Ena Murray Keur 10. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
geheim gehou!” Die donker oë vonkel nou prettig. “Niemand hier in Toulon weet dat die oujongnooi in die eenvoudige huisie eintlik ’n paar jaar gelede ’n bekende gas aan die paleis van die koning was, en dat die jong meisie na wie sy omsien ná haar broer se dood, eintlik die erfgename van ’n titel is nie. Niemand droom om my te verbind met een van die pare wat gedurende die rewolusie onder die valbyl gesterf het nie. Hoe sal hulle weet ek is die meisietjie wat daardie tyd oorgebly het en wat hier, in Toulon, kom skuil het?”
Sy kyk om haar rond, lag weer. “Wie sal ooit, as hy na hierdie huis kyk, daarvan droom dat hier ’n fortuin aan juwele en ander kosbaarhede versteek lê, my erfenis wat gered kon word voordat die gepeupel ook op my ouers toegeslaan het? U is verniet bang, tante!”
Die ouer vrou skud haar kop. “Jy verstaan nie alles nie, my kind.”
“Maar dis soos u my dit vertel het. U wou my nog net nooit wys waar u my erfporsie versteek het nie. Dis al.”
“Daarom wil ek vanaand met jou praat, kind. Dit is nie hier nie, Lille.”
“Nie … hier nie? Waar dan?”
“Dis baie ver hiervandaan. Nie net dit wat ons van jou ouers kon red nie, maar ook my eie is baie ver hiervandaan veilig weggesteek. Eintlik is ons waar ons nou hier sit net gewone arm mense soos miljoene ander Franse.”
Lille frons liggies. “Ek begryp. Waar is dit dan?”
Josephine aarsel. “Dis ’n lang storie en ek sal eers verduidelik. Jy het my nog nooit gevra hoekom ek nooit getroud is nie.”
Lille kyk haar verbaas aan. Wat hierdie feit met háár erfporsie te doen het, kan sy nie dink nie. Sy kyk nou die ouer vrou vas aan en erken reguit: “Nee, ek het nie. Nie dat ek nie al wou sterf van nuuskierigheid nie! Maar ek het aangevoel dis iets waaroor u nie graag wil praat nie.”
Josephine knik, haar gedagtes ’n oomblik ver terug in die verlede. Nee, ’n mens wil nie graag praat nie, maar vanaand moet sy. Daar is te veel op die spel. Dan glimlag sy effens wrang. Sy is al ’n ou vrou van sewentig. Hoekom nou nog steeds so wegskram van daardie deel van haar lewe? Tog … Daar is herinneringe in elke mens se lewe wat nooit werklik gebêre kan word nie. So het haar liefde vir Corné Bidault bly voortlewe … al moes sy dit al langer as vier dekades begrawe het.
“Ek het verlief geraak op ’n gewone man. Jou oupa wou natuurlik niks daarvan weet nie. Ons was van adellike afkoms en net iemand met ’n titel sou hom tevrede stel. Nie dat Corné Bidault heeltemal van die gepeupel was nie. Inteendeel. Hy was self iemand met blou bloed in sy are, maar soos so dikwels gebeur, het sy kant van die familie in die vergetelheid versink, wegbeweeg van die erfenis van ’n titel omdat daar te veel vóór hom aanspraak daarop kon maak. Ek moes van hom afsien en het nooit getrou nie.”
Lille sit doodstil en luister, jammerte en deernis in haar blik wat op die ouer vrou se fyn, vervalle gelaat rus. “En hom ook nooit vergeet nie,” voeg sy sag by.
Hy moet ’n besonderse man gewees het, besef die jong meisie, om Josephine Jacquard se hart so volkome te kon verower dat sy niemand in sy plek kon stel nie. Want sy kon kies en keur aan die Franse hof. Sy was beeldskoon. Ook nou, selfs in hierdie later jare van haar lewe, besit haar gesig ’n soort eteriese skoonheid wat Lille nog kan raaksien.
“Ons het mekaar jare lank nie gesien nie, niks van mekaar gehoor nie. Op ’n dag het hy egter skielik weer verskyn. Hy het my net kom waarsku dat ’n rewolusie in aantog was en dat ek betyds moes padgee. Daardie tyd was my vader, jou oupa, reeds oorlede. Ek het toe al by jou ouers gebly.”
“Maar hoekom het julle nie toe getrou nie, tante?” roep Lille uit, aangedaan deur die verhaal wat sy moet aanluister.
’n Meewarige glimlaggie speel rakelings om die bleek lippe. “Dit was te laat. Corné is intussen getroud.”
Die donker oë blits verontwaardig. “O, hy kon nie wag nie!”
