Ena Murray Keur 13. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
inligting het, sal ek en Marcelle en Deon onmiddellik doodgemaak word!”
“Dis presies wat sal gebeur as jy die inligting aan Farah verstrek. Maar as jy dit vir my sê, belowe ek jou dat jou suster en haar verloofde vrygelaat sal word en veilig in Suid-Afrika terugbesorg sal word.”
“Watter waarborg het ek dat jy jou belofte sal hou?” vra sy agterdogtig.
“My woord.”
“Jy is nie reg wys nie as jy dink dat ek my lewe en dié van die ander twee sal waag en dit op jou woord. Nee, Hoessein. Vergeet maar daarvan.” Sy lag kortaf, bitter.
Hy sug. Koppigheid is skynbaar ’n familietrek by die Wiids.
“Goed dan. Ek sal eers jou suster en haar verloofde red. Wanneer hulle veilig is, sal jy my dan vertel?”
Sy aarsel nog, hoewel sy besef sy het geen ander keuse nie. Sy sal hierdie aanbod moet aanvaar. Dis die enigste hoop wat daar nog oorbly.
“Goed, Hoessein.” Sy knik gelate. “Die dag wanneer ek en Marcelle en Deon op die vliegtuig klim, op pad terug na Suid-Afrika, sal ek jou sê waar die hangertjie is.”
“Jammer, Elmarie, maar nie jy nie. Net jou suster en Deon Rabie. Jy bly hier.” Hy skud sy kop beslis.
“Wat!” Sy kyk hom verdwaas aan. “Maar hoekom dan …?”
“Ek het jou dit tog vanaand gesê.”
“Maar … maar … Luister hier, Hoessein, ek sal dan net weier om jou enigiets te vertel indien jy my nie ook wil laat gaan nie.”
“En ek het jou ’n paar uur gelede gesê ek is bereid om, as dit moet, al die skatte van die Egiptiese farao’s in te boet om jou te behou. Ek het bedoel wat ek gesê het.”
Sy staar hom woedend aan, magteloos en ook bevrees. Sal hy nog altyd volhou met die klug dat sy moet glo hy het haar lief?
“Hoessein, ek weet nie hoekom jy nog wil voorgee … wel, ek weet tog van jou en Farah …”
“Jy weet niks nie, Elmarie. Wat jy wel weet, wil jy nie erken nie.” Hy is skielik by haar, sy hande op haar skouers. Sy wil wegbeweeg, maar hy ruk haar teen hom terug. “Is jy bang vir my aanraking, Elmarie? Bang dat jou lippe jou weer sal verraai soos tevore?”
Sy kyk magteloos in die donker oë wat so intiem op haar gerig is en die wete lê in haar hart dat hy gelyk het. Sy is bang vir sy aanraking, bevrees vir die oomblik dat sy lippe oor hare sal sluit en hulle albei sal weet watter mag hy oor haar het … “Ek sal jou graag weer wil toon dat ek gelyk het, maar daar is nie nou tyd nie. My lewe is op die oomblik net so min werd as joune.” Hy lag saggies, tevrede.
“Wat bedoel jy?”
“Teen hierdie tyd sal Farah al weet dat ek die een is wat jou teen so ’n fabelagtige prys gekoop het. Ek dink sy het lankal ’n vermoede dat ek nie so ’n getroue aanhanger van haar is as wat ek wil voorgee nie …”
“Of so ’n getroue minnaar,” kan Elmarie nie help om by te voeg nie en hy lag weer.
“Hinder dit jou? Dit kom my voor of die gedagte dat daar iets tussen my en Farah is aan jou krap! Ek wonder hoekom?” laat hy skynbaar ernstig hoor, maar met ’n tergende vonkeling in sy oë. Dadelik raak sy gesig egter weer ernstig. Daar wag ’n moeilike taak op hom, ’n taak wat miskien sy lewe kan eis. En dit moet binne die eersvolgende paar uur afgehandel word, anders kan dit miskien vir altyd te laat wees.
Hy trek ’n kamerjas oor die glinsterende mondering aan en stap na die deur.
“Kom ons gaan eet. Ons sal dadelik daarna moet vertrek.”
“Jy bedoel om Marcelle en Deon te gaan bevry? Maar ek gaan nie saam nie.”
“O ja, jy gaan. Ek gaan jou nie hier laat sodat Farah se trawante jou weer in die hande kan kry nie. Die veiligste plek vir jou is by my. Jy gaan saam.”
Sy stem is beslis en Elmarie weet dat dit nie sal help om verder te protesteer nie. Net die gedagte dat sy weer in daardie plek moet ingaan, gee haar koue rillings. Maar ter wille van Marcelle en Deon sal sy moet gaan.
