Ena Murray Keur 18. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
dit kan Willemien sien. Sy lyk selfs geskok, asof Willemien ’n ontoelaatbare ding gesê het.
’n Stadige glimlag sprei oor Mark se sonbruin gesig. “Wil jy glo! Hoe gaaf van jou om my aan die mense by die huis te herinner! Ja, foei tog, hulle is teen hierdie tyd seker al mal van bekommernis.”
Lucia kyk vinnig na hom en Willemien se selfversekerde glimlaggie taan.
Lucia se stemtoon spreek boekdele toe sy vra: “Is jy … is jy werklik getroud, Mark?”
Hy grinnik. “Vra vir Willemien. Daardie kind is blykbaar met die helm gebore. Sê my bietjie hoeveel kinders is daar nou weer?”
Haar oë vernou. Hy is openlik besig om haar uit te daag. Die bruin oë blink uitdagend, haar stemtoon is ongeërg. “O, ek het gedink aan ’n halfdosyn. En daar’s natuurlik een op pad.”
Hy lag nou openlik. “My liewe kind, hoe oud skat jy my?”
Sy hou haar kop skeef asof sy regtig ernstig daaroor dink en dan kom dit onskuldig. “O, ek sal sê jy is … so kort duskant vyftig …”
“Willemien!” Lucia lyk heel ontsteld. “Jy is laf! Mark kan niks ouer wees as …”
“Vyftig!” Mark kyk Willemien fronsend aan en sy kry innerlik lekker toe sy sien hoe sy glimlag verdwyn. So ja, meneer Mark. Dit sal jou op jou plek sit. Dit word altyd van ’n vrou gesê, maar die meeste mans is ook maar gevoelig oor hul ouderdom. Selfs die dierbare Ian skram altyd weg van die onderwerp. En nou blyk dit dat die heer Mark geensins daarvan hou dat ’n lastige kind soos sy dink hy is al vyftig nie.
Verontskuldigend sê sy: “Ek … ek is jammer as ek verkeerd was met my skatting. Ek het niks daarmee bedoel nie. Dis maar soos jy vir my lyk … O, gits, ek is jammer. Kom ons praat liewer oor iets anders.” Sy moet al haar selfbeheersing inspan om nie uit te bars van die lag nie. Sy gesig is kostelik. Maar dis goed so! Hy behandel haar mos asof sy net gister die kruipstadium verby is.
“Ja, ek dink ons moet liewer die onderwerp verander,” sê hy en gee haar ’n lang, ondersoekende kyk. “Ons kan nie hier rondluier en twak praat nie. Ons moet begin stap.”
Alle lus vir grappies maak verlaat Willemien onmiddellik. “Asseblief, Mark, moet nou nie weer kwaad word nie, maar … ons het nog nie vir Ian gekry nie.”
“Ja, maar ons kan nie hier sit en wag in die hoop dat hy op ’n dag hier aangestap sal kom nie. Ons moet uit die oerwoud kom voordat die reënseisoen in alle erns begin. Dan sal ons maande lank hier vasgekeer sit. Ek verseker jou ek het goed gesoek. Crebbin is nie binne vyftig meter van die wrak af nie. Dit skakel die moontlikheid heeltemal uit dat hy uit die vliegtuig geval en hier êrens beseer of bewusteloos lê.”
Willemien verbleek merkbaar en dis Lucia wat vra: “Maar wat sou dan van hom geword het, Mark? Hoe kon hy net so verdwyn het?”
Mark se gesig lyk grimmig en hy vermy Willemien se oë toe hy antwoord: “Daar is net een ander moontlikheid. Baie mense reageer eienaardig wanneer hulle ’n groot skok opdoen. Dis of hul verstand tydelik afskakel. Dit gebeur baie dikwels dat mense wat in motorongelukke beland blindelings die veld in vlug en dae later eers weer tot hulself kom.”
“Jy dink dis wat met Ian gebeur het?” vra Lucia.
“Dis al verklaring wat ek op die oomblik vir sy verdwyning kan gee. Ons moet maar begin stap en hoop dat ons hom langs die pad raakloop.”
“En as hy nie in daardie rigting gegaan het nie?” vra Willemien skor, en sy sien nie die versagting in die donker oë raak nie.
“As hy nie in daardie rigting gegaan het nie, moet ons so gou moontlik die beskawing bereik sodat daar soekgeselskappe georganiseer kan word. Daarom moet ons onmiddellik begin stap en vinnig ook.”
