Ena Murray Keur 19. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
ek jou iets vra?”
Sy het nie juis ’n keuse nie. “Ja?”
“Ek … het gewonder of jy my dalk kan help. Dis … eintlik nie vir … my nie. Dis vir ’n vriendin.” Miempie staan haar net en aankyk en daar word hakkelend vervolg: “As ’n mens nog heel aan die begin van …” Daar word eers gesluk. “Ek bedoel, as ’n mens vermoed dat jy maar nog kort verwag … is daar mos iets wat ’n mens daaraan kan doen om … om dit te stop?” Toe sy Miempie se instinktiewe frons sien, vervolg sy vinnig: “’n … ’n Vriendin van my dink … dink sy mag dalk … só wees en … Is daar nie iets wat sy kan drink of doen om …?”
“Om dit af te bring nie?” Die kop knik en Miempie vervolg ernstig: “Dis ’n baie gevaarlike ding waarvan jy praat, Yolande. Dit kan selfs lewensgevaarlik wees. Al word ’n aborsie deur ’n dokter of ’n vroedvrou gedoen, kan dit baie ernstige gevolge inhou.”
“Maar is daar nie iets wat sy sélf kan doen nie? Ek bedoel, dis mos nie of dit al … al klaar ’n baba is nie … Dis tog nie …”
“Moord nie? Nee, daar is baie mense wat glo dis nie moord nie. Maar weet jy dat daardie hartjie reeds op drie weke begin klop … en dan weet die vrou of die meisie nog nie eens sy verwag nie; kan sy dit nog nie eens vermoed nie.” Die blonde meisie lyk bleker en die naar kol op Miempie se maag word groter. “Ek sal jou vriendin aanraai om eers honderd persent seker te maak dat sy swanger is en dan … dan professionele hulp inroep.”
“Is daar dan dokters wat dit sal doen?”
“Jy bedoel ’n aborsie op haar uitvoer? Wel, as sy minderjarig is, moet sy dit liewer eers met haar ouers bespreek. En wat sy ook al wil doen, sy moet haar ouers se toestemming kry.”
“Maar wat anders kan sy dan dóén?” Daar is paniek in die jong meisie se stem.
Miempie doen haar bes om die regte raad te gee: “Daar is geen ander verstandige uitweg nie. Sy moet vasstel of sy swanger is en dan die saak openlik met haar ouers bespreek.”
“Sy sal dit nooit doen nie! Ek bedoel, haar ouers daarvan vertel nie.”
“Sy het geen ander keuse nie, Yolande. Ek neem aan sy is nog maar … e … vyftien?”
“Amper sestien.”
“Sy is nog minderjarig. Sy sal haar ouers daarvan móét vertel.”
“Maar kan jý nie iets … iets vir my gee … wat ek vir haar kan gee wat dit miskien … miskien kan laat …”
“Nee, ek kan nie. Ek sal nooit so iets waag nie. Ek beskou dit as moord. Dit is heeltemal teen my beginsels en etiese waardes – al beskou baie mense dit as ’n vrou se reg. En dit kan ernstige sielkundige skade inhou. Verder is jou vriendin in elk geval minderjarig. Yolande, jy moet met haar praat. Hoe gouer sy haar ouers in haar vertroue neem, hoe beter. Asseblief. Moenie dat sy self iets probeer om die swangerskap te beëindig nie. Sy kan nie net haar gesondheid vir ewig knou nie, maar selfs sterf. ’n Aborsie wat nie in kliniese omstandighede deur ’n dokter of ’n vroedvrou uitgevoer word nie, is lewensgevaarlik en nie iets om mee te speel nie. Agterstraat-aborsies het al ontelbare lewens geëis.”
Die kop val vooroor en die blonde hare tuimel oor die verwese gesiggie. “Ek sal haar sê.”
“Yolande …”
Maar sy is reeds besig om haar motorfiets pad toe te stoot. “Ek sal nou moet ry. Tot siens, suster.”
Miempie staan die stofwolk en agternakyk en begin dan stadig terugstap kombi toe. Sy weet dat die bewing in haar ingewande nie meer van die skok van die amper-ongeluk is nie. Dis diepe ontsteltenis oor ’n pragtige jong meisie wat op amper sestien swanger is. En ten spyte van die gevoelens wat Ruda Visser in haar wakker gemaak het, is daar ook ’n innige jammerte vir die snobistiese rykmansvrou op wie daar in die nabye toekoms miskien ’n geweldige skok wag. Nie eens vir Ruda Visser wens sy so iets toe nie. Vir geen ma en pa nie …
Miempie slaap sleg dié Donderdagnag en toe sy Vrydagoggend wakker word, is haar binneste steeds ’n maalkolk toe sy gereedmaak vir werk. Eers moet sy haar weeklikse verslag by die distriksmunisipaliteit se kantoor indien en vir die res van die dag behartig sy die plaaslike kliniek. En sy sal met die dokter moet praat oor die potensiële tuberkulosegevalle op Grootfontein. Sy durf nie daarmee wag nie. En intussen hoop en bid sy maar dat Yolande Visser wel van ’n vriendin gepraat het …
Sy kan haarself nie keer nie. Vandag moet sy meer te wete kom oor die Vissers van Grootfontein, watter soort mense hulle is.
