Kamikaze. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
sny in sy vel in en hy kan sy hande nie beweeg nie.
“Voete bymekaar,” beveel die stem, en Fred se enkels word vinnig vasgebind.
Hy skrik toe twee gehandskoende hande van agter af voor sy gesig verskyn. Sy mond word toegeplak met ’n breë stuk kleefband.
“Lê op jou maag.”
Fred sak af op sy knieë. Die man dwing hom neer totdat hy uitgestrek lê. Hy word aan sy voete oor die gladde houtvloer gesleep tot in die verste hoek van die studeerkamer.
Die inbreker werskaf by die lessenaar. Fred spits sy ore. Hoe het die man ingekom? jaag dit deur sy gedagtes. Als was tog gesluit.
Sy eie skuld, besef hy dan. Hy’t nie die donnerse alarm aangesit nie. Was bang die kat trigger dit weer soos gister. Die inbreker moes die huis dopgehou en agtergekom het hy is alleen hier.
Die land is in sy moer in, dink hy verslae. Misdadigers regeer nou. Dat hy hier in sy suster se huis in Rondebosch oorval word nadat hy net twee dae terug die nuus gekry het dat daar by sy woonstel in Sandton ingebreek is!
Die inbreker loop uit. Fred luister hoe sy voetstappe in die gang af verdwyn. Hy probeer sy hande loswikkel, maar die binders trek net stywer om sy gewrigte en sny dieper in sy vel.
Ná amper ’n halfuur kom die inbreker weer in. Hy sleep Fred aan sy voete terug na die lessenaar.
Toe ’n nylontou om sy nek geknoop word, begin paniek in Fred se kop hamer. Wat de hel gaan nou aan!
Die man lig hom van agter af aan sy skouers orent. “Sit op die stoel se armleuning,” beveel hy.
Fred gaan sit. Die man tel sy bene op en draai sy lyf sodat sy voete op die sitplek rus. “Staan op,” kom die bevel.
Fred kom orent. Hy sien nou vir die eerste keer die inbreker se gesig. Dis ’n man van goed in die vyftig, merk hy verbaas op. Skraal, seningrig, staan kiertsregop, soos ’n soldaat op aandag. Sy gesig is uitdrukkingloos, die dun lippe op ’n strepie getrek.
Fred ril toe hy die man se oë gewaar. Hy’t nog nooit sulke oë gesien nie – uitdrukkingloos soos glas.
Die man klim op die lessenaar, die punt van die tou in sy hand. “Ek gaan die tou aan hierdie balk bo jou kop vasmaak. Dan moet jy nie beweeg nie, anders gaan jy jouself ophang. Dis net my maatreël om te voorkom dat jy die polisie bel of alarm maak sodra ek weg is.”
Dit gaan ’n lang nag wees, besef Fred. Die huishulp kom soggens eers skuins ná sewe in. Gelukkig het sy haar eie sleutel. Maar hy gaan die hele goddelike nag soos ’n donnerse standbeeld op hierdie stoel moet staan.
Terwyl die inbreker die tou om die balk vasknoop, merk Fred sy stemopnemer is nie meer op die lessenaar nie. Ook nie sy notaboekie of die houer met die ander kassette nie.
Die alarms in sy kop lui meteens hard en aanhoudend. Hoekom sal enigiemand dít wil steel? Hy leun vorentoe om beter te kan sien, maar die tou om sy nek trek stywer.
“Ontspan net,” sê die inbreker terwyl hy van die lessenaar af klim. “Onnodige paniek kan jou lewe kos.”
Hy tel ’n rugsak op, grawe daarin en haal iets uit. Fred kan nie sien wat dit is nie. Die man moet strek om dit in Fred se hempsak te sit.
Dan pluk die man die stoel onder hom uit.
* * *
Dis al middernag, maar Kassie kan nie slaap nie.
Hy tuur na die posseëlalbums en bokse wat sy lessenaar en studeerkamervloer vol staan. Hy weet hy gaan vir homself ontsettend baie werk skep vir die volgende maande, dalk selfs jare, maar hy wend hom altyd na sy seëls in krisistye.
Dis sy manier om innerlike spanning te verlig. Seker nie altyd die beste oplossing nie, maar hy is nou maar eenmaal so geprogrammeer.
Dit was destyds juis die finale spyker in die doodskis van sy huwelik met Marietjie. Pleks dat hy hul kommunikasieprobleem uitgesort het, het hy verkies om hom toe te wikkel in sy seëlkokon.
