nie ’n mediese toestand nie, maar ’n lewensfase. Vroue het die aangebore vermoë en talent om ’n baba te dra en geboorte te skenk.

      Dit is my wens dat hierdie Swangerskap- en geboorteboek jou op elke tree van jou reis sal vergesel as ’n wyse en onkritiese vriendin.

SL%20signature.tif

      Suster Lilian

      Deel 1:

      Voorbereiding vir swangerskap

man%20en%20vrou.tif

      Voorgeboortesorg begin ideaal genome lank voor jy swanger raak, om te verseker dat jou baba so gesond moontlik is, dat jou swangerskap en die bevalling vlot verloop, en om die heel beste sorg vir jou beplande baba te verseker. Jou eie reproduktiewe gesondheid is een van die belangrikste voorbevrugtingsfaktore.

      Ken jou liggaam

      Die meeste vroue is vertroud met hul liggaam en sy funksies teen die tyd dat hulle ’n gesin beplan, maar tog is ontstellend baie vroue – selfs swanger vroue – oningelig oor die mees basiese liggaamsprosesse. Die lewe kan en sal ontluik, ongeag of ons oor ’n intieme kennis van ons liggaamstruktuur en -funksies beskik, maar ek wil graag in die eerste afdeling van hierdie Swangerskap- en geboorteboek vir diegene wat meer wil weet, lig werp op van die belangrikste faktore tydens swangerskap.

      DIE REPRODUKTIEWE ANATOMIE VAN ’N VROU

p14.jpg

      DIE MENSTRUELE SIKLUS

      Baie vroue is salig onbewus van die ritme van hul menstruele siklus. Dit is interessant en nuttig om beter op te let wanneer jy wil swanger raak. Verstommend genoeg is vroue wat in dieselfde omgewing woon of werk geneig om naastenby terselfdertyd te menstrueer. Menstruasie en ander liggaamsvloeistowwe word skynbaar deur die fases van die maan beïnvloed, net soos die oseane. Wanneer ’n vrou nie hormonale voorbehoedmiddels gebruik nie, is ovulasie geneig om met volmaan plaas te vind, en menstruasie wanneer die maan afgeneem het.

      Die eerste dag van menstruasie word histories as die eerste dag van die siklus beskou en ons noem dit Dag Een. Dit sou egter meer korrek wees om menstruasie as die einde van ’n natuurlike siklus te beskou waartydens bevrugting nie plaasgevind het nie. Die meegaande diagram toon twee menstruele siklusse: Gedurende die eerste siklus het bevrugting nie plaasgevind nie; gedurende die tweede wel. Hierdie diagram volg die konvensie van Dag Een as die eerste dag van menstruasie. Onthou dat ovulasie gewoonlik tussen nege en sestien dae voor die volgende menstruasie plaasvind. Die duur en gereeldheid van jou siklus en jou algemene hormonale balans sal ’n invloed daarop hê. Daar is ook ’n noue verband tussen ’n vrou se emosies en haar endokriene stelsel, en die twee kan mekaar beïnvloed.

p15.jpg

      CHROMOSOME

      Elke sel in die menslike liggaam het 46 chromosome wat in 23 pare gerangskik is, waarvan een die geslag bepaal. In die vroulike eiersel, die ovum, word die geslagschromosome XX genoem, en in die manlike sperm XY. X’e skep vroulike babas en Y’e manlike babas. Wanneer ’n ovum deur ’n spermsel bevrug word, smelt 23 chromosome van elk saam. As die X van die spermsel se geslagschromosoom met die X van die ovum saamsmelt, sal die baba ’n dogtertjie wees; as die Y van die sperm met die moeder se X versmelt, word ’n seuntjie gebore. Die vader bepaal dus die baba se geslag. Die ander chromosome smelt saam om al die erflikheidseienskappe van albei ouers en hul families oor te dra.

Chromosome – HOE HULLE WERK
Vader verskafXY
Moeder verskafXX
BabadogterXXXY Babaseuntjie

      BELANGRIKE VROULIKE HORMONE

      Die endokriene stelsel is geweldig kompleks. Dit is nie nodig om alles oor hormone te weet nie, maar ’n vlugtige oorsig van dié wat die belangrikste rol in vroulike voortplanting speel, sal verhelderend wees. Die onderskeie hormone verkeer in ’n dinamiese balans en word beheer deur die pituïtêre klier, wat in die middel van die brein geleë is.

      ESTROGEEN

      •Die woord estrogeen is afgelei van die Griekse woorde oistros, wat ‘waansinnige begeerte’ en gennan, ‘om te vervaardig’ beteken.

      •Estrogeen word deur die eierstokke en bynierskors afgeskei, en tydens swangerskap deur die plasenta.

      •Dit veroorsaak die tipies vroulike seksuele kenmerke tydens puberteit.

      •Dit is verantwoordelik vir sikliese veranderinge in die endometrium (binnewand van die baarmoeder) en die vagina.

      •Dit onderhou nuwe lewe in die uterus.

      •Dit is belangrik vir die metabolisme


Скачать книгу
Яндекс.Метрика