Ena Murray Keur 11. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
op Praslin nie. Sy sien eerder kans om met Daphne ’n vriendskap te smee as met Carroll Day. Hoewel eersgenoemde ook nie tot dusver uit haar pad gegaan het om haar tuis te laat voel nie, was sy ten minste beleef.
“Moet Karlien nou nie op Praslin gaan begrawe nie, Julius. Bring haar saam wanneer jy hierheen kom,” sê James Roderick vriendelik en Karlien se hart klop sommer warm vir hom. Noudat hy oor sy ergste verbasing gekom het, is hy vriendelik en voel Karlien nie ’n onderstroming van emosies by hom aan soos by die ander nie.
Die jong John ondersteun sy pa. “Ja, bring haar gerus. Ek hoop jy speel tennis, Karlien?”
“O, nee! Ek het skaars op skool gespeel …”
“Toemaar. Nie een van ons is kampioene nie, behalwe miskien Malcolm en Julius. Hulle doen niemand se ego goed op die tennisbaan nie. Bring vir jou klere saam wanneer julle kom.”
Sy glimlag vir hom. Daar skort niks met die Roderick-mans nie. Ook Malcolm is gaaf. Maar van die vroue weet sy nie so mooi nie …
Met die gevoel dat sy pens en pootjies in ’n maalkolk beland het, laat sy toe dat Julius haar in die motorwoonskuit help wat hulle en die Days na Praslin sal neem. Julius is buite by die stuur en Carroll het haar by hom gevoeg. Malcolm kom sit op die bank teenoor haar.
“Ek hoop jy sal van ons eiland hou, Karlien. Julius het jou seker al vertel dat Praslin beskou word as ’n stukkie van die oorspronklike Eden?”
Sy knik. “Ja, hy het my vertel. Maar hy het van die Seychelle in die geheel gepraat. Hoekom noem jy Praslin spesifiek?”
“Omdat ’n mens net op Praslin die verbode vrug aantref.”
Sy kyk hom ongelowig aan. “Die … verbode vrug?”
“Ja.” Hy glimlag vir haar verbasing. “Eden sonder die verbode vrug sal tog nie Eden wees nie, nie waar nie? Alles was volmaak in die tuin van Eden en alles was tot hul beskikking behalwe daardie een spesifieke vrug – die verbode vrug. En toe het die slang gekom en Eva verlei, nè?”
Hy lag, maar sy besef dat hy nie regtig snaaks probeer wees nie. “En Eva – omdat sy Eva was – kon die versoeking nie weerstaan nie en het ook die arme Adam verlei om saam met haar van die verbode vrug te eet. En omdat Adam Adam was, het hy geswig voor die vrou … en die Paradys was nie meer ’n paradys nie.”
’n Oomblik lank skuif daar ’n somber trek oor sy gesig, soos ’n skaduwee wat daaroor val. Maar dit verdwyn so vinnig weer dat Karlien wonder of sy haar dit nie maar verbeel het nie. Hy lag weer en laat duidelik tergend hoor: “Ook hierdie Eden – ’n afglansing van die oorspronklike, of miskien tog ’n werklike stukkie daarvan – het sy verbode vrug. Pas maar op!”
Die bruin oë kyk hom verward aan. “Ek … begryp nie, meneer …”
“Noem my gerus Malcolm. Praslin is nie so groot nie. Ons is daar heeldag onder mekaar se voete, en die vrou van my beste vriend gaan my beslis nie meneer nie.”
“Dankie, Malcolm. Julle is almal baie gaaf,” sê sy. Maar hy skud sy kop en die glimlag verdwyn van sy mond.
“Nee, Karlien. Ons was tot dusver allermins gaaf teenoor jou. Ek vra om verskoning vir myself en die ander.”
“Maar …”
Hy skud weer sy kop. “Dis nie nodig om toneel te speel nie.”
Sy vang haar onderlip vas en voel hoe haar hartklop versnel. Wat sou hy bedoel? Raai hy maar net of het Julius hom vertel?
Maar sy volgende woorde stel haar gerus.
“Julius het ons almal onkant betrap. Hy het jou darem te skielik gebring. Vergewe ons maar. Elkeen van ons is op ’n besondere wyse erg oor Julius. Ons sal eers gewoond moet raak aan die idee dat hy nou getroud is … en met jou. As daar van ons is wat aan die begin nie so … vriendelik, spontaan vriendelik, teenoor jou is nie, moet jy ons nie sommer veroordeel nie. ’n Mens raak soms so vas aan ’n persoon dat jy selfs die loop van sy lewe wil beplan. Jy kom dit miskien nie eens agter nie. ’n Mens vergeet so maklik dat elke mens die reg het om sy eie lewe te lei en dat jy geen inspraak het nie.” Sy gesig is nou beslis somber en dis of hy hom doelbewus regruk. “Maar ek is besig om ’n klomp twak te praat waarvan jy niks verstaan nie. Vergeet maar daarvan. Daar is net een ding, een vraag wat ek graag wil vra, as ’n vriend … ’n besondere vriend van Julius.”
