Kan ek maar aan jou selluliet vat?. André le RouxЧитать онлайн книгу.
vasopressien (die neurone het dus meer reseptore vir oksitosien en vasopressien).
Die volgende stap was om ekstra vasopressien in die grasland-woelmuis se brein in te spuit, geheg aan ’n skadelose virus, en te kyk wat gebeur.
Toe gebeur dit.
Terwyl die ingespuite virus vat en ekstra vasopressien afgeskei word, het daardie woelmuis feitlik oornag getrou geword aan een wyfie! Selfs toe ander woelmuis-wyfies hom wou uitlok deur hul stertjies te swaai het daardie woelmuis sterk gestaan. Tot die dood ons skei en selfs daarna: As sy wyfie doodgaan, bly hy vir die res van sy kortstondige lewetjie selibaat, die arme ding.
Die wetenskaplikes vermoed die (manlike) hormoon vasopressien word afgeskei tydens paring, nes by die mens, en dit aktiveer die beloningstelsel in die brein wat jou goed laat voel. Nou assosieer die woelmuis daardie lekker gevoel met die bepaalde woelmuis-wyfie met wie hy so pas ure lank gepaar het, en hy kom telkens terug vir nog. Die woelmuis het sowaar “verlief” geraak – amper nes mense – teenoor die ander woelmuise wat so rondloop omdat hulle nie genoeg vasopressien-reseptore het nie.
Hoewel monogaam, het wetenskaplikes agtergekom, kan prêrie-woelmuise ook maar ontrou wees en rondloop – nes die mens. (Dit vat ook net een mens of een woelmuis om ’n mooi liefdesverhaal op te neuk …)
Het jy al ’n woelmuis sien gloei in die donker?
Dis presies wat wetenskaplikes reggekry het deur ’n woelmuis, met sy komplekse genetiese samestelling, te “maak”. In 2009 het Amerikaanse navorsers in Atlanta, Georgia, genetiese “variante” van woelmuise geskep deur nuwe genetiese materiaal in die embrioselle van prêrie-woelmuise in te spuit, weer via die skadelose virus. Die geen wat hulle gebruik het, was vir groen fluoresserende proteïene (gesteel by jellievisse), wat vanself gloei in lig van ’n bepaalde frekwensie.
Daarmee het hulle bewys die woelmuis se selle is inderdaad in die embrio verander en hul babas sal daardie veranderinge toon. Die wetenskaplikes sal kan sien hoe dit hul gedrag beïnvloed het, en daardeur kan hulle dalk menslike gedrag beter verstaan.
Hulle hoop dit kan help om menslike sosiale interaksie en binding te ontrafel, of wanneer sosiale vaardighede skeefloop soos by outisme of verslawing, wat ook te doen het met die brein se beloningsentrum.
Woelmuise het nog ’n nut vir die wetenskap, vir argeoloë. Hulle het ’n sogenaamde vole clock by die diertjies ontdek. Aan die hand van die woelmuise se “horlosie” kan argeoloë bepaal hoe hulle die afgelope miljoen jaar ontwikkel het. Dit help om argeologiese uitgrawings akkuraat te dateer.
Gaan na die woelmuis en word wys …
◊◊◊
Of nog beter: die gifpaddatjie van Peru.
Wetenskaplikes ken reeds dié grootoog-paddatjie, maar eers vroeg in 2010 het hulle agtergekom hy’s die enigste monogame paddatjie in die hele amfibiese wêreld, skaars so groot soos ’n man se duimnael, maar baie skraler. ’n Mens kan hom die woelmuis van die reënwoude noem.
Hy’s ewe oulik.
Geel met swart kolle, of swart met ’n oranjegeel netwerk van strepe oor die rug, en ’n kleiner netwerk van witterige kolle op die pote. Daar’s variasie op dié kleurpatrone, met meer rooi of blou.
Boonop na-aap hy die kleure van ander paddas. Sy naam is nie verniet Ranitomeya imitator nie, die mimic poison frog. Hy’s self giftig, maar hy maak die kleure na van minstens drie ander soorte paddatjies wat nog giftiger is as hy, net om seker te maak sy vyande kry die boodskap.
Maar terwyl sy rondlopermaats in groot poele baljaar, waar daar genoeg kos vir almal is, is dié gifpaddatjie beperk tot kleiner poele, waar daar nie soveel te ete is nie. Dan besluit hy om by die huis te bly om toe te sien dat die kinders genoeg kos kry.