’n Klompie jare gelede toe hy met die Nienabersaak opgeslip het en amper sy loopbaan by die Diens kwyt was, het hy ook elke beskikbare uur aan sy seëls gewy. Tot soms siekverlof geneem om sy aandag op sy geliefde stokperdjie toe te spits.
Nou is dit weer dieselfde storie.
En om dinge te vererger, is daar niks by die werk wat sy aandag van die oproep kan aflei nie. Hy en Rooi is toegegooi met ’n klomp dodelik eentonige sakies: huisbraak, winkel- en motordiefstal, bankbedrog, ’n bende wat OTM’e opblaas …
Hy bekyk weer die stapels en bokse albums. Dit gaan ’n helse job wees. Sy seëls is nie alleen tematies gekatalogiseer nie – bome, blomme, sportlui, historiese gebeure, politici en uitvindings – maar ook in tydperke, soos sy Kaapse driehoeke en Unie-seëls, of in streeksverband, soos sy seldsame Namibiese vetplante en die voormalige tuislande se seëls. Sy versameling van abnormaliteite of foute op seëls – die verkeerde aantal wiele aan ’n trein of vreemde kleurskakerings op ’n voël se vlerke – is die indrukwekkendste in die land, dit weet hy vir ’n feit, dalk selfs in die wêreld.
Maar nou wag die gróót taak. Die werklik ernstige filateliste, van wie daar net ’n hand vol is, versamel nog veel meer inligting. Die storie agter elke seël: op watter papier dit gedruk is, watter perforasie gebruik is, watter gom en druktegniek, wie dit ontwerp het en wat die agtergrond van elke ontwerp is. Hulle hou ook lyste by van ander bekende seëlversamelaars en die omvang van húl versamelings.
En Kassie is nou van plan om hom by die crème de la crème van die filateliewêreld aan te sluit.
Alles as gevolg van die fokken oproep.
5
“Moos, die registrasienommer behoort aan I.J. Kuyler,” sê Michelle Februarie, die SSA se administratiewe beampte, oor die foon.
Sy verskaf ook Kuyler se adres – ’n woonhuis in Durbanville – en vra: “Het jy iemand nodig om te help?”
“Nee, nee, ek’s nog reg,” sê Moos vinnig. “En moet maar niks vir die baas sê nie. Ek wil hom nie nou al opgewonde maak nie.”
Hy wil nie met ’n ander veldagent opgeskeep sit nie, hierdie saak is sýne. Niemand gaan sy donder steel nie. Buitendien is Max Tsotsobe net tydelik sy baas; sy direkte baas is afgeboek ná ’n ligte hartaanval.
Toe Moos hom twee weke gelede in die hospitaal in Panorama besoek het, het hy gesê dis nou Moos se groot kans om te wys van watter staal hy gegiet is. “Kontak my as jy iets nodig het, maar los Max Tsotsobe uit die mix.”
Sy baas en Max het al twee aansoek gedoen vir ’n hoër pos by die hoofkantoor in Pretoria, en juis daaroor kan hulle mekaar nie verdra nie.
“Dankie dat jy bereid was om so vroeg kantoor toe te gaan om die inligting te kry, Michelle,” sluit hy die gesprek af.
Vanoggend ry Moos met sy eie kar. Hy gaan nie kanse waag nie; Kuyler het die Golf gisteraand by Khan se huis gesien.
Die oggendverkeer vanaf sy woonstel in Nuweland is aanvaarbaar. Hy ry teen die stroom en is vinnig op die N1. Gelukkig ken hy die Durbanville-omgewing.
Om halfagt stop hy in die straat waar Kuyler woon. ’n Halfuur later trek die donkergrys Mercedes by die erf uit. Hy bekyk in die verbyry Kuyler se huis, ’n onaansienlike dubbelverdieping met ligpienk mure.
Moos hou ’n veilige volgafstand. Op die N1 in die stad se rigting vleg hy deur die verkeer om nader aan die Merc te kom. Dis een van admiraal Canaris se vyf goue agtervolgingsreëls: “Hou op ’n besige pad net ’n kar of twee tussen jou en die persoon wat jy volg.”
Toe die verkeer voor die M5-afrit amper tot stilstand kom, probeer Moos die skuldgevoel besweer dat hy nie vandag Khan se huis dophou nie. Hy het vanoggend nugter oor die saak gedink en toe die groot besluit geneem. In drie en ’n half weke het Khan nooit uit sy huis gekom nie.
“Ek sou net weer my tyd mors,” herhaal hy wat hy vir