Op die vrou af 2. André le RouxЧитать онлайн книгу.
Jy ruik koolblare.
Koolblare? Soms bring die lewe jou in die sitkamerdeur tot stilstand. Jy weet iets is verkeerd. Dis te stil. Iemand kreun saggies.
Sy lê in ’n bondeltjie op die sitkamerbank, haar bene opgetrek. Jy skrik jou keel toe.
“Wat is verkeerd? Het jy iets oorgekom? Wat het gebeur?!”
Dis sulke oomblikke dat jy flitsende gedagtes dink: Jy’t die afgelope weke te min aandag aan haar gegee. Wanneer laas het jy vir haar blomme gekoop? Wanneer laas gesê ek’s lief vir jou? Jy wou haar lankal Mauritius toe neem …
Jy gaan kniel by haar.
“Ek voel sleg,” fluister sy, jy kan skaars hoor. “Ek voel so swak …”
“Asseblief, moenie nou iets oorkom nie!” sê jy. “Hou net uit, ek bel dadelik die dokter! Het jy koors? Is jy siek?”
“Nee,” sê sy, “ek’s op ’n dieet. DAG 1. Ek’t heeldag nog net sop geëet. Hulle noem dit die koolsop-dieet.”
Koolsop-dieet, DAG 1?
“Help my net op, man, ek’t nie krag nie en my kop is seer. Maar hulle sê ’n mens voel maar so op DAG 1.”
“En hoeveel dae is daar in hierdie … koolkop-dieet? Ek’t so pas my hele honger weggeskrik, besef jy dit?”
“Koolsóp, nie koolkop nie. Daar’s in elk geval nie kos vir jou vanaand nie,” sê sy flouerig. “Ek wou nog bel om te sê jy moet takeaways saambring, maar ek’s te moeg. Tensy jy natuurlik van die sop wil …”
Dis die Sewe Dae Vetverbrandende Koolsop-dieet. Om in die winter op ’n dieet van sop te gaan is seker nie so ’n slegte idee nie, maar kóólsop? Sy sê daar’s mos ander groente ook in.
Op DAG 1 mag sy net sop eet. Dis die slegte nuus. Die goeie nuus is: Jy mag soveel sop eet soos by jou ore kan uitkom. (Raak gewoond daaraan: Vir die volgende paar dae sal jy elke nou en dan die mikrogolf hoor pieng.)
“Hulle sê dit het vir Nataniël gewerk,” verduidelik sy. “Hy lyk glo deesdae soos ’n model.”
Jy gaan kombuis toe en maak ’n toebroodjie van als wat daar in die yskas is. Jy steek die kaggel aan en skink vir jou ’n glas rooi wyn. As jy dan nou moet romanties wees so op jou eie … Jy noem dit net so terloops dat die rooi wyn haar gunsteling is, en dié een was blykbaar ’n goeie oesjaar, bessiegeure met ondertone van …
Sy gaan skink vir haar ’n glasie sop. Die dieet sê geen alkohol nie. Geen brood of ander meelprodukte nie, geen gaskoeldrank nie, nie eens dieetkoeldrank nie, geen suiker nie – net nog sop.
Sy sleep haar voete weer kombuis toe soos ’n gewonde sprinkaan. Sy vat 4 huisies knoffel, ’n blikkie of twee ingelegde tamaties (geskil), die helfte van ’n bossie seldery, 2 groen soetrissies (soos in green peppers), 6 groot uie, 6 wortels, 2 tot 3 blokkies vleisaftreksel (bief of hoender) en 2 ½ liter water. En natuurlik ’n halwe, groot kopkool.
Dis die resep vir die sg. Fat Burning Soup, dit klink amper soos ’n opvolg op The Return of the Ninja Turtles.
“Dis vir DAG 2,” verduidelik sy bewerig.
Sy sny die groente in blokkies, los die vleisblokkies op in die water, bring als tot kookpunt en voeg die tamaties by, kook vir 10 minute. Nou moet sy die brousel laat prut tot die groente sag is …
“Ek gaan solank kamer toe,” sê sy. “Kom dra my, asseblief.”
Jy doen dit dadelik, maar sê niks. Jy wil nie deur ’n halwe koolkop getref word nie. Jy vermoed dit gaan ’n lang NAG 1 wees …
(Die hele ding spaar jou darem ’n trip Mauritius toe.)
