Ena Murray Keur 14. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
in jou bed én in jou nagklere slaap vir die grap!”
“Ander mans se vrouens?”
“Ja.” Haar wenkbroue lig omhoog en die groen oë blits. “Sy het ’n trouring aan, het sy nie? Of was jy so haastig dat jy dit nie eens opgemerk het nie? Jou meisie van die nag is getroud, hartlam, en as ek jy is …”
“Ja? Wat sal jy doen, hartlam?” Hy sluit sy oë ’n oomblik en trek sy asem diep in. “Catherine, asseblief. Ons is tog twee volwasse mense. Laat ons so optree. Ek is heeltemal bereid om te verduidelik hoe dit gebeur het …”
“Maar ek is nie bereid om na jou verduidelikings te luister nie, Rudolf. Ek is lank genoeg deur jou vir die gek gehou.”
“Ek het jou nog nooit vir die gek gehou nie. Hou tog jou mond net vir ’n oomblik dat ek kan verduidelik.”
“Ek is nie bereid om na ’n spul leuens te luister nie, dokter Van der Merwe. Selfs jy, tant Kitty se ‘blou-oog-onskuld’, sal moeilik ’n aanvaarbare verklaring kan gee. Ek laat nie my intellek so beledig nie.”
“Dan vlieg jy en jou intellek saam maan toe vir my part,” sis hy woedend. “Dink dan wat jy wil. Dit raak my nie. Sal jy asseblief nou gaan sodat ek kan gaan rus. Ek is doodmoeg.”
Sy staan op, haar gesig vertrek, haar woede byna onbeheers. “Die vermetelheid! Jy is nie moeg nie en is glad nie van plan om te gaan rus nie. Jy is haastig om in die kamer te kom …”
“Goed dan. Ek is haastig om in die kamer te kom by … haar. Loop nou! Jy is in die pad!”
Sy hyg na asem. “Hieroor gaan jy jammer wees, Rudolf van der Merwe. Ek sweer dit. As ek met jou klaar is, sal jy in die nag uit hierdie stad wegsluip. Ek is lus en sit die polisie op julle!”
“Doen net wat jy wil. Ek is heeltemal in staat om my naam en dié van my vrou teen jou swartsmeerdery te beskerm!”
“Jou … vrou!”
Hy kyk nou kalm terug. Sy verstand vertel hom dat hy ’n dwase ding gedoen het, maar sy woede het nog die oorhand en op hierdie oomblik gee hy nie ’n flenter om nie. Tog besef hy dat hy Catherine nie moet onderskat nie. Sy ken baie invloedryke mense.
’n Beswadderingsveldtog sal hom oneindige skade berokken – nie net aan sy praktyk nie, maar ook aan sy naam. Op sy naam as dokter en as mens was hy nog altyd baie trots. Hy besit die respek van sy kollegas, pasiënte en vriende. Hy gaan nie toelaat dat ’n giftige, jaloerse vrou dit deur die modder sleep nie.
Die blote feit dat hy ’n vrou een nag in sy woonstel gehad het, is al erg genoeg. As dit nog aan die lig moet kom dat sy getroud is, sal dit tien maal erger wees. Boonop kan die eggenoot hom ook moeilikheid gee. Hy moet ’n bra ongure karakter wees, te oordeel na die tekens aan die jong vrou se liggaam.
Rudolf besef hy het nie net homself om te beskerm nie. Ook die naamlose meisie is hierby betrokke en eintlik deur sy toedoen. Dis sy plig om haar naam te beskerm, en daar is net een manier – die enigste moontlike manier. Hy kan later dink hoe om hom uit hierdie penarie los te wikkel, maar nou is daar geen ander genade nie. Hy sien die openlike ongeloof in die groen oë en vervolg koel: “Ja, my vrou. Ons is veertien dae gelede getroud. Ek het nie geweet waar om jou te vind nie. Ek kon jou dus nie laat weet het nie.”
“So? Rudolf, ek kan amper lag. Wou jy vir my ’n troukaartjie stuur?”
“Nee, nie eintlik nie. Ons het baie stil getrou. Selfs tant Kitty weet nog nie. Ons plan was juis om hierdie naweek as ek kan wegkom, haar die nuus te gaan vertel.”
“Belaglik!” Weer blits die groen oë na hom. “Dink jy werklik ek sal daardie storie sluk?”
Hy het ’n kwalik beheerbare drang in hom om haar by die voordeur uit te smyt, maar hy druk sy hande vinnig in sy broeksakke en vervolg: “Jy kan sluk wat jy wil, maar dis die waarheid wat ek jou vertel. Ek en … Madie het mekaar ’n maand gelede ontmoet en … wel …”
“Dit was liefde met die eerste aanblik. Hoe romanties! Hoe belaglik, fantasties romanties vir Rudolf van der Merwe!”
