Herinneringe aan Parys. André P. BrinkЧитать онлайн книгу.
Herinneringe aan Parys
André P. Brink
Human & Rousseau
Ook deur André P. Brink
romans
Die meul teen die hang (1958)
Die gebondenes (1959)
Die eindelose weë (1960)
Lobola vir die lewe (1962)
Die ambassadeur (1963)
Orgie (1965)
Miskien nooit (1967)
Kennis van die aand (1973)
’n Oomblik in die wind (1975)
Gerugte van reën (1978)
’n Droë wit seisoen (1979)
Houd-den-bek (1982)
Die muur van die pes (1984)
Die kreef raak gewoond daaraan (1991)
Inteendeel (1993)
Sandkastele (1995)
Duiwelskloof (1998)
Donkermaan (2000)
Anderkant die stilte (2002)
Voor ek vergeet (2004)
Bidsprinkaan (2005)
Ander lewens: ’n roman in drie dele (2008)
Opdrag
Vir Hermione, natuurlik; en vir Breyten en Yolande;
vir Jim en Arlene en François en Nico en Neels en Roger
en Pierre; vir Mbella, vir Raymond, vir sy meisie
wie se naam ek vergeet het, vir Lewis; vir Ana-Maria
en haar bleddie rooi hond, vir Mireille en Christiane en
Murka en Marion en Karin en Liz en Elayne;
Vir Keith en Nina; besonderlik vir Trix; o, en vir Madame
en Fifi, en die clochard op die drumpel langs die Malebranche;
vir die reën; vir die grys duiwe op my vensterbank;
vir al die malles wat ek liefhet; vir die briewebesteller, met
dank; vir die paartjies teen die Seine, die studente
in die strate, die pampoene in die Rue Mouffetard, en die
blonde meisie wat die aand op die eiland dronk
geword het; vir oubaas Jean en die gesin Perraudin, vir hul
palmboom, en vir die drie fraai, stoute meisietjies van
die Rue Monsieur le Prince, daardie aand; vir Laurence
wat nooit gekom het nie maar tog amper so mooi
soos Yolie is; vir die baba in die Luxembourgtuin; vir my
lae soliede bed, so breed soos die pad na die verderf;
vir die lekplek in die dak; vir die son; vir die vullisblik naaste
aan die voordeur, regs as jy binnekom; vir die gat
wat in mademoiselle Coulon se kop gepraat is; vir die
sneeu; en vir Wolfgang Amadeus Mozart.
Studie in kontraste
Parys is nie ’n stad nie.
Parys is ’n manier van lewe, en ’n manier van reageer op die lewe – in vryheid, gebonde aan geen voorskrif nie; alleen aan die mens. Daarom is dit meer as ’n versameling geboue, selfs meer as ’n versameling mense.
Parys is vol kleur, maar seker nie móói nie. Wél, vanweë sy menslikheid, aangrypend en uniek. Niks hier is higiënies nie en niks het reguit lyne nie en niks is vooraf bepaal nie; alles is verward, soekend, tastend, beurend, barstend, soos die mens se gees deur die eeue. En sy skoonheid lê in sy onberekenbaarheid en in sy onverwagtheid.
Die waarheid bestaan – volgens een beskouing – in die voortdurende ontkenning van alle voorafgaande momente. So bestaan ook Parys in die paradoksale teenwoordigheid van alle teenstrydighede tegelyk. En niks is vergesog of absurd of onmoontlik in Parys nie: want kruis en munt, lig en donker, lewe en dood – is dit nie maar alles teëpole van immer-dieselfde ding nie?
Daarom is dit ’n stad waar alles in volkome vryheid mag gebeur – en waar juis die mees fanatiese vervolgings, ketterjagte en onverdraagsaamhede voorkom; waar daar op een muur staan: Lewe die Republiek! en op die ander: Gee ons ’n koning!
