Эротические рассказы

Prooi. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.

Prooi - Deon Meyer


Скачать книгу
was iemand wat reeds op die trein was, Vaughn.”

      “Hoe scheme jy?”

      “Sê nou maar dis iemand wat vir hom kwaad was. Daai iemand sal moet weet hy gaan met die trein ry. Daai iemand sal moet weet hoe die trein werk, waar dit stilhou, hoe om in te kom. En dan nog vir Johnson kry en hom oorval. Dit is baie kennis, baie beplanning. Scherpenzeel het twee dae voor die trein sou vertrek vir Johnson plek gekry.”

      “I read you, Benna.”

      Hulle staan en staar na die stasie.

      “Voetwerk,” sê Griessel.

      “Amen,” sê Cupido.

      “Ek sien jou by die kantoor. Ek moet eers shrink toe,” sê Griessel.

      “Wanneer gaan dit op daai auntie dawn lat jy bat shit crazy is beyond redemption?”

      16

      Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.

      Hy slaap byna niks. Dit is nie die hitte wat hom wakker hou nie, dit is die herinneringe.

      Hy rol rond in sy bed, steeds onwillig om in die nag uit te gaan en sy gewone slaaplose roete te gaan stap, want die gereg is dalk steeds op die uitkyk vir hom, ondanks die mediaberigte.

      Om kwart oor vyf kom die son op en kan hy nie langer lê nie. Hy was en trek aan. Donker klere, want dit is onopvallend in die geroesemoes van die straat. Só kom die opleiding van ’n leeftyd gelede stelselmatig terug.

      Hy loop onnadenkend oor die Pont de Pierre. In die middel van die brug gaan staan hy en maak seker daar is niemand wat hom agtervolg nie. Dan loop hy op met Avenue Thiers. Hy stry teen die skimme in sy kop, probeer fokus op Lonnie May. Wat wil hy hê? Waarom is hy hier? En hy hou nie van een van die antwoorde wat by hom opkom nie.

      Lonnie het die katedraal van Saint-André gekies. Goeie keuse vir iemand wat nie die stad ken nie. Daar is beter plekke. Hy kan aan ’n paar dink. Mollat se boekwinkel, byvoorbeeld, altyd bedrywig. Of die tamaai Village Notre Dame, mevrou Lefèvre se grootste antiekwinkel-mededinger. Stil hoekies, maklik om die ingange te sien.

      Wat wil Lonnie hê?

      Waarom is daar iemand agter Lonnie aan?

      Twintig minute later gaan staan hy. Hy kyk na die Werkloosheidskantoor se onaantreklike, moderne gebou voor hom. Hy besef hy het nie toevallig vanoggend hierdie rigting gekies nie. Dit was hier in La Bastide dat hy vir die eerste keer sy nuwe identiteit aan amptelike oë blootgestel het, laat toets het. Dit is hier waar sy nuwe lewe begin het toe hulle hom vertel het van die betrekking by die Lefèvres.

      Wil hy regtig vir Lonnie ontmoet?

      Hy wil nie hierdie bestaan van hom prysgee nie.

      Lonnie sal vir hom sê: “Tiny, hierdie plek is jou balsem.”

      “Tiny” was sy bynaam, in die ou dae.

      Lonnie sal vir hom sê: “Tiny, hierdie land en hierdie stad is jou verdowingsmiddel. Jy sal jouself en jou geskiedenis en jou bestaan moet konfronteer. Jy sal heling moet vind, jou demone moet tem.” Lonnie was altyd die stem van redelikheid, die verantwoordelike mentor, die gewete. Eerbare Lonnie. Pligsgetroue Lonnie.

      Hy wil niks tem nie. Hy wil sy plaastafel klaarmaak, en dan die stoele, een vir een, en aanhou leer om met die meubels te werk. Eendag, dalk vier of ses of tien jaar van nou af, wanneer Henry Lefèvre te oud is om te werk, wil hy hom opvolg, tot hy self te oud is, en dan wil hy iemand anders leer en sy pensioentjie trek en hier doodgaan. Gebalsem, verdoof. Vry van herinneringe.

      Hy staan ’n halfuur lank en kyk hoe die trems heen en weer beweeg, heen en weer, met hul slanke, moderne vorms soos sneltreine.

