Ena Murray Keur 16. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Drie maande sonder taal of tyding. Nie eens een keer het hy probeer uitvind hoe dit met haar gaan nie. Hoe dikwels gedurende hierdie lange wagtyd het sy nie al haar hand op die telefoon gehad nie. Maar sy kan nie! Sy kan nie ’n man soebat om na haar terug te keer nie. Wanneer hy terugkom, moet dit uit eie oortuiging wees. Maar deesdae het die “wanneer” in “as” verander. As Ben terugkeer …
As Ben ’n fout gemaak het, moes hy dit teen hierdie tyd al agtergekom het. As Ben werklik vir haar omgee, sou sy verlange hom al teen hierdie tyd na haar teruggedryf het. As Ben al tot sterwens toe siek gesukkel is met swak personeel en geriewe, sou hy nou al die handdoek ingegooi het. Maar Ben is doodstil.
Maar daar is ’n ander rede, ’n rede waarvan haar ouers nie kennis dra nie, wat haar haar hand elke keer weer van die telefoon af laat terugtrek. Die kind waarna Ben verlang het en waarteen sy bly skerm het – sy is immers nog jonk, daar is nog baie tyd vir sulke dinge – is op pad. Benewens baie ander dinge wat sy die afgelope drie maande moes ontdek, was dié ontdekking die grootste en die skokkendste.
Sy weet dit is baie maklik om Ben onmiddellik terug te kry. Sy kan hom maar net bel en vertel dat sy hul kind verwag. Soos sy Ben ken, sal hy dadelik terugkeer. Maar haar trots laat haar nie toe om hom uit plig terug te dwing nie. As Ben terugkom, moet dit wees omdat hy na háár terugkeer, omdat hy nie sonder haar kan lewe nie, en nié omdat sy sy kind verwag nie.
Daarom het sy haar ouers nog nie vertel nie. Want sy weet hulle sal dan hul taktvolle swye verbreek. Hulle sal Ben kontak. En Ben mag nie van die kind weet nie. Nie voordat sake tussen hulle reggekom het nie. Dán eers sal sy hom vertel.
Maar nou sien sy sake gaan nie meer regkom tussen hulle nie. Ben het werklik bedoel wat hy gesê het toe hy daardie oggend van die ontbyttafel af opgestaan het. Sy het werklik nie geglo dat hy dit ernstig bedoel nie, net so min as wat sy werklik bedoel het dat sy liewer haar huwelik tot niet sou laat gaan as om saam met hom Rondekuil toe te gaan.
Maar Ben het elke woord bedoel wat hy gesê het. En dit is nog ’n rede hoekom sy telkens by die telefoon verbygestap het. Hoe kan sy hom nou bel en soebat om haar terug te neem nadat hy haar gewaarsku het dat alles finaal tussen hulle verby is? Wie sê hy wil haar nog terughê? Was hy nie moontlik vreeslik verlig toe sy daardie oggend so beslis geweier het nie?
Al hierdie maande is die verlange draaglik gemaak deur die wete dat hy haar liefhet soos wat sy hom liefhet, en dat hy net so verskriklik na haar verlang as wat sy na hom verlang; dat hy haar net so vreeslik mis as wat sy hom mis. Maar nou … nou begin sy wonder. Met elke verbygaande dag raak sy al meer oortuig dat die prentjie op Rondekuil daar heeltemal anders uitsien as wat sy haar dit die afgelope maande voorgestel het.
Miskien mis hy wel die geriewe van die stad. Miskien verlang hy wel soms terug na die goed toegeruste stadshospitaal en sy bekwame personeel, maar liewer dít as om langer saam te leef met ’n bedorwe, spandabelrige, onvolwasse kind soos sy. Is dit nie miskien nader aan die waarheid nie?
“Marlene …”
Hartseer sien sy vir die eerste keer dat haar ma oud geword het en dat daar spore van kommer op haar gesig afgeëts is wat nie drie maande gelede daar was nie. Haar hart krimp. Sy was selfsugtig, besef sy skielik met nuwe insig. Haar ouers ly ook. Sy besef nou eers hoe bitter moeilik dit vir hulle moes gewees het om te swyg en net toe te kyk. Ook ter wille van hulle sal sy iets moet doen.
“Ek sal hom bel, Mamma.”
Sy sien hoe haar ma se oë vol trane skiet, trane van dankbaarheid en verligting, en haar hart krimp ineen. Haar ma glo nog dat sy maar net kan bel, en alles sal reg wees. Sy self het nie meer daardie geloof nie.
Tog is daar ’n opgewonde bonsing van afwagting in haar toe sy eindelik die bekende stem aan die ander kant hoor antwoord.
“Ben Roux hier. Wie praat?”
Sy formele stem slaan in haar ore vas. Sedert sy haar ma beloof het dat sy Ben sal kontak, het sy hom al ’n paar keer tevergeefs in die hande probeer kry. Elke keer moes sy net hoor dat dokter Roux in die distrik uit is en of daar nie ’n boodskap is nie. Sy het geen boodskap gelaat nie, en ook nie gesê wie dit is wat na hom soek nie. Maar vanmiddag, eindelik, hoor sy sy stem.
“Dis … ek.” Sy sluk, maar dis meteens baie stil aan die ander kant. “Ek … soek jou al twee dae lank.” Sy het nie bedoel om verwytend te klink nie. Die spanning laat haar keel toetrek sodat sy nie verder kan praat nie.
Maar al waarvan Ben Roux bewus is, is die verskriklike teleurstelling en leegheid in hom toe hy die verwyt in haar stem hoor. Sy het nie verander nie. Die vae hoop dat hierdie drie maande insig en volwassenheid sou bring, was tevergeefs.
Sy stem klink bot en ver toe hy antwoord: “Ek is jammer. Ons het ’n epidemie hier en is dag en nag besig. Wat … is dit? Hoekom bel jy?”
Marlene gryp die kant van die telefoontafeltjie vas sodat haar kneukels wit deurskyn. Dit was ’n fout. Sy moes nooit gebel het nie. Sy kon haar die vernedering gespaar het. Ná drie maande van skeiding … Is dit al wat hy kan vra?
“Ek … wou net hoor, dis al drie maande … Wat is jou plan?”
Sy kan ’n duidelike sug hoor, maar dis nie ’n sug van ongeduld soos sy dit vertolk nie.
“Mý plan het nog niks verander nie. Ek bly op Rondekuil soos ek jou gesê het. Ek wil dit nie weer bespreek nie. Ek bly by my besluit. Ons het mekaar tog duidelik genoeg verstaan.”
Daar is ’n desperaatheid in haar oë wat hy nie kan sien nie. “Maar …”
“Ek het gewonder wanneer jy na ’n prokureur sal gaan.”
“’n Prokureur? Om … wat te doen?”
“Om met ons egskeiding te begin. Daar is geen sin in om dit langer uit te stel nie. Ek gee jou die versekering dat ek al die skuld op my sal neem. Maar kry tog net klaar daarmee!”
Sy bly soos ’n standbeeld staan, lank nadat sy die hoorbuis op die mik teruggeplaas het.
In die weke wat hierop volg, hou Marlene se ouers haar bekommerd dop, totdat haar ma dit op ’n dag nie langer kan uithou nie. “Ek gaan vir Ben bel, Jan. Marlene kan nie so voortgaan nie. Kyk hoe lyk sy al! Sy is net ’n skaduwee van die meisie wat sy was. Sy stel in niks belang nie. Sit net elke dag in ’n bondeltjie en verlang.”
“Hettie, nee, los die kinders. Ek wil net so bitter graag sien dat sy gelukkig is, maar ek gaan beslis ook nie vir Ben Roux soebat om my dogter terug te vat as hy haar nie meer wil hê nie. Ek sê nie Marlene het hom nie rede gegee om haar te verlaat nie, maar dis ’n swaard wat na twee kante toe sny. Maar ek en jy kan nie twee mense dwing om saam te lewe nie, al is een van hulle ons eie kind.”
“Hul egskeiding word volgende week gefinaliseer, Jan. Dan sal dit vir altyd te laat wees. As daar nog iets te redde is, moet dit nóú gered word.”
“Ek weet, Hettie. Maar miskien is die tyd nog nie ryp nie, is ons kind nog nie ryp genoeg nie. Sy hét baie verander die afgelope maande, maar miskien moet sy nog ’n paar lessies leer, my vrou.”
Marlene verskyn stil in die deur. Sy het haar ma se woorde gehoor en haar mond trek wrang by die aanhoor van haar pa se kommentaar. Miskien moet sy nog ’n paar lessies leer! Lessies waaraan sy bitter hard en alléén sal moet leer.
Hulle gewaar haar in die deur en swyg vinnig. Weer eens tref die geweldige verandering in haar hulle albei. Marlene is nie meer die vlinder wat oor die lewensoppervlak dartel nie. Daar is nou ’n volwassenheid in haar. Sy lyk opeens baie meer na ’n vrou as ’n jong meisie. En hoewel sy maerder is as voorheen, is daar ’n rypheid in haar uiterlike wat die ouerpaar op hierdie oomblik opnuut tref. Sy kom voor hulle staan en gee ’n dapper glimlaggie wat hul ouerharte vasgryp en wring. As Ben haar nou moet sien, sal hy haar kwalik herken, dink Jan van Tonder met ’n pynende hart.
Marlene het skielik, ná sy Ben gebel het, verander. Sy was nog in haarself gekeer, het lang ure in die slaapkamer deurgebring, maar tog was dit asof sy van daardie oomblik af weer stadigaan die drade begin optel het. Of sy haar doelbewus reggeruk het ter wille van haar ouers, weet