7 Dae. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
byna altyd ’n naam as hulle skryf, die een of ander mitologiese of sterreteken- of vreesinboesemende skuilnaam.
Nie dié een nie.
Dié een spring van die een brief na die ander rond in sy aanslag, dié een het skielik twee weke lank stilgebly voor die laaste e-pos. Wat hy in die dag gestuur het, ’n Saterdagmiddag, net ure voor hy skiet.
Dié een wat in die laaste e-pos direk verwys na ’n motief: Julle weet hoekom sy vermoor is.
Dié een het sy dreigement uitgevoer, hy het die een ding gedoen wat die SAPD se toorn sal laat ontvlam – hy’t ’n poliesman geskiet. En hy dreig om dit weer te doen.
Iewers is iets nie reg nie.
Hy plaas die e-posse een vir een terug in hul lêer en trek die lywige Sloet-dossier nader. Hy maak dit oop, hy wil van heel voor af begin, eers na die moordtoneel kyk, die foto’s, die forensiese verslag, die patoloog s’n …
Dan klop iemand aan sy deur, sag en apologeties.
Hy word weggeruk uit sy konsentrasie. “Kom in,” sê Griessel.
Brig. Musad Manie se bynaam in die DPMO is “Die Kameel”. Want “Musad”, het een van die Valke-speurders by ’n Moslem-vriend uitgevind, beteken “losgelate kameel” in Arabies. En toe die lang, skraal kol. Zola Nyathi as hoof van die Geweldsmisdaadgroep aangestel is – Nyathi met sy stadige en statige, doelbewuste, effe vooroor tred – is hy gou “Die Kameelperd” gedoop. Wat net so vinnig na “Die Giraffe” verander het omdat dit makliker sê, en omdat die kolonel in elk geval meestal Engels praat.
Dit is Die Giraffe wat nou inkom, sy kaalgeskeerde kop blinkend onder die fluoorligte van Griessel se kantoor.
“No, please, Bennie, don’t get up …” Hy stap tot by die lessenaar, plaas met sy slanke vingers ’n motorsleutel daarop.
“You can use the BMW.”
“Thank you, sir.”
“Bennie, you know we’re a family here.”
“Yes, sir.”
“You know that we approach investigations as one big team.”
“Yes, sir. I just want to study the docket first …”
“I understand that, Bennie. But when you’re ready, get the guys involved. I’ve already called Vaughn, he’s on standby …”
“Yes, sir.”
Nyathi tik met ’n vinger op die dossier, sy stem meteens sag en vertroulik. “Look,” sê hy. “You’re an old hand. I don’t have to spell it out for you …” Die kolonel huiwer, lig sy kop, kyk Griessel reguit in die oë. “You come talk to me, Bennie. Or to the Brig. You find any monkey business anywhere, you come to us …”
Griessel weet nie wat om te sê nie.
“Are you with me, Bennie?”
“Yes, sir,” sê hy in die hoop dat hy dit later sal kan ontsyfer.
“Good.”
Nyathi draai om en stap deur toe. Net voor hy dit toemaak, sê hy: “Good luck.”
Griessel sit en kyk na die deur. Manie en Nyathi is ook onkant betrap deur dié ding, deur Afrika se versoek en betrokkenheid. Hulle speel saam, maar versigtig.
Hy skud sy kop. Politiek. Nie sy gunstelingspel nie.
Maar hy waardeer Nyathi se gebaar. Die probleem is dat hy nog nie heeltemal oortuig is van hierdie ons-is-’n-groot-familie-en-ons-werk-as-’n-span-strategie van die Valke nie. Hy is nog nie eens drie weke deel van die eenheid nie, hy het maar onlangs geleer JOC staan byvoorbeeld vir Joint Operational Centre – groephoofde en speurders van die onderskeie DPMO-eenhede wat almal onder een operasieleier saamgegooi word om ’n saak te ondersoek. Te veel mense, ’n resep vir chaos. Hy’s gewoond aan een skofvennoot, of alleen werk, veral die afgelope jaar toe hy by Afrika se kantoor was.
Hy sug. Hy weet nog steeds nie hoekom Afrika hom oorgeplaas het Valke toe nie.
Hy trek die dossier nader, haal die misdaadtoneelfoto’s een vir een uit en pak hulle in drie rye voor hom.
