Hermann Giliomee: Historikus. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
pastorie te bou, afkeur.
My oupa het sy lewe lank ’n andersheid behou. Johan Steyn, wat in sy kinderdae dikwels op Grasberg gekom het, het hom so beskryf: “Hy was ’n fyn, ontwikkelde mens, afsydig van die destyds minder ontwikkelde boere van sy omgewing – ek meen dat die brein van Johann (sy seun) en sy broer en susters van daardie kant gekom het.”
My ouma Hester was algemeen bekend vir haar takt, meelewendheid en gawe om mense met mekaar te versoen. Haar amper eindelose geduld met my oupa het egter ook perke gehad. By een geleentheid het sy uitgebars: “Nou kan ek sien hoekom jy met almal haaks is.” My oupa se antwoord was: “Wel, óns het ten minste meer as vyftig jaar met mekaar klaargekom.”
Die egpaar het nege kinders gehad. Die oudste, Johann, is in 1900 gebore en my moeder, Rina, die derde kind, in 1903. Elias, die enigste ander seun, het ’n graad in landbou behaal en daarna die boerdery op Brandkop en Grasberg oorgeneem.
Deesdae bemark die toerismenywerheid die Bokveldberg-plato, met Nieuwoudtville as die kommersiële sentrum, as die “bolle-hoofstad van die wêreld”. My oupa was die eerste persoon wat die potensiaal van bolle as ’n produk vir die Kaapse mark besef het. Hy was immers ’n kind van Ochsenwerder, waar die familie geslagte lank groente vir die mark gelewer het.
My oupa was bekend vanweë die Hollandse tulpe wat hy gekweek het en sy lewendige belangstelling in die kontrei se veldblomme. Een van die bolplante is na hom genoem, naamlik Hesperantha buhrii (nou beter bekend as Hesperantha cucullata).
Hy het ook plate Sparaxis elegans geplant en die bolle bemark. ’n Artikel in die destydse Sarie Marais het hom as die “Blommebuhr van die Bokveld” beskryf. Sy seun, Elias, het sy belangstelling in veldplante geërf. ’n Aalwynsoort wat hy eerste versamel het, Aloe buhrii, is na hom genoem.6
Vir my en al die ander Buhr-kleinkinders was Grasberg ’n wonderwêreld waarvan ons nooit genoeg kon kry nie. Oupa het ’n lushof van blom- en groentetuine en vrugteboorde geskep en alles in stand gehou ondanks periodieke droogtes. Ek en my gesin het elke jaar een of twee keer op Grasberg gaan kuier waar ons hartlik ontvang is.
’n Studenteprins
Johann Buhr, die oudste kind in die Buhr-gesin, is in 1900 gebore.7 Ek het grootgeword met herinneringe aan “Oom Johann”, soos die Buhr-kleinkinders hom bly noem het. Dit was of hy steeds geleef het hoewel hy reeds in 1940, twee jaar ná my geboorte, dood is. Op Grasberg het feitlik elke mens ’n staaltjie oor hom vertel. My neef, Hermann Spangenberg, later professor in sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, onthou dit so: “Sy genialiteit en nederigheid was so oorweldigend dat hy die lieflingseun van die omgewing was: hy het die natuurlike skranderheid en nederigheid van die mense vergestalt.”
Oom Johann is Stellenbosch toe gestuur om hoërskool te voltooi en in 1918 het hy hom laat inskryf by die Universiteit van Stellenbosch, wat in daardie jaar ’n volwaardige universiteit geword het. Reeds vroeg het hy bekend geword as iemand met ’n skerp intellek en unieke humorsin. In haar My beskeie deel skryf MER (die skrywer ME Rothmann) dat hy ’n student was van wie almal ’n briljante loopbaan verwag het aangesien hy reeds in sy studentedae as ’n leier beskou is.
Sy studie was egter nie dadelik suksesvol nie. Hy het eers landbou gestudeer, ná ’n jaar of twee opgeskop en na BA en later regte oorgeslaan. Hy het so min klasse bygewoon dat hy nie toegelaat is om die finale eksamen te skryf nie. Hy het sy ouers telegrafies in kennis gestel met drie woorde: “Eksamens ’n fiasko”.
Hy het ’n paar jaar by Die Burger gaan werk om geld te verdien. Dit was die begin van ’n verbintenis van amper twintig jaar met die koerant en met Die Huisgenoot. Selfs ná hy in 1930 met tering siek geword het en nie meer ’n voltydse pos kon vul nie, het hy bydraes in die vorm van berigte, artikels en kortverhale gelewer. Danie Hugo verwys in ’n voorwoord by ’n bundel van vroeë Afrikaanse kortverhale na “Johann Buhr se skalkse styl” waarmee hy meer ongenadiglik as voorgangers sy wêreld beskryf.
