Ena Murray Keur 15. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
daarmee heen. Sy wens haar ma het stilgebly!
Op die ou end is sy egter verplig om te demonstreer, en met bewende hande swaai sy haar stoel onder die tafel uit. Dit gaan goed tot in die middel van die gang, maar bewus daarvan dat De Waal se blik haar volg, raak sy meteens haar rigting byster en stamp teen die muur. Sy is onmiddellik in trane en De Waal is met twee treë by haar.
“Toe nou maar, dis niks. Jy is net oormoeg.”
“Die muur is seker nou stukkend,” huil sy en voel hoe sy hande hare vasgryp. O, sy wens hy wil loop!
“Nee, dit is nie,” sê hy kalm. “Kom, ek wil jou iets gaan wys.”
Sy wil hom vertel dat ’n mens nie vir ’n blinde mens iets kan wys nie, maar voordat sy kan, voel sy hoe De Waal haar uit die stoel optel.
“Nee, sit my neer,” protesteer sy ontsteld, maar hy stap met haar sitkamer toe en sit haar op die bank neer. Hy sorg dat daar ’n gemaklike kussing agter haar rug is. “Sit nou doodstil. Ek gaan hom haal.”
Oomblikke later lê hy die wriemelende bondeltjie op haar skoot neer.
“Maar dis …”
“Ja. Dis ’n hond, ’n kollie, en sy naam is Rex. Pasop, hy is baie lewendig. Hy lek netnou jou gesig.”
Karina se skraal arms vou om die lewendige bondeltjie en skielik is al die trane weg. Sy glimlag toe die klein hondjie dit tog regkry om haar ’n soentjie te gee, en sy liefkosings word so vurig dat De Waal vinnig moet hand bysit.
Hy lag en Karina lag verbaas saam. Sy het maande laas gelag.
Dan lig die blinde oë op en vul met trane. “Dankie, De Waal.”
Sy voel sy hand weer warm om hare vou, en hierdie keer trek sy nie terug nie. ’n Rukkie sit hulle so, albei se gedagtes met dieselfde herinnering besig.
Hulle het altyd saam na die Lassie-rolprente gaan kyk, en sy het gereeld hartstogtelik gehuil. Hy moes altyd sy sakdoek gee om al die trane mee af te droog. Sy het gesê as sy ooit ’n hond het, moet dit een soos Lassie wees. En vandag het hy vir haar so ’n hond gebring.
“Jy kan sy naam verander as jy wil. Dis maar die naam wat op sy sertifikaat staan. Dis ’n folio lange gedoente. Ek het dit hier.”
Sy hoor papier ritsel, maar skud haar kop. “Hou dit maar by jou, asseblief. En Rex is ’n mooi naam. Waar is hy nou?”
“Kan jy nie hoor nie? Jou ma is besig om vir hom melk in die kombuis te gee. Hy is nou agt weke oud. Julle sal hom nog maniere moet leer!”
Sy lag, en skielik, so eensklaps, is dit so maklik om weer te lag! Dit word meteens ’n gesellige aand, ’n aand soos hulle drie al baie in die verlede saam deurgebring het. Die ongemak en spanning het verdwyn, en die atmosfeer is rustig en kalm. Rex oorheers natuurlik die geselskap en Karina het self nie veel te sê nie, maar sy luister rustig na wat die ander twee alles kwytraak.
Later, nadat hulle tee gedrink het, dra De Waal haar terug na haar kamer toe, en hierdie keer leun sy rustig teen hom aan. Sy voel hom digby haar nadat sy reeds neergelê is. Sy voel hoe sy bekende hand weer warm om hare vou.
“Karina …”
“Ja?”
“Is ons nou weer maats?”
Sy knik net skaam. Hoe kan sy aan hom verduidelik as sy self nie presies weet wat met haar gebeur het nie? Sy is nou nog onseker oor die wysheid van hul vriendskap, maar hoe kan sy hom langer wegstoot ná Rex? Sy kan ná vanaand nie weer koel en styf teenoor hom wees nie.
Sy hoor hom van verligting sug en dan, soos in die verlede, voel sy sy lippe vlugtig op haar neus se punt.
“Soet slaap. Rex gaan eers in die kombuis slaap totdat hy ’n bietjie groter is en maniere geleer het. Daarna kan hy hier voor jou bed of op die stoep slaap.”
“Goed, De Waal. Lekker slaap en … nogmaals dankie.”
Sy hoor hom by die vertrek uitgaan en iets waarsku haar dat hul verhouding liewer moes gebly het soos dit was. Maar De Waal het haar onverhoeds betrap met die hondjie en nou … nou is dit te laat.
