Kopskoot. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
digte tuinplante onsigbaar van die straat is. Hy wag ’n kwartier voor hy sy pet en donkerbril opsit, die pakkie en knipbord neem en uitklim.
Dis net twintig treë voor hy afdraai in die doodloopstraat. Die juwelierswinkeltjie is reeds gesluit; ’n groot Closed-teken hang binne die deur. Hy het op sy vorige besoeke gesien die juwelier loop stiptelik om vieruur. Die Te huur-bord is steeds voor die leë kantore oorkant die straat. Daar is nie ’n siel in sig nie. Nogtans kyk hy vinnig rond voor hy inglip op die smal klippaadjie langs die juwelierswinkeltjie. Daar is ’n houtbank onder oorhangende boomtakke in die geplaveide agterplaas. Dit moes eers ’n woonhuis gewees het.
Dis kwart voor vyf toe hy op die bank gaan sit. Van hier af het hy ’n uitstekende uitsig op die prokureurskantore van Mostert, Van den Heever & Wolmarans. Buiten die man se rooi BMW staan daar nog net drie ander motors op die parkeerterrein – die meeste werknemers ry halfvyf.
Hy wag nie lank voor ’n gesette man met ’n klomp lêers onder die arm die gebou verlaat nie. Die man klim in ’n wit Mercedes en trek weg terwyl hy ’n sigaret aansteek. Kort op sy hakke kom ’n vrou uitgestap. Sy klim in ’n ou grys Passat. Om drie minute voor vyf stap ’n lang man uit; hy gesels op sy selfoon en lag luidrugtig. Hy klim in die blou BMW en sit nog ’n minuut lank in die motor en gesels voordat hy wegry. Nou staan net die rooi BMW onder die afdakke geparkeer.
Hy het gewonder hoe hy toegang tot die kantore gaan kry, want die voordeur sluit outomaties wanneer iemand die gebou verlaat. Maar verlede Dinsdag het hy sy antwoord gekry. ’n Paneelwa van ’n bloemiste het om kwart oor vyf ingery gekom. Die afleweringsman, met ’n groot bos blomme in die hand, het die klokkie by die voordeur gedruk. Hy het met iemand oor ’n interkom gepraat. Kort daarna het ’n man die deur vir hom oopgemaak, die blomme by hom geneem en hom betaal.
Om agt minute oor vyf klim hy oor die lae muurtjie tussen die juwelierswinkeltjie en die parkeerterrein. Hy stap met ’n gespanne lyf na die gebou, maar sy verstand is helder en sy sintuie skerp. Hy gaan nie weer opneuk nie.
Sy hand bewe net liggies toe hy die klokkie met sy kneukel druk. Hy wag ’n minuut, wat soos ’n ewigheid voel, voor ’n manstem kortaf sê: “Ja?”
Riaan Mostert.
“Goeiemiddag,” sê hy, “ek is van die Hoofwegapteek. Ek het ’n pakkie wat ek moet aflewer vir meneer Van den Heever.”
“Hy’s klaar huis toe,” sê Mostert ongeduldig.
“Hy’t gesê hier sal iemand wees wat dit sal ontvang as ek laat is.”
Mostert sug en mompel iets, sê dan: “Reg, ek kom.”
Toe die deur oopswaai, lyk Mostert geïrriteerd. Sy breë voorkop is geplooi in ’n frons, sy gesig is effe rooi en sy losgetrekte das hang windskeef oor sy borskas. “Die mense moet ophou om hul goed ná vyf hier af te lewer, ek wérk,” sê hy. “Ek het jou voertuig nie gehoor nie?”
Hy beduie in die rigting van die juwelierswinkel. “Ek het hier anderkant geparkeer. Ek was nie seker waar julle kantore is nie.”
Mostert neem die pakkie by hom.
“Meneer moet asseblief net hier teken,” sê hy en oorhandig die knipbord en pen.
Toe Mostert klaar geteken het en opkyk, is dit vas in die bek van die Heckler & Koch. Sy mond val verbaas oop. “Wat de hel …?”
“Steek jou hande in die lug en stap na jou kantoor toe.” Hy stamp die voordeur met sy elmboog toe om te sorg dat hy nie iewers vingerafdrukke los nie. “Toe, toe, kry jou gat in rat. En moenie iets probeer nie!”
Hulle stap in ’n lang gang af. Mostert se kantoor is ruim. Agter sy lessenaar is ’n ingeboude boekrak met rye indrukwekkende regsboeke. Die talle geraamde sertifikate teen die mure bevestig sy hoë kwalifikasies. Gelukkig is die blinders voor die vensters toegetrek, onmoontlik vir iemand om van buite in te kyk.
Hy beduie vir Mostert om in een van die besoekerstoele te sit. Hy gaan staan voor hom, die pistool ’n meter van die prokureur se voorkop.
