Kortetjies en 'n lange. PG du PlessisЧитать онлайн книгу.
– anderkant stand en Grand-Pa.
Ten hemele, ter helle, en hierso
“… en dan sê jy sommer vir Jacob, as jy hom raakloop, dit gaan goed met Sielie en die kinders, en Ounooi is nou by Jan-hulle en dit lyk nie of dit baie goed gaan daar nie, want ek hoor nou die dag van Ennie van Peet-hulle hulle gebruik die ou mens meer vir ’n huishulp as wat hulle haar oppas, want die arme ou mens moet glo nou bed opmaak en skottelgoed was … en met Koos se span gaan dit glo redelik, behalwe dat dit lyk of daardie jongste een ook wil beginne steel, want daar’s by die winkel ingebreek … of los dit liewer, want ’n mens wil nie die siele ontstel nie, maar sê tog vir oorle Pa, hy moet weet wat Anna doen, want wat sy maak, is nie reg nie …”
Ek kom eers agter wat aangaan toe oorle Pa se boodskap gestuur word.
Want ek sit en dommel op die voorstoep, en dis drie-uur die middag. Dis Oktober, dit het gereën en die boere het bakkies omgegooi van baldadigheid en oor hulle natpad nie meer ken nie. Nou’s die reën verby en die son stoom die aarde al van vroeg vanoggend af – of hy sy vog wil terugvat en klaarkry.
Dié dat ek met swaar oë sit en kyk na die middag, na die vlieë wat te dik en te loom is om te vlieg en dus maar rondstap, na die rooi politoer op die stoepie, na die barste in die stoepmuurtjie, na die rens in die melk op my halfgedrinkte, vierde koppie koffie.
In die weste vorm daar ’n donderwolk wat elders gaan loop reën, nadat hy hier by ons geblo het.
Ek sit op die stoep, want binne-in wil die oom nie klaarkry met sterwe nie. Die dokter moes al ry om iemand anders die lewe te gaan inhelp, en hy kon nie bly tot die uithelp hier klaar is nie.
Dis nie goed om drie-uur op ’n warm dag te moet sterwe nie.
Dis ook nie goed om te moet sit en wakker bly, terwyl dit aan die gang is nie.
Ek verwyt myself dat ek ’n “geleentheid” geword het. Toe die tannie en haar dogter die oggend, klaar aangetrek, deur die rivier kom om te vra of ek hulle nie ’n geleentheid wil gee na die sterfbed van die onbekende nie, het ek ’n swak oomblik beleef. Ek het hulle mare uitgehoor oor die langdurigheid van die familielid se sterwe. Ek het hulle woord aanvaar dat die einde nou uiteindelik daar is. Hulle belofte dat ek nie lank sal hoef te vertoewe nie, het eg geklink. Ek het gesê ek sal hulle vervoer, omdat ek verleë geword het van die pleiting in die ou vrou se stem, en half uit verleentheid oor die twee deegrolle wat by die dogter se hals uitgepeul het. Die rokkie is in skraler, jonger dae aangeskaf.
Ek het net die bakkie op die plaas, en ons sit drie voor: Ek bestuur, die tannie vat ’n tweevoet-breedte aan die ander kant en Anna sit die middelstuk met haar gawes vol.
Anna sit, uit noodsaak, neem ek aan, met haar bene weerskante van die rathefboom. In die dae van die rokkie se ontwerp het die some en halslyne na mekaar toe geneig. Haar sigbare hompe vermeerder dus tot vier. Ratverander word problematies ten opsigte van logistiek en fatsoenlikheid.
Ons ry. Die sinkplaatpad se na-trillings bewe in Anna se vlees, en ek storm die hoogtes om ratverander te vermy. Haar ma praat oor die dood.
Sy kom uit ’n geslag wat pynlik en langdurig doodgaan en oor wie lang sterwensverhale vertel kan word – mense wat, alle lyding ten spyt, die ewigheid vroom en stil ingaan, met ’n gesangvers op die lippe.
So ry ons dan – onder die geklank van doodsgedagtes, met die bibberende vlees tussen ons, en in vierde rat.
By die plotjie waarheen hulle my beduie, word meer oor begrafnisreëlings gepraat as oor die sterwende se lot. Mettertyd belowe die tannie en Anna hulle sal na die oom omsien, terwyl die huisvrou die nodige vir ’n eventuele begrafnis gaan inkoop. Hulle belowe om hom om te keer en uit te skud as hy dalk stik.