Hy het in 1923 na Stellenbosch teruggekeer en gou as ’n uitstaande debatteerder bekend geword. Hy was die inleier van die universiteit se span in die debat met die Oxford Union, die oudste debatsvereniging ter wêreld. In 1925 het hy ’n debatstoer deur die land onderneem saam met Hendrik Verwoerd, wat toe 23 jaar oud was, en LC Steyn, ’n toekomstige hoofregter van Suid-Afrika.
Hulle het op dertien dorpe in al vier provinsies teen mekaar gedebatteer. Met die uitsondering van Middelburg, Kaap, en Springs was die sale stampvol. Op Kroonstad het 700 mense opgedaag.
In 1924 is hy tot studenteraadsvoorsitter verkies. Op Maandag 4 Mei 1925 het Edward Windsor, die Prins van Wallis en aangewese Britse troonopvolger, op Stellenbosch aangekom as deel van sy amptelike besoek aan Suid-Afrika. Oom Johann moes die prins namens die studente verwelkom. Voor die studenteraad finaal die studente se program goedgekeur het, was daar ’n warm debat oor die manier waarop die prins ontvang moes word.
In ’n brief aan oupa het oom Johann die twee weke voor die prins se besoek so beskryf:
Hulle wou eenvoudig haarfyn weet net wat ons gaan doen en net hoe ons dit gaan doen … Net voor die besoek het die eerste minister die studenteraad se program goedgekeur.
Op die dag van die besoek het groot opgewondenheid geheers, maar een persoon was afwesig toe die geleentheid begin: Johann Buhr. Sy vriende het hom vas aan die slaap gevind in sy kamer in Wilgenhof. Hulle het hom inderhaas na die plek gebring waar die ontvangs was. Die Cape Times het die volgende dag berig:
Daar was ’n briljante toespraak deur die jong student wat gekies is om die woord namens hulle te doen. Dit was so goed dat ’n mens die voorspelling kan waag dat Suid-Afrika nog baie sal hoor van mnr. J Buhr, wat aangewys is om die taak te verrig.
Die toespraak moet gelees word teen die agtergrond van die bykans histeriese wyse waarop oor die prins se toer berig is. Die hinderniswedren waaraan die prins, ’n geesdriftige perderuiter, deelgeneem het, het ’n opspraakwekkende gebeurtenis geword. Hy het van sy perd geval en sy sleutelbeen beseer. (Op ’n koerantfoto staan hy saam met oom Johann met sy arm in ’n verband.) Ná die prins se ongeluk het die regering hom gelas om nie verder aan “so ’n gevaarlike sport” deel te neem nie.
In Ralph Deakin se Southward Ho!, wat die koningshuis oor die toer uitgereik het, word hierdie beskrywing van die ontvangs op Stellenbosch gegee:
’n Pragtige uitvoering van Die Stem van Suid-Afrika, met woorde wat aangepas is vir die geleentheid, is gevolg deur die geestige toespraak van mnr. Johann Buhr, voorsitter van die studenteraad. Sy grappe het die prins en sy gevolg en die studente wat die pawiljoen gepak het, laat lê van die lag.
Die prins het die toespraak aan sy vader gekabel en dit is woordeliks in die boek opgeneem. Dit lui:
We have come here today because we like to see a man and we cheered because we know a man when we see one. Our presence here is intended as a tribute to your manliness, which the most persistent attempts of the whole world have not been able to spoil. This is, however, not the only reason for our enthusiasm over your visit. Next to a real man there is nothing we love better than a real sportsman, no matter for what side he happens to be playing, and it is a special pleasure to us to welcome here, today, one of the finest and most daring sportsmen of the British Isles.
I am afraid your Highness will find that all our most popular heroes are people who have either been in gaol for political crimes or in hospital for fractured bones. I must admit that the fact that your Highness has never been in gaol is a serious disqualification, which I sincerely trust your Highness will manage to get remedied before leaving the country. On the other hand, your Highness has fortunately, on several occasions managed to get yourself into hospital and I can assure you that on that count alone your visit would give us great pleasure.
As regards our lady students, I would very much have liked to interpret their feelings also, but I am afraid their sentiments on this occasion are far too delicate for masculine interpretation, and for further information on the subject, I shall have to refer your Highness to the way they are looking at you. I trust that the mere fact that they have put me here will abundantly show just how enthusiastic they can be