Die laaste karretjiegraf. Athol FugardЧитать онлайн книгу.
tion>
Die laaste karretjiegraf
Riana Steyn en Athol Fugard
Human & Rousseau
Vir die Arnosters
Die eerste saad vir Die laaste karretjiegraf is reeds vyftig jaar gelede geplant. Die oomblik is aangeteken in die eerste bladsye van die notaboek wat ek destyds pas besluit het om as ’n daaglikse skryfoefening te hou:
“Mom joined us in our room tonight after supper for a chat about ‘the old days’. A marvellous fund of stories about her family, the Potgieters, at Middelburg, Cape. The family had a small Cash Store (basic groceries). One day when Mom ran the shop, a coloured woman travelling by donkey-cart with her husband had given birth to a baby at the side of the road and she went to help. There was no one. Nothing. No clothes for the baby. Just rags. She collected cast-offs from the whites in Middelburg and gave them to the woman. When she went back in the morning to see how they were, they had gone, baby and all.”
Daardie beeld – ’n donkiekar, ’n vrou wat besig is om geboorte te skenk, en ’n jong Afrikaner-meisie – het deur die jare by my gebly, met die moontlikheid dat ’n storie daaroor vertel moet word. My ma se versoek, kort voor haar dood, om haar te belowe om eendag ’n verhaal in haar taal te skryf, het daarby aangesluit – Elizabeth Magdalena Potgieter was ’n trotse Afrikaner-vrou. Toe uiteindelik, twee jaar gelede, met die vooruitsig van my opkomende tagtigste verjaardag, het ek besef die tyd het aangebreek om daardie belofte aan my ma gestand te doen en my afspraak met die Karretjiemense van die Karoo na te kom. Maar hoe en waar om te begin, was die vraag. Die antwoord was voor die hand liggend … Google.
Die eerste trefslag was die magister-verhandeling in antropologie van Adriana Steyn. Ek het dit afgelaai, deurgelees en besef ek het afgekom op die bron van al die inligting wat ek benodig. Ek het mevrou Steyn gekontak en met kenmerkende Afrikaner-vrygewigheid het sy my volledige toegang tot haar dertien jaar van navorsing en veldwerk gegee. Ons het saamgespan en die resultaat van ons poging is die toneelstuk wat vanaand hier opgevoer word. Soos ek telkemale in die verlede gedoen het, het ek besluit om die regie van hierdie première-vertoning – wat heel moontlik my laaste toneelstuk is – te behartig.
Athol Fugard
Regisseur / Medeskrywer
Athol Fugard is ’n Suid-Afrikaanse dramaturg en geleentheidsregisseur en -akteur. Sy vyftig jaar van dramaturgie sluit in: The Blood Knot, Boesman and Lena, Master Harold … and the Boys, The Road to Mecca en The Train Driver.
My eerste ontmoeting met die Karretjiekinders en hul gesinne was ongeveer ’n jaar voor die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994. Kort daarna het ek vir ’n magistergraad, as deel van ’n departementele projek in antropologie, aan die Universiteit van Suid-Afrika geregistreer. Die navorsingsgebied was aanvanklik vyf semi-permanente uitspannings in die Colesberg-distrik van die Karoo. Die besluit is geneem om dit af te baken tot die gemeenskap by die Seekoeirivierbrug-uitspanning, wat ek op ’n deurlopende en gereelde basis vir ongeveer ’n dekade besoek het en waar ek uiteindelik hegte verhoudings met die kinders en hulle gesinne daar gevorm het. Die skaapskeerders van hierdie Karretjiegemeenskap was steeds, in teenstelling met van die ander wat reeds ’n meer gevestigde bestaan begin voer het, volledig rondtrekkend tussen plase in die distrik en hul semi-permanente uitspanning by die brug. Die doelwit van die studie was om te bepaal hoe hoë vlakke van ruimtelike en geografiese mobiliteit, asook huishoudelike fluïditeit en veranderlikheid die kinders se bestaan beïnvloed.
In Februarie 2011 het ek ’n navraag van Mannie Manim, ’n jare lange vriend en werkgenoot van Athol, ontvang waarin hy wou weet of ek die persoon is wat die verhandeling getiteld Childhood: An Anthropological Study of Itinerancy and Domestic Fluidity Amongst the Karretjie People of the South African Karoo gedoen het. ’n Dag later het Athol uit San Diego ’n e-pos gestuur waarin hy openbaar dat hy reeds twee keer deur die verhandeling gelees en gewerk het en van voorneme is om ’n toneelstuk oor die onderwerp te skryf. Sy navraag was of ek sou instem dat hy kontak behou indien daar enige vrae of onduidelikheid opduik. Uiteindelik het ons die onderwerp breedvoerig bespreek en gedagtes gewissel oor moontlikhede vir en verwerking van die toneelstuk.
