Lobola vir die lewe. André P. BrinkЧитать онлайн книгу.
weet jy dit?”
“Hy’t my gesê.”
“Ek kon ook dink dat jy hom sou ken,” sê hy venynig. “Jy pas goed in die prentjie.”
“Jy is nie juis daarop uit om my te vlei nie, nè?” Hulle steek saam ’n straat oor en sy moet vinnige treë gee om by te bly. Sy beduie vorentoe: “Ek kry my bus dáár.”
Hy reageer nie, maar gaan nietemin saam tot by die halte en bly daar staan.
“Jy sal nogal nie sleg lyk as jy jou hare kam nie, weet jy?” sê sy toe die bus stilhou. Sy vat die blink reling. “Tot siens, vreemdeling. En dankie—nietemin.” Sy gaan met die trap op en haar reënjas swiep skielik in ’n windvlagie om haar bene op.
Daar gaan die bus (waarheen, van waar, bowenal: waarom?). Toe draai hy tam om en loop die triestige môre in.
VRAELYS
1. Hoe rym jy jou handelswyse met die feit dat jy nog altyd ’n hewige afkeer van enige fisieke optrede gehad het?
2. Hoe verklaar jy die feit dat sy jou herken het?
3. Hoe verklaar jy die gerieflike manier waarop die eendstert van die toneel verdwyn het?
(c) SLAAP
met ligte deining op die groot fluïdum van ruimtelose tydlose rus en Vishnu slaap sy ewige eeue op Ananta deur nie meer inferno nie niks meer nie purgatorium miskien en eindelik kom Beatrice my tegemoet iets ligs wat sweef moontlik maar net ’n herfsblaar wat jou kan laat wens verborge wense van die wil uit vroeër tye van hoop waarvan daar niks meer oorgebly het nie Lilith die grote sondares wat aan haar seun verskyn terwyl hy slaap of die hemele wat open en ek Ignatius Loyola in my groot vertwyfeling en pyn by Pamplona en die Maagd wat met haar heilige Seun verskyn en alle twyfel en onsekerheid van my neem soos vroeër as Franciskus van Assisi in my swym gegroet Maria moeder van God vol genade en barmhartigheid soos jy verskyn het aan die boeremeisie Jeanne en in die grot aan Bernadette Aphrodite wat neerdaal van die kruine van Olimpus en in my drome kom na my Anchises vader van die groot Aeneas soos nagtelik die maan ook aan Endymion of nederiger tartender gedaante voor die jong seun in sy lusdroom as die eerste lewe uit sy lende skiet so kom jy met jou losse ligte hare stromend soos maanlig swewend êrens vandaan van waar en waarheen gaan jy later weer en wie is jy met jou lag en die vlugge sorgelose grasie van jou beweginge ligweg soos ’n kind en tog ook baie eeue wys en waarom antwoord jy my hunkerende vrae nie ek sou wou weet ek sou so graag wou weet en hoe het jy vermoed dat jy my hier sou kry slapend en wagtend dat jy moet kom na al die jare soek en swerf jy kom soos reën op die hard gebakte oopgebarste aarde op my neer soos nuwe genade op die sittende Gautama onder sy heilige wildevy Christus aan sy elf en later twaalf dissipels bymekaar kan ek jou glo en kan jy my enige bewyse van jouself verskaf jou hande na my uitsteek of net maar praat of lag dat ek kan hoor kan glo kan weet kom oor my soos die ligte wolk wat op die tabernakel rus die sagte wind wat oor Elia tas kom soos alle bekende en hoë heilige naamlose dinge en gee my iets net maar enigiets dit maak nie saak hoe min of vreemd nie net maar iets dat ek van jou kan weet of het jy werklik geen geheime nie ek weet jy glo my nie en daar is geen nodigheid voor nie kom soos enige muse na haar sukkelende kunstenaar kom Helena uit jou simmetriese verlede uit na Faust en as ek eendag weer my hare kam dan sal jy sien ek lyk nie regtig so onaardig nie maar waarheen nou onrustige gees van die gestorwe koning met jou wye dun kleed wat vou en opswaai om jou bene bly nog as jy wil ek wil van waar en waarheen eindelik en wie en wie
en eindelik slaap hy diep en droomloos voort.
