Pirana. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
is selde op kantoor.
Natasha . . . As dit nie vir haar was nie, het hy hom lankal aan dié spul onttrek. Maar haar geesdrif vir die job is aansteeklik elke keer wanneer hulle ontmoet.
Toe Tim drie jaar gelede van Amerika ingevlieg het vir die onderhoude met voornemende bestuursbeamptes, het hulle nooit vermoed hulle keuse sou op háár val nie. ’n Gewese model van die internasionale loopplanke was beslis nie versoenbaar met wat hulle in gedagte gehad het nie.
Boonop het hardebaarde in natuurbewaring tou gestaan vir die pos, manne met jare se ondervinding. Op vyf-en-twintig was Natasha nog nat agter die ore. Al rede waarom hulle teensinnig ’n onderhoud aan haar toegestaan het, was dat sy ná haar modelloopbaan twee jaar by die Conservation Action Trust gewerk het.
Sy het kop en skouers bo die ander kandidate uitgetroon. Dit was die manier waarop sy hul vrae tydens die onderhoud beantwoord het wat hulle geswaai het. Nie een van die ander kon met soveel intelligensie en kundigheid oor bewaring praat nie. Boonop het sy ’n duidelike visie gehad, wat IESA se rol vir hom en Tim feitlik herdefinieer het. Hulle kon haar nie gou genoeg ’n aanbod maak nie.
Sedertdien het sy IESA uitgebou tot ’n onmisbare komponent van Suider-Afrika se stryd teen renoster- en olifantstropers. Trouens, Sanparke se grootbaas het al aan Werner erken dat die krisis in veral die Krugerwildtuin baie groter sou gewees het as dit nie was vir IESA se proaktiewe ontledings van stropers se bewegings nie. “Natasha van der Merwe en haar span het ons ’n kompeterende voordeel gegee wat ons nooit voorheen in Suid-Afrika gehad het nie,” was sy presiese woorde. Soortgelyk aan wat Zimbabwe en Mosambiek se bewaringsmense onlangs aan Werner gesê het.
En nou moet hy haar die slegte nuus gaan meedeel.
* * *
Op my heel eerste skooldag het ek die seuntjie met die alewige breë glimlag ontmoet. Ons was ewe oud en het langs mekaar in die klas vir sesjariges gesit. Een van die ander kinders het hom Smiley genoem, en ek het daarby ingeval. Dit was eers baie jare later dat hy my verbied het om sy bynaam te gebruik.
Smiley se pa was een van die min wit boere in die kontrei. Omdat Uganda ’n Britse protektoraat en nie ’n kolonie was nie, het die meeste landbougrond aan Ugandese behoort. Net ’n hand vol wit setlaars is toegelaat om grond te besit. Gevolglik was Uganda destyds een van die vreedsaamste Britse gebiede, in skrille kontras met sy buurman Kenia.
Ek en Smiley was gou beste maats. Ons het gedurende pouses gereeld oorgehardloop na my huis, waar my pa ons bederf het met gemmerbier en Ma se tertjies. Dan het ons met my karretjies of albasters gespeel totdat Pa ons teruggejaag het skool toe. Dit was sorgelose en onskuldige tye.
Later jare het Smiley my gereeld naweke plaas toe genooi, ’n plek wat vir my soos die paradys gevoel het. Ons het voëls gejag met windbukse, in die dam geswem en saam met die plaaswerkers se kinders sokker gespeel op die groot grasperk voor die huis.
Joseph, ’n paar jaar ouer as ons, was ’n uitsonderlike sokkerspeler wat ons ander telkens ore aangesit het. Ek het gou agtergekom Smiley, self ’n begaafde speler, hou nie van hom nie. Smiley wou altyd die beste wees. As Joseph die dag in ons span was, het die wedstryd vreedsaam verloop. Maar wanneer Joseph vir die teenstanders speel, het dit altyd uitgeloop op ’n stryery tussen hom en Smiley.
Joseph was die seun van een van die Tutsi’s, Rwandese vlugtelinge wat ná die Hutu-opstand van 1959 uit hul land verdryf is. Die Baganda het neergesien op hulle omdat hulle buitelanders was, en meestal brandarm. Op hulle beurt het die lenige, trotse Tutsi’s nie ooghare gehad vir die Baganda nie, wat volgens hulle lui, onbetroubaar en te kort was.
Daar was dus altyd spanning tussen die twee groepe. Diefstal is geensins in Uganda geduld nie, veral as die skuldige ’n Tutsi is. So ’n oortreder het meermale met sy lewe geboet sonder dat ’n haan ooit daarna sou kraai.
