Ena Murray Keur 13. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
skyn van waarheid aan alles te gee. ’n Hele paar van sy getroue volgelinge se bloed sal nog vloei voordat hy julle uit die berg het. En wanneer hy julle by die oase het – selfs as Marcelle hom vertel waar die hangertjie is – sal hy julle koelbloedig doodmaak. Dink jy hy sal julle laat gaan? Julle weet te veel. Julle sal sterf, al drie van julle – en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Vertel ons waar Marcelle die hangertjie versteek het sodat ons kan keer dat hy dit eerste in die hande kry, want dan is dit klaar met julle. En laat ons bid dat sy hom nie reeds vertel het nie.”
“Sy kan hom niks vertel nie, want sy weet self nie waar die hangertjie is nie,” stel Elmarie die ander vrou gerus.
Elmarie sien nie die skielike vernouing van die donker oë nie. Sy staar voor haar op die grond, terwyl haar verstand en hart in ’n geweldige tweestryd gewikkel is. Wie moet sy glo? Hatsjepsoet se storie is soveel meer aanvaarbaar as Hoessein s’n! Dit verduidelik so baie dinge!
Hoessein het toegekyk toe sy geslaan is, maar haar ’n paar uur later net betyds by die slawemark kom red.
Hoessein was die man wat sy in die hotelgang gesien het toe daar by haar kamer ingebreek is. Hy het gesê hy sal Marcelle en Deon red op voorwaarde dat hulle hom vertel waar die hangertjie is. As hy niks met hierdie skarabee-kultus te doen het nie, hoekom wil hy dan weet waar die hangertjie is? En dis waar wat Hatsjepsoet, of liewer Farah, gesê het. Dit het besonder maklik gegaan om hier in te kom en deur te dring tot by die selle, so asof dit vooraf gereël was.
“Marcelle weet nie waar die hangertjie is nie en hý weet dit,” herhaal sy verwese. “Hy weet net ek weet waar dit is, en daarom het hy ingewillig om Deon en Marcelle te red, want dit was my voorwaarde. Ek sal net praat wanneer Marcelle en Deon veilig op pad terug is na Suid-Afrika. Maar nou …”
Sy huiwer. Sy weet dat sy die punt bereik het dat sy moet kies wie sy glo. ’n Oomblik hang die skaal in ewewig. Dan onthou sy wat hierdie vrou haar so pas vertel het … dat hy haar liefkoos met die uitsluitlike doel om inligting uit haar te kry; dat hy terselfdertyd hierdie vrou se minnaar was en nie net dit nie, maar nog baie ander s’n ook. Elmarie raak bewus van die dowwe pynklop van haar hart. Eintlik is dit nie vir haar nuus nie.
Diep in haar hart het sy nog altyd vermoed dat Hoessein se bedoelinge met haar nie eerlik is nie, dat sy nie die enigste vrou in sy lewe is nie. Sy kyk nou stip na die vrou voor haar. Farah, met emosie op haar gesig en lewe in haar oë, is ’n beeldskone vrou en sy het openlik erken dat sy selfs nou nog soos klei in Hoessein se hande is. Daar is geen rede hoekom sy haar nie sal glo nie.
Die hotelbestuurder van die Kaïro Grand het tog ook gesê dat Hoessein en Farah die afgelope twee jaar onafskeidbaar is.
’n Fyn, verbitterde trekkie verskyn om Elmarie se mondhoeke. Sy was ’n gek om te kon droom dat ’n man soos Hoessein op haar verlief sal raak en dít terwyl ’n vrou soos Farah op die toneel is. Sy was ’n volslae gek om te kon dink dat hy haar werklik liefhet en dat dít die rede is hoekom hy so beslis geweier het om haar te laat gaan.
En nou, op hierdie oomblik, kan sy ook maar aan haarself erken … Sy was van haar verstand af om te kon toelaat dat hierdie man se liefkosings so diep in haar hart kruip, só diep dat Deon ’n skadubeeld geword het. Ja, sy was gek om op Hoessein Abd-el-Rahman verlief te raak!
“Dan het jy hom nog nie vertel waar die hangertjie is nie?” dring Farah se stem deur haar gedagtes en sy skud haar kop.
“Nee. Niemand buiten ek weet waar dit is nie.”
“Maar jy gaan dit aan ons vertel, nie waar nie?”
Elmarie kyk haar onseker aan. Iets waarsku haar om versigtig te wees.
“Ek sal dit net aan die polisie vertel. Neem my na Kaïro en laat ons aan die polisie alles vertel wat hier aangaan. Daar is genoeg getuienis teen Hoessein om hom vas te trap. Ek en my suster en Deon sal getuig.”
