Hermann Giliomee: Historikus. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
het ek gaan sit en ’n akademiese artikel oor Van der Merwe se “onoorkomelike besware” geskryf. Dit is in Februarie 1969 gepubliseer in Standpunte, ’n tydskrif wat aan sowel die lettere as geesteswetenskappe aandag gegee het. Ek het heelwat ammunisie gehad. In 1966, toe ek in Amsterdam gestudeer het, het ek ’n krediet verwerf in die vak kontemporêre geskiedenis aan die Gemeentelike Universiteit. Die grootste deel van die kursus is in beslag geneem deur ’n gevallestudie van die magsgreep van Adolf Hitler in Duitsland gedurende die jare 1933 tot 1934, net meer as dertig jaar tevore.
Ek het geskryf dat daar ’n groot drang by die voorste historici in Europa ontstaan het om die geskiedenis van hul tyd te skryf weens die afgryse wat die menseslagting in die twee wêreldoorloë gewek het en veral die uitwissing van die Jode en ander minderheidsgroepe. Dit was nie meer gerade om te wag totdat die tyd ryp was voordat die pen opgeneem word om ’n bepaalde historiese gebeure aan te pak nie. Die groot ontnugtering van veral Westerse mense en die ontreddering van die tyd het gevra dat historici antwoord gee op die vraag hoekom die beskawing die pad so byster geraak het.
Oor die Afrikaners het ek geskryf: “Was daar al ooit, met die uitsondering van Duitsland, vir ’n volk ’n groter impuls of ’n sterker dryfveer om aan homself en vir die wêreld rekenskap te gee van sy geskiedenis en veral van sy resente geskiedenis.” Ek het ook gevra: “Het die Afrikaner met al die aantygings oor die aard en wese van sy karakter nie ’n plig en roeping om die antwoorde te gaan soek ook in die afgelope eeu nie?”43
Ek het ook geargumenteer dat die skryf van kontemporêre geskiedenis geen nuwe vaardighede vereis nie; dit bring wel die groot uitdagings in skerp fokus wat geskiedskrywing inhou. Niemand in die departement het op my artikel gereageer nie. Waarskynlik het my opstandjie nooit onder die aandag van my professore gekom nie. Ek wonder of Van der Merwe hom sou verwerdig het om dit met my te bespreek indien hy dit wel gelees het.
In stormagtige tye
Met geen moontlikheid om oor ’n eietydse onderwerp te skryf nie, het ek gevat wat die professore voorgestel het. My magister-verhandeling het gegaan oor die eerste jare nadat Brittanje die Kaap in 1806 vir ’n tweede keer beset het. Die professore het voorgestel dat ek vir my doktorstesis oor die tydperk van 1795 tot 1803 skryf toe die Kaap deur Brittanje beset is nadat dit 143 jaar deur die Kompanjie geregeer is.
Dit was op die ou end vir my ’n baie goeie oefening om oor ’n hele samelewing in ’n tyd van krisis te skryf. In werklikheid was die Britse bewindsoorname in 1795 nie ’n blote verandering van bewind nie, maar ’n regime-verandering wat gepaard gegaan het met ingrypende veranderings in die regeringsvorm, ekonomiese stelsel en maatskaplike waardes. Ek het met verbasing en plesier agtergekom hoe uitdagend die geskiedenis van stormagtige tye is.
Ná 1795 – soos ook ná 1994 – moes die mense binne die koloniale grense – amptenare, burgers, slawe en Khoisan en Xhosa – hulle aanpas by ingrypende veranderinge en nuwe idees. Vir hulle het dit gelyk of die wêreld op sy kop gekeer is. Waar daar voor 1795 ’n hiërargie was van groepe bestaande uit amptenare, burgers en slawe wat deur die wet gedefinieer was en wat elkeen hul onderskeie status met verskillende regte gehad het, was daar nou net “British subjects”, wat mettertyd op gelyke voet voor die wet geplaas moes word.
In baie opsigte was die geestesklimaat in die kolonie in die vroeë 1790’s en die vroeë 1990’s dieselfde. In die vroeë 1790’s het die burger JF Kirsten die tydsgees goed vasgevat: “Die regering het die mense se respek verloor; elkeen wil beveel en niemand wil gehoorsaam nie.”44
Ek het in 1972 my doktorsgraad op grond van die proefskrif ontvang. Hiermee het ek formeel my vakleerlingskap in geskiedskrywing voltooi. Maar dit was nie die tyd om terug te sit nie. Stellenbosch was beslis nie op die voorpunt van ontwikkelinge in die Westerse historiografie nie.