Een Saterdag – ons was dertien – het ek en Smiley met ons windbukse in die veld geloop toe ons ’n helse kabaal hoor. Dit het van oorkant die heuwel gekom en ons het dadelik soontoe gehardloop. ’n Groep Bagandas was besig om Joseph met die vuiste te slaan, met twee wat gereed staan met pangas. Joseph se gesig was amper onherkenbaar van die bloed.
Ek het histeries vir Smiley geskreeu om hulle te keer. Hy het kalm by ’n omstander verneem wat aangaan. Toe hy hoor Joseph het ’n skroewedraaier uit sy pa se stoor gesteel, het hy sy windbuks net daar neergegooi. Hy het ’n panga gegryp, die mans beveel om weg te staan en met ’n magtige swaai Joseph se slaap oopgekloof. Terwyl die Baganda lag, fluit en hande klap, het ek versteen staan en kyk hoe Smiley die panga ’n tweede en ’n derde keer swaai.
Toe Joseph neerval, het Smiley na my omgedraai met bloedspatsels wat soos sproete op sy gesig sit. Hy het die werkers opdrag gegee om Joseph net daar te begrawe, sy windbuks opgetel, sy kenmerkende verblindende glimlag gegee, en gesê: “Kom ons gaan swem.”
3
Natasha van der Merwe lyk nie soos die modelle wat in glanstydskrifte pryk nie, besef Werner elke keer wanneer hy haar sien. Ondanks haar hoë wangbene en groot, donker oë ontbreek die sagte lyne van ’n tipiese voorbladskoonheid. Daar is iets hoekigs aan haar gesig wat haar uit die kategorie van beeldskoon haal. Dalk dra die uitdagende blik in haar oë daartoe by.
Sy dra geen grimering nie, het dit ook nie nodig nie. Maar sy is sensueel verby. Sy lyk selfs aantreklik in IESA se onvleiende kakiegroen uniform.
“Môre! Jy’s vroeg,” groet sy toe sy Werner sien. “Seker darem nie van Pretoria af gery nie?”
Hy skud sy kop. “Nee, ek het gister by my broer op Vaalwater gekuier. Toe sommer vanoggend van daar af gery.”
Sy beduie na die stoel oorkant haar lessenaar. “Maak jou tuis. Kan ek vir jou ’n koue vrugtesappie bring?”
“Nie nou nie, dankie.”
Hy haal die dokument uit sy aktetas. Laat hy met die deur in die huis val en dit verby kry. Met Natasha loop jy nie ompaaie nie, jy praat reguit.
Net toe hy wil begin, lui die selfoon op haar lessenaar. Sy tel dit op, kyk na die skerm. Haar oë trek skrefies. “Dis Gert. Ek sal moet hoor,” maak sy verskoning.
Sy staan op en stap na die agterkant van die lang, smal kantoor. Werner kan nie help om haar agterna te staar nie. Die ritmiese swaai van heupe en boude is ’n vae herinnering daaraan dat sy eens op loopplanke geparadeer het, ’n gedagte wat onversoenbaar is met haar huidige reputasie as onverbiddelike jagter van wildstropers.
Hy hoor haar stemtoon styg, maar hy kan nie hoor wat sy sê nie, haar woorde uitgedoof deur die gesuis van die waaier op die vensterbank agter hom. Skande dat hulle nie lugversorging het nie, maar Natasha het self besluit dit sou oorbodig wees. “Ek is te min op kantoor om so ’n uitgawe te regverdig.”
Toe sy die oproep beëindig, kan Werner sien sy’s ontsteld. Daar is ’n ligte blos op haar wange, haar oë donkerder as gewoonlik toe sy oorkant hom kom sit. “Die Silencers het weer toegeslaan. Twee renosters dood. Hulle het die kalfie gelukkig gelos, maar . . .”
Sy sluk. “Hy’s nou skynbaar blind. Dis as gevolg van die trauma van sy ma wat weg is. Dit het al voorheen met ’n kalfie in Zim ook gebeur.”
“Waar’s hulle geskiet?”
“In die Kruger, naby Shingwedzi. Gert-hulle het vanoggend met die helikopter op die karkasse afgekom. Die veldwagters is stomgeslaan. Hulle sê hulle was gister heeldag in daai omgewing, maar hulle het niks gehoor nie.”
“Geen ander leidrade nie?”
Sy skud haar kop. “Hulle het tot die vermetelheid gehad om met ’n voertuig tot daar te ry, so daar’s darem wielspore. Die modus operandi stem ooreen met die Silencers s’n – niemand het die skote gehoor nie en die horings is losgesny, nie afgesaag of afgekap nie. Hulle moes die hele operasie binne twintig minute afgehandel het.”
Sy sug. “As ons daardie spul net kan vastrap, het ons die stryd halfpad gewen.”
Werner kug. Die stropers se tydsberekening kon nie slegter gewees het nie.