Maar hoekom sal sy nie sy vriendskap aanvaar nie? Hulle is tog so te sê broer en suster. Sy verloofde sal tog seker nie omgee as hy nou en dan hier inloer nie. Wat kan sy teë hê op so ’n vriendskap, veral as die meisie nog verlam en blind is?
Nee, sy en haar ma het De Waal se vriendskap nodig. Dit besef sy nou. Die ergste skok is verby, en sy besef dat, al is ’n mens blind en verlam, jy nog steeds menslike behoeftes het. Verwagtinge van ’n huwelik en kinders moes sy afsterf, maar haar ma se troue liefde en ’n bietjie vriendskap soos dié wat De Waal haar kan bied, moet sy met albei hande aangryp.
Solank sy net onthou dat De Waal se eerste plig teenoor sy verloofde is. Die tydjies wat hy by haar deurbring, sal maar afskeeptydjies wees. Maar sy moet dankbaar wees vir daardie afskeeptydjies. Nooit, net nooit moet De Waal onder enige verpligting teenoor haar en haar ma voel nie. Nooit mag hul vriendskap afbreuk aan sy verhouding met sy verloofde doen nie.
Dis met hierdie wete dat Karina later aan die slaap raak, min wetende watter geweldige invloed sy reeds op De Waal se persoonlike lewe begin uitoefen het.
Nadat De Waal vir Rex ingerig het in die kombuis, stap tant Miemie saam met hom na sy motor.
“Ek weet nie hoe jy dit reggekry het nie, maar jy het vanaand ’n wonderwerk bewerkstellig. Dit was so goed om weer my kind te hoor lag,” sê tant Miemie bewoë.
“Dit sal van nou af ál beter gaan. Ons is weer maats, tante. Sy het my dit vanaand belowe. Nou sal ek meer daadwerklik kan help en nie meer nodig hê om so agter die skerms te werk nie.”
“Ek is so dankbaar, De Waal. Maar een ding moet jy my belowe. Jou vriendskap met ons mag nooit inbreuk maak op jou persoonlike lewe nie.”
Hy aarsel. Eers is hy lus om haar te vertel van sy verbreekte verlowing. Dan laat hy dit maar weer daar. Tant Miemie sal geruster voel solank sy dink hy is verloof.
“Ek belowe, tante. Goeienag.”
In die dae wat volg, besef De Waal dat hy nie te dikwels na die wit huis teen die heuwel durf gaan nie. As hy te veel daar kom, sal tant Miemie en Karina dink hy skeep sy verloofde af en sleg voel daaroor. Hy bly twee aande weg, maar dis lang aande wat hy nie kan omkry in sy woonstel nie. Dan gaan hy maar na sy kantoor toe en probeer werk, maar dit gaan maar sukkelend, sy gedagtes elders.
Tant Miemie of Karina aanvaar stilswyend dat De Waal by sy verloofde kuier, maar tant Miemie merk op dat Karina weer rusteloos is en sy gaan ook vroeg bed toe.
Die afgelope twee dae het dit besonder goed gegaan. Karina het uit haar eie ook die res van die huis leer ken, dit later selfs tot in die tuin begin waag. Weer eens het tant Miemie haar daaraan verwonder dat De Waal alles so fyn beplan het en so aan alles gedink het. Nêrens was daar ’n plekkie wat gevaar vir Karina kan inhou nie.
Die derde dag het Karina tot haar ma se verbasing en vreugde besluit dat sy moeg is vir nagklere en van haar rokke wil begin aantrek. Haar ma het die koffers uit die buitekamer gaan haal waar De Waal dit voorlopig geberg het, en operasie kleresortering het begin. Karina was self verbaas dat sy, deur net die rok te bevoel en met behulp van haar ma se beskrywing, elke rok so maklik kon plaas. ’n Klomp is natuurlik dadelik terug in die koffers, maar ’n hele klompie is opgehang in die ingeboude kas.
Daardie middag trek Karina vir die eerste keer in maande ’n rok aan en tant Miemie help om ’n paar skoene aan die gevoellose voete te kry. Sy lyk so heeltemal normaal toe tant Miemie terugstaan en na haar kyk, dat sy haar asem skerp intrek. As ’n mens nie weet Karina is lam en blind nie, sal jy dit nie maklik agterkom nie. Dit lyk asof sy elke oomblik kan opstaan en loop.
“Hoe … hoe lyk dit, Mamma?” vra sy vol afwagting. “My rokke hang soos sakke aan my, maar as ek sit, sal ’n mens dit seker nie sommer agterkom nie, of hoe?”
“Nee, my kind, jy lyk pragtig,” antwoord haar ma opreg.