In volkleur lê Hanneke Sloet op die blinkgepoleerde, groot marmerteëls, langs ’n enkele ronde pilaar. Die rooiswart bloed is in skrille kontras met haar moulose wit rok en die liggrys vloer. Sy lê op haar rug, regterarm oor haar lyf, die regterhand vasgeklem teen die wond in haar maag. Sy het die massiewe bloedvloei tot op die laaste probeer stil.
Haar kaal linkerarm is effens uitgestrek, haar hand oop.
Haar kop op die vloer, die agterkant van die skedel rus in die bloed, haar donker hare het oor haar gesig geval, bedek haar oë en neus, maar die mond is sigbaar. ’n Vol mond, donkerrooi lipstiffie, amper die kleur van die bloed.
Sy is kaalvoet, die rok het met die val opgeskuif, haar bene oop tot ver bo die knie.
Dit lyk na ’n enkelvoudige wond, net onder en net regs van haar hart.
Hy wil ’n gevoel kry vir die toneel, ondersoek die foto’s een vir een. Die woonstel is nuut en modern, die mure en die enkele pilaar spierwit, die vloer grys en blink, die vensters groot en gordynloos – dit kyk uit op ’n breë balkon buite, en oor die veelkleurigheid van die Bo-Kaap en Seinheuwel.
Sloet lê in ’n ruim vertrek. Agter haar, in die middel, is ’n wit rusbank en twee stoele, vierkantig en modieus, op ’n los wit langhaartapyt.Teen die lang muur is een tamaai, ongeraamde kunswerk, van die moderne soort wat Griessel nie verstaan nie, vorme en strepe in wit en grys, soos ’n lugfoto van branders in die see. ’n Enkele glas-en-chroom-rak bevat ’n hoëtroustel en twee klein luidsprekers.
In die hoek verste van waar Sloet lê is daar ’n wenteltrap wat na ’n hoër vlak lei – gloeiende ligbruin hout, met ’n dun vlekvryestaal-reling.
By die venster staan ’n wit teleskoop op ’n driepoot, gerig op die geboue van die stad.
Agter die pilaar is daar ’n klein oopplankombuis – moderne kaste agter ondeursigtige, vaalgroen glas, en ’n hoekige, chroomkleurige yskas.
Die voordeur is drie meter na links van die kombuis, en vier meter van waar Hanneke Sloet se lewelose liggaam lê.
Hy kyk ook na die laaste reeks foto’s, van die woonstel se twee slaapvertrekke. Die groter een was duidelik waar Sloet geslaap het. Dit is meestal pynlik netjies. ’n Wye dubbelbed op ’n vierkantige wit platvorm, die opgemaakte beddegoed spierwit, net twee donkerbruin kussings wat by die donkerhout-bedkassies pas.
Die lessenaar, ’n gladde wit houtblad op twee bruin bokkies, dra die enigste tekens van aktiwiteit: ’n skootrekenaar, ’n paar lêers, waarvan twee oopgeslaan is, ’n vulpen, die doppie af. ’n Glas rooiwyn, driekwart leeg, ’n Apple iPhone. Die bruin hoërugstoel staan teruggeskuif, effe gedraai. ’n Aangeskakelde bruin staanlamp net regs daarvan.
Die tweede slaapkamer is kleiner. ’n Enkelbed, onopgemaak, kartonbokse daarop, onoopgemaak. ’n Leë, wit boekrak, twee opgerolde Persiese tapyte.
Griessel tel die dik dossier op en plaas dit voor hom, bo-op die foto’s. Soos alle SAPD-dossiere bestaan dit uit drie afdelings: deel A, wat die onderhoude, verslae, verklarings en die fotoalbum bevat; in deel B word die korrespondensie bewaar wat met ander SAPD-afdelings of buite-instansies soos banke of werkgewers gevoer is; deel C is die ondersoekdagboek op die SAPS5-vorm, hierdie een ’n noukeurige, chronologiese geskiedenis van die saak, met verwysings na dokumente in Deel A.
Hy blaai tot by die patoloog se verslag in deel A, sien tot sy verligting dat prof. Phil Pagel die lykskouing gedoen het. Want Pagel is die slimste ou wat hy ken, uiters ervare, ontsaglik deeglik. En bowenal weet Pagel hoe om ’n verslag te skryf sodat speurders dit kan verstaan én gebruik. Boaan is daar altyd ’n opsomming wat die ondersoekbeampte se lewe vergemaklik – gewone taal, puntsgewys, kort sinne en paragrawe, nuttige inligting.
Griessel lees:
•