Ena Murray Keur 17. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
mense. “Maar jy sorg dat jy terug is voordat jou pa vanmiddag tuiskom, Johan!”
“Ja, Ma. Ek belowe.”
Dinge werk nie altyd uit soos ’n mens beplan nie. Daniël kom daardie middag vroeër huis toe – tot sy vrou se verbasing.
“Waar kom jy vandaan? Hoekom …?” Sy frons, kyk hom stip aan. “Is iets verkeerd, Daniël?”
Sy oë is ontwykend; sy weervraag ook: “Moet daar juis iets verkeerd wees? Dit was al vyfuur.”
Sy kortaf antwoord vertel haar dat daar wel iets skort en haar oë word waaksaam. “Ek vra maar net. Jy was nog nooit weeksdae voor kwart voor ses tuis nie. Koffie?”
“Nee. ’n Drankie.”
“’n … Drankie?”
Hy lyk vererg, ietwat uitdagend. “Ja, asseblief. Ek kan dit self inskink as dit te veel moeite vir jou is!”
Haar frons verskerp merkbaar en haar oë flikker vererg. “Ek sal jou drankie inskink, maar dan wil ek weet wat gaande is.”
“Daar is niks gaande nie, Rina! Liewe genugtig, mag ’n man ná ’n harde werksdag nie eens ’n drankie in sy eie huis in rus en vrede geniet nie?”
Haar oë vernou. Hier is ’n groot skroef los. Dis nie dat sy en Daniël nooit woorde kry nie. Inteendeel. Maar hulle is opgevoede mense en maak rusie op ’n beskaafde manier – so half uit die hoogte, en op uiters beleefde toon. Die Pohls is beslis nie mense wat mekaar trompop in die hare sal vlieg of na ’n vlak van openlike onbeskoftheid sal daal nie. Maar Daniël is vanmiddag baie na aan breekpunt, besef sy.
“Ek sal jou drankie skink.”
Sy oorhandig dit, en gaan sit. Die stilte lê swaar tussen hulle.
Dis nie die eerste keer dat man en vrou besef dat hulle êrens langs die pad iets in hul huwelik verloor het nie. Dis nie die eerste keer dat die besef tot hulle deurdring dat hulle nie meer dieselfde eenheid vorm as vroeër nie. Vandat die kinders begin groot word het, het ’n kloof ontstaan. Selfs Johan, wat nog in die huis woon, het sy eie lewe begin lei. Hy slaap en eet by die huis, maar verder is sy dae vol van sy eie dinge. In sy besige program is daar nie veel tyd vir sy ouers nie. Daniël en Rina is nie die eerste getroude paar wat tot die skokkende besef kom dat hulle skielik niks meer vir mekaar te sê het vandat die kinders groot is nie. Elkeen het ongemerk ’n eie lewe begin lei. ’n Dodelike roetine het hulle van mekaar begin dryf.
Soggens vroeg ná ontbyt skei man en vrou se paaie. Daniël gaan na sy werk, en Rina, nadat sy die nodige skrale aandag aan die huishouding gegee het – daar is immers genoeg om haar bevele uit te voer – is op pad na ’n brugpartytjie, ’n modeparade, die blink winkelsentrums, of waarmee sy ook al haar lang, ledige rykmansbestaan omkry. In die middae is dit gewoonlik tennis, rolbal of weer die een of ander teeparty of vrouebyeenkoms.
In die namiddag, omstreeks sesuur, kom haar man van die werk af. ’n Rustige aandjie tuis vir die twee saam is ’n ongekende weelde. As dit nie gaste is wat ontvang word nie, is dit die een of ander onthaal wat bygewoon moet word. Dan is daar nog al die vergaderings.
Naweke gaan dit gewoonlik dol. Saterdagmiddag is dit tennis vir mevrou en gholf vir meneer. ’n Paar drankies by die klubhuis is ewe noodsaaklik. Saterdagaande is daar altyd iets aan die gang wat tot laatnag aanhou.
Sondae is die enigste dag wat redelik rustig verloop. Maar dié dag het ook sy verpligtinge. Eers die oggendkerkdiens. Dít woon die Pohls baie getrou by. Daniël was jare lank diaken en is nou ouderling. Ná kerk volg ’n teedrinkery by vriende. Sondagmiddae word die vorige nag se verlore ure ingehaal met ’n slapie. So teen vyfuur ontdooi almal en word daar weer gekuier. Of, as die gesin wonder bo wonder by die huis bly, sorg die jongste skindernuus in die Sondagkoerant vir vermaak. Aandete is iets ligs. Daarna is dit óf kerk toe óf televisie kyk. Miskien word daar ’n paar woorde gesels. Meestal gaan dit oor die week se skindernuus – wie het wat op watter brug- of teeparty te vertel gehad; wie het nuwe meubels by Daniël Pohl Beperk gekoop, en wie s’n moes teruggehaal word. Dan is dit slaaptyd … en die week is verby. Môre is dit Maandag en die siklus begin weer.
