Een van die ergste vorms van die Swart Dood in die 14de eeu het sy slagoffers binne vyf dae uitgewis. Maar dat daar ander, subtiele, moderne en ewe dodelike vorme bestaan van die Pes wat in die donker wandel, ontdek die bruin Kaapse meisie Andrea Malgas gedurende die vyf dae wat sy ná ’n jarelange verblyf in Europa in Provence deurbring. Sy staan tussen twee mans: Paul, die welvarende, middeljarige blanke esteet wat haar al die gerief en sekuriteit van ’n lewe in Europa aanbied; en Mandla, die jong swart aktivis wat haar opnuut blootstel aan die gevaarlike teenwoordigheid van Afrika, waarvan sy haar so lank al vry gewaan het. Onder andere moet sy besluit of “vryheid” ook mag beteken dat jy kan klaarkom sonder die land, die samelewing, die mense wat jou gevorm het. Op soek na lokaliteite vir Paul se film oor die Swart Dood kom Andrea en Mandla uit by die oorblyfsels van ’n Muur van die Pes wat eeue gelede gebou is om die plaag te probeer keer. Vir haar is dit die kulminasie van al die baie mure waardeur sy in haar lewe voorgekeer is en wat mense apart van mekaar probeer hou: mure tussen ras en ras, tussen generasie en generasie, tussen man en vrou, tussen hede en herinnering, tussen werklikheid en droom, uiteindelik tussen lewe en dood. Wat sy egter ontdek in die skokkende ontknoping van ’n lewe, herleef in vyf dae, is nie iets negatiefs nie, maar die ontroerende besef dat mure ook afgebreek kan word. In die laaste instansie is dit die skrywer Paul wat in een van die oorspronklikste verteltegnieke wat nog in ’n roman gebruik is, antwoorde moet gee op die baie vrae wat die verhaal se opset bepaal. Wat daardie antwoorde is, en of hy daarby uitkom, kan die lesers eers aflei wanneer hy die hele sirkel van die roman voltooi het. Die muur van die pes, wat in baie opsigte ’n bedoelde tweeluik met Kennis van die aand vorm, is ’n ryker en ryper werk as enigiets want André P. Brink nog geskryf het.