“Miskien, maar dis soos dit gebeur het. Ek kon haar net nie weerstaan nie. Jy het haar self gesien? Jonk, lieflik, en opreg kinderlik en eg.” Hy kyk haar stip in die oë. “Ek is jammer, Catherine. Ek sou jou liewer vooraf hiervan wou vertel, maar jy was weg en … Wel, ek is jammer. Ek kan niks meer sê nie.”
“Nee. Daar is eintlik nie nog iets om te sê nie.” Sy vroetel in haar handsak, sit ’n sleutel op die tafeltjie neer. “Hier is jou duplikaatsleutel. Ek sal dit seker nie weer nodig hê nie. Jou … vrou sal nou vir jou etes kook. Tot siens, Rudolf.”
“Catherine …” Hy gee ’n tree nader om haar te keer. Die woede in hom het bedaar. Hy voel gemeen en skuldig. Sy was ’n goeie vriendin. Sy het dikwels wanneer sy in die stad is, na sy woonstel gekom, na sy klere omgesien en wanneer hy moeg tuiskom, ’n heerlike gekookte ete vir hom voorgesit.
Sy kyk trots terug. “Tot siens, Rudolf. Jammer dat ek so … ontydig lastig was.” Daarmee is sy by die voordeur uit en ’n minuut later sien hy haar motor vinnig voor die gebou verby in die rigting van die stad ry. Hy sug en vryf oor sy oë. Watter bohaai oor niks!
Hy stap kombuis toe, skakel die ketel aan, sit twee koppies reg. Hy sal die meisie moet gaan wakker maak en dan sal hulle ’n plan moet beraam. Hier kan sy nie ’n minuut langer bly nie. Al moet hy haar dan ook by ’n hotel gaan aflaai en self vir haar verblyf betaal. Hoe gouer sy hier uitkom, hoe beter. Netnou stap hier nóg iemand onverwags in.
Hy word eintlik koud as hy net daaraan dink dat tant Kitty miskien hier kan opdaag. Hy is wel, soos Catherine tereg gesê het, haar “blou-oog-onskuld”, maar daar is sekere dinge wat tant Kitty selfs nie van hóm sal duld nie; ’n vreemde vrou in sy bed én in sy slaappak is een van daardie dinge.
Met twee koppies sterk koffie stap Rudolf kamer toe en klop aan. Daar is geen reaksie nie. Sy slaap seker nog vas van die inspuiting wat hy haar gegee het.
Hy het gedink sy moet maar goed uitrus en dan sal hulle deur die loop van die dag ’n plan maak. Maar hy kan nie langer wag nie. Hy sal haar moet wakker maak en haar hier wegkry. Hy maak die deur oop en frons toe hy die deurmekaar beddegoed sien. Hy sit eers die skinkbord neer en stap dan badkamer toe.
“Juffrou! Is jy hier? Ek het koffie gebring.”
Stilte. Hy klop harder. “Juffrou …”
Ná ’n rukkie word hy onrustig. Sy kon iets oorgekom het, weer flou geword het of so iets. Hy draai aan die knop en loer versigtig na binne. Daar is niemand nie …
Hy kyk in die vertrek rond. Haar rok lê nog oor die een stoel. Sy kan dan tog nie weg wees nie! Hy gaan loer weer in die sitkamer. Niks. Hy stap terug slaapkamer toe, sien toe die venster wat wyd oopstaan. Hy stap vinnig nader, loer na buite, gewaar net die melkman met sy karretjie. Hy vee ontsteld deur sy hare. Genugtig, sy het sowaar in sy slaapklere weggeloop!
Met ’n wanhopige sug gaan sit hy op die deurmekaar bed en tel een van die koppies op. Was dit nie dat hy oor sowat twee uur weer met sy dagtaak moet begin nie, sou hy nou vir hom ’n stywe dop gaan inskink het. Hy het dit nodig.
Wat dínk die vroumens? Sy kan mos nie in sy slaappakbaadjie die stad invaar nie! En hoekom het sy weggeloop? Wanneer? Sy was nog hier toe Catherine opgedaag het. As sy dan van plan was om weg te loop, hoekom het sy nie geloop vóór Catherine opgedaag het nie? Nou is hy sy nooi kwyt en, soos dit lyk, sy “vrou” ook.
Hy kreun en tel die tweede koppie koffie op. Dis nou wat hy vir al sy moeite en kommer oor ’n ander kry. ’n Mens bedoel om goed te doen, en dan gaan dit so, tier hy innerlik voort. Stank vir dank. Vroumense!
Neem nou vir Catherine byvoorbeeld. Sy ken hom nou al donkiejare. Maar, nee, die eerste keer dat sy hom in ’n verdagte situasie betrap, is sy maar net te gou om die slegste van hom te dink. Gee hom nie eens kans om te verduidelik nie. O nee! Soos sý die ding sien, so ís dit en basta.
En hierdie ander vroumens-kind …