Ena Murray Keur 18. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
daar bring …
Sy dink aan hoe skielik omstandighede jou kan dwing om van ’n goed beplande roete weg te swenk na … nêrens. Sy het haar ietwat vererg vir die man wat haar in die lughawegebou byna ongemanierd dopgehou het. Hy was ’n naamlose vreemdeling en dit sou hy bly, ’n toevallige medepassasier op die lang vlug terug na Suid-Afrika. Hoekom sou sy dat die deurdringende oë haar ontstel en selfbewus laat voel?
Skielik is hy nie meer net ’n doodgewone medepassasier nie. Hy is nog naamloos, maar nie meer so onbekend nie. Binne enkele ure het hy die man geword wat haar en Ian se lewens in sy hand hou, haar hele toekoms wat so aanloklik en belowend voor haar uitstrek.
’n Tropiese storm sal binne enkele minute oor hulle losbars. Al die tekens is daar, onrusbarend en vreesaanjaend. En hy is die man wat hulle in ’n ligte, mensgemaakte tuig veilig daardeur sal moet stuur of … Binne enkele minute sal die donker vreemdeling sy kragte en vernuf teen die elemente moet stel. Is hy nie in staat om sy man daarteen te staan nie, dan … Sy sidder en draai vinnig na Ian.
Hy trek haar teen hom vas. “Jy moes gegaan het toe jy kon, Willemien. Jy was dwaas …” hoor sy hom fluister en sy klou hom stywer vas. Die vreemdeling het haar ’n sentimentele idioot genoem. Hulle is moontlik reg. Sy was baie dom om nie haar vryheid te neem toe dit aangebied is nie. Maar sy het nie ’n oomblik geaarsel nie. Sy wou by Ian bly, by die man op wie sy haar hart totaal verloor het. Liewer saam met hom die onsekerheid en gevaar trotseer as om te sien hoe hy van haar af wegvlieg met die vreeslike wete dat sy hom miskien nooit weer sal sien nie.
Met haar kop teen Ian se bors kyk sy bang deur die voorste windskerm en sien hoe die wolke om hulle begin kolk en maal. Sy sien hoe die vreemdeling se sterk hande stywer om die stuurstang span. Daar is nou geen teken van die onverstaanbare glimlaggie nie. Die kake is hoekig en styf en daar is ’n diep frons tussen die oë wat die hemelruim om hulle dophou.
Vlugtig dwaal sy blik na agter asof hy aanvoel dat daar oë op hom rus. Maar sy oë is kil, byna vyandig, en sy kyk vinnig weg. Sy kan sy boodskap duidelik lees. As jy gegaan het, sou ek nou een minder gehad het om my oor te bekommer, sê die donker oë. Sentimentele klein idioot!
Die kaper voor langs hom se blik is priemend op die toneel onder hulle gerig. Ook Ian beskou die toneel met speurende oë. Die oerwoud van Fernando Poo lê nou onder hulle. Ian skuif onrustig rond en druk per ongeluk teen die kaper voor hom. Laasgenoemde swaai die pistool blitsig op hom sodat Willemien vir een nagmerrie-oomblik dink dat Ian ’n koeël tussen sy oë gaan kry.
“Ekskuus. Ek het net reggeskuif,” maak Ian dadelik verskoning.
“Beheer julle, asseblief! Dis nie nou die tyd om te stres nie!” sê die vreemdeling ysig.
Die kaper draai terug. “Sak laer. Hier onder loop ’n rivier. Gaan met die stroom langs en verminder spoed.”
“Jy is mal. Hier is geen landingsplek nie. Dis oerwoud hierdie.”
“Maak soos ek sê! Wie het van land gepraat? ’n Mens leer uit ander se ervaring. Jy weet self wat met baie ander kapers gebeur. O nee, Diego is slimmer as dit, vreemdeling. Die geld word hiér afgegooi. Oor ’n paar weke sal ek en Justo terugkeer en dit kom haal. As daar iets gebeur en ons word gevang, sal die geld nog veilig wees. Eendag sal ons wel weer vry wees en dan kan ons dit kom haal.”
Die kaper kyk die vlieënier uitdagend aan. “Ek is nie so onnosel as wat jy dink nie, vreemdeling. Baie min mense kom in hierdie oerwoud. Die kans dat iemand anders die geld hier sal kry, is een uit duisend.” Hy lag skielik hard. “Nee, vreemdeling! Die oerwoud van Fernando Poo is op die oomblik die beste bank waar ek my geld kan deponeer. Op geen ander plek op aarde sal dit veiliger wees nie, want dis die laaste plek waar die klomp gekke daarna sal gaan soek. Almal sal dink dat ons so gou moontlik van die eiland padgegee het. Ons gaan ook, sodra ek die geld ‘gedeponeer’ het. Dan skiet jy reg oos, vriend. Ek sal jou sê wanneer jy moet land.”