      En dan draai hy om en loop terug na sy woonstel om te gaan probeer ontbyt eet voor hy vir Lonnie ontmoet.

      * * *

      ’n Pous het byna ’n duisend jaar gelede dié kerk heilig verklaar, die katedraal van Saint-André waarna die inwoners bloot verwys as die Bordeaux-katedraal. Daniel was al hier in, maar dit is te groot na sy sin. Wanneer hy soms die behoefte het om te gaan sit en krag te vra vir die vergeet, verkies hy die eenvoud en verval van die Saint-Michel-basilika of die intimiteit van die Église Sainte-Croix.

      Hy weet waarom Lonnie Saint-André gekies het. Die manjifieke, massiewe binneruim maak dit makliker om mense uit te ken, selfs al is daar baie. Die drukgang is nooit té erg nie. Net een in- en uitgang om dop te hou, op die groot Pey Berland-plein waar jy ’n agtervolger met groter gemak kan sien. Die plein het vier moontlike ontsnaproetes en een van die besigste tremstasies in die stad.

      Daniel kies die Rue du Maréchal Joffre omdat dit stiller is. Hy maak seker daar’s niemand agter hom aan nie. Hy talm, sodat hy nie te vroeg is nie, want die katedraal se deure maak eers om 10:00 oop.

      Hy stap in saam met ’n paar toeriste, kameras om hul nekke. Hy gee voor om oorweldig te word deur die praal van die binnekant, sodat hulle koers kan kies, sodat hy kan sien of hulle enigsins in hom belangstel.

      10:12.

      Hy draai om, loop haastig weer uit, net om doodseker te maak.

      Niemand reageer nie.

      Hy gaan weer in, draai regs, loop af tussen die honderde stoele wat in netjiese rye staan, na die holte onder die skouspelagtige orrel. Hy sien Lonnie nêrens.

      Op met die tien trappe tot reg onder die orrel-balkon, en dan weet hy Lonnie is hier regs in die versteekte hoekie, met sy boepmagie, sy dik wenkbroue en sy bril en sy kaal kop, en hy loop na sy ou kameraad toe en hulle omhels mekaar en Daniel Darret, eens Tobela Mpayipheli, huil geluidloos. Die eerste mens uit sy ou lewe – Lonnie May, liewe Lonnie May. Dit is die verlange na sy geboorteland en al sy verlore geliefdes wat hom oorweldig.

      Lonnie, soveel korter, sy kop hier teen Daniel se bors, die bril skeef gedruk in die omhelsing, sê: “An agnostic. And the Xhosa son of a Protestant preacher. Furtively embracing behind a corner in a Roman Catholic church. You can’t make this stuff up, Tiny.”

      Maar Lonnie moet ook skelm-skelm oor sy oë vee.

      En dan lag hulle so tussen die trane deur.

      * * *

      Hulle staan só dat Lonnie kan uitkyk oor die die kerk se binnekant. “Two of the buggers have been on my tail, all the way from London. Lean and hungry look, thought I was too old to spot them. Must be running all over Bordeaux now, trying to find me,” sê hy in sy bekende staccato styl, en hy lag sy Lonnie-lag, geheimsinnig en sag. Maar daar is spanning in hom.

      “Who are they?” Daniel staan in die hoek, leun met sy rug teen die muur.

      “Russians, I think.”

      “Russians?”

      “It’s a long story.”

      “I’m sure.”

      Lonnie kyk na hom. “You’re looking great.”

      “Not getting any younger.”

      “Don’t talk to me about age … Jesus, Tiny, it was a job finding you.”

      “You seem to have managed pretty well.”

      Die stemme van toeriste wat naderkom. “I … We need a better place to talk. This isn’t going to work for very long.”

      Daniel het so vermoed. Hy het gedink aan ’n goeie plek. Hy sê: “Au Bistrot. It’s a restaurant on the Place des Capucins, across from the market. There’s a cellar, only one stairway, one entrance. I know the owner, François.”

      “Good food?”

      “The best.”

      “Twelve-thirty?”

      “Yes.”

      “It’s good to see you.”

      “I’ll reserve judgement until I know


Скачать книгу
Яндекс.Метрика