Herinneringe aan Parys. André P. BrinkЧитать онлайн книгу.
Hulle was soos twee muwwe ou boeke waarvan die een net ’n bietjie langer as die ander op solder gelê het en meer verweer geraak het.
“Sonder dat ek nog kans kon kry om my aan te pas by die rare atmosfeer, het die les begin – in die hoek by die flou leeslamp, op twee stoele waarvan die wit lakenbedeksels net effens weggeskuif is. Terwyl ons besig was, was die ou moeder altyd daar op die agtergrond êrens in die skaduwees op ’n stoel of bank, roerloos behalwe as sy af en toe haar hande op haar skoot gekruis het. Maar haar oë het ons geen oomblik verlaat nie. Toe, eenkeer toe ek opkyk, was sy weg, spoorloos verdwyn. Ek kon weer die ligte rilling teen my ruggraat nie keer nie. Waar was sy? Wás sy ooit daar …?!
“Maar die les het voortgegaan, eentonig soos wat ’n skoolkind sy tafels opsê.
“Toe ek weer opkyk, het die ou vrou skuins voor ons gestaan met ’n skinkbord koffie – sonder dat ek ooit êrens koppies hoor rinkel of water hoor tap het. Sy het die laken van ’n lae tafeltjie afgehaal. Op die blad was ’n stuk vaal karton wat sy eers sorgvuldig reggeskuif het voordat die skinkbord neergesit is.
“‘Koffie,’ het my onderwyseres gesê, byna asof sy my van ’n misdaad beskuldig; en toe toonloos, meganies bygevoeg: ‘In Frans: café.’
“Ek het ’n koppie geneem, suiker ingegooi, gesidder by die gedagte aan wat sou gebeur as ek moet mors, en begin drink. My slukke het soos knalle deur die stil kamer getrek, terwyl hulle twee my stil, aandagtig, ondersoekend oor hulle koppies sit en aanstaar.
“‘Het jy ’n kamer?’ het die onderwyseres skielik gevra, só skielik dat ek effens verstik het. En weer meganies bygevoeg: ‘In Frans: chambre.’
“‘Ja,’ het ek amper oorhaastig geantwoord.
“‘Waar?’
“Ek het haar die hotel se naam gesê. Sy het sonder ’n oogknip na my gekyk. (Om die waarheid te sê, ek kan my nie herinner dat ek een van hulle óóit ’n oog sien knip het nie!)
“‘Hoeveel kos dit?’
“‘Honderd-en-twintigduisend frank per maand.’
“‘Hm.’ Sy het haar koppie na haar mond gebring asof die saak daarmee afgehandel was, onhoorbaar gesluk terwyl net haar skerp adamsappel ’n paar maal op en af beweeg. En toe soos ’n rympie opgesê: ‘Ons het ’n kamer. Vyf-en-dertigduisend frank. Dit sal jou beter pas.’
“‘Ek –,’ het ek skoon verward begin.
“‘Dit is dan afgespreek,’ het die oudste vrou langs my rustig gesê, asof ons die einde van ’n lang diskussie bereik het. ‘Wanneer kan jy intrek?’
“Van die eerste besoek onthou ek nie veel meer nie. My kop het nog gedraai toe ek daar uitgaan na die métro, en ek was so deurmekaar dat ek skoon by my stasie verbygery het. Dit was nie maklik om dié besluit te neem nie – en miskien wás dit op die ou end ook gek van my – maar ek was daardie tyd só verlore hier in Parys, so wanhopig en terneergedruk, dat ek dié halmpie maar aangegryp het. En so het ek my intrek by die twee ou dames geneem.
“Soos die woonstel die eerste dag was, so was dit altyd. Oor elke stoel en bank sy laken, op elke tafel en kas sorgvuldig ’n stuk vaal karton na maat gesny. Dat dié twee oues, meer as halfpad in die graf al, nog só die stryd teen mot en roes kon voortsit, het my altyd dronkgeslaan. Ek het later meer omtrent hulle te wete gekom, maar nooit veel nie, nooit genoeg om hulle te leer kén nie.
“Vroeër was dit ’n deftige, aansienlike woonstel glo, gesog in sommige vooraanstaande kringe, met groot bankette onder die kristallugters, gelag en gesels tussen die hoë mure met die skilderye in vergulde rame. Toe het die oorlog gekom. Al hul familielede het verdwyn – op die slagveld, in kampe, waar ook al. Net hulle twee het oorgebly. Maar vir hulle self het die lewe ook opgehou; net die verlede het oorgebly, en selfs dié was ’n onwerklikheid, ’n skim. Hulle was weinig meer as twee vae herinneringe, dwalend deur die somber kamers van die verlede.
“My slaapkamer was minder strak as die ander, daarvoor het ek gesorg; maar daar was ’n amper bose invloed wat van hulle af deur alles gesypel het en my soms snags verskrik laat wakker word het. My deur het ek saans op slot gehou!
“Daar was geen klerekas vir my nie, en aan die begin het ek toe maar my rokke en goed aan hangers teen die prentelys gehang om die kreukels uit te kry. Maar toe ek die eerste aand tuiskom, verneem die grafstem van die oudste ou dame: ‘Is dit gebruiklik in Suid-Afrika dat ’n mens se kamer soos ’n pandjieswinkel lyk?’
“En agter haar het die onderwyseres eentonig gesê: ‘In Frans: Maison de prêt.’
“Ek het magteloos voor hulle gestaan, my vuiste geklem; toe omgedraai en maar geloop. Die volgende dag het ek vir my by ’n winkel in die middestad ’n plastiese hangkas gaan koop. Dié ding moes ek deur die strate dra-sleep huis toe, te arm om ’n taxi te bekostig (en vir die métro was dit te groot), en dit in my hoek gaan monteer. Met ’n gevoel van verligting het ek my klere ingehang, en my skoene heel bo-op gepak.
“Toe ek die volgende aand tuiskom, lê my skoene nog daar: maar daar is ’n stuk vaal karton ónder hulle ingeskuif.
“Ek het dit nie gewaag om iets daaroor te sê nie. Ook nie daarná nie: ek het naamlik ’n kleurryke kleedjie wat ek met die oorkom op Las Palmas gekoop het, oor my bedtafeltjie gehang om die plek se somberheid te help verdryf. Maar met my volgende tuiskoms was daar ook onder die kleedjie ’n karton ingeskuif om die tafelblad te ‘beskerm’.
“As ek ten minste nog my gang kon gaan soos ek wou … maar moenie glo nie! As ek uit die badkamer kom, of dit sewe-uur in die môre of tienuur in die aand is, dan hoor ek in die donker gang die lang kleed van die oudste dame ritsel op pad soontoe om seker te maak dat ek die bad goed uitgewas het. As ek in die sitkamer was, sluip een van hulle agter my in om die kreukels op die stoellaken uit te stryk. As ek in die kombuis was om vir my ’n bietjie teewater te kook, is ek bewus van ’n teenwoordigheid agter my in die skaduwees, huiwerend, wagtend dat ek moet uit sodat sy kan seker maak dat alles in orde is. As ek saans tuiskom, weet ek dat hulle deur al my klere gekyk het – dis iets wat mens net wéét, sonder enige bewyse.
“Alles in hulle lewe – en daarom in myne – was sekuur afgebaken soos décorstukke op ’n leë verhoog. Ná agtuur saans mag niemand in die kombuis wees nie. Dié uur is etensuur. Daardie uur is rustyd. As die voordeurklokkie lui, selfs wanneer dit ’n gas vir my was, durf net die onderwyseres gaan oopmaak: dit was haar goeie reg om alle besoekers te keur. En een of twee keer toe van my werkskennisse opgedaag het op ’n uur wat blykbaar ongeleë was, is hulle teruggestuur. (Dié het ek dan eers die volgende dag te hore gekom.) As daar wél iemand vir my binnegelaat is en ons het in die kamer gesels, sou die onderwyseres halftien buite my deur vra: ‘Wanneer gaan jou vriendin huis toe?’ En stiptelik tienuur sou die oudste dame by die deur kom sê: ‘Jou gas behoort nou te vertrek. Dit is slaaptyd.’
“Waarom ek dit nog verduur het? Omdat dit tóg my enigste heenkome in die onbarmhartige stad was, ál plekkie – hoe vreesaanjaend ook al – wat ek myne kon noem en waar ek darem teen ’n redelike prys kon aanbly. Maar dit kon nie onbepaald so voortduur nie. My senuwees het begin gedaan raak. Vroeër of later sou daar ’n breekpunt kom.
“En toe, soos sulke dinge nou maar gebeur, vlug ek een Sondag weer daar uit op soek na ’n kerk. Alles het my begin vaskeer. Ek het gevoel ek word nou gek van eensaamheid en opkropping en herbergloosheid. En dié Sondagmôre kom ek toe by die klein Hugenotekerkie in die Avenue de la Grande Armée uit, net anderkant die Arc de Triomphe: ’n klein, intieme, rustige ou plekkie waarvan ek maar terloops te hore gekom het; met wit mure, en gekleurde vensters agter die preekstoel. Die orrel het begin speel toe ek inkom. Dit was of ’n stemmetjie vir my sê: ‘Sophie, dis die kerk wat jy gesoek het.’ Ek gaan sit. Die pastoor kom in, daar is ’n afkondiging of wat. En toe sing die mense: een van óns psalms. Kan julle verstaan wat op so ’n oomblik hier binne-in ’n mens gebeur? Ek het die woorde in my boekie nie eers gesien nie – ek kon dit buitendien tog nie verstaan nie. Ek het net die trane oor my wange voel loop, en gesing, in my eie taal. Wat het dit saak gemaak? Die Here sou wel verstaan, het ek geweet.