Maar Josephine skud haar kop. “Nee, Lille. Ek het hom nie daaroor verkwalik nie. Hy was ’n gesonde, normale jong man. Hy kon nie vir ewig wag dat ’n hardkoppige ou man moes sterf sodat hy met die vrou van sy hart kon trou nie. Ek het verstaan. Maar hy het my nooit vergeet nie. Dit het hy bewys deur my te kom waarsku toe toestande in Frankryk begin sleg lyk. Hy was bereid om my self hier weg te neem na ’n veiliger plek. Ek wou nie gaan nie.”
“Hoekom het u nie gegaan nie, tante?”
“Ag, dit was nie vir my die moeite werd nie. Corné was vir ewig vir my verlore. Hy had ’n vrou en seun. ’n Goeie vrou en ’n pragtige seun. Hy het weer gekom, en weer, ook ernstig met jou vader gepraat, hom gesmeek om betyds pad te gee, want dinge gaan handuit ruk. Hy was in die kol. Dit het. Die meeste van die adellikes is aan die valbyl geoffer. Maar hoewel jou vader ook nie wou gehoor gee om pad te gee nie, het hy tog Corné se waarskuwings so ter harte geneem dat hy ’n groot deel van sy besittings, die erfjuwele en so meer, aan Corné toevertrou het om veilig te bewaar. ’n Paar dae voordat die hel in Frankryk losgebars het, het hy weer gekom, en vir my en vir jou weggeneem uit Parys. Jy onthou seker maar min daarvan, want jy was toe net nege jaar oud.”
Lille frons, knik. Sy onthou die vriendelike gryskopman met wie hulle saamgegaan het en wat hulle na Toulon gebring het. Sy onthou die vriendelike vrou wat hulle ontvang het en vaag, baie vaagweg, onthou sy ook ’n ander jong man wat daar was.
“Ja, dit is sy huis dié. Hy het dit net so aan jou en my gegee om in te woon. Hy en sy gesin is die volgende dag op ’n skip weg. Ek het hom nooit weer gesien nie. Gedurende die seereis het hy griep opgedoen en is oorlede. Sy vrou is ook intussen oorlede. Dis nog net die seun wat oorgebly het.”
“Waarheen het hulle gegaan?” wil Lille belangstellend weet.
“Na Kaap die Goeie Hoop. Hy wou daar ’n nuwe lewe gaan begin.”
“In daardie woeste, afgeleë wêreld?”
Daar is ’n teer glimlag om Josephine Jacquard se lippe. “Hy was altyd ’n avontuursoeker. Hy kon die mak lewe van Parys nooit verdra nie. Sy seun aard so reg na hom.”
“En die erfenis? Waar is dit nou?”
“Corné het dit saam met hom geneem na Kaap die Goeie Hoop.”
“U bedoel … my erfenis lê dáár?” vra Lille, en die ouer vrou knik.
“Ja. Dit is die veiligste plek. Ek het net genoeg vir ons hier agtergehou sodat ons ’n redelike bestaan kon voer.”
“Maar hoe gaan ons dit hier terugkry?”
Haar tante kyk haar ’n oomblikkie stil aan. “Dis juis waaroor ek met jou wou praat, Lille. Oor jou erfenis. Ek kan dit nie sommer net vir jou gee nie.”
Lille frons. “Wat bedoel u?”
“Jy is ’n jong meisie en met daardie erfenis die prooi vir wolwe. Voordat ek dit aan jou gee, moet ek weet dat die man met wie jy dit sal deel, dit waardig sal wees. Ek gaan nie dit – al wat oorgebly het van alles wat ons familie gehad het – in die hande van ’n geldwolf laat beland nie.”
Die ouer vrou kyk stip voor haar uit en skielik is dit of daar hernieude krag in haar skraal liggaam kom sodat die aristokrasie van eeue wat deur haar are vloei met die oog sigbaar is.
“Jy kom uit ’n trotse geslag, Lille. Jy dra adelbloed in jou are, al beteken dit vandag in Frankryk niks meer nie. Ek gaan nie toelaat dat jy met enige Jan Rap en sy maat trou nie. Jy moet dit duidelik verstaan.” Haar stem is so beslis soos wat Lille dit nog nooit gehoor het nie. “Die mans met wie jy deesdae meng, dra nie my goedkeuring weg nie. Veral hierdie jongste vryer van jou …”
“Hy is nie ’n vryer nie,” laat Lille verontwaardig hoor, maar haar tante het die ervaring en mensekennis van baie jare agter haar.
“Hy sal dit binnekort wees,” laat sy droog hoor. “Ek het gesien hoe hy na jou kyk vanaand toe hy jou kom haal het. Ek hou nie van hom nie.”
Lille frons nou diep, en ook sy kyk reguit terug. “Tante, gaan u dus nou aan my dieselfde