Lobola vir die lewe. André P. BrinkЧитать онлайн книгу.
weet?”
“Wat wil jy doen?”
“Niks.”
“Jy sal moet dink oor alles.”
“Ek kan nie.”
“Waarom nie?”
“Ek is self my dink. My dink is ék. En saam is ons nié.”
“Jy sal nie ver kom met slimmighede nie.”
Pouse.
“Jy weet dit tog?”
“Ek weet.”
“Dus—”
“Ek kan nie. Verstaan jy dit nie? Ek kan nie KAN NIE kan nie! Ek het genoeg daarvan gehad. Te vreeslik veel.”
“En tog is dit die enigste waaragtige MOET wat oorbly. Die rekenskap, die laaste eis, die onverbiddelike konfrontasie.”
“Dis verby.”
“Jy’t nog net rondom gesoek.”
“Is ek my broeders hoeder?”
“Is jy Kain?”
“Is ek Abel?”
“Is jy iemand?”
“Is ek iets?”
(Vroeër: die moontlikheid van engele en duiwels)
“Kan ek vir jóú iets vra?”
“Wat is dit?”
“My laaste groot vraagteken. Dis al wat ek besit.”
“Dit is?”
“Waarom het hy dit gedoen?” Stilte. “WAAROM HET HY DIT GEDOEN?”
“Wie?”
“Serfontein.”
“Ek weet nie.”
“Jy móét. Daar is geen uitdraai meer nie. Jy moet dit weet. Wáárom het hy—?”
“Jy sal dit self moet soek.”
“Wáár?”
“Dit hang af van waar jy wil uitkom.”
“Ek gee nie om nie.”
“Dan maak dit nie saak waarheen jy gaan nie.”
“—solank ek êrens uitkom.”
“Dit sal gebeur, mits jy lank genoeg aanhou.”
“Só het Alice en haar Kat ook geredeneer, en dit was ’n sprokie.”
“Is ons dan nie ’n sprokie nie?” Sug. “Soek maar net.”
“—en ek sal vind? Daar is ’n tyd dat tekste nie meer troos nie.”
“Ek probeer jou nie troos gee nie.”
“Wat dan?”
“Vuur en swaard miskien. Jy het tog nie gedink jy sal ooit weer rus kan hê nie: wie is daarvoor geskape?”
“Sal ek my in die woestyn gaan terugtrek? Klippe in brood verander?”
“Die tyd is dáárvoor ook verby.”
“Die antwoord is?”
“’n Vraag.”
“Tot siens.”
“Tot siens. Of: vaarwel.”
“Vaarwel. Amen.”
—die stasies van my kruisweg een vir een—
eerste stasie
Ek sweef astraal sweef ek en sien alles myself inkluis en sien en sweef ek astraal
Distansieer en abstraheer: dus derdepersoon enkelvoud
Interieur van kroeg.
(Maar ook: Lasarus tussen die dode en Faust by die hekse en Dante se hellevaart van Heilige Vrydag tot dagbreek Paassondag en Boccaccio se priester wat hom in die lustige jong hel van sy klein minnares begewe want daar is niks nuuts onder die son nie en alles wat is was en wat was sal wees en nietig nietig is alle dinge sê die prediker; en buitendien is die dae van die grotes verby in dié dae was daar reuse op die aarde en hel en hemel gapende alkant maar nou moet elk sy eie klein private hel maar met hom saamdra waar hy gaan—vraagstuk vir die skolastiek—vergeefs sê opnuut die Prediker.)
“—met die boom van die glas,” sê die skraal jong man by die toonbank, tam kuif oor die oë. “Een nat ring en nog een, twee; en nog een, drie: mooi patroon. Drie ringe, drie nulle. Maar jy maak ’n fout as jy meen dat nul gelyk is aan niks want dis terselfdertyd oneindig, sy dit groot of klein wat maak dit saak. Want nul is ’n simbool as jy dit so wil beskou maar nul transendeer ook die wese van blote simbool—die ewig wordende nul, eier van die Nag waaruit Prometheus gebore word. Maar kyk na my patroon. Kyk, maat. Sien jy?”
Die gelate ouer man kyk huiwerig van sy glas af weg en buig bysiende oor. “Ek sien niks,” brom hy eindelik, half paaiend. “Dis nie dat ek jou nie glo nie, nè, maar ek vra jou in alle ordentlikheid: wáár is jou danige patroon? Opgedroog—?”
“Jy’s reg, vriend. Jy’s vreeslik reg. Hy’s weg. Opgedroog. Vanmôre hier en môre daar—en waar vanaand? Hy’s weg soos alle klammigheid. Hy’s weg—my mooi klam patroon. Maar ek sal hom weer vir jou maak. (Die mens is tot skepping geroep.) Wil jy sien?”
“Nee.”
“Jy sal hom sien.”
“Ek wil nie.”
“Jy sal. Kyk net goed. Een. En nog een. Twee. En nog een—"KYK!”
“Ek het gekyk.”
“Jy het nie. Ek het jou dopgehou. My liewe vriend, ek het jou fyn dopgehou en jy het nié gekyk nie. My mooi patroon. Sal jy nou kyk, dié slag?”
“Nee. Luister eers. Jy ken dié grap? Jy moet hom ken. Die vrou wat jou geld vir jou teruggee as jy dit regkry om ses keer reg na mekaar jou doppie te klink—”
“Kyk nou goed. Hier is een, só—”
“—en die ou is toe op, en dit gaan goed, en elke slag maak hy met sy spoeg ’n merkie teen die muur—”
“—en nou nog een. Dit maak twee—”
“—en toe wil hy nou naand kyk hoeveel nóg, nè? En hy tel toe, maar die eerstes het toe al opgedroog—”
“—en nou moet jy fyn dophou, dis ’n kuns; jy vat hom só—”
“—en hy gee haar toe nog so ’n paar keer en hy tel toe weer, en dis maar weer so—”
“—en dan sit jy hom so neer, so half skuins oor die ander—”
“—‘Ag nee, bliksem,’ sê hy toe. ‘Ons begin maar weer voor.’”
“—en jy lig hom op. Hoe lyk hy?”
“Wat dink jy van die grap?”
“Watter grap?”
“Magtig, man, jy’s tog nie doof nie. Ek het jou nou net hier staan en vertel—”
“En ek het jou nou net vir die hoeveelste keer gewys—! Kan jy nie jou blerrie oë oopmaak nie?”
“Jy moenie met my kom neuk nie, maatjie. Ek kon jou pa gewees het; jou ore lê nog plat teen jou kop.”
Hy beur uitdagend vorentoe, kuif oor sy oë, arms gestut op die bruin gevlekte toonbankhout, jonk, skraal, maar hulle hou hom teë, hou hom aan die arms dat hy magteloos skud en noorsig terugdu na sy glas. “Ek sal jou nie wéér wys nie,” sê hy nukkerig. “Jy kan wag dat jy blou word, ek sal nie wéér nie.”
Glas. Glas met blink nat boom. Lig breek deur