’n Gewigtige ontmoeting
Terwyl ek in 1968 in die Kaapse Argiefbewaarplek navorsing vir my doktorstesis gedoen het, het ek Rick Elphick toevallig ontmoet, wat besig was met sy doktorale studie oor die Khoikhoi. Hy was ’n Kanadese burger en ’n doktorale student van Leonard Thompson aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles. Thompson het in 1969 professor in Afrika-studies aan die Yale-Universiteit geword en het gereël dat Elphick se inskrywing daarheen oorgeplaas word.
My ontmoeting met Elphick was beslissend vir my loopbaan. Elphick is een van die subtielste en innoverendste historici wat oor Suid-Afrika werk. My vriendskap met hom en ons professionele samewerking was een van die grootste vormende invloede op my loopbaan.
Terwyl Elphick argiefnavorsing gedoen het, het hy ook Stellenbosch besoek. Ek het hom aan verskeie Stellenbosse akademici voorgestel. Hy onthou dat ek optimisties oor ingrypende hervorming was. Die Afrikaners was nie monolities nie, het ek gesê, en daar was ’n jonger geslag wat besig was om die pilare van Afrikaner-mag te begin skud. Hy skryf dat ek hom verseker het dat ek nie van plan was om ’n verengelsde Afrikaner of volksvreemd te word nie.45
Elphick het ná sy navorsing in Kaapstad na Maseru gereis waar hy hom by Thompson aangesluit het wat met ’n biografie van Moshweshwe besig was. Toe hy Thompson vertel van die goeie gesprekke wat hy met my en ander Afrikaners op Stellenbosch gehad het, het hy negatief gereageer. Hy het geskimp dat Elphick dalk met rassisme besmet geraak het. Dit was absurd. Elphick se betrekkinge met Thompson het nietemin sodanig verbeter dat hy hom kon oorreed om my as nagraadse genoot na Yale te nooi.
Thompson sou ’n groot rol in my loopbaan speel. Hy is in 1916 in Brittanje gebore en het eers daar skool gegaan en toe in Suid-Afrika waarheen sy ouers geëmigreer het. Hy het in die Tweede Wêreldoorlog geveg en daarna as ’n Rhodes-student aan die Universiteit van Oxford gestudeer. Ná sy studies was hy net langer as tien jaar lektor in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad. As ’n lid van die Liberale Party was hy aktief betrokke in die stryd teen die verwydering van die bruin mense van die kieserslys.
Hy en Monica Wilson, ’n antropoloog verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, was die redakteurs van Oxford History of South Africa waarvan die eerste band in 1969 verskyn het en die tweede in 1971. Die boek kon amper rewolusionêr genoem word. Vir die eerste keer het gerekende akademici in verskeie dissiplines saamgewerk aan ’n boek wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis as Afrika-geskiedenis uitgebeeld het met swartes in die hoofrol eerder as ’n deel van ’n wit-sentriese geskiedenis. Waar vorige historici, soos Eric Walker, die Groot Trek as die sentrale gebeurtenis in die geskiedenis beskou het, beeld die werk die trek uit as ’n indringing waarop die Zoeloes in Natal en die swart nasies op die Hoëveld moes reageer.
Die tweede band van Oxford History of South Africa, wat in 1971 verskyn het, was minder kontroversieel. Veral die hoofstukke oor mynbou en landbou, deur Francis Wilson en David Welsh onderskeidelik, benader die geskiedenis op ’n vars manier. Daar is ook hoofstukke oor Afrikaner-nasionalisme en Afrika-nasionalisme onderskeidelik deur René de Villiers, ’n joernalis, en Leo Kuper, ’n antropoloog, wat minder geslaagd is. Dit bevestig die ou reël dat liberale sukkel om met insig en begrip oor nasionalisme te skryf.
Die verwagting was dat die twee volumes, wat saam duisend bladsye beslaan, as die nuwe ortodoksie aanvaar sou word. In stede daarvan het dit die teiken geword van ’n vurige aanslag deur radikale geleerdes, wat meestal mense van my geslag was. Hulle het aangevoer dat die liberale benadering, soos vervat in Oxford History, verouderd was, al is dit skerp krities oor wit heerskappy. Volgens hulle moes die klem val op strukturele ontleding en veral op kapitalistiese uitbuiting, wat volgens hulle die eintlike bewegende krag in die geskiedenis is.
Ek het nie met die liberale of radikale saamgestem nie. Wat ek egter nie geweet het nie, was dat sekere Afrikaner-historici, veral Floors van Jaarsveld, met misnoeë sou reageer op my besluit om aan Yale post-doktorale studies onder Thompson te gaan doen. Vir hom was dit ’n bevestiging van die vermoede dat ek na die liberale kant oorgeloop het.
’n Besondere jaar
Die jaar wat ek saam met Annette en ons twee dogters, Francine (5) en Adrienne (2), in New Haven, Connecticut deurgebring het, was ’n verrykende ervaring. Vir my as historikus was dit ’n groot stimulus. Van al die top Amerikaanse universiteite was Yale die een waar die grootste proporsie studente geskiedenis