Ena Murray Keur 9. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
bring om soms ’n uitnodiging van ’n man te aanvaar en ’n vriendskap te sluit. Totdat Paula teruggekom het huis toe vir ’n naweek of die universiteitsvakansies.
Haar mond, wat altyd ’n teer trekkie om die hoeke het wanneer sy met haar pasiënte werk, trek nou ietwat bitter. Ja. Dit het elke keer gebeur. Klokslag. Haar vriend het haar kom haal vir die een of ander opvoering of fliek, is voorgestel aan Paula, haar suster van die universiteit, en dit was die einde van die storie.
Petra stry teen die bitterheid in haar. Dis een van haar mooiste eienskappe – dat sy altyd baie hard probeer om regverdig te wees. Elke keer wanneer so iets gebeur, durf sy haar suster nie die skuld daarvoor gee nie. Dit was die mans wat net by die eerste blik die kluts skoon kwytgeraak het. Paula het nooit uit haar pad gegaan om die aandag te trek en kêrels van haar af te rokkel nie. Dit was nie nodig vir haar om dit te doen nie. Daarvoor het haar pragtige gesig en liggaamsbou gesorg. En haar sprankelende geaardheid, die gemak en selfvertroue waarmee sy met die teenoorgestelde geslag gekommunikeer het, het vir die res gesorg.
Natuurlik het haar ouers elke keer baie sleg gevoel hieroor. So ook Paula; in so ’n mate dat sy later nie meer wou huis toe kom nie. Maar dit was Petra wat op ’n soort selfkastydende manier moeite gedoen het om elke mansvriend aan haar suster voor te stel … net om elke keer te sien hoe die geskiedenis hom tot vervelens toe herhaal.
Op ’n dag het sy maar besluit om tou op te gooi. Met ’n suster soos Paula sou sy nooit ’n man kry nie, het sy besef. Van toe af het sy alle uitnodigings van die hand gewys; geweier om selfs net vriende te wees. Sy het vas geglo oujongnooiskap is haar lotsbestemming en daarin het sy berus. Maar nie sonder bittere trane nie, want sy was ’n doodgewone jong vrou met ’n behoefte aan ’n lewensmaat en ’n begeerte na kinders, soos enige ander vrou. Maar dit was haar nie beskore nie, het sy geglo.
Totdat dokter Eugene Minnaar skielik op ’n dag die operasiesaal binnegestap het. Hy was nie te onaansienlik nie, maar ook niks om oor huis toe te skryf nie. Tog was hy uit die staanspoor baie gewild. Van die verpleegsters het openlik vir hom ogies gemaak. Sy maniere en optrede in die operasiesaal was onberispelik en Petra het tot haar ontsteltenis besef sy sien uit na dié dae dat sy naam op die lys verskyn. Steeds het sy egter agter haar groen masker en operasiejas geskuil. Bekwaam, ja, maar niks meer nie.
Op ’n dag was sy in die skropkamer doenig toe hy binnegestap kom. Hy het haar stip aangekyk.
“Suster, mag ek jou iets vra, asseblief?”
“Seker, dokter. Kan ek help?” Haar toon was saaklik dog vriendelik, soos altyd.
“Wel, haal dan ’n slag daardie masker van jou gesig af dat ek jou kan sien.” Die grys oë bo die masker het hom verbaas aangekyk, en hy het vervolg terwyl sy hand self na die bandjies agter haar kop gereik het: “Ek kyk nou al weke lank vas in jou pragtige grys oë. Maar ek sal darem nou graag die res ook wil sien.”
Haar hand het onwillekeurig omhoog gevlieg om te keer. “Daar is niks om te sien nie, dokter. Dit kan ek jou verseker.”
Sy wou van hom wegdraai, maar sy hande het vinnig die masker van haar gesig afgehaal. Sy het weerloos na hom opgekyk, ’n diep blos van verleentheid op haar wange en die grys oë troebel. Sy het stilgestaan voor hom terwyl sy blik oor haar gesig gedwaal het. Toe het sy met ongekende bitterheid gesê: “Ek het jou mos gesê daar is niks om na te kyk nie.”
Dit het vir haar gevoel asof sy nakend voor hom staan en sy het vinnig omgedraai en weggestap, die trane skielik vlak in haar oë. Sy kon dit so duidelik op sy gesig lees: Hy het iets verwag en toe niks gekry nie!
Toe sy later van diens gaan, het hy haar in die gang voorgekeer.
“Suster Prinsloo, net ’n oomblik, asseblief …”
Die grys oë wat na hom opgekyk het, was byna openlik vyandig. “Ja?” Sy was intens bewus daarvan dat sy nou nie eens meer die los oorjas gehad het om agter te skuil nie.
“Kan ek jou vanaand vir ete kom haal, asseblief?”
“Hoekom?”