Gedurende die ete is albei stil. ’n Paar keer loer Elmarie onderlangs na die man regoor haar. Maar sy gesig is ernstig en hy eet soos iemand wie se gedagtes met ander dinge besig is. Onwillekeurig huiwer haar blik op die aantreklike gesig, die sterk ken en mond, die effens geboë neus, die breë skouers, die fors liggaam. Wie ís hy? Egipte ken hom as Hoessein Abd-el-Rahman, ’n ryk en ledige, aantreklike rokjagter. Maar hy is ook Nektanebo – raadgewer en minnaar van ’n vrou wat haarself as ’n opgestane Egiptiese mummie beskou – iemand wat onwettige en gruwelike misdade pleeg, ’n fanatikus wat nie vir moord sal stuit nie. Elmarie vermoed dat daar nog ’n derde persoon in hierdie man skuil – dié een wat Afrikaans magtig is. En dít maak hom nog geheimsinniger. Wie ís hy?
Sy het gedink dat sy baie van hom weet, maar besef nou dat sy hopeloos naïef was. Al wat sy ken, is ’n klomp deurmekaar feite wat mekaar weerspreek en wat haar laat wonder of dit werklik feite is en nie maar indrukke, wat so maklik heeltemal verkeerd kan wees nie.
Wat haar die meeste ontstel, is die wete dat hy ’n mag oor haar hart het wat haar totaal magteloos maak. Sy kan hom net doodeenvoudig nie haat soos wat sy sy minnares haat nie. Terwyl sy weet dat sy hom nie durf vertrou nie, kan sy nie anders as om hom op sy woord te neem nie. Hy is die man wat stilswyend staan en toekyk het toe haar rug deur ’n sambok oopgekloof is; hy is een van die leiers van hierdie skrikwekkende kultus; hy is die man wat reguit gesê het dat hy die hangertjie wil hê en duidelik getoon het dat hy nie sal huiwer om selfs sy minnares in die rug te steek om dit te bekom nie, natuurlik vir eie gewin. En tog glo sy dat hy woord sal hou en Marcelle en Deon sal laat gaan. Ten spyte van alles wat sy van hom weet, voel sy by hom veilig asof sy intuïtief weet dat hy haar sal beskerm.
Daar word nie lank versuim ná ete nie. Geklee in dieselfde losserige rok wat sy aangetrek is net voordat sy na die slawemark vervoer is, volg sy Hoessein na sy motor.
“Waar presies is ons, as ek mag vra?” vra Elmarie toe hy die enjin aanskakel.
“By my oase, natuurlik. Dis nie veel werd nie, maar ’n mooi plek. Jammer dat jy dit nie ’n bietjie van naderby kan beskou nie. Die afgesonderdheid daarvan maak dit byna waardeloos. Reg agter ons, sowat sewentig kilometer ver, lê Luxor. Ons nader nou die Arabiese woestyn.”
“Ek begryp nie. Lê die Rooi See dan nie tussen Egipte en Arabië nie?”
“Ja, maar hierdie strook woestyn aan die oostekant van Egipte tot teenaan die Rooi See word ook die Arabiese woestyn genoem.”
Elmarie kan ten spyte van die kommer en vrees, wat maar altyd in haar hart huiwer, nie anders as om belangstellend om haar rond te kyk nie.
Teen die hartaar van Egipte en terselfdertyd die grootste rivier in die wêreld, die Nyl, word die aarde besproei en strek die groen landerye, waarvan die vernaamste ryslande is, kilometers ver langs die rivier op. Maar namate ’n mens verder af oos of wes van die rivier wegbeweeg, verdwyn die groenigheid en eerlank sien jy net die wit sandduine van ’n barre, kaal woestyn om jou uitstrek soos ’n beweginglose wit see. In die lig van die sterre lyk dit silwerwit. Die eensaamheid en verlatenheid laat ’n mens verwonderd dat daar nog sulke groot aarddele in hierdie volgepakte wêreld is. Dis soos ’n eindelose, kleurlose aarde sonder horison, sonder perke.
Skielik doem daar op die flou gesigseinder ’n swart massa op.
“Wat is dit?” vra Elmarie.
“Dis die Rooi See-berge. Net anderkant hulle lê die Rooi See. Dis ons bestemming. Binne-in die ingewande van daardie berge herlewe ’n beskawing van eeue gelede. Binnekort sal jy verstom staan, Elmarie. Jy gaan dinge sien wat jy nooit sou kon glo bestaan nie. Daardie berge bewaar skatte wat geen museum ter wêreld besit nie.”
“En jy sê daardie hangertjie is meer werd as al daardie dinge saam?” vra Elmarie met ontsag.
Hy kyk vlugtig na haar. “Ja, Elmarie. Daardie skarabee-hangertjie is meer