Judaskus. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
man se gesig. Sy groot hande smoor die kreet van onder die kussing. Die man gryp na hom en krap sy voorarms, maar hy voel dit nie regtig nie. Sy volle konsentrasie is op sy taak. Hy druk net harder af op die man se gesig. Dié se arms fladder hulpeloos rond, sy rukkende voete skop die kombers van die bed af.
Victor druk nog harder. Dit gaan makliker as wat hy gedink het. Die man weeg seker skaars sewentig kilogram. Hy’s hoegenaamd nie opgewasse teen Victor se spierkrag nie.
Ná ’n tydjie gee die man se liggaam ’n laaste stuiptrekking. Dan verslap hy skielik, sy arms val soos afgekapte bome langs sy sye.
Victor hou die kussing nog ’n rukkie oor die man se gesig, sy aandag nou by die ander. Hy hoor niks wat hom laat dink iemand het wakker geword nie.
Hy lig die kussing uiteindelik, druk met sy duim op die man se nek. Geen polsslag nie.
Hy maak seker die man se gesonde oog is toe, draai hom op sy sy, gesig weg van die ander, en gooi hom toe met die kombers sodat net ’n stukkie van sy agterkop sigbaar is.
Dan stap hy geruisloos terug na sy eie bed.
4
Die slaapkamerdeur staan oop. Reëlmatige snorkgeluide klink soos ’n lokomotief wat stoom afblaas. TJ sit die ligskakelaar aan. Veilig om dit te doen, niemand kan die huis van die straat af sien nie.
Die ou tannie ruk wakker, kom oombliklik orent. Sy het ’n slaapmussie van ’n aard op haar kop, haar oë wyd geskrik. Die oom blaas nog rustig stoom af.
“Oukei, my antie, maak jou man wakker. En gedra jou. Dan gaan nie een van julle seerkry nie.”
Toe sy haar benerige hand na haar man wil uitsteek, word hy vanself wakker.
“Wat gaan hier aan, Pop? Hoekom sit jy die lig aan?” vra hy, sy oë op skrefies. Hy het lewervlekke op sy voorkop, erg gekreukelde gesig, moet eighty plus wees.
Hy kom vinnig orent toe hy TJ-hulle sien. Steek sy hand uit na die bedkassie, haal sy valstande uit ’n glas water en glip dit in sy mond.
“Wat wil julle hê?” vra hy aggressief. “Ek hou nie geld in my huis aan nie.”
Die paar hare op sy kop staan wild orent soos ystervarkpenne, sy witgrys borshare bondel uit bo die kraag van ’n blou pajamahemp.
TJ wys vir Snake om die omie se selfoon op die bedkassie te vat.
“Ja, ja, vat dit,” sê die ou man kwaai. “Julle kan die TV-stel onder ook kry.”
TJ lag. “My omie, ons is nie hier om jou TV set te vat nie. Ons is hier vir die juwele.”
“Die juwele?” vra hy, sy onderlip bewe liggies.
“Julle kan dit nie vat nie,” sê die vrou beslis. Haar stem is skril en vol bravade. Sy druk haar mussie reg en ’n blos van ergernis versprei oor haar ingesonke wange.
“Dis in die kluis, en ek gaan nie die kombinasie vir julle gee nie,” sê die man en druk sy skerp kennetjie uitdagend vorentoe. “Vat enigiets anders wat julle wil hê.”
TJ het genoeg gehad van die twee hardegatte. Hy haal die pistool agter sy rug uit, swaai dit in die rigting van die ou vrou.
“My oompie, nou luister jy fokken mooi na my. Verander jou bleddie houding baie vinnig of die antie is op haar pad hemel toe. Dié ding het ’n silencer. Niemand gaan die skoot hoor nie.” Hy stap om die bed en druk die pistool teen die verskrikte vrou se wang, haar bravade daarmee heen.
“Ons tel net tot t-t-tien,” sê Snake.
“Julle sal nie skiet nie,” sê die ou man smalend. “Ek kan hoor julle is wit. Julle weet julle sal nie met moord wegkom nie. Julle is net agter die juwele aan.”
“Pappa, dalk moet ons maar die kombinasie gee …”
TJ hoor hoe bewe die tannie se stemmetjie. Sy’s after all die een in die firing line.
“Nee!” skreeu die ou man. Die are lê soos drade oor sy bleek kopvel gespan.
TJ druk die loop dieper in die vrou se wang. “Een,” sê hy, sy vinger gekrul om die sneller. Hy hoop sy bluf werk. Die outoppie is kliphard van die kak. Hy het dít nie verwag nie.
Die ou man beweeg skielik, duik met ’n boog na sy vrou, sy hande grypend na die pistool. Snake is vinnig op hom soos ’n mamba wat pik. Hy kry die ou man om die nek beet, pluk hom weg van sy vrou en sleep hom van die bed af. Die man skop en stoei tevergeefs.
“Ek sal die kombinasie vir julle gee!” skree die vrou histeries. “Moet hom net nie seermaak nie!”
“Só moet ’n bek praat.” TJ trek haar aan die arm uit die bed op. “Kom, antie, wys my waar’s die kluis.”
“Pop, Pop, moenie …” skree die ou man, maar Snake se arm trek stywer om sy strot. Hy hoes en proes, swaai sy arms wild rond, ’n spartelende naaldekoker wat deur ’n spinnekop gevang is.
By die deur kyk TJ terug na Snake. “Hou hom kalm tot ons terug is.”
Hy en die tannie loop af met die trappe, sy voor. Haar knobbelrige skouers ruk kort-kort van skok. Dis haar ou hardegat man se skuld, dink TJ. Hulle kon die ding sonder trauma gedoen het.
In die studeerkamer sit sy die lig aan, stap na ’n houtpaneel teen die muur wat sy maklik met haar handpalm wegskuif. Haar vingers bewe terwyl sy die kombinasieslot van die ingeboude kluis draai. Sy maak die swaar deur steunend oop.
TJ fluit saggies deur sy tande. Die binnekant van die kluis skitter. V se navorsing was reg. Stinkrykgatte wat so graag die antie se juwele afgeshow het by grand paarties. Hy het die koerantfoto’s gesien, die antie wat altyd geblink het van die klippies.
Hy haal die plastieksakke uit sy broeksak. Wonderlike goed wat so klein opvou soos koeverte, maar wanneer jy dit oopvou, kan jy ’n maand se groceries inlaai. Hy beveel haar om die een sak oop te hou en werk vinnig. Toe die eerste een halfvol is, gee hy die tweede sak vir haar aan. Dié maak hy ook amper halfvol.
“Wat’s dié?” Hy wys na die klomp plat kartonhouers onder in die kluis.
“My man se seëlversameling,” sê sy met ’n snik in haar stem.
“Ons los dit maar vir die oom,” sê hy, maar hy maak eers seker die tannie lieg nie. Hy maak een houer oop. Wel seëls.
Hy skrik toe hy voetstappe agter hom hoor. Dis Snake.
“Waar’s die outop?” vra TJ.
“Bo in die k-k-kamer, v-v-veilig vasgemaak.”
TJ wonder vlugtig hoe Snake dit reggekry het om die spartelende man op sy eie vas te maak. “Nou kom, laat ons die antie ook daar gaan vasmaak.”
“Ons doen dit s-s-sommer hier.”
Snake het ’n klomp dasse saamgebring. Hulle werk vinnig, maak seker sy is stewig vas aan die stoel. Snake druk ’n sakdoek in haar mond en gebruik ’n das om haar mond toe te bind.
“Sorry vir die inconvenience, antie,” sê TJ, “maar ons groet nou.”
’n Grys kat kom agter die lessenaar uit en spring op haar skoot. “Darem bietjie geselskap vir antie,” sê TJ toe hulle uitloop.
“Ek het die telefoondraad k-k-klaar geknip,” sê Snake. “Kom ons fo-fokof.”
TJ kyk vinnig na hom. Daar’s ’n dringendheid in Snake se stem wat hy nie ken nie. Die ou is normaalweg die cool cat van hulle twee.
Buite op die patio bel hy vir Daisy op sy selfoon. “Jy kan maar kom. Ons kry jou by die hek.”
Snake slinger die oom se selfoon tot in ’n bedding krismisrose. Hulle hardloop hek toe, elkeen met ’n sak in die hand. Daisy wag reeds in die luierende BMW.
Toe hulle in is, haal hulle die balaklawas af en trek hul handskoene uit. Daisy trek rustig weg. Nie vannag nodig vir skreeuende tyres nie.