Met ’n strak gesig volg die vlieënier die silwer baan van die rivier onder hulle. “Dis gevaarlik om so laag te sak, Diego. Die storm …”
“Jy praat te veel, vreemdeling,” herhaal die kaper sissend en hou sy pistool dreigend uit. “Doen wat ek sê! Sak!”
Hy het geen keuse nie. Hy weet dit. Die ander wat die gesprek in gespanne stilte gevolg het, weet dit ook. Ian se blik skiet af na onder. Dit is gevaarlik, baie gevaarlik … As die vreemdeling hom misreken …
Terwyl hy die bevel gehoorsaam en die vliegtuig hoogte begin verloor, sê die vreemdeling sag uit die een hoek van sy mond: “Het jy vergeet dat ons ander nou ook weet waar jy die geld afgegooi het?”
Die kaper se lag stuur ’n rilling deur Willemien se liggaam. “Nee, vreemdeling. Ek het nie vergeet nie. Diego onthou alles.”
Die twee mans se oë ontmoet. Onder die sonbrand van die vreemdeling se wange word dit wit. “Ek hou nie van koelbloedige moord nie.”
“Ek ook nie, vreemdeling. Wie hou dan daarvan?” Vlugtig kyk hy na onder. “Nog laer. Nog!”
Die vlieënier se lippe is wit toe hy gehoorsaam.
“Verminder spoed. Hou dit egalig,” kom die bevele. “Justo!”
Terwyl die agterste kaper die leersak vasvat, draai Diego hom in sy sitplek om sodat hy almal onder skoot het. Hulle sit ademloos. Om hulle begin dit skommel en kraak. Die storm is byna op hulle. Dan sit Justo terug in sy ou posisie en Diego draai met ’n breë glimlag om in sy sitplek. Sy stem klink amper gesellig. “Welgedaan, vreemdeling! As jy my jou adres gee, laat ek miskien eendag ’n paar note na jou kant toe val. Jy het jou goed van jou taak gekwyt.”
Maar die vreemdeling hoor hom skaars. Roerloos bly sy oë op die hemelruim bokant hulle gerig. Diego se stem word weer saaklik. “Goed. Dis afgehandel. Nou reg oos, Afrika toe!”
Skerend bokant boomtoppe langs skiet die vliegtuig weer omhoog en dan … Daar is skielik ’n verandering in die dreuning en dis of die tuig sukkel om hoogte te herwin.
“Wat gaan aan? Ek waarsku jou, jou gek! Jy sorg dat ons hier wegkom!” roep Diego uit, sy stem dreigend, die pistool byna teen die vreemdeling se kop gedruk.
“Hier is fout!” skree die vlieënier bokant die dreuning van die storm uit wat nou in al sy felheid in aantog is. “Die een enjin is vrek!”
“Hoekom nie? Hy het netnou niks makeer nie! Ek sê jou ek skiet jou morsdood …”
“Moenie mal wees nie! Die een enjin werk nie, sê ek jou! Sulke dinge gebeur. Ons sal nooit in der ewigheid deur hierdie storm kom met net een enjin nie. Ons sal moet land …”
“O nee, vreemdeling. Ek sien deur jou plannetjie. Jy wil naby die geld bly …”
“Na die duiwel met die geld! Ons is ses mense in hierdie vliegtuig. Ek sê jou …”
“En ek sê jóú jy lig hierdie vliegtuig en swaai oos! Dadelik!”
Maar hoe die vreemdeling ook al probeer, is dit duidelik dat daar nie meer krag in die vliegtuig is nie. “Die oliedruk van die tweede enjin is ook defek. Diego, ons sal móét land!”
Die twee mans kyk mekaar vas aan. “As jy besig is met ’n speletjie, vreemdeling, sweer ek, vandag gaan jy dit berou.”
“Dis nie nou tyd vir speletjies nie. Hierdie vliegtuig gaan val. Ek kan hom nie langer in die lug hou nie. As ek nie probeer land nie, gaan ons val.”
“Maar waar wil jy land? Dis net oerwoud onder ons!” roep Ian uit, en almal se oë kleef aan die toneel onder hulle.
3
Asof sy uit ’n ver, vreemde wêreld moet terugworstel na die bekende, sukkel Willemien om haar oë oop te kry terwyl sy roerloos bly lê.
Bokant haar is ’n blaredak wat aan haar onbekend is, en sy staar daarna soos ’n stom dier – onnosel, verward.
Die bruin oë dwaal verder, soek half paniekerig na iets bekends. Skuins langs haar aan ’n