Gerugte van reën. André P. BrinkЧитать онлайн книгу.
die regop outydse Atwater Kent met die krulmotief oor die materiaal, en die oranje halfmaan waaroor die naald verbydraai. Daar was ’n hele paar ander mense ook, wat heelnag saam koffie gedrink het. Toe Standerton se uitslag kom, het hulle begin skreeu en spring en stoele omgestamp; en waar ’n paar van die vloerplanke van boorwurm voos geword het, het oom Hennie die skrynwerker ’n gat dwarsdeur die vloer gespring en tot by sy middellyf ingesak. ’n Paar dae later is ons hele familie in Pa se ou blou ’42-Mercury die sinkplaatstofpad Kimberley toe om daar op die stasie vier ure in die moordende son te staan en wag dat doktor Malan se trein moet verbykom. Rondom die stasie het die motors ’n plaat gestaan. Ook nie net motors nie: kapkarre en donkiewaentjies in hul tientalle, van boermense wat myle en myle ver gery het, party dwarsdeur die nag, net om dié dag daar te wees as Doktor verbykom. Die trein het nie lank stilgestaan nie, seker skaars tien minute.’n Burgemeester met ’n ketting om die nek en ’n paar ander vername manne het Doktor in sy wa gaan haal en hom na die verhogie toe begelei waar die stasiemeester altyd staan as hy die drywer se briefie in die draadring vir hom aangee. Doktor het ’n paar woorde gesê: wát, onthou ek nie meer nie, ek weet nie of iemand eintlik geluister het nie. Dit was genoeg om net te sien dat hy daar is. En al die mans het hul hoede afgehaal en op hul borse vasgedruk en die vrouens het opgestaan van die kosmandjies waarop hulle gesit het. Vir my jong gemoed was daar net één analogie gewees: Jesus wat Jerusalem binnekom. En daar was van die ou ooms daar, met hulle baarde en gesigte vol twaksop en trane, wat soos Simeon sou kon gesê het: Laat nou, Here, u dienskneg in vrede sterwe, want nou het ons hom met ons oë gesien.
En toe ons terugry huis toe, het Pa net gesê: “Kinders, van nou af hoef ons Afrikaners nie meer met ons koppe op die bors te loop nie. Nou is ons baas in ons eie land.”
Natuurlik, Agt-en-veertig lê vandag ver. Baie van daardie fut is uit. Dis vandag ’n harder en ’n dringender wêreld. Mens kan ook nie altyd kaalkop in die son op ’n stasie staan nie.
Maar ons is nog hier, ’n kwarteeu later: hier waar ons driehonderd jaar gelede aangekom het. En ons het gekom om te bly. Ek sê nie dis alles goed en reg wat om ons gebeur nie. Daar is baie wat opgeruim moet word. Maar om ook sommer boedel oor te gee aan al wat swart is, dit is om die wind vir die warrelwind te verruil. Kyk hoe lyk die res van Afrika. Kyk hoe lyk die wêreld, “vry” ofte nie.
Wat ek glo, is dit: revolusies verander politieke mag, maar aan die lot van mense verander dit niks. Daar bly nog altyd party wat het en ander wat nie het nie. Die oplossing lê nie daarin dat jy jou koek gelykop tussen almal moet verdeel nie. Dit klink mooi in teorie, maar as mens in die praktyk staan soos ek, lyk dit anders: mense wil meeding, en dáártoe het hulle nie dieselfde vermoë nie, daarom kan hulle ook nie op dieselfde manier daarvoor vergoed word nie. Die enigste raad is dat jy jou koek groter moet maak, dan kry elke man ’n groter aandeel – sonder dat almal s’n ewe groot hoef te wees.
Hoe maak jy jou koek groter? Deur opleiding en aanmoediging, deur aanloklike beloning te koppel aan groter inspanning, stoot jy produksie op en maak jy jou ondernemings winsgewender. En as die swartman die dag dié ekonomiese stelsel kan hanteer, dan sal ek ook nie op politieke gebied in sy pad staan nie.
Al die “politieke bewuswording” van swartes waarvan vandag soveel gemaak word, is wesenlik net ’n politieke bewusmakery deur blankes. (Hoe kan die swartman sulke gesofistikeerde konsepte behartig as hy deur al die eeue van sy verblyf in Afrika nog nie eens by die wiel uitgekom het nie?) Die eerste prioriteit is ’n mengsel van sterk dissipline en soveel opleiding as wat die swarte van die een stadium na die volgende in staat is om te absorbeer.
Ek glo dat dit allermins gaan om blote magsug. Dit gaan om ’n behoud van waardes. Die vrede wat so lank in Suider-Afrika bly heers het (in vergelyking met die deurmekaarspul op die res van die vasteland, waar die blanke sy verantwoordelikheid en voogdyskap skandelik prysgegee het), is daaraan toe te skryf dat die Boer die land verower het met die geweer in die een hand en die Bybel in die ander. Die twee vul mekaar noodwendig aan. Deur die verkondiging van die evangelie word waardes in stand gehou (demokrasie, die prestasie van die individu, moraliteit, ons hele Westerse protestantse erfenis). En ons mag eenvoudig nie die geweer prysgee voordat die ander man ons waardes aanvaar het nie. Juis ook óns waardes – daaroor het ek geen illusie nie. Kyk hoe lyk dit in Mosambiek waar hulle ’n ander stelsel op die mense probeer afdwing.