Hy het gefrons, toe kortaf gelag. “My magtie, wat ’n vraag! Omdat ek jou graag vir ete wil uitneem, wat anders? Of het jy ’n kêrel wat …”
Haar mondhoeke het wrang getrek. “Ek het nog nooit so ’n ding gehad nie, dokter.”
Sy oë het vernou, stip gekyk, die seer diep agterin die grys kykers raakgesien. Sy stem was besonder sag: “Ek kom kry jou om sewe-uur. Waar bly jy?”
Natuurlik was sy spyt dat sy ingestem het. Sy het daardie aand, terwyl sy na haar spieëlbeeld gekyk het, vir haarself vertel watter dwaas sy is. Jy het dit al soveel kere tevore probeer en elke keer het dit op ’n mislukking en tranedal uitgeloop. Leer jy dan nooit nie? het sy haarself betig. Sy het stip in haar oë in die spieël gekyk. Hy het gesê sy het pragtige oë …
Dit was die eerste van baie aande. Eugene Minnaar het net nie nee as antwoord aanvaar nie. Teen haar sin en die waarskuwings van haar nugter verstand in het sy teenoor hom begin ontdooi, en die eerste keer in haar lewe was sy ontspanne in ’n man se geselskap.
Maar die vrees het diep binne-in haar gebly, al het sy haarself wysgemaak dat sy hierdie keer niks te vrees het nie. Eugene was anders. Hy was al agt en twintig, verstandig, ewewigtig, ’n man wat hom nie deur ’n mooi gesiggie en ’n pragtige liggaamsbou sommer van stryk sal laat bring nie.
Tog kon sy huil van verligting toe Paula daardie universiteitsvakansie nie huis toe gekom het nie, maar ’n toer saam met ’n paar maats onderneem het. Snags wanneer sy met oop oë lê, wou sy nie aan haarself erken dat sy die oomblik vrees wanneer sy Eugene aan haar suster sal moet voorstel nie.
Want hierdie keer sou dit soveel meer saak maak as die vorige kere. Die vorige kere het sy verneder gevoel. Hierdie keer sal haar hart verguis wees. As dit dié keer moet gebeur, sal dit haar vernietig, want al die jare se drome het sy om Eugene Minnaar begin weef; hy was die middelpunt van al haar hunkering, al die jare se frustrasie en ingehoue emosie. Hy het haar hele bestaan geword.
En gisteraand het hy haar vertel dat hy haar liefhet, haar gevra om met hom te trou.
Sy sit ’n oomblik stil agter die stuurwiel nadat sy haar motortjie voor haar ouerhuis tot stilstand gebring het en sluit haar oë. Here, asseblief tog, nie dié keer nie! Net nie weer dié keer nie! pleit sy.
Sy sien haar ma in die voordeur verskyn en klim uit. “Petra, hier het ’n telegram aangekom. Tant Petronella is baie siek. Sy vra of jy nie ’n rukkie na haar toe kan kom nie.”
Petra frons. Hoekom moes dit nou juis op hierdie tydstip gebeur? Noudat sy glad nie hier wil weggaan nie? Tant Petronella was al die jare baie geheg aan haar, hoofsaaklik omdat sy haar naamgenoot is en andersins natuurlik uit jammerte omdat sy so teen haar tweelingsuster afgesteek het.
“Jy het mos nog verlof, my kind? Kan jy nie maar net ’n week aan haar afstaan nie?” hoor sy haar ma sê, en sy voel skuldig oor die teësin in haar hart.
Arme tant Petronella! Nie alleen het hulle dieselfde naam nie, maar hulle aard ook na mekaar. Tant Petronella was ook die lelike eendjie in die familie. ’n Oujongnooi. Maar sy is ook die rykste van die familie. Of dit ooit voldoende kompensasie was vir ’n lewe van eensaamheid en frustrasie, betwyfel Petra. Die enigste mens wat regtig na aan haar is, is sý. Sy durf nie weier nie. Maar om nou weg te gaan …
“Ek sal die superintendent bel en hoor, Mamma. Ek het nog verlof oor,” hoor sy haarself sê terwyl sy bewus is daarvan dat haar hele wese die teenoorgestelde wil uitskree.
Met ’n swaar hart hoor sy dat sy haar uitstaande verlof dadelik kan kry en ’n paar oomblikke later praat sy met die man van haar drome. Sy voel effens beter toe sy die duidelike teleurstelling in sy stem hoor, en sy verduidelik omslagtig: “Tant Petronella is my pa se oujongnooisuster wat alleen in haar huisie op die dorp bly. Sy is ’n baie eensame ou mens en verskriklik geheg aan my. Net die feit dat sy gevra het of ek kan kom, laat my vermoed sy moet baie siek wees, want sy was haar lewe lank ’n baie onafhanklike mens. Ek durf nie nou weier nie, Eugene. As ek haar kan oorreed om saam met my terug te kom,