Hier kom alle kontraste van die Franse volk tot een brandpunt. Die Fransman weier elke beperking van die vryheid van die individu – en terselfdertyd is hy verslaaf aan ’n meedoënlose burokrasie. Die Fransman ontken die gesag van die geregsdienaar – en sy eie polisie het waarskynlik meer mag as enige ander land s’n. Die Fransman gun elke man sy eie opinie (éis dit selfs!) en die Académie Goncourt trek die jaar se grootste letterkundeprys terug van ’n skrywer wanneer iemand ontdek dat dié man vyf-en-twintig jaar tevore ’n paar pro-Nazi-artikels geskrywe het. Die Franse is die burgerlikste volk op aarde – en heg meer waarde aan hul aristokrasie as die Britte. Die Fransman vereer ’n groot leier – en weier om hom te volg. Die Fransman is die mees huisvaste mens wat jy kan kry – en sy etes neem hy in ’n kafee. Sy vrou is die wêreld se besgeklede dame – en Europa se berugste nudis. Die Fransman het logika en redelikheid tot die uiterste ontwikkel – en daarby is hy ’n onmoontlike romantikus. Hy is die wêreld se grootste Don Juan – en sy onbeskofste skobbejak. Hy is ’n onverbeterlike programopsteller – en die eerste om sy eie program te verbreek. Hy verwelkom soveel buitelanders as hy kan as toeriste – en laat hulle dan so ontuis as moontlik voel. Hy is ’n genadelose eksistensialis, ’n devote Katoliek, ’n toegewyde mistikus, en ’n verbete agnostikus. Hy is misantroop en humanis, sinikus en optimis, materialis en spiritualis. Hy verfoei Parys, en hy het Parys hartstogtelik lief.
Want Parys! – dáár kruis die weë van die wêreld. Daar lê die beskawing op sterwe, en van daar word dit voortdurend nuut gebore. Daar ontstaan alle kunste en modes, daar word alle filosofieë beproef, aanvaar, verwerp. En daarheen keer jy terug wanneer jy self die lewe nodig het, wanneer die kers dof raak, die riet gebuig, die wind stil.
Parys, het pous Innocentius III gesê, is die oond waar die brood vir die wêreld gebak word. So is dit vandag. So was dit duisend jaar gelede. Want Parys is nie net ’n stel van kontraste hórisontaal langs mekaar gerangskik nie: dit loop ook vertikaal deur die verlede terug, vandat Julius Caesar in sy sonore, nugter Latyn vertel het van die Keltestammetjie, die Parisii, in hul dorpie van vissers en vyebome op hul eilandjie in die Seine: ingeryg op die rivier (so sê ’n ou spreuk) soos ’n kosbare juweel aan ’n glimmende snoer. En dié steen met sy nimmereindigende fasette kaats op die een of ander tyd, op die een of ander manier, iets terug van alle spore van die geskiedenis, die soektogte, die hartstogte, die vreugdes en die sondes van die mensdom.
Dáár is in die vierde eeu Julianus as keiser van die Romeinse Ryk gekroon. Daar is die heilige, St. Denis, onthoof omdat hy die beelde van Mercurius op die hoogte bo die stad vernietig het. Daar het biskop Marcel met sy kruis die bose draak doodgeslaan. Daar het die devote jong Geneviève haar mense moed ingepraat en in ’n skuitjie voorrade aangeroei teen Attila en sy Hunne. Daar het Clovis die Christendom met geesdrif en geweld gevestig toe selfs Rome gewankel het. Daar het die wit-bebaarde Charlemagne die wêreld se grootste ryk geregeer tot sy wilde, miserabele seuns dit weer laat versplinter het. Daar het die wêreld se geleerdes saamgetrek; en daar het die boewe, die sluipmoordenaars, die vodde en uitvaagsels van die windstreke vergader. Daar het die stil kerseliefde van Héloïse en Abélard gebrand teen die nyd, die vernietiging en die skeptisisme van die wêreld. Daar het die heilige koning Lodewyk XI die doringkroon van Christus onder die gewelwe en tussen die singende flonkervensters van die Sainte Chapelle bewaar; en daar het op die hoogte van Montfaucon die tien meter hoë galg gestaan waar alle tereggestelde lyke moes hang totdat die toue verrot. Daar het die bedelaars