Mostert se oë is bultend en wit agter die dik brillense, sy rooi gesig nou bleek. “Ek het nie geld by my nie. Ons hou ook nie geld in die kantoor aan nie. Ek sal die kluis vir jou gaan oopsluit sodat jy self kan …”
“Bly stil! Ék doen die praatwerk. En ek is nie hier om iets te steel nie, ek is hier om jou kop weg te blaas.”
Mostert se gesig verstar. “Waarom?” vra hy verslae.
Hy vertel hom. Terwyl hy praat, stroom die trane oor Mostert se bolwange, veral toe hy hoor dat Giel Lourens reeds bokveld toe is. Hy merk op die man het homself natgemaak. Die urine slaan in ’n groot donker kol op sy grys broek uit.
“Asseblief, asseblief, moenie my doodmaak nie!” begin die prokureur smeek. “Ons was nog jonk, ons het nie geweet wat ons doen nie. Ek het ’n vrou, lieflike kinders, ’n kleinkind is op pad. Ons is ’n hegte gesin.” En dan desperaat: “Ek sal jou betaal! Noem jou prys en ek betaal. Nóú, ek sal dit nóú elektronies vir jou oorbetaal! Ek sal jou nie by die polisie aangee nie, ek sweer …”
“Bly stil!” skreeu hy. “Jy mors jou bleddie asem. Jy gaan my nie omkoop nie. En moenie jou fokken veragtelike daad probeer goedpraat nie!”
Hy trek die sneller. Die skoot ruk Mostert agteroor, die stoel kantel van sy gewig en hy val met ’n dowwe slag op sy sy. Sy bril spat van sy gesig en breek in twee stukke teen die hoek van die lessenaar. Die bloed uit sy voorkop sprei uit in die vorm van ’n rooi blom op die liggrys tapyt. Die volgende skoot deurboor sy linkerslaap. Bloed boog die lug in en vlek sy wit hemp van onder die boordjie tot by die hempsak.
Hy haal eers diep asem om sy sidderende lyf te stabiliseer. Sy hande is rukkerig toe hy die pistool terug in die holster druk. Hy kyk nie weer na die lyk nie, stap haastig terug na die voordeur, neem die knipbord en pakkie wat op die vloer lê en maak die deur oop met ’n sakdoek in sy hand. Hy volg dieselfde pad wat hy gekom het.
Toe hy om die hoek stap om by die bakkie uit te kom, kom ’n motor in sy rigting aangery. Dis die grys Passat van die vrou wat vroeër die gebou verlaat het. Sy kyk vlugtig in sy rigting voor sy afdraai na die parkeerterrein.
Vir ’n oomblik staan hy besluiteloos. Sy hart klop in sy keel. Moet hy teruggaan na die gebou? Te gevaarlik. Dan hardloop hy na die bakkie. Hy sukkel om die deur oop te sluit. Hy maak ’n U-draai in die pad en krap die ratte toe hy wegjaag.
7
Kassie grawe naarstig in sy klerekas op soek na sy dasse. Ná ’n gevroetel tussen ou onderbroeke, frokkies en ’n verflenterde ferweelbroek kom hy op die bondel dasse af. Hy onthou nou hy het dit ’n paar jaar gelede daar weggepak, ná speurders nie meer verplig was om dasse te dra nie.
Hy gooi die dasse op sy bed neer. Een gly af en hy tel dit steunend op. Dis sy eerste das wat hy net ná skool gekoop het. Daar is olievlekke op die materiaal, ’n nalatenskap van die Vespa se alewige lekkasies. Merkwaardig dat ’n mens die vuil merke steeds so duidelik kan sien, dink hy. Hy slinger die das terug in die kas. Ook al amper twee en dertig jaar gelede wat hy daardie martellappie om sy nek gedra het. Hy is bly hulle dra nie meer dasse nie. Dit was net ’n nekbehangsel wat die bloedsomloop na jou kop belemmer het. En in Suid-Afrika se somers so onvanpas soos rissies in babakos. Deesdae dra hy net ’n das wanneer hy in die hof moet gaan getuig, en hy gebruik ook net die rooie wat vir dié doel agter die badkamerdeur hang. Dit pas by sy windjekker.
Hy gaan sit op die bed en hou ’n dun bruin dassie tussen sy duim en wysvinger vas. In ’n stadium was dit sy gunstelingdas. Sy oë flits oor die hoop dasse. Hy tel die roomkleurige das op wat hy op sy troudag gedra het. Marietjie se ma het dit nog vir hom uitgesoek. Wat sou van Marietjie geword het? Vandat hulle amper drie en twintig jaar gelede geskei is, het hy heeltemal kontak met haar verloor. Die troudas herinner hom aan ’n borslap, ’n breë stuk materiaal wat in daardie dae bespotlik kort geknoop is. Gelukkig het die mode mettertyd verander. Nie dat dit juis deesdae ’n verskil maak nie. Al minder mense van sy ouderdom loop met dasse rond. Nie eers meer in die kerk nie. Hoe hou