Dit het wetenskaplikes agtergekom deur die paddatjies rond te skuif tussen poele van verskillende groottes. Dié in die groter poele met baie kos was promisku, maar dié in die kleiner poele met minder kos was monogaam. Wat vir die wetenskaplikes ’n goeie bewys is dat monogamie die gevolg kan wees van ’n enkele oorsaak – in dié geval die kleiner leefruimte (waterpoel).
◊◊◊
Ná paring lê die wyfie-gifpaddatjie haar eiers op blare. Die monogame mannetjie abba dan elke paddavissie wat uitbroei netjies op sy rug tot binne-in ’n poeletjie water, wat versamel het in die blare van die bromelia-plant, so ’n meter of wat bo die grond, maar meestal op die vogtige woudvloer. Elke poeletjie water kry sowat ses paddavissies, waar die mannetjie hulle sit en oppas. Sodra hy agterkom hulle is honger, roep hy die wyfie, wat ’n onbevrugte eiertjie in elke poeletjie lê.
Dis kos vir die kleintjies.
Mannetjie en wyfie werk dus saam ter wille van die kinders se oorlewing.
(’n Ander promiskue paddatjie van dieselfde spesie lê haar eiers in ’n veel groter poel, en sy los die kleintjies net so dat die mannetjie hulle alleen moet grootmaak. Haar hulp met onbevrugte eiertjies is nie nodig nie, want daar’s genoeg kos in die groter poel.)
Wel, die gifpaddatjie van Peru is nog meer getrou aan sy maat as die woelmuis, wat mos nou en dan wegglip na ’n ander wyfie toe, al kom hy weer terug.
DNS-toetse op 12 gifpadda-gesinnetjies het gewys 11 van daardie gesinne se kinders is almal “binne die huwelik” verwek, maar in die twaalfde familie het een mannetjie sowaar ’n affair met ’n ander wyfie gehad, toe’s daar ’n buite-egtelike paddavissie.
’n Mens kan ook nie álle paddas vertrou nie …
3. Liefde en geraas maak in die tyd van plastieksakke
Die storie van die vies vrou in die slaghuis
By all means marry; if you get a good wife you’ll be happy; if you get a bad one you’ll become a philosopher.
– Sokrates
Eendag op ’n Saterdagoggend in ’n slaghuis in die Klein-Karoo.
Die gewone slaghuisgeluide: Stemme, ’n sifdeur wat klap, elke nou en dan die dun geloei van ’n saaglem, kasregister-klanke en kleingeld. Verder, sou ’n mens seker kon sê, is dit vreedsaam en stil.
Tot daar ’n ou inkom op twee rye spore.
Dis tienuur in die oggend, maar hy’s matig aangeklam dog sigbaar dronk, soos die uitdrukking lui. En hy praat vreeslik hard, luidrugtig. Hy soek R5 se varkvet. Hy soek dit nóú.
By die toonbank tussen ander mense staan ’n vrou. Sy is nogal … wel … nogal rond met so ’n hoë boesem. Haar rok trek ’n bietjie op oor haar maag, dit raak glad nie aan haar knieë nie.
Daar staan sy met enkels in plat skoene en, soos Jan Spies sou sê, so ’n vies trek om die mond, ’n dun mondjie, en ’n frons. Haar hare is ook dun. En die ou gaan druk met sy spore voor haar in, sy moet effens tru staan.
“R5 se varkvet!” sê die ou.
Die eienaar tree tussenbeide en sê vir hom, gaan staan agter in die ry, jy kan mos sien hier’s ander mense voor jou. Die vrou met die vies trek om die mond kry net daar ’n aanval van padwoede. Sy gryp haar pakkie skaaptjops, druk dit in haar plastieksak van OK Foods, ruk haar op en sê: “Vir wat ráás jy so vroeg in die oggend?!”
Haar stem styg in desibels tot teen die plafon, twee keer harder as wat die dronk ou praat. Sy betaal, en storm deur toe, enkels in plat skoene …
Die eienaar gee vir die ou sy varkvet en sê hy moet volgende keer sy eie plastieksak saambring, anders moet hy vir een betaal.
“Nou hoe nou? Vir wat?”
“Dis ’n nuwe wet van die regering.”
“Nou hoe moet ek dit weet? Ek het nie ’n radio of TV nie!”
“Ek sê jou mos nou.”
Die ou dink.
Hy dink.
“Nou hoekom is die minimum