*Onwillekeurig kom daar ’n paar vrae in jou gemoed op: Hoe nou? Gaan sy dié dieet kan volhou? Vir hoe lank? Gaan dit werk?
Liewe leser, lees verder.
Julie 2004
Die 7-dae koolsop-dieet: DAG 2
Eenuur in die nag skrik jy wakker. Die voordeurklokkie lui.
“Wat gaan aan?” roer sy langs jou. Jy weet dadelik wie’s die een wat moet opstaan en gaan kyk wat gaan aan.
“Dis die voordeurklokkie,” sê jy. Iemand lêêê op die voordeurklokkie.
“Wag! Moenie gaan kyk nie,” sê sy skielik, jy skrik jouself skoon wakker. “Dis iemand. Bel liewer die polisie!”
Natuurlik is dit iemand, dink jy. As iemand dié tyd van die nag die voordeurklokkie so dringend lui, is daar nood. Jy moet gaan help.
Die iemand is toe niemand, nie ’n siel in sig in die donker winternag nie, o, koud is die windjie en skraal, maar die klokkie lui nog steeds sy skrille self.
In die kombuis.
“Dis die blêrrie oond se klokkie,” rapporteer jy en klim terug in die bed. “Jy’t dit gestel.”
“My sop!” roep sy uit. Dis die sop vir haar koolsop-dieet, klaar geprut.
DAG 2 van 7. Vandag mag sy spanspek en waatlemoen eet, met swart tee, cranberry-sap of water – en nog sop. The more you eat the more you will lose. Want jy sal meer kalorieë verbrand as wat jy inneem. Werklik. Daarom belowe die dieet ’n uiteindelike gewigsverlies van 5 tot 9 kg. (Dit het gewerk vir Nataniël, onthou.)
Net 5 kg, sug sy, net 5 …
“Maar hoekom?” vra jy. “Jy’s vir my so sexy soos jy is. Ek wil nie hê daar moet 5 kg minder van jou wees nie. Dan’s daar minder om aan te vat, netnou vat ek mis!”
“Dis vir myself,” sê sy streng. En dan kom die enigste rede waarom elke tweede vrou op ’n dieet gaan: “Om net weer in my klere te pas. Kyk hoe styf sit hierdie jeans.”
“Maar dis splinternuwe jeans!” sê jy. “Jy’t dit self so styf gekoop.” (Omdat sy nie kan gló sy’s ’n nommer groter as wat sy gedink het nie?)
Moenie met so ’n argument by my kom nie, sê sy: “As ek nou die 5 kg verloor, dan gaan die broek mos pas. Dis logies.”
Jy hoor haar praat in die badkamer.
“Met wie praat jy?” vra jy.
Hierdie skaal, sê sy. Daar’s iets verkeerd met hierdie skaal.
“Stel die strepie op nul,” stel jy voor. Nee, sê sy, dié skaal is stukkend, sy’t nog nie ’n gram verloor nie.
“Maar dis nou eers DAG 2,” bemoedig jy.
Volgens die dieet behoort sy 2 tot 3 kg teen DAG 4 te verloor, maar sy kan nie wag nie. Haar hoofpyn van die vorige dag is weg en sy voel oor die algemeen beter. Sy gaan skep nog sop.
“Dit smaak nogals nie te sleg nie, hoor,” sê sy. “Dink jy ek mag een van jou tjips steel?”
“Kan ek nie liewer vir jou ’n snytjie roosterbrood by die sop maak nie? Dis winter, sop en brood gaan tog saam. Wat van ’n lekker sny plaasbrood met sagte, uitgebraaide skaapvet en korrelkonfyt?”
Sy kyk jou net en gaan klim weer op die skaal.
Toe, teen die aand van DAG 2, beland julle onverklaarbaar by mense op etenstyd.
“Kom ons loop,” fluister jy. “’n Mens kom kuier nie by mense op etenstyd nie.”
“Sjuut,” fluister sy terug, “’n mens kan nie sommer net weer loop nie, dis onbeskof.”
“Ek probeer jou net help,” fluister jy. “Jy’s op ’n dieet, onthou?”
Só, onverklaarbaar, bevind sy haar voor ’n meevoerende viergangmaal – met poeding. Sy’s terug by DAG 1.
En dis weer NAG, liewe leser …
*Lees verder, liewe leser, die laaste aflewering van