Herinneringe aan Parys. André P. BrinkЧитать онлайн книгу.
mense met hom saamgeneem; daar het honderd jaar van oorlog die mensdom laat sidder – terwyl die vroue met modes en hoë haarstyle geëksperimenteer het. Dit was die tyd van kruistogte, minneliedere en heroïek – en van uitbuiting, geweld en sluipmoorde. Daar het die rampsalige ou drinkebroer Villon deur die strate gedwaal en gesteel en gemoor – en onsterflike poësie geskryf terwyl hy op die galgtou wag. Daar het Rabelais se rumoerige en pierewaaiende Gargantua en Pantagruel deur die steë gedawer – en daar het Ignatius Loyola sy toegewyde orde gestig. Daar het die Paleisekoning, François I, sy heerlike kastele laat bou; en daar het die ellendiges teen die modderwalle van die rivier in krotte en murasies krioel. Daar het die mensdom in die dodehuise gedans. Daar het die toring van St. Germain-l’Auxerrois sy klokke in die Bartholomeüsnag oor die slapende Protestante laat galm; en daar het die groot Protestantse vors, Hendrik IV, seëvierend ingetrek in ’n stad waar die mense ná die lang beleg al begin het om honde en katte, gras en opgegraafde lyke te verslind. Daar het die Sonkoning, Lodewyk XIV, sy luisterryke heerskappy gevoer – en selfs gedans na die bekoorlike pype van Madame de Maintenon. Daar het Lodewyk XVI en Marie-Antoinette gefuif terwyl die skare skree om brood. Daar is die besadigde Mirabeau opgevolg deur die rasende Danton. Daar het die gepeupel die Republiek gevestig, en hulself vernietig. Daarvandaan het die Swart Engel glorieryk na sy veldtogte uitgetrek – en daarheen het die verflarde reste van die Grande Armée teruggestrompel. Daar het ’n vors tegelyk koning en burger probeer speel. Daar het Napoleon III se dansende optogte van die Belle Époque deur die strate getrek, en in 1871 die Pruisiese veroweraars. Daarvandaan het Pétain aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog met die Mona Lisa, die Bruilof by Kana en ’n kasarm waardelose dokumente gevlug – en daarheen het De Gaulle seëvierend teruggekeer. Daar word Hosanna! en Kruisig hom! nog daagliks deur dieselfde mense uitgeroep, en albei word ewe hartgrondig bedoel.
As dit dan deur die eeue so was: hoe sal dit anders wees vandag?
Stap deur die klein Square du Temple, waar vanslewe die lugubere vesting van die Tempeliere gestaan het waar die ongelukkige Lodewyk XVI en Marie-Antoinette voor hul skandalige verhoor opgesluit was: dáár speel die kinders nou in die koelte van kastaiingbome in die sand. En ’n fraai klein meisietjie van ’n jaar of ses staan op twee stoele en hou vir ’n versameling maatjies ’n uitvoering van stories, mimiek en kabaretsang; tussenin hou sy net oomblikke op om ’n lastige broekie nonchalant op te trek, of ’n afgetrokke toeskouer oor die kop te raps.
Op die plein voor die Hotel de Ville (die stadsaal), vroeër die berugte Place de Grève, staan ’n geduldige polisieman nuuskierige toeriste se onnosel vrae en beantwoord – waarskynlik op dieselfde plek waar vyfhonderd jaar gelede mense in kokende olie verbrand, of op die wiel gebreek, of deur perde gevierendeel is, en waar ’n eeu of twee gelede nog op midsomerdae katte en jakkalse in mandjies lewendig verbrand is in die nálewing van ou heidense rites.
Voor ’n grys deur in die Rue des Mauvais-Garçons (Straat van die Kwajongens) sit ’n ou vroutjie in ’n swart tjalie en hekel; en vroeër was al die huise in dié rustige straatjie bewoon deur sluip-moordenaars wat hul dienste te huur aangebied het.
Tussen die oorblyfsels van die ou Romeinse arena waar diere en gladiatore voor wuiwende skares geveg het, speel seuntjies nou met ’n groot rooi bal.
Die Pont Neuf (die “Nuwe Brug” – wat die oudste brug oor die rivier is), waar ergerlike motors heeldag verbydreun, was vroeër die kermisplek met stalletjies vir koop en verkoop; hansworse; oubasies met geleerde apies; goëlaars; akrobate; en deftige dames in hoë kapsels; en slawe te koop. (En snags, nou nog, spring daar af en toe iemand oor die kant in die donker slikwaters en maak aan die aardse kermis ’n einde.)
In die Louvre klouter kleuters oor stukke sfinkse en afgode van vyfduisend jaar oud, en teken hiërogliewe met deurskynpapier af.
Op die plein voor die Notre-Dame, van waar vandag alle afstande na ander stede bereken word, en waar toeriste vir hul foto’s kom poseer, het vroeër die biskop se skandpaal gestaan waar ongelukkige misdrywers ure lank die hoon, vrot eiers en tamaties van die skare verduur het.