Dit kos haar net een of twee vrae in die regte rigting om Rina aan die praat te kry.
“O, die Vissers? Praat van snobs!”
“Ruda Visser is seker een van die mooiste vroue in die distrik en nog jonk. Sy kan nog nie veertig wees nie.”
“Sy is seker daar rond, maar ek sal haar nie mooi noem nie. Sy lyk altyd suur. Trek pragtig aan, ja. Maar hulle het die geld. En sy het die smaak. Sy het vroeër ’n boetiek hier gehad, die mees eksotiese klerewinkel wat hierdie dorp nog geken het.”
“Hulle het net een kind, of hoe?” vra Miempie.
“Ja. ’n Dogter, Yolande. Sy is saam met my Harry in die klas. Dáár is nou ’n wilde enetjie vir jou, hoor!” sê Rina veelseggend.
“Wat bedoel jy?”
“Wel, Harry sê sy leer nooit nie. Sy druip elke kwartaal en sy steur haar min daaraan. Verder is sy so oorryp as kan kom. Ek sal liewer nie vertel wat my Harry vertel wat alles aangaan nie, maar die klein Yolande is die voorbok.”
“Dinge soos wat?”
“Dwelms, drank en seks. Jy hoef nie so geskok te lyk nie, Miempie. Dink jy dis net in die stede waar hierdie dinge aangaan? Daar is nie meer ’n dorp in hierdie land waar hierdie dinge nie kop uitsteek nie, laat ek jou vertel.”
Miempie voel mislik. Sy wens Rina wil ophou, maar sy gaan voort: “My Harry doen natuurlik nie mee nie. Hy weet wat sy pa met hom sal doen as hy aan sulke onheilsdinge deelneem, maar hy sê dagga is nie meer snaaks nie. Daar is kinders wat al heelwat sterker goed gebruik. En vrye seks is aan die orde van die dag. En daardie klein Yolande … die kind is nog nie eens sestien nie … is die gewildste onder die seuns, want sy is pragtig. Maar soos my Harry vertel, sal daardie meisiekind nie kan sê wie die pa van haar kind is as sy die dag moet ontdek sy is swanger nie. En ek sal nie verbaas wees as daar nog volwasse mans ook onder hulle is nie.”
Miempie stuit die stortvloed vinnig: “Rina, jy sal my nou moet verskoon, maar ek moet nou hierdie verslag afhandel, anders kom ek nie betyds klaar nie.”
“Ja. Ek sal ook moet roer.” Rina kom by Miempie se lessenaar verbygestap en laat vir oulaas hoor: “Maar daardie soort meisies kom nie in die moeilikheid nie. Hulle is te slim. Behalwe dat hul eie ma’s hulle die voorbehoedpil voer, kan hulle dit mos maklik in die hande kry. Enersyds is dit ’n goeie ding. Dit verhoed baie ongewenste swangerskappe. Andersyds … dit maak ons kinders sleg. Nou kan hulle te kere gaan soos hulle wil, sonder vrese. Maar pasop as hulle die dag vergeet om die pil te neem … Dit gebeur ook.”
Gelukkig lui die telefoon op daardie oomblik en Miempie tel dit vinnig op, dankbaar vir die onderbreking. Dis meneer Hough, die sekretaris. Sal suster Rust asseblief onmiddellik na sy kantoor kom?
Toe Miempie hom oomblikke later in die oë kyk, weet sy dat haar duistere voorgevoelens oor gister se voorval bewaarheid is.
“Meneer Visser van Grootfontein was so pas hier by my in die kantoor, suster. Hy het ’n sterk klag teen jou kom indien.”
Miempie staal haar. “Wat is die klag, meneer Hough?”
“Dat jy beledigend en aanmatigend teenoor sy vrou was en wilde beskuldigings gemaak het.” Hy wys na ’n stoel. Suster Rust is een van sy knapste en fluksste werknemers. Hy sal haar nie graag wil verloor nie. Maar hy durf ook nie ’n klag van die Vissers van Grootfontein ignoreer nie. “Sit, suster, en vertel my wat