“Maar dis nie nodig nie. Ek het jou tog gesê dat Naton eintlik ’n speurder is. Ons bewyse teen Hoessein moet dodelik wees, Elmarie. Hy is ’n slinkse man en sal op die een of ander manier loskom, dit kan ek jou verseker. Vertel ons waar die hangertjie is sodat ons hom in ’n lokval kan lei.”
Elmarie se blik flits na die man wat geheel en al in wit verbande toegedraai is. Watter sekerheid het sy dat hy werklik ’n speurder is?
Sy skud haar kop beslis.
“Nee, Farah. Ek is jammer, maar ek weier om aan enigiemand anders behalwe die polisiehoof in Kaïro te vertel waar die hangertjie is.”
Farah staan stadig op en haar oë vernou. Elmarie hou haar fyn dop en haar hart verstil toe sy sien hoe die uitdrukkingloosheid weer soos ’n masker oor die beeldskone gelaat val. Farah, die pragtige Egiptiese meisie, het skielik weer verdwyn. Dis Hatsjepsoet, koningin van die Nyl, wat voor Elmarie staan. Haar getroue lyfwag, Naton, het ongemerk ook nader beweeg.
“Jy sal ons vertel waar die hangertjie is. Ons weet nou dat jy weet waar dit is, en dat slegs jy oor daardie inligting beskik. Ek sal nie rus voordat ek dit uit jou gekry het nie.”
Elmarie spring op en haar oë begin stadig rek van verbystering.
“Maar –”
“Jy het pragtig in die val getrap. Ek weet nou wat ek wou weet,” val die kil stem haar in die rede.
“Jy bedoel … jy bedoel dis alles leuens wat jy my vertel het, dat Hoessein nie … nie …”
“Presies! Hoessein is werklik besig om jou suster-hulle te probeer red. Hy is in alle erns besig om my in die rug te steek. Ons was bewus van sy koms en daarom het ek opdrag gegee dat hy toegelaat moet word om tot in die selle deur te dring. Maar terugkeer sal hy nie.”
Die donker oë vernou weer tot splete. “Vandat jy op die toneel verskyn het, het daar beslis ’n verandering by hom ingetree. Hy het belangstelling in my verloor. Daarvoor sal jy boet. Hoessein het nog altyd aan my behoort en hy moes die vader wees van my opvolger. Nou sal hy moet sterf omdat hy my verraai het.”
“Jy bedoel … jy gaan hom doodmaak!” Elmarie is wasbleek.
“Hy sal geoffer word aan Amen, god van alle gode. Hy het Egipte ook verraai. Amen laat hom nie bespot nie.” ’n Fanatieke lig brand nou in die swart oë wat na die stilswyende mummie langs haar draai. “Uit ’n mummie is ek gebore. Uit ’n mummie sal ek my opvolger ontvang. Nektanebo sal soos ’n dankoffer uitgestort word oor die altaar van Amen, en die geur van sy brandende liggaam sal soos wierook in die heilige Amen se neusgate opwalm.” Sy kyk nou weer na Elmarie. “En Amen sal tevrede wees en Egipte sy glorie teruggee en Hatsjepsoet sal op die troon van hierdie land sit en Egipte se kinders sal weer in die Nyl speel en die lotusblomme langs sy oewers vergader.” Haar arms is in die lug uitgestrek. “Vergader die volk en die priesters in die troonsaal van Amen sodat die offer gebring kan word en daar weer vrede en voorspoed en mag in Egipte kan wees!”
’n Kille doodsheid kom oor Elmarie terwyl die ontsettende besef tot haar deurdring … Hierdie vrou is kranksinnig en dis aan haar dat sy Hoessein verraai het! En dan, skielik, onthou sy sy waarskuwing: Die oomblik dat jy praat, gaan jy jou eie doodsvonnis teken! En sy hét gepraat! Sy het hierdie waansinnige aanbidders vertel dat sy en sy alleen weet waar die skarabee-hangertjie is!
Toe Hatsjepsoet eindelik haar arms laat sak en haar donker oë terugdraai na die meisie, weet Elmarie dat sy geen genade kan verwag nie.
“Laat ons Nektanebo tegemoetstap,” kom die bevel en sy gehoorsaam in ’n dwaal soos een wat die laaste sprankie hoop sien verdwyn.
Sy volg Hatsjepsoet, met Naton en ’n paar wagte agter hulle, deur die sarkofaagsaal die gangetjie af wat na die selle lei.
Hulle kom om die draai net toe die deur van die selle oopgeruk word en Hoessein en Deon langs mekaar hul verskyning maak, gereed om die niksvermoedende wagte aan te val. Maar die teenwoordigheid van Hatsjepsoet en Elmarie met die mummieagtige Naton en nog wagte agter hulle, ruk hulle tot stilstand.
“Elmarie!” Hoessein verstar.
Sy kyk op, asof onwillig, en toe sy die bekommernis