“Ja?” Karlien dwing haarself om hom kalm aan te kyk terwyl sy letterlik voel hoe die spanning in haar toeneem.
“Het jy hom lief, Karlien … baie lief?”
Haar hartklop verstil. Haar mond gaan vanself oop om ja te antwoord. Dan stol die klank op haar lippe terwyl sy diep in die bekommerde, amper weemoedige oë van Malcolm Day kyk. Teen wil en dank kan sy nie koelbloedig lieg terwyl sulke oë na haar kyk nie.
“Ek is jammer, Karlien,” sê hy en neem haar een hand in syne. “Ek is onvergeeflik persoonlik. Natuurlik moet jy hom liefhê, baie liefhê, as jy met hom getrou het en bereid is om op ’n afgesonderde eiland saam met hom te kom woon.” Hy gee haar hand ’n drukkie en los dit dan. “Vergewe my,” herhaal hy. “Dis maar net omdat Julius so ’n besondere man is dat ek dit vra. Maar dit weet jy seker self. Ek hoop jy sal hier baie gelukkig wees, Karlien. Ek gun jou dit met my hele hart.”
“Dankie, Malcolm.” Karlien voel ’n knop in haar keel. Hy klink so opreg, en sy weet dat sy in hierdie man ’n vriend gevind het. As daar een mens op hierdie eilandgroep is vir wie sy beslis geen vrees hoef te koester nie, dan is dit vir Malcolm Day, die vriend van Julius. Maar sy vrou …
Onwillekeurig draai haar kop en kyk sy deur die venstertjie na waar Carroll en Julius staan. Haar kop is na hom opgehef, haar gesig strak. Waaroor sou hulle twee so ernstig praat? Malcolm volg haar blik en lank is dit stil in die klein kajuitruimte. Toe hy weer praat, vra hy uit oor die reis en het die grimmige trek om sy lippe verdwyn.
Toe hulle Praslin nader, vertel Malcolm vir Karlien dat dit die tweede grootste eiland van die Seychelle is.
“Verder sal jy oral in hierdie waters stukkies aarde so groot soos ’n posseël sien uitsteek wat onbewoon is, met net ’n enkele kokosneut of ’n paar palmbome en sand daarop. Dis net die groter eilande wat bewoon en bewerk word.” Die dreuning van die kragtige boot verstil. Hy staan op en glimlag op haar af. “Weer eens welkom in Eden, Karlien.”
Toe sy aan wal stap, wag Carroll reeds op haar. Wat sy in die koue oë lees, laat Karlien wonder of dit werklik so ’n danige Eden is. Sy kan nie dink hoekom die ander vrou so duidelik vyandig is nie, behalwe as dit is omdat Carroll Day tot dusver die enigste Eva in hierdie Eden was. Maar dan … twee Adams is een te veel, nie waar nie? Of miskien … miskien het hierdie Eva daarvan gehou om twee Adams te hê.
Digby die klein kaai staan ’n huis helder verlig in die maanlig. Haar toekomstige woning. Sy is aangenaam verras. Dis ’n houthuis, met ’n houtbalkonstoep reg rondom. Die huis is op stutte gebou om die wegloopwater van die reënseisoen deur te laat see toe, vertel Julius. Die tropiese weelde van rank- en ander plante groei baldadig oor die relings, teen die mure en oor die dak.
“Dis ’n woesteny, Julius. Regtig –”
“Ag, Malcolm, hou tog nou op met sanik,” val sy vrou hom ongeduldig in die rede. “Julius het seker sy redes hoekom dit so dringend noodsaaklik is dat hy en sy … vrou dadelik moet intrek.”
Karlien maak asof sy die bedekte skimp nie hoor nie. Ook Julius ignoreer dit, maar daar het ’n diep frons tussen sy wenkbroue verskyn. Hierna is Malcolm ook stil en die volgende uur word daar nie veel gepraat nie. Kratte en kartondose wat reeds deur ’n ander boot hierheen gebring is, staan die hele stoep vol. Sumong, Julius se persoonlike huishulp, ’n groot, vriendelike Neger, spring dadelik aan die werk en binne ’n japtrap is die huis uitgevee en afgestof. Die mans dra die voorrade in en Malcolm wys na ’n paar kartondose.
“Julius sê die beddegoed is daarin, jy kan solank die beddens opmaak. Ek gaan gou die gas inkoppel.” Hy glimlag vir haar groot oë. “Ja, kindjie. Of het jy gedink jy sal ’n