Ek raak altyd ’n bietjie meegevoer as ek oor hierdie onderwerp begin praat of skryf (ek het dit al so dikwels voor die Rapportryers en elders gedoen), maar dit is vir my die kern van die saak. Daarom is my ekonomiese beleid, in my ondernemings, ingestel op die kanaliseer van kapitaal na die tuislande. Dáár lê die wortels. Dáár moet die lewenstandaard verhoog word. Dit is die enigste logiese manier om iets soos die geboortesyfer te laat daal: die man wat heel onder staan, teel soos ’n konyn aan; eers as hy groter ekonomiese sekuriteit verwerf, kan sy getalle beheer word.
Dit is waarom ek Bernard se standpunt moet verwerp. Ek ken baie Liberale: dit lê op die vlak van my werk. En vir party van hulle het ek groot waardering, by geleentheid selfs agting (ek praat nou nie van dié in Houghton en omstreke wat hulle “veilig” genoeg ag om hulle die weelde van liberale gebare te veroorloof terwyl hulle hul bediendes swakker behandel as enige Afrikaanse staatsamptenaartjie nie). Maar sulke mense voer myns insiens ’n futiele veldtog: hulle is besig om ’n morele stryd te stry in ’n wêreld wat deur ánder, ekonomiese, magte beheers word. En al wat hul optrede op die duur meebring, is slagoffers. Volkome irrelevante slagoffers soos Bernard, op die periferie van vandag se werklikhede.
Daarom kan ek my ook nie steur aan my Liberale vriende se verwyt dat ek kamma teer op die vettigheid van die land nie. Wat ek het, het ek verwerf. Dit is die beloning waarop ek geregtig is kragtens my ekonomiese kontrak met die land: dat ek uit hom haal wat ek kan kry; en dat die kapitaal wat ek met my vernuf en my harde werk vergader, die onderontwikkelde help om ekonomies te vorder tot waar hy groter verantwoordelikheid vir homself kan aanvaar. So baat die hele land dan daarby.
Dis ’n lang pad wat ek en my mense moes uitworstel tot hier – ek sal nog daarby kom – en dis ’n pad wat ons enduit sal bly oopbaklei as dit moet. Ons weet wat dit is om bywoners in ons eie land te wees. Dis tyd dat ons ook begin om die vrugte op ons arbeid te geniet. En ek is bereid om enige redelike toegewing of aanpassing te maak wat kan verseker dat ek behou wat ek met soveel moeite in die hande gekry het.
Dit is nie ’n abstraksie nie. Ek beleef dit daagliks self. Partykeer is dit regtig met iets soos wellus dat ek my skoene uittrek en kaalvoet oor die ongelooflike dik sagte mat van my hotelkamer loop. Of ek bestel eenuur in die nag ’n ligte ete, of iets te drinke. En soms, natuurlik, skakel ek ’n agentskap om ’n masseuse te stuur. Want al het ek nou deur hoeveel jare gewoond geraak aan dié soort luukse, iets in my kan nooit vergeet dat ek ’n kaalvoetseun was wat met gebarste voetsole winters oor die rypgrond skool toe is, of somers in hoendermis getrap het, of my knieë nerfaf geval het in die erosiesloot tussen die peperbome nie. As ek my glas whisky vertroetel, onthou ek nog Ouma se tuisgemaakte lemoenstroop op die plaas. Ek onthou hoe ek ’n koei se speen oor my gesig gehou en in my mond gemelk het; en hoe ons kleiosse gemaak het om ons visblikkarretjies te trek. Ek onthou vetkoek en gouestroop, en eiers uithaal; ek onthou skaapkop bak in ’n miershoop, en spookstories, en kaal swem in die kleidam saam met al die swart en wit seunskinders op die plaas en die buurplase, en draadtrek agter die wal om te sien wie skiet die verste, en Oupa se basstem en hadde de liefde niet.
In daardie einste kleidam het ek die naaste aan my dood gekom wat ek tot vanjaar toe nog was: toe ek ’n Sondagmiddag te diep ingeloop het agter ’n plankieskuitjie aan – die ander het my gewaarsku maar ek wou nie hoor nie – en skielik net gevoel het die modder kry my beet en ek sak weg. Ek het begin skree. Hulle het weggehol van skrik. Toe die modder my aan die heupe vat, het ek histeries geraak. Één kind het teruggekom en deur die water gespartel na my toe: ’n klonkie, sy naam was Mpilo, maar ons het hom sommer Pieletjie genoem, heeltemal gepas ook want hy’t op twaalf-dertien al ’n ding gehad wat, sweer ek, slap-slap tot halfpad by sy knieë gehang het. Hy het my beetgepak. Ons het amper saam versuip in die modderwater. Maar op die end het hy my tog daar uitgekry en ek het amper vir hom my knipmes gegee maar toe liewer op ’n sjieling besluit, baie geld vir daardie tyd. Dit alles is myne, en ek verloën dit nie. Ek kán trouens nie, al sou ek probeer. Dit is saam met my hier. Daarsonder sou ek nie kon