Hans steek die Rubicon oor. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
op om dom te speel, Pa. Ons is hier omdat Pa soos ’n aartsbedrieër opgetree het. Eers ons kinders laat glo dat Pa gewillig ouetehuis toe gaan en tot die deposito klaar betaal, en toe nog groter skandes gemaak deur die ouetehuis te mislei. Die bestuur van Huis Madeliefie was omtrent in ’n toestand. Die arme mense het volle verantwoordelikheid vir Pa se verdwyning aanvaar. Hulle het nie alleen die polisie betrek nie, maar het naderhand tot soekgeselskappe georganiseer om Pa op te spoor.”
“En dit terwyl ons kinders amper dood van bekommernis was!” Carla se stem styg gevaarlik.
“Ek hét mos vir julle poskaarte uit Windhoek gestuur.”
“Poskaarte!” Carla lag haar lelike lag. “In watter eeu leef Pa? Ek het myne gelukkig drie dae gelede gekry. As dit nie daarvoor was nie, het niemand van ons geweet waar Pa is nie. Die ander se poskaarte het nou nog nie by hulle uitgekom nie. Kon Pa nie maar van daar af gebel het nie?”
“Daar was nie ’n telefoon waar ek gebly het nie,” jok hy.
“Bog,” sê Ben. “Pa sal in elk geval nooit weer daai flou verskoning hê nie. Ek en Carla het vir Pa ’n selfoon gekoop en Pa gaan vandag leer hoe om daarmee te werk.”
“Ek het g’n begeerte om te twiet of te twat nie.”
“Pa het nie nodig om te twiet of te … te twát nie.” Carla se skril stem laat ’n paar omstanders gesteurd na hulle kyk. “Ons gaan Pa net leer hoe om die foon te beantwoord wanneer ons bel.”
“Ja, dalk is dit ’n goeie ding. Ek gaan juis nie dadelik ’n telefoon by my nuwe woonstel hê nie.”
“Verskoon my! Woonstel? Wáárvan praat Pa?” gaