Ena Murray Keur 12. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
’n verskrikking. Sy ís ’n verdwaasde, bang kind op hierdie oomblik.
Hy vee die los hare weg van haar gesiggie. “Ons sal ’n plan maak, kleintjie. Jy sal nie alleen wees nie. Van nou af sal ek vir jou sorg. Kom, gaan maak vir ons ’n koppie koffie en dan moet jy en Poens gaan slaap. Môre is ’n besige dag vir ons almal.”
Sy draai gehoorsaam om, maar te bly dat iemand die leisels oorgeneem het, dat iemand anders vir haar dink. Haar oog val op Poens wat hulle besonder stil staan en aankyk, en sy weet intuïtief wat in sy koppie omgaan en dat hy ook met vrese in sy kinderhartjie staan. Spontaan gaan haar arms na hom toe uit en sy trek hom styf teen haar vas.
Dis of die selfbeheersing, wat hy met verbete vasberadenheid toegepas het, knak. “Gaan jy . . . gaan jy nou weg van my af, Katryn?”
Dis ’n kort, bang vragie . . . en haar hart pyn opnuut. Sy weet wat hierdie vraag beteken . . . ook vir die klein seuntjie.
“Natuurlik nie, Poens. Natuurlik sal ek nie weggaan nie.”
“Belowe?”
Sy kyk in die bang ogies af. “Ek belowe. Kom. Ons moet nou ingaan.”
Arms om mekaar stap hulle na binne en Festus kyk hulle agterna. Hy het die vraag gehoor – en die belofte. Dis ’n belofte wat nie gestand gedoen kan word nie. Katryntjie sal nie hier kan bly nie. Daar is geen ander uitweg nie – hy sal haar moet saamneem stad toe. En natuurlik sal Poens hier moet agterbly by sy eie mense.
Onder die besef dat sy eie lewe ook ’n skielike omwenteling ondergaan het en dat die patroon daarvan van hierdie oomblik af radikaal sal verander, volg hy hulle ná ’n paar oomblikke . . .
Maandagmiddag ná die begrafnis kry Festus Katryn eenkant terwyl Poens besig is om die diere te versorg.
Sy lyk vir hom ontstellend volwasse in die wit begrafnisrok. Die poniestert het verdwyn en haar hare is in ’n breë vlegsel agter haar kop vasgesteek. Hierdie vreemde mengsel van kind en grootmens tref hom diep. Hy weet dat hy nie sy rug op hierdie arme meisie mag keer nie. Dit is ondenkbaar dat sy op haar jare so weerloos en onbeskermd die lewe ingestoot word sonder dat daar iemand is wat na haar sal omsien. Hy sal nooit weer met sy gewete kan saamleef as hy dit toelaat nie. Nee, hoe hy ook al die afgelope dae planne beraam het, hy het elke keer net by een antwoord uitgekom – sy is nou sý verantwoordelikheid.
Sy betrap sy ernstige oë op haar, en sy verstyf. Sy is hom dankbaar vir al sy hulp en sy weet nie wat sy sonder hom sou gedoen het nie, maar sy besef ook dat hy vanmiddag nog, of dalk môre, sal teruggaan stad toe en dat sy alleen hier gaan agterbly. Sy sal oor haar toekoms moet besluit, en sy weet nie hoe nie, want dit is nie net sy wat in die gedrang is nie. Daar is Poens . . . Sy kan hom nie sommer uit haar lewe stoot nie. Sy het belowe . . .
Haar blik sak voor syne. Sy wil nie eens aan haarself erken hoe sy die oomblik vrees wanneer hierdie man hier sal wegry en sy alleen gaan agterbly nie. Daar is soveel groot besluite om te neem. Die plaas, byvoorbeeld. Dit was nog nooit juis winsgewend nie. Dit het net siel en liggaam aanmekaar gehou. Maar haar pa was gelukkig hier. Hy het niks meer van die lewe gevra nie. En hierdie plasie was haar veilige hawe. Sy het dit lief soos wat haar pa dit liefgehad het. Sy kan nie dink dat sy verplig gaan word om dit te verkoop nie; dat daar in die toekoms nie meer ’n Skaars-van-als sal wees waarheen sy sal kan terugkom nie. Haar blik dwaal om haar rond. Die huisie en die meubels . . . dis nie baie werd nie, maar dit was deel van haar – soos elke asemtog wat sy neem, deel van haar is.
Bekommerd rus haar blik op Snoefie wat by die deur ingewaggel kom. En wat van haar diere? Hulle was haar gesin, die broers en susters wat sy nooit gehad het nie. Hulle was haar geselskap in die eensaamheid. Onbaatsugtig het hulle hul liefde en getrouheid aan haar gegee. Hulle is afhanklik van haar. As die plasie verkoop moet word . . . wat gaan van haar diere word?
Sy kan nie, sy kán hulle nie verkoop of laat doodmaak nie!
Onbewustelik lig haar oë pleitend na syne en hy voel weer sy hart saamtrek. Watter probleme hy hom ook al op die hals haal, hierdie mooi kind kan hy nie in die steek laat nie.
“Katryntjie, het jy al . . . het jy al gedink wat van die plaas?” Hy sien die vrees in haar oë, en hy staan vinnig op, kom langs haar staan, sit ’n gerusstellende arm om haar skouers. “Dit hoef nie verkoop te word as jy nie so voel nie, kindjie. Wil jy dit maar liewer hou?”
“Asseblief!” Met swemmende oë kyk sy na hom op. “Ek kan nie nog daarvan ook afstand doen nie! Dis al wat ek . . . oor het.”
Hy knik, druk haar gerusstellend. “Nou goed. Ons hou eers die plaas. Ek het op die begrafnis met jou een buurman gepraat. Hy is bereid om een van sy werkers aan ons af te staan om ’n ogie oor alles te kom hou.”
Sy frons liggies. “Dis regtig nie nodig nie. Ek kan alles behartig met Poens se hulp. Dis in elk geval nou skoolvakansie, en dan is hy pal hier.”
Festus staal hom vir wat voorlê. “Jy gaan nie alleen hier agterbly nie, Katryntjie. Jy kom môre saam met my stad toe.” Die blou oë protesteer onmiddellik, maar hy hou sy gesig streng, ’n vasberade trek om sy mond. “Dit sal nie eens help om daaroor te probeer argumenteer nie. Ek het klaar besluit. Daar bestaan geen moontlikheid dat jy alleen hier op die plaas kan bly nie. Jy is ’n kind, en ’n meisiekind boonop.”
“Maar . . .”
“Geen maars nie. Jy moet solank jou goedjies gaan inpak. Ek wil môreoggend vroeg ry. Ek moet Woensdag op kantoor wees.”
“Maar jy verstaan nie . . .”
“Daar is niks om te verstaan nie – nie aan mý kant nie. Dis jý wat moet verstaan, Katryntjie. Jy is ’n kind van sestien. Dis buite die kwessie dat jy alleen op die plaas kan bly woon. Jy gaan saam stad toe. Dis afgehandel.”
Sy slaan haar oë neer. Met al die hartseer van die afgelope dae het sy totaal vergeet dat hierdie man nog altyd onder ’n wanindruk verkeer aangaande haar ouderdom. Maar sy glo nie hy sal sake in ’n ander lig sien as hy weet dat sy twintig en nie sestien is nie. Hy sal dit steeds as ongewens beskou dat sy alleen op die plaas bly. Sy frons diep. Miskien is dit beter om hom maar onder dié indruk te laat. Feit is, as hy nou uitvind sy is ’n jong dame van twintig, gaan dit hom in ’n groot verleentheid stel. Dis een ding om ’n dogter van sestien met hom saam te neem huis toe, maar ’n perd van ’n gans ander kleur om met ’n twintigjarige meisie daar aan te kom. Wat sal die mense sê? Dit sal dit vir hom onmoontlik maak om haar in sy huis onderdak te gee, al is dit ook net vir ’n kort rukkie. Mense is altyd geneig om verkeerde dinge te dink . . . En sy wil skielik baie graag met hom saamgaan. Die alleenheid hier sal haar mal maak. Dit is tog net tydelik – totdat sy oor haar pa se dood is. Maar wat van Poens?
Hy sien die kommer op haar gesig en vra sag: “Wat hinder nog?”
“Poens. Ek het hom belowe . . .”
“Dis onmoontlik, Katryntjie. Jy is darem al groot genoeg om te besef dat ons hom nie ook kan saamneem nie. Hy het sy eie mense . . .”
“Dis nou skoolvakansie. Dan net vir die skoolvakansie . . . asseblief!”
Hy aarsel. Miskien is dit ’n goeie idee. Sy sal maar baie alleen wees in die stad; wildvreemd en met geen geselskap van haar eie ouderdom nie. Sy sal beslis nie in sy vriendekring inpas nie. Miskien moet Poens tog maar eers saamgaan tot sy ’n kans gekry het om aan te pas by haar nuwe omstandighede.
“As sy ouers instem . . .”
Sy kyk hom verlig en dankbaar aan. “Hy het net ’n ma. Sy sal nie omgee nie.”
Hy knik gelate. Hy het reeds begin agterkom dat dit vir hom moeilik is om sommer vir Katryntjie nee te sê. Hy sal daarteen moet waak. Hy begin verstaan hoekom oom Herklaas die leisels in so baie opsigte slap laat lê het. Die kind het ’n manier om jou toegewings te laat maak wat jy weet nie die regte ding is nie. Soos met Poens. Hy voel onrustig oor hierdie nuwe wending. In die eerste plek is Poens nie goeie geselskap vir ’n meisie wat moet leer hoe om ’n dame te word nie. Die mannetjie se taal alleen laat ’n mens se nekhare rys en is beslis nie bedoel vir die ore van ’n sestienjarige dogter nie.