Koors. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
aan. Nostalgie fluister: “Vertel vir hulle van hoe Lizette Schoeman jou hart gebreek het toe jy amper sestien was.” Dit is, terloops, onopspraakwekkend: Ek kom afgestap van die watertoring se kant af in die Sondag-laatmiddag van Augustus, in Die Jaar van die Jakkals. Ek sien vir Lizette in ’n omhelsing met Charl Oosthuizen, ’n man in sy dertigs wat skaars twee maande in Amanzi is.
Ek wil huil, ek wil skree, ek wil voor haar neerval, ek wil hom aanrand, ek wil vlug, vir altyd wegkom. Maar ek hou net aan met stap Orphanage toe, my hart stukkend, stukkend, stukkend. (Skaars twee maande later sal dit volkome herstel!)
Hulle is eindelik getroud, dié twee. Charl is ’n goeie man, hy word later ’n groot sonneblomboer, en sy ons grootste heuningprodusent. Maar ek kon eers regtig van hom begin hou nadat ek die liefde van my lewe gevind het.
Ek was vir twee jaar lank intens en nutteloos verlief op Lizette. Nutteloos, omdat ek nog kind was, en sy nie. Nutteloos, omdat dit nie wederkerend was nie.
En nutteloos omdat ek daardeur die grootste liefde- en luste-bonanza van my era misgeloop het, veroorsaak deur:
Ten eerste, die algemene verskynsel van wat Nero Dlamini die “baby boom effect” genoem het, ’n menslik-evolusionêre drang tot ’n drastiese toename in bevolkingsaanwas ná ’n bloedige oorlog – of ’n verpletterende virus-epidemie.
Ten tweede, die groot begeerte van mense om aangeraak en vasgehou te word, om te konnekteer, te koester en gekoester te word, in ’n wêreld waar die normale bronne daarvan uitgewis is – ouers, gesins- en familielede, en geliefdes. Nero het dit die John Bowlby-effek genoem, en gesê onder jongmense wat nog boonop erg getraumatiseer was, het dit ’n groter invloed.
En ten derde, die feit dat tieners – in elk geval die ywerigste vryers in die wêreld – statisties een van die grootste groepe in Amanzi was. Omdat dié ouderdomsgroep se jeug, aanpasbaarheid en fisieke krag hulle gehelp het om die gevare van die post-apokalips so ’n bietjie makliker te oorleef.
Dit was die Dlaminiaanse, akademiese verduideliking vir die Groot Gevry, onder oud en jonk, maar veral jonk, en ek het dit misgeloop omdat ek soos ’n sot verlief was op Lizette Schoeman. Maar nie Jacob Mahlangu nie. Hy het die oorvloed van aanbod benut, en my nooit aangemoedig om dieselfde te doen nie. Jare later sou hy beken: “I did not need the competition, Nico. I’m not stupid. If you knew how many of the girls had a crush on you … I had to console them.” En dan lag hy daardie diep Mahlangu-lag wat sy hele lyf laat skud.
Jacob was my mede-veewagter en my kameraad. Hy was ook my skinderkonneksie, my inligtingsbron oor alles buite die Orphanage. Want as seun van die Voorsitter het ek die groot voordeel van binnekennis gehad in daardie eerste jare; van Komiteevergaderings en -besluite, van die groot kwessies van ons gemeenskap, die onderstrominge, die planne, die konflikte en die strategie. Maar die grootste nadeel was dat die mense van Amanzi my nie met al die skindernuus en klagtes vertrou het nie. Ook nie met die kritiek wat hulle maar altyd op die Voorsitter en die Komitee en al sy lede gehad het nie, ongeag of hulle goeie of slegte besluite neem.
En dit is waar Jacob so ’n belangrike rol gespeel het. Ons is in vele opsigte teenoorgesteldes, en die perfekte kombinasie. Jacob is rustig, geduldig, filosofies, gemaklik in sy eie vel. Ek is nie een van daardie dinge nie. Tog het ons al twee ’n liefde vir lees ontwikkel, en ’n onblusbare dors na skindernuus.
Dit was Jacob wat my een oggend by die skool eenkant toe geroep het en ademloos gesê het: “Beryl and Nero are gay.”
Ek het op veertien ’n ietwat losse begrip van die term gehad. “Gay? Maar hulle kan mos nie saam gay wees nie.”
“No, stupid, she likes women and he likes men.”
“Hoe weet jy?”
“Auntie Denise said so.” Denise was ’n veertigjare vrou wat op Aankomsdag al gearriveer het, een van die groot skindertonge in Amanzi. “She says Beryl was a pro golfer, and everybody knows pro golfer women were all gay. And you can still see from Beryl’s muscles, and her butch ways.”
Ek dink aan Beryl, en op daardie oomblik maak dit sin.
“En Nero?”
“Has he shown any interest in any of the women?”
“No …”
“And the way he dresses. And speaks …”
“Oh.”
“So there …”
Ek het hom geglo.
* * *
Sipho Jola is gebore op 26 Desember in die Jaar van die Hond, die eerste mens wat die lewe inkom as ’n lid van die gemeenskap van Amanzi.
Sy naam beteken “geskenk”.
Die Groot Gevry sou vier-en-twintig babas in die daaropvolgende twaalf maande – die Jaar van die Kraai – oplewer.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.