“Maar sal hy nog …?” Sy swyg en draai haar kop vinnig weg. Die moontlikheid dat Ian Crebbin teen hierdie tyd lankal deur ’n ongedierte verskeur of deur ’n slang gepik is, selfs deur ’n krokodil gevang is, is veel groter as die moontlikheid dat hy nog lewend gevind sal word. Vanoggend het sy self ervaar dat ’n mens hier nooit jou waaksaamheid durf verslap nie, want die dood skuil agter elke struik, in elke boom, agter elke baldadige rankplant. As Ian werklik blindelings van skok en half waansinnig die oerwoud ingevlug het, is daar ’n baie skrale moontlikheid dat sy hom ooit weer sal sien …
Meteens is die sterk arms van vanoggend weer om haar, voel sy weer sy warm vel teen haar. Haar arms gaan spontaan om sy nek en sy klou hom vas sonder dat sy weet sy doen dit. Op hierdie oomblik is hy net ’n mens aan wie sy kan vasklou om haar vrees en hartseer te besweer. Die arms wat haar vashou, is teer en beskermend, die oë wat bokant haar kop na die oerwoud staar, smeulend en peinsend.
Sy lippe trek styf saam. Crebbin moet gevind word, besluit hy. Dieselfde kille, onverbiddelike lig wat in die donker oë gebrand het toe hy die pistool op die swaaiende kop van die slang gerig het met die wete dat hy net een kans het om Willemien van ’n gewisse en aaklige dood te red, skyn nou weer in sy oë. As Ian Crebbin nog lewe, moet hy gevind word, en in sy hart bid hy dat hy wel nog lewe, bid hy net so hard soos die snikkende meisie in sy arms dat hulle haar verloofde op die terugpad sal raakloop.
Willemien besef dit nie, maar dis ook vir die vreemdeling noodsaaklik dat Ian Crebbin lewend gevind word …
Lucia Cane kyk afgunstig na die toneeltjie voor haar. Ook vir haar het dit noodsaaklik geword dat Ian Crebbin gevind word … en gou … Ook haar lippe is styf opmekaar gepers. Met elke uur wat verby is, het haar planne al vaster vorm aangeneem, en op hierdie oomblik is dit in die finale stadium. Sy is vasbeslote. Maar vir die sukses van haar plan is dit noodsaaklik dat Willemien Heyns se verloofde gevind moet word …
In die twee dae wat volg, word die hoop dat Ian Crebbin lewend gevind sal word, al skraler en skraler. In hierdie twee dae leer Lucia en Willemien wat dit beteken om te voet deur ’n tropiese oerwoud te stap, leer hulle die gevare ken wat om elke draai en agter elke blaar kan skuil. Albei besef dat hulle sonder Mark nooit lewend uit hierdie groen onheil sal kom nie.
Nie net is die hitte uitputtend nie, dit het ook ’n neerdrukkende uitwerking. Elke tree word ’n louter marteling en nooit, nie vir ’n enkele oomblik, mag hul waaksaamheid verslap nie. Gedurig moet hul moeë oë rondsoek na gevaar wat verskuil kan wees in die groen blaredak bokant hulle of in die groen mure rondom hulle.
Van die begin af hou Mark so na aan die rivieroewer as wat moontlik is. Êrens moet dit uitloop op ’n plek waar daar ander mense sal wees. Dit sal ook voorkom dat hulle verdwaal en dae lank in sirkels loop. Maar dit het ook sy nadele, want swerms insekte verpes hul moeilike tog. In die hitte stap hulle skaars tien tree of hul klere is deurweek en klou aan hul liggame asof hulle daarin geswem het.
Willemien sien nie meer die asemrowende prag van die natuur nie. Sy het blind geword vir die orgideë wat haar in ekstase gehad het en sleepvoetend trap sy nou op hulle.
Dit word ’n martelende tog, ’n folterende inspanning om by te bly, want Mark spaar hulle nie. Meedoënloos, uur na uur, met net kort tussenposes, dwing hy hulle voort. Willemien wonder soms of sy werklik ’n teerheid in sy samestelling ontdek het toe hy haar daardie dag getroos het. Nou is daar geen sagtheid, geen simpatie in hom merkbaar nie. Hy is ’n regte slawedrywer wat, as dit nie anders kan nie, hulle met brute krag van die grond af opdwing en voortsleep.
Daar kom oomblikke dat sy hom met haar hele hart haat; wanneer elke vesel in haar liggaam voel asof dit in twee skeur by die geringste beweging; wanneer die moegheid en sweet haar ooglede lam maak, sodat sy skaars ’n tree voor haar kan sien.
Lucia, hoewel ’n miljoenêrsvrou, is gebrei deur ’n harde kinderlewe, en sy pas haar makliker aan by die moeilike omstandighede.
Mark, tot Willemien se grootste ergernis, bly die koel, kalm vreemdeling van die eerste dag. Hoewel sy hemp sopnat aan sy breë rug kleef, bly sy oë helder om en bokant hom flits waar hy daar voor die pas aangee. Soms glo Willemien vas dat hy nie ’n mens is nie, maar ’n masjien – ’n koue, gevoellose stuk staal waarop selfs die wrede natuur van die trope geen uitwerking het nie.
En tog