En Clignancourt – die vlooimark …? Dié is miskien ’n saamtrekplek vir alle kruis en dwars kontraste van die stad. Met die métro ry jy op ’n Saterdag, Sondag of Maandag tot by ’n noordelike uithoek, klim dan uit en stap ’n paar honderd treë voort, gaan deur ’n klein, onopvallende poort – en beland terstond in ’n ander wêreld. Hier lê die dun stegies soos weefwerk oormekaar, elk nouliks ’n meter wyd, met rye stalletjies weerskant ingedruk. Daar is ’n voortdurende verskeidenheid ware uit alle tye en lae van die stad. Kosbare kristalglas, antieke handgemaakte meubels, ou skilderye met soms ’n meesterwerk tussen prulle, wonderbaarlike ou houtsneë, gebruikte tandeborsels en kaggelysters, stukkende horlosies, skif komberse, manjifieke ysterharnasse en helms uit die ridderdae, glimmende geelkoper, ou koetslampe, gegote ysterwerk, onpaar skoene, ou kouse met gate, leë brilrame, ’n soliede goudbeeldjie uit die Renaissance, tweedehandse vals tande, ’n halfklaar doodkis, ’n syrok uit die dae van Marie-Antoinette, ’n volledige, gemonteerde mensgeraamte … Die sublieme en die banale, die eietydse en die vergange bymekaar, naasmekaar, deurmekaar. Watter ridder het in hierdie stroewe ou harnas op sy perd uitgery – na watter stryd, watter beeldskone prinses, watter vuurspuwende draak? Watter kind het gespeel met dié afbeenpop met die kraaloë? Vir wie is hierdie doodkis gemaak, en waarom is hy nie daarin begrawe nie? Uit watter herehuis kom hierdie kristalkandelaar, hierdie duur Gobelin-tapisserie? Watter liefdevolle, vaardige kunstenaarshand het hierdie fyn houtkoppie vir ’n bottelprop gekerf, of die laggende, dansende harlekyne in die donker hout van daardie vorstelike ou stoel?
Waar is die sneeu van voorverlede jaar? sanik Villon se ou ballade. Waar is al dié mense? Waar gaan óns heen? Sal daar van mý ook eendag iets nog hier beland: ’n skoenveter, ’n horlosie, ’n geraamte dalk?
Die geskiedenis: die groot gelykmaker, die groot vernietiger. En al wat oorbly, is die kontras: soms skrynend, soms lagwekkend, soms fyn. Maar miskien is dít ook waar: dat solank die kontraste bly bestaan, mekaar bly terg en in reliëf stel – só lank sal die mens mens wees, die geskiedenis lewendig, en Parys Parys.
Dis ook maar goed. Want só sal ’n mens nooit kan sê nie: “Só is Parys,” of “Só is hy nié”. Alles bestaan altyd tegelyk in dié verbysterende ou-jong stad. Daarom sal hy altyd sterwe, en altyd lewenskragtig wees. Daarom sal daar van hom af altyd wind uitwaai oor die heelal om die mensdom nuut te hou, vir hom nuwe patrone te vind, nuwe moontlikhede, nuwe wanhoop en hoop.
Vryheid, gelykheid, broederskap
Toe ek die konstabel met sy wye swart mantel so verbete op die geparkeerde motor sien afstap, het ek self nuuskierig nader gestaan.
In Parys leer jy baie gou om niks te gering te skat vir aandag in hierdie stad waar jy werklik enige oomblik enigiets te wagte kan wees nie (met die gewaarborgde sekerheid dat juis die één ding wat jy nié voorsien nie, die een is wat gaan gebeur).
Die motoris het saam met die gendarme by die motor aangekom, ingewip asof hy van g’n sout of water wis nie, en aanstalte gemaak om pad te gee; maar ’n Franse geregsdienaar skud jy nie só maklik af nie.
“Haai!” beveel hy streng. “Bly daar.”
Die motoris klim onmiddellik uit. Hy’s meer inskiklik as óns in Suid-Afrika, dink ek stilweg. Maar toe vra hy skielik bruusk: “Praat jy met mý?”
“Ek praat met jou, ja,” antwoord die konstabel. “Jy mag nie daar parkeer nie.”
“Ek parkeer nie meer nie. Ek is op pad om te ry.”
“Jy hét daar parkeer. En jy gaan boete betaal daarvoor.”
“Luister, my liewe vriend,” sê die motorbestuurder. “Wie betaal jou salaris?”
Die konstabel lyk ’n oomblik verbaas. “Die Regering, natuurlik,” sê hy dan kortaf. “Maar dit het niks met jóú te doen nie.”
“Nié? En waar dink jy kry die Regering sy geld? Dink jy nie dis ék as belastingbetaler wat jou help onderhou nie? En dan het jy die vermetelheid om mý te wil beboet!”
Die gendarme begin