’n Paar maande later, tydens die produksie van The Birdwatchers in Kaapstad, het Athol my tuis in Johannesburg besoek waartydens hy versoek het dat ek aktief betrokke raak en meewerk aan die stuk en die uitvoering daarvan. Met sy versoek het hy sy “notebook” waarin sy eerste gedagtes aangeteken is oor wat uiteindelik Die laaste karretjiegraf sou wees, aan my oorhandig en op hierdie wyse is ons samewerking oor ’n tydperk van twee jaar gesmee. Daarin is onder meer opgeteken: “… The Karretjie children of S.A. Steyn’s dissertation – a fund of dark and deeply disturbing stories … They have an epic proportion … I know I am in touch with the potential for an epic Karoo story … Is the Karretjie children going to be my first and most probably only Afrikaans play?”
Ná sy terugkeer na San Diego het ons hoofsaaklik telefonies en per e-pos gekommunikeer oor die verskillende moontlikhede en inhoud van die eerste konseptualisering van die stuk. Dit het behels dat Athol gedeeltes in Engels na my gestuur het, wat ek op my beurt verwerk het in Afrikaans, met die besondere taalgebruik en gesegdes van die Karretjiemense daarin verweef. Sekere gedeeltes van die teks en konteks het ek oorspronklik in Afrikaans geskryf en na hom gestuur vir verdere oorweging. Baie daarvan is uiteindelik in die toneelstuk gebruik en vervat.
Tydens Athol se terugkeer na Suid-Afrika teen die einde van 2011 het ons Colesberg vir ’n paar dae besoek in ’n poging om die karretjieskeerder en sy kinders wat sentraal in die stuk figureer op te spoor en hul toestemming te vra vir die gebruik van gedeeltes van hul lewensverhaal. Ons eerste bestemming was die brug-uitspanning waar die grootste gedeelte van my navorsing en veldwerk gedoen is. Dit was verlate met bykans geen teken van ’n gemeenskap wat dit eens op ’n tyd hul tuiste genoem het nie. Ons het stil staan en kyk, later begin drentel, stukke oorblyfsels opgetel, ’n paar plekke uitgewys en toe ons soektog na Koot en sy kinders voortgesit. Dit was die Plaatjies-gesin, op pad dorp toe met hul donkiekar, wat ons ingelig het ons sal Koot in Tamatiestraat opspoor. By verdere navraag het ons Koot uiteindelik wel in Tamatiestraat raakgeloop. Dit was ’n hartlike herontmoeting tussen ons – ons het mekaar in vele jare nie gesien nie. Hy het intussen sy tronkstraf uitgedien en ek het my verhandeling voltooi. Ons het onder ’n peperboom op ’n sementblok gaan sit en oor vervloë tye en gebeure gesels, albei onbewus daarvan dat Athol dit alles noukeurig dophou. Na afloop van ons besoek het hy my ’n greep van dít wat hy waargeneem het, gewys en beslis gesê: “Look! Thís is our play!”
Riana Steyn
Medeskrywer
Sarah Adriana (Riana) Steyn (née Joubert) is op Winburg gebore en het op ’n plaas in die distrik Dewetsdorp in die Vrystaat grootgeword. Sy matrikuleer in 1985 aan die Oranje Meisieskool in Bloemfontein en studeer aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna is sy vir vyftien jaar as lektor aan die Departement Antropologie en Argeologie aan die Universiteit van Suid-Afrika verbonde. Hier voltooi sy haar magisterverhandeling met lof. Sy beklee ook ’n tydelike betrekking aan die Universiteit van Johannesburg. Sedert 2013 is sy ’n deeltydse lektor in antropologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy, haar man, Deon en hul kinders, Luke en Sarah-Anne woon buite Bloemfontein.
Geselskap
Sarah – Erica Wessels
Koot – Ivan Abrahams
Pienkies – Riaan Visman
Toek-Toek – Richard September
Outjie – Ephraim Gordon
Rokkies – Kim Pietersen
Produksiekrediete
Regisseur – Athol Fugard
Geskryf deur – Riana Steyn & Athol Fugard
Stelontwerp – Saul Radomsky
Beligtingsontwerp – Mannie Manim
Kostuumontwerp – Koos Marais
Klankontwerp – James Webb
Verhoogbestuurder – Juanita Van Wyk
Assistentverhoogbestuurder