Selfs in die slaapkamer het hul liefdeslewe ’n blote roetine geword en afgestomp tot net nóg ’n plig. Met ’n skok moet albei ná die uitvoering van hierdie plig besef dat die behoefte aan mekaar die afgelope tyd al hoe meer getaan het. As hy nie te moeg of te besig is nie, is sy wel. As sy nie te laat in die bed kom nie, is dit hy. En so, ongemerk, het die bande wat man en vrou tot ’n hegte eenheid saamsnoer, begin uitrafel …
Tog, hulle is nie ongelukkig nie – in elk geval nie soos baie ander getroude pare nie. Hulle het nie groot probleme nie – nog nie in hul huwelik of gesinslewe nie. Die kinders veroorsaak geen probleme nie, altans, nie om van te praat nie. In hul huwelik is daar nie, soos by soveel van hul vriende, ’n derde persoon betrokke nie. Redelik gelukkig …
Rina staan op, besluit om vir haar ook ’n drankie te skink. Ná feitlik ’n kwarteeu behoort ’n mens iets op daardie “redelik gelukkig” te drink.
“Waar is Johan?”
“Iewers heen … saam met Elna.”
Daniël frons. “Waarmee? Sy motorfiets staan dan buite.”
“Ek het hom my motor geleen.” Sy hou haar hande op toe hy vererg wil begin praat. “Ek weet. Ek het dit al tevore gehoor. Maar hy moes Elna êrens heen vergesel en die Stockenströms hou nie daarvan dat hul dogter agter op ’n motorfiets ry nie. Tereg ook.”
“En omdat die Stockenströms se dogter nie by iemand op ’n motorfiets mag ry nie – want dit pas nie by ’n advokaat se dogter nie – moet ék die angs uitstaan dat hulle die dood tegemoet kan ry in daardie motor! En behalwe dit, kan dit my ’n mooi klompie kos as Johan in ’n ongeluk betrokke raak of sonder ’n rybewys gevang word.”
“Regtig, Daniël! Waarom dié gekerm oor geld? ’n Mens sou sweer dit sal jou finansieel breek as jy ’n boete moet betaal!”
“Nee, maar dit sal my wel finansieel breek as al my kliënte my so swak moet betaal soos jou aanstaande swaer!”
Sy kyk hom verward aan. “Waarvan praat jy, Daniël?”
Hy sug, hou sy glas uit. “Gee my nog ’n drankie. Ek praat van advokaat Stockenström. Hy weet van koop, maar blykbaar nie van betaal nie.”
Sy kyk hom verbaas aan. “Ek verstaan nog nie …”
“Dis baie eenvoudig, Rina. Daardie sitkamerstel wat ek spesiaal vir hulle moes bestel omdat daar niks in die vertoonlokaal van Daniël Pohl Beperk was wat die advokaat se vrou tevrede kon stel nie … en wat ek toe omtrent tot my verlies vir hulle in die hande gekry het.”
“Ja, ek weet jy het dit as ’n spesiale guns vir hulle gedoen …”
“En ook maar net omdat Johan met hul dogtertjie uitgaan – en albei maar nog in graad elf! Wel, ek was gister op pad om daardie einste sitkamerstel te gaan terugeis.”
“Daniël!”
“Behalwe die deposito en twee paaiemente het ek nog nooit weer iets gekry nie … en dis vier maande gelede.”
“Daar … daar moet êrens ’n fout wees.”
“Maar natuurlik moet daar êrens ’n fout wees! Die advokaatsvrou se smaak is bokant die advokaat se vuurmaakplek … en ék is die een wat daarvoor gaan betaal!”
“Moenie laf wees nie, Daniël! Die Stockenströms is tog vooraanstaande mense …”
“Jy sal jou verbaas hoe baie sogenaamd vooraanstaande mense van die skuld stink!”
“O, Daniël! Maar niemand in ons vriendekring nie! Hy is lid van die balie en …”
“Ja, en hy gaan sy alie sien as hy aanhou om skuld te maak en nie wil betaal nie,” sê hy pront.
“Jy sal tog nie regtig die stel gaan terugeis nie, Daniël! Hoe sal dit lyk?”