VRAELYS
1. Hoe sou jy hierdie ontmoeting verklaar in die lig van alles wat hierná gebeur het?
2. Watter rol speel die effens belaglike verwysing na jou deurmekaar hare in die opset van die hele toneel?
3. Kan ’n droom enige deurslaggewende waarde hê in ’n moderne kroniek?
4. In watter mate kan die bonatuurlike ’n sensuele konnotasie hê?
(d) KAFEE
Kat op sinkplaatdak in haelstorm: musiek uit jukebox in die hoek.
Weekblad met gekleurde buiteblad: meisie met kaal ledemate uitgestal soos slaghuisvenster.
Lusteloos, bladsy na bladsy, op sy geel-en-chroomstoeltjie by sy rooi-en-chroomtafeltjie by sy halwe koppie koffie en sy moedelose worsbroodjie (want as die oubaas hom ontbyt gegee het—en dit sy eerste môre en ná die ellende van gisteraand—dan was dit nie nou nodig om hier te sit nie). Flets verhaaltjies, flets briefies-aan-die-redakteur, flets stukkies raad aan Eensaam op A. en Teleurgestel op B. en Sekswolf op Z., flets advertensies (Laat Hulle van jou Hou en jou Lief hê. Trek Populêrheid aan en Kweek ’n MAGNETIESE PERSONALITEIT. Volledige Kursus SLEGS 11/3 Verkry Pragtige Buuste en maak ’n SUKSES van u Vakansie. Volledig geïllustreer—16/-, met GRATIS Gids oor Seksuele Aangeleenthede.)
Toe skuif die geel-en-chroomstoeltjie oorkant sy rooi-en-chroomtafeltjie weg en die meisie met die suèdebaadjie en die swart langbroek kom daar sit. Hy kyk vlugtig op, verbaas, bewus van leë tafels alkant, dan weer af op sy tydskrif en koffie en broodjie.
(Diana. Miskien was dit onvermydelik, maar in ’n openbare banale kafee?)
“Jy sal heeltemal goed lyk as jy jou kuif ’n slag kam, weet jy?” sê sy skielik nonchalant, en lag.
“Jy het seker nie hier ingekom om my dít te kom sê nie, juffrou,” sê hy gebelg, snedig.
“Ek het. Waarom nie?”
“Wie is jy miskien?”
“Is dit so belangrik?”
(Hy: ‘Dit is tog nog dieselfde jý, dieselfde ék!’
Diana: ‘Dis wensdinkery, François.’ Sy lag kortaf. ‘Hoe kan ek jou trouens selfs nog “François” noem? Dit het álles verander, begryp jy nie?’)
“Kyk, juffrou: ek het niks met jou uit te waai nie; en jy nie met my nie. Laat my asseblief in vrede hier sit en lees.”
“Vind jy my nie interessant genoeg nie?” vra sy en glimlag oor die rand van sy tydskrif.
Hy sit dit vinnig neer. “Kan jy my asseblief sê wát jy presies daarmee bedoel het om hier by my te kom sit?” vra hy.
“Gesels.” Sy kyk na haar naels. “Is daar iets verkeerd mee?”
“Luister,” sê hy ergerlik, “dis hopeloos te vroeg in die môre vir dié soort ding.”
“Dis nie juis ’n kompliment nie.” Sy draai om en wink die kelner om te kom, bestel tee, en leun weer met haar elmboë op die tafel. Haar hoë borste terg teen die baadjie. “Ek het vanoggend gesien toe jy van arme ou Serfontein af kom,” sê sy.
Hy vra: “Waarom ‘arme ou’ Serfontein?”
“Waarom nie? Arme ou siel in sy eensame skemerwêreldjie.”
“Verskil dit soveel van enigiemand anders s’n?”
“Jy’s glad te jonk om só te praat.”
“Ek het ewewel genoeg rede.”
“Jy weet, sy seun was ál wat hy gehad het,” sê sy.
“Raak dit my?”
“Miskien nie. Maar vir ons skyn die son darem nog.” Sy wag dat die kelner die tee voor haar neersit en begin dan skink.
(Diana: ‘Jy besef dit tog, François: my ouers—my toekoms—ons planne, alles—al ons sekerhede—’)
Maar halfpad deur die takie kyk sy skielik op en vra: “Dink jy ek is mooi?
“Watter saak sou my opinie maak?”
“Ek voel mooi vandag.” Sy skud haar ligte hare, deurmekaar, oor haar ore terug.
“Waarop stuur jy af?” vra hy reguit.
“Op jou, miskien.”
“Jy’s gek.”