Ena Murray Keur 13. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
gekoop het. Maar Deon vertrou die vreemdeling om die een of ander onverklaarbare rede nie. “Nee, ek wou maar net sê dis seker hierdie deel waarvan die gidsboek praat, waar ’n mens alles van ’n speld tot ’n olifant kan koop,” antwoord sy dus nou ontwykend.
Weer word die donker oë na haar gekeer en hierdie keer rus sy blik ’n oomblik langer op haar. Elmarie voel intuïtief aan dat hy weet dit was nie wat sy oorspronklik wou sê nie.
“Ja. Dis seker hier,” sê hy dan droogweg. Daar heers ’n rukkie stilte en dan kom die motor tot stilstand. Hy wys met sy vinger toe hy die deur oophou. “Daardie gebou. Sal u my verskoon as ek nie saamstap nie?”
“Seker. Baie dankie,” verseker Elmarie hom vinnig en wag dat Deon hom ook moet bedank, maar dié kyk die ander man vas aan.
“Verskoon my dat ek dit vra, maar ek het gewonder hoe u netnou in die hotel geweet het dat ek ’n taxi wou ontbied? Ons het Afrikaans gepraat. Ken u die taal?”
Elmarie is verbaas, maar die vreemdeling is kalm.
“Nee, ek ken nie u taal nie, maar u het die woord taxi gebruik – en dis ’n internasionale woord.”
Deon lyk effens afgehaal, asof hy nie verwag het dat die vreemdeling so glad sal kan verduidelik nie.
“Ja. Ja, natuurlik.” Deon lyk selfs skaam vir sy ooglopende agterdog. Hy hou skielik sy hand uit. “Ons het ons nog nie aan mekaar voorgestel nie. Ek is Deon Rabie en dis juffrou Wiid.”
Deon se hand word geneem en so ook Elmarie s’n.
“My naam is so lank dat u dit nie sal onthou nie. My vriende noem my egter Hoessein.”
“Dan …”
“Ja?”
Elmarie voel ’n blos oor haar wange spoel. Daar volg ’n stiltetjie terwyl die vreemdeling wag dat sy haar sin moet voltooi. “Sy wou seker sê dan is u ’n Oosterling. Daar was ’n bietjie twyfel oor daardie feit by ons.” Dis Deon wat namens haar antwoord.
Die donker wenkbroue trek saam in ’n skerp frons.
“U meng u nie met Oosterlinge nie?”
Elmarie voel asof sy in die aarde kan sink. Wat het Deon besiel om so iets kwyt te raak? Die vreemdeling het aanstoot geneem, dit kan sy sien. Hy keer direk na haar.
“Juffrou? Selfs nie as die betrokke Oosterling beter maniere as sommige Westerlinge het nie?”
Hierdie keer is dit Deon se beurt om effens rooi om die boordjie te raak. Die skimp was baie duidelik. Elmarie werp Deon ’n verergde blik toe en kyk dan die man voor haar reguit in die oë.
“Nee, natuurlik maak dit nie saak nie. Ek is baie bly dat ek u ontmoet het … e …”
“Hoessein.”
“Hoessein,” gehoorsaam sy.
Die strak gesig verhelder weer in ’n glimlag.
“Ek is ook bly dat ek u ontmoet het.” Hy ignoreer Deon totaal. “Ons sien mekaar weer.”
Elmarie bewaar die swye toe sy en Deon na die polisiegebou aanstap. Deon is vandag glad nie in ’n goeie luim nie. Maar geen mens kan hom daaroor verkwalik nie. Die arme man is vol bekommernis. In elke vreemdeling sien hy ’n moontlike ontvoerder.
Die onderhoud met die polisie is teleurstellend. Die ou bekende “geen steen word onaangeroer gelaat nie” is al troos wat hulle ontvang.
“Die groot probleem is natuurlik dat juffrou Wiid heel waarskynlik nie meer in die land is nie. Ons soek maar hier rond omdat sy hier verdwyn het, maar indien sy oor die grens gesmokkel is, is dit byna onmoontlik dat ons haar sal opspoor.”
Deon se wange het ’n sieklike, bleek kleur.
“U bedoel dat die moontlikheid sterk is dat ons haar nooit weer sal sien nie?” sê-vra hy met ontsetting in sy stem.