En nou sit ek op die stoep en ek luister na die boodskappe wat die oom oorkant toe moet saamneem: vir Jacob en vir oorle Pa, oor die welstand van Ounooi en ander agtergeblewenes.
Dis nie aldag dat jy boodskap-geleentheid kry oorkant toe nie.
“… en sê vir Kallie van Anna se dinge … sê vir hom hy was nog nie behoorlik koud nie, toe’s Niklaas daar, en hy …”
Waar Anna op die gegewe oomblik in die huis was, weet ek nie, maar haar stem sny deur alle mure, deur my middag en my loomheid:
“Ma los vir Niklaas uit! Vir wat wil Ma nou vir Kallie loop en jaloers maak?”
Dit was die aanvangsvraag. Dit het dadelik oorgeslaan in stellinge oor haar ma se gedrag sedert die dood van oorle Pa. Opwindende maar onherhaalbare luisterstof.
Tot hulle tot ’n ooreenkoms gekom het: Hulle sal elders loop praat, want wat die sterwende toe al gehoor het oor die dinge van ma en dogter, sou oorle Pa en Kallie ten hemele of ter helle laat skree het.
Die sessie word dus buite onder die vyeboom langs die windpomp voortgesit. Van daar hoor ek alle argumente oor wat die dode behoort te weet van die agtergeblewenes.
Ek luister aandagtig, want ek dag daar staan bietjie te veel motors by die huisie anderkant die rivier, en bekende name word genoem. Ek luister so goed dat ek te laat hoor die oom stik.
Maar hy’s toe al blou en sy langdurigheid het geëindig.
Ons ry uiteindelik terug. Skuldigheid, vlees en dood op ’n ry voor in ’n bakkie wat in die hoogste versnelling die bulte moet oor.
Ek vra wie Kallie was.
Hy’s Anna se oorlede man wat met die yster verbrand het. Hy was baie jaloers. Sy laaste woorde was Gesang …
Die tannie kyk anderpad en sy sê die oom het vir haar vanmiddag so mooi gesterf, en dit nogal met ’n gesangvers op die lippe. Sy haal aan.
Ek dink aan die blou amper-geraamte wat dalk nog gesterf het toe ons die stik uit sy keel probeer skud het. Dit was nie gesangverse wat uitgekom het nie.
Maar die tannie slaan op haar been soos iemand wat vergeet het om iets te koop:
“En daar vergeet ek wraggies weer om vir Pa te laat weet van Trynie …”
Ek laai hulle af en Anna sê ek weet nou waar sy bly … dis net deur die rivier …
Toe ek terugry, skakel ek die trokkie teen elke hoogte in ’n laer rat, ek bedink die lewende en die dode, die wyse waarop die oom se siel met die seepsoda van die pyn afgeskrop is, en dis vir my ’n wonder.
Maar die grootste wonder is die manier waarop Anna met een haakspeld ’n hele ritssluiter kan vervang, hier waar die natuurwet nog geld.
’n Kraak in die raaptyd
Ons vier ’n debuutboek in ’n onderbeligte restaurant en ons praat oor maniere:
Goeies en slegtes, kardeur oopmaak, aan die straatkant van dames loop. Noodsaaklike gemanierdheid, foefie-gemanierdheid, vroom gemanierdheid. Dié soort ding.
Tussendeur praat ons oor opvoeding. Hoe kry jy goeie maniere in ’n kind in?
Iemand sê hy wens hy kan die inisiatief van ’n Joodjie, die dissipline van ’n Boerkind en die gladheid van ’n Michael-house-Engelsmannetjie in een kind saam sien.
Ek glo nie dis moontlik nie. Die een sluit die ander bietjie uit.
Jy het net nie ’n opvoedingsisteem om al drie gelyk in die jeug in te kry nie. As jy dissiplineer, maak jy inisiatief dood; as jy inisiatief loslaat, moet jy ongemanierdheid verduur.
Deur die gesprek kyk Frans Esterhuyse ons so.
Frans is ’n spotprenttekenaar van faam, en hy glip so af en toe die platteland in om daar te skilder en die dinge te doen wat kunstenaars op die platteland gaan doen.
So met die oorstaan by mense, leer jy van opvoeding en van maniere baie, sê Frans. Hy onthou byvoorbeeld die skilderkuier wat hy eenkeer geskilderkuier het op die Transvaalse platteland.
Dit was raaptyd.
Nou is ’n raap, volgens Frans,