Slagyster. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
… en steeds alleen.
Hy was ook alleen toe hy die dwelmwêreld ondergrawe het. Toe wou hy wegkom van al daardie gedagtes oor sy egskeiding, van die onregte wat hy sy vrou in die proses aangedoen het, en die doodsheid van roetine. Dit het hom in ’n mate gepas, maar hy het tog daarna uitgesien om weer normaal te lewe. Die mens is van nature ’n groepsdier. Hy wil deel wees van vriende, ’n groep, ’n gemeenskap. Carl sou kon byvoeg dat hy liefde wil gee en ontvang, dat hy sy intieme lewe met iemand wil deel. Maar hy het nie ’n goeie rekord as dit by vroue kom nie.
Hy het die meeste van sy edel drome eiehandig vernietig. Hy sal nooit weer normaal kan lewe nie. Nou is hy éérs alleen en ’n gevangene van sy gewete. Dit is erger as enige vorm van afsondering.
Soms dink hy hard hoe hy uit hierdie situasie kan ontsnap. Dan gaan sy gedagtes om en om soos ’n hings wat in ’n klein kampie vasgekeer is. Hy kan sy diefstal gaan aanmeld, homself oorgee, tronkstraf uitdien. Of hy kan die plaas verkoop, sy geld aan ’n welsynsorganisasie skenk en weer druipstert by die polisie aansluit.
Hy kan ook probeer om sy besluit te regverdig om die geld te hou. Hy kan honderd goeie redes kry as hy regtig diep delf. Dit is die lafhartige opsie, maar die een waaraan hy vasklou in die hoop dat sy gewete eendag daarmee sal vrede maak.
Hy tuur van sy huis se stoep oor die rotsrante van die Klein-Karoo en sien hoe gooi die oggendson hoekige skadu’s oor die landskap. Die bossies staan regop na gister se onverwagte reën, dankbaar vir die genadedruppels, maar die helderblou lug wys dié lafenis is iets van die verlede.
Die plaas is vanoggend stiller en vreedsamer as gewoonlik. Hy het die werkers afgegee om hul Saterdag-inkopies op die dorp te gaan doen. Hy geniet dit, hy het die stilte nodig. Hy sal oor middagete vir hom ’n bottel wyn oopmaak, dan slaap. Hy kan doen daarmee. Hy het ’n week van harde fisieke werk agter die blad en sy spiere skree vir rus.
Carl sien hoe een van sy plaaswerkers en sy vrou teen die heuwel uitstap in die rigting van hul huis. Isak se arm is liefdevol om Dora se lyf, haar kop rus op sy skouer. Hulle moet in hul vyftigs wees, maar is nog smoorverlief. Hy wonder of hy ooit só ’n verhouding sal kan hê.
Sy blik verlaat hulle toe hy ’n motor na die plaas hoor indraai. Dis ’n wit Mercedes met ’n CA-registrasienommer. Dit lyk nie soos ’n boer van die omgewing nie; hulle ry in bakkies en vierwiele. Hopelik is dit net iemand wat die pad kom vra, hy het nie krag vir ongenooide besoekers nie.
Eers toe die bestuurder uitklim, herken Carl vir direkteur Piet Wessels, informeel geklee in ’n kortmouhemp, kakiebroek en tekkies. Sy maag trek saam. Hoekom hy? Hulle was nie huisvriende nie. Wessels het nooit eers in hul polisiedae by hom gaan kuier nie.
Wessels glimlag wanneer hy hom op die stoep gewaar. Maar dit is ’n geforseerde glimlag en Carl ken hom goed genoeg om te weet iets skeel. Toe hulle bladskud, is die direkteur se greep ferm, maar sy blik is donker ondanks die lagplooie om sy oë.
“Dit is ’n verrassing,” merk Carl op.
“Ja.” Wessels haal sy skouers op. “Baie dinge het my die afgelope tyd verras. Ek het nie geweet jy wil boer nie.”
“Dit,” sê Carl effe van stryk, “was maar altyd in my agterkop.” Hy wys na die voordeur. “Kom ons gaan sit. Koffie?”
“Dit sal lekker wees.”
Hulle stap die koel voorhuis binne. Hy beduie na die sitkamerdeur en Wessels gaan sit op die stinkhout-riempiestoel. Hy vee met die rugkant van sy hand oor sy wang, kyk rond in die vertrek, na die beesleer-rusbank, die Claerhout teen die muur.
Carl maak die koffie in die kombuis. Vermoed die man iets? Hy dink nie so nie. Wessels moes tog die gerugte gehoor het van sy Lotto-geluk? Hy het geweet hy sal op sy hoede moet wees vir die lokvalle van geregtigheid en het lank gepeins oor hoe hy sy skielike rykdom gaan verduidelik. Sy eerste stap was om die polisie so onopvallend moontlik te verlaat en vaag te bly oor sy toekomsplanne. Toe hy die plaas koop, was hy seker Henk Goosen se skinderbek sou die storie van sy Lotto-wenslag wyd versprei het.
In die sitkamer drink hulle hul koffie in stilte. Dan vra Wessels uit oor die weer, die olywe. Maar dit is vir Carl duidelik hy is nie hier om oor die boerdery te gesels nie; hy het nie toevallig hier verby gery en besluit om ’n draai te kom maak nie. Hy is hier met ’n doel.
Toe Wessels sy beker neersit, grawe hy in sy broek se agtersak. Hy bring ’n rolletjie note te voorskyn, gooi dit na Carl. “Ek het eintlik net jou geld gebring. Jy moes dit in Worcester onder die krans uit een van die sakke laat val het. Nogal nie van jou verwag om só agterlosig te wees nie.”
Die direkteur se woorde het die effek van ’n ontploffing in die Karoostilte. Hoe de fok het ek gedink ek kan hiermee wegkom? flits dit deur Carl se gedagtes. Meteens sien hy die gate in sy patetiese Lotto-storie. Hy moes tog geweet het Wessels sal nie vir so ’n kakstorie val nie. Hoe het die man geweet om onder die krans te gaan snuffel?
Carl swyg, pers sy lippe opmekaar. Wat is daar om te sê?
Toe Wessels weer praat, doen hy dit stadig, elke woord afgemete. “Carl, ek weet van die geld wat jy gevat het. Jy moes jou redes hê. Ek het dit nie van jou verwag nie, maar ek was nie in jou situasie nie. Dalk sou ek dit ook oorweeg het.”
Hy tik met sy vingers op die stoel se armleuning. “Net ek weet hiervan. Ek is nie hier om jou te kom arresteer nie. Ek is hier om jou ’n aanbod te maak. Een wat jy ongelukkig nie van die hand kan wys nie.” Hy bly ’n oomblik stil. “Anders sal ek my plig as polisieman moet nakom.”
Sy voorkop is geplooi. “My aanbod is die volgende: Jy hou jou geld, jou plaas. In ruil vir my stilswye doen jy vir my een laaste taak. Ek het ’n mol nodig vir ’n ernstige aangeleentheid. Die CIA was al by my daaroor. Die druk is kwaai op ons om die ding op te los. Dit het wêreldwye implikasies. Ons gaan dit nie regkry deur die gewone strukture nie. Ons kort iemand met jou talente om hom in te grawe, soos jy met die dwelmsindikate gedoen het.”
’n Benoudheid kom sit in Carl se borskas. Nie wéér nie. Die fok alleen weet, hy sien nie kans daarvoor nie. Hy het daardie nagmerrie diep ingespit tussen sy herinneringe.
Maar het hy ’n keuse?
“Ek plaas my posisie op die spel deur jou diefstal te verswyg en hierdie aanbod te maak. Ek is bereid om die kans te waag. Die erns van die saak regverdig dit. As daar een persoon is wat dit kan oplos, is dit jy,” sê Wessels.
Carl se besoeker kom skielik orent, die doel van sy besoek oënskynlik afgehandel. “Ek verwag nie nou ’n antwoord van jou nie. Ek gee jou twee weke kans om daaroor na te dink en om moontlik ’n voorman te kry om jou plaas in jou afwesigheid te bestuur.”
Hy glimlag, maar daar is ’n siniese trek om sy mondhoeke. “Ek weet immers jy kan so iemand bekostig.” Hy kug. “Die opdrag kan lank neem, moontlik ses maande, ’n jaar, dalk twee.”
Hy stap voordeur toe. Carl volg hom in stilte, soos soveel kere as hulle ’n vergadersaal verlaat het.
“Bel my as jy besluit het. Dan spreek ons af wanneer ek jou volledig kan inlig,” sê Wessels op die stoep.
Carl wil hom aan die arm gryp, hom vertel waarom hy dit gedoen het. Dat dit in ’n oomblik van swakheid was dat hy die geld gevat het. Dat hy nou bitter spyt is daaroor. Dat sy gewete hom tot in die diepste afgrond ry en hy eintlik ’n leuen leef. Sy gedagtes spring rond tussen verskeie relase.
Maar toe Wessels sy motordeur oopmaak, vra hy net: “Die opdrag. Waaroor gaan dit?”
Wessels tuur vir ’n oomblik in die verte, asof hy nie nou al inligting daaroor wil verstrek nie. Hy draai sy kop terug na Carl. “Onwettige wapenhandel.”
Hy staar die Merc se stofstreep agterna. Sy mond is droog. Hy weet nie of hy verlig moet wees nie.
6
Dis Lea. Sy hoor onmiddellik daar is groot fout. Lea se woorde kom hortend tussen die snikke: “Hulle het Ryan ontvoer! Die soldate en werkers wat saam met hom was, is doodgeskiet!”
Amelia