“Ek sê dit nie, maar dis iets wat in gedagte gehou moet word. Wat meer is, selfs al is sy nog in Egipte, sal dit ’n blote gelukskoot wees as ons haar opspoor. Dit is die Ooste dié, meneer Rabie. Hier verdwyn mense asof die aarde hulle ingesluk het. Hier is soveel plekke waar hulle weggesteek word. Daar is net soveel dinge wat met ’n vreemde meisie kan gebeur wanneer sy hier spoorloos verdwyn. Dis eintlik maar net ’n wanhoopsdaad van die kant van die polisie om na haar te probeer soek. Ek erken ruiterlik dat ek mismoedig raak wanneer ’n geval soos juffrou Wiid s’n by ons aangemeld word. Ek is jammer, maar dis niks meer as reg dat ek u vooraf waarsku om nie te veel te verwag nie. Ek belowe dat ons ons uiterste bes sal doen, maar ek wil u geen valse hoop gee nie.”
Daar is wanhoop in albei harte wanneer hulle weer by die hotel aankom. Reeds toe hulle nog na die polisiehoof gesit en luister het, het die beeld van die vreemdeling Hoessein voor Elmarie se geestesoog verskyn. Miskien sal hy hulle kan help … Maar Deon sal beslis teen die gedagte gekant wees en sy wil niks doen wat hom verder sal ontstel nie.
Dis aandete toe hulle die hotel binnestap. Elmarie betrap haar dat sy telkens speurend opkyk wanneer iemand in die eetkamerdeur verskyn. Ook toe hulle ná ete die aandkoelte op die grasperk geniet – die Nyl soos ’n blink, kronkelende silwer draad ’n paar honderd tree voor hulle – gaan haar blik soekend oor die mense, asof sy op die uitkyk is vir een spesifieke gesig. Maar sy gewaar hom nêrens nie.
Eers later die aand, toe sy en Deon op pad na hul kamers is, sien hulle ’n man by ’n deur in verdwyn net toe hulle om die hoek van die gang kom waar hul kamers is. Sy eien hom dadelik en voel ’n vreemde opgewondenheid in haar posvat toe sy besef dat Hoessein ook ’n kamer in die hotel het, en dit net vyf tree van haar eie deur af op dieselfde verdieping. Sy sal hom dus weer sien! Natuurlik is haar belangstelling in hom net geprikkel deur die feit dat hy die eerste Oosterling is wat sy van naby leer ken. En dan spook die vae gedagte ook by haar dat hy hulle op die een of ander manier sal kan help om Marcelle op te spoor.
Sy sê nag vir Deon en sluit haar deur oop. Sy stap binne en skakel die lig aan. Haar bewegings verstil en sy snak na asem, haar oë oopgesper. Eindelik kry sy ’n geluid uit.
“Deon! Deon, kom kyk hier!”
Haar stem klink helder met die gang af. Deon, wat net by sy kamer wou ingaan, is blitsvinnig by. Ook hy staar verstom na die toneel wat sy oë begroet.
“Wat de …?”
Verder af in die gang het nog ’n deur oopgegaan. Hoewel die man haar uitroep gehoor het, kom hy nie nader nie, maar beweeg vinnig in die teenoorgestelde rigting en glip dan by die brandtrap af. Enkele oomblikke later trek ’n swart Amerikaanse motor voor die hotel weg.
2
Deon en Elmarie staan nog ’n rukkie sprakeloos en verslae na die deurmekaar kamer en kyk. Met die eerste oogopslag lyk dit asof ’n orkaan die kamer getref het. Die ingeboude kas en deure en al die laaie staan wawyd oop. Deurmekaargebondelde klere hang halfpad uit of lê oor die vloer versprei. Selfs die bed het deurgeloop. Die beddegoed is afgestroop en die matras lê asof dit ook opgelig en deursoek is.
“Ek kan dit nie begryp nie,” sê Elmarie, nog verdwaas. “Die deur was gesluit en …”
“Vir iemand wat sy werk ken, is dit kinderspeletjies om by ’n geslote deur in te kom. Ek wonder of daar by ander kamers ook ingebreek is. Waar is jou geld? Het jy al gekyk?”
“Ek het net ’n bietjie by my gehou. Die res en my paar stukkies juwele het ek by die hotelbestuurder ingedien.” Sy frons verbaas toe sy ’n oop handsak van die vloer af optel. “Dis vreemd. Hier is die geld nog, maar die handsak is bepaald deurgesnuffel!”
Deon se wenkbroue trek ook nou skerp saam.
“Dan was dit nie ’n gewone inbraak nie. Ek wonder …”
Sy kyk hom effens verskrik aan.
“Wat bedoel jy, Deon?”
Sy blik gaan peinsend oor die deurmekaarspul.
“Hier