Ena Murray Keur 14. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
jy bang is ek sal breek as jy my soen.”
Rudolf kyk verskrik na tant Kitty en dié kom haastig nader gestap.
“Dis ek wat die ding daar ingesteek het. Ek weet self nie hoekom nie. Ek moes die dekselse ding verbrand het. Kind, jy is onder ’n hopelose wanindruk. Dis nie soos jy dink nie. Catherine is ’n stokou nooi van Rudolf, doerie jare op universiteit nog, nè, Rudolf? Hy weet nie eens waar sy nou is nie.”
“Natuurlik, tante. Ek …” Hy sug diep en kyk kwaai na die betraande gesiggie voor hom. “Jy ly aan ’n oormaat verbeelding, Madie.”
“O, nè?” Die blou oë vertoon amper swart. “En jy ly aan ’n sieklike sentimentaliteit om nog na al die jare haar foto te bêre.”
“Madie! Jy moenie … Jy hoor dan tant Kitty sê dis sy wat die ding daar ingedruk het …” Om die waarheid te sê, hy kom nou eers agter dat die foto van Catherine nie meer op die tafel in die sitkamer staan nie. Maar as sy tog liewer die ding in die vullisblik gegooi het.
Die blou oë flits van die een na die ander en toe sê sy koel, reguit: “Jammer om dit te sê, maar jou tant Kitty en jy lieg ewe glad. Maar goed, voorlopig laat ons dit daar. Eendag sal ek wel agter die waarheid kom en dan … behoede jou dan, Rudolf van der Merwe. Ek laat my nie vir die gek hou nie. As jy daardie rooikopvroumens wil hê, dan vat jy haar en kry koers met haar en sommer gou ook!”
Hy kyk haar half ongelowig aan. Wie sou nou ooit kon dink sy kan so kwaai wees! Agter hom hoor hy ’n gesmoorde geluid en sy vervolg: “Tant Kitty kan maar lag. Ons sal sien. Daar is een ding wat Rudolf baie, baie goed moet verstaan. Ek deel nie my man met rooikopverleidsters nie.”
“Ag, hemel tog, Madie …” kreun hy asof hy in fisieke pyn verkeer en die blou oë boor weer op hom vas.
“Ons was dus nie uitmekaar daardie tyd nie? Ons was nie op die punt om te skei nie?”
“Nee! Nee! Nee!”
Maar sy hou vol: “Is jy seker, baie seker?”
“Baie seker! Ons was nog nooit op die punt om te skei nie.”
“O.” Sy leun terug teen die kussings. “Maar dit beteken natuurlik nie dat dit nie kan gebeur nie, nè? Dis heeltemal moontlik as jy ooit enige kontak met daardie …”
Hy prop sy hande vinnig in sy broeksakke en staan op. “Natuurlik. Ek het jou ook nog nooit gewelddadig aangerand nie, maar dis ook nie onmoontlik nie, wel heeltemal móóntlik as jy nog een keer, nog een enkele keer …”
Sy lag meteens na hom op en hou haar arms uit: “O, Rudolf! Rudolf! Ek het so geskrik. Ek het gedink …” Hy kan nie anders as om af te buk en toe te laat dat die arms om sy nek gaan nie. Bokant haar kop kyk hy moorddadig na die laggende tant Kitty wat iets skynbaar baie amusant vind. Hy voel haar teen hom vasnestel en sy hande beweeg om haar, trek haar selfs ’n bietjie stywer teen hom vas. Wat kan hy anders doen, vra hy homself af, intens bewus van die dun nagklere onder sy vingerpunte.
“Is jy nie meer vir my kwaad nie?” hoor hy hier onder sy ken en hy moet onwillekeurig glimlag. Die stemmetjie klink nou so bedees dat hy dit skaars kan glo.
“Nee, ek is nie meer vir jou kwaad nie. Is jy nog vir mý kwaad?”
Sy lag saggies hier teen sy keel en tant Kitty besluit meteens Rudolf is seker oud en groot genoeg om hierdie situasie alleen te hanteer. Sy maak vinnig spore kombuis toe, maar te bewus van die verwytende oë wat haar volg.
Hy voel ’n paar klam lippies teen sy keel beweeg en hy kan haar skaars hoor fluister: “Ek het jou lief, my man.” Hy weet sy wag op reaksie en hy is verplig om darem iets te doen. Hy beweeg sy lippe teen haar slaap en hy hoor ’n behaaglike suggie ontsnap. Hy kyk weer vinnig na die halfoop kamerdeur. Kan tant Kitty dan nie koffie of tee of iets bring nie?
Sy sak nog verder terug, kyk op na hom, die blou oë sag, liefdevol, die swart hare soos ’n wolk om haar oor die kussing. Hy voel die sagte trek van haar arms, sien die halfoop lippe, die smeking in die mooi oë. Hier êrens in sy slape begin ’n pols klop, onbeheers, dringend. Hy sluk, voel haar hande agter sy agterkop saamvou, sy kop afdwing.
Haar stem is ’n vae, verleidelike fluistering hier digby sy lippe: “Rudolf … soen my … asseblief …”
Iets knak in hom, gee mee en hy bring sy lippe neer op haar wagtendes terwyl hy sy hande onder haar indruk, haar na hom oplig. ’n Rooi waarskuwingslig begin flits, maar word dan verdring. Hy skeur sy mond eindelik weg.
“Rudolf …”
“Hm?”
“Ek het netnou gekyk. Die bank in die sitkamer … as ’n mens dit oopvou, is dit so goed soos ’n … dubbelbed. Kan ek vanaand by jou kom slaap?”
Die rooi waarskuwingslig begin weer flikker. “Nee, jy kan nie.”
“Maar hoekom nie?”
“Madie, asseblief? Moenie weer begin nie!” Hy lig sy kop om in haar oë te kyk en weer wil iets amper in hom meegee. Met ’n ysterhand beheer hy dit hierdie keer. “Moenie dit swaarder maak as wat dit reeds is nie, asseblief. Jy moet eers na my luister.”
Sy gee ’n klein suggie, gee toe skielik mee en vly haar weer teen hom aan, ’n gelukkige glimlaggie om haar lippe. “Goed, ek sal soet wees. Ek sal nie weer vra nie tot jy sê ek is nou heeltemal gesond en alles is reg.”
Hy sluit sy oë en sê amper hardop dankie. Sy lig meteens haar kop.
“Maar jy kan my darem maar soms soen soos … soos netnou. Daarvan sal ek nie iets oorkom nie.”
Hy lag – ’n hulpelose, amper wanhopige geluidjie wat sy nie heeltemal verstaan nie en hy antwoord: “Miskien kan ék dalk iets daarvan oorkom. My ou hart is nie meer so sterk nie!” Hy maak sy stem doelbewus skertsend om weg te breek uit die sirkel van betowering wat sy om hom weef.
Hemel, hy moet gek wees! Hy skeur hom van haar los, staan op en vee oor sy hare, daarvan bewus dat sy verstand hom dit laat doen, maar dat die res van hom dit uitskree om haar weer in sy arms te neem en vas te hou.
Daar is ’n klein, tevrede glimlaggie om haar lippe terwyl sy na hom lê en opkyk. Hy staan nie onverskillig teenoor haar nie. Daarvan is sy nou seker. Om die een of ander vir haar duistere rede het hy ’n skans tussen hulle gebou, maar sy sal dit nog afbreek.
Rudolf probeer sy stem normaal kry en hoop maar net hy slaag daarin. “Het jy toe klere gekry?”
“O ja! Ek het vergeet om jou te vertel. Pragtige goed! Tant Kitty het goeie smaak. Wag, ek wys jou,” en sy spring uit die bed en hardloop na die kas toe. Hy staan vinnig deur se kant toe. Hy weet hy moenie nou na daardie begeerlike wesentjie kyk nie.
Sy stembande klink stram toe hy vinnig laat hoor: “Ek gaan sit solank in die sitkamer en dan pas jy hulle vir my aan.”
“Goed. Ek sal kom wys.”
Toe hy in die sitkamer op ’n stoel neersak, kom tant Kitty uit die kombuis te voorskyn. Hy kyk haar verwytend aan.
“Waar was tante?”
“In die kombuis. Hoekom?” Haar oë vonkel. “Watter soort Van der Merwe is jy dat jy jouself nie teen so ’n klein mensie kan handhaaf nie?”
Hy moet ook glimlag, maar sy oë bly bekommerd. Tant Kitty vind dit ’n groot grap, maar dis nie meer vir hom ’n grap nie. Inteendeel, sy keel wil toetrek as hy aan die toekoms dink.
Die een ná die ander kom vertoon Madie haar inkope van die dag. Dis of daar ’n lig binne-in haar aangesteek is en tant Kitty bemerk die somberheid in haar liefling-broerskind se oë. Meteens is dit ook nie meer grappig vir haar nie. Hy gaan seerkry, het seker al begin seerkry, dink sy besorg.
Sy kyk na Madie waar sy soos ’n model voor haar “man” in die rondte draai sodat hy haar goed kan beskou. Sy voel ook jammer vir háár. Arme kind! Watter hartseer wag daar nie miskien nog op haar nie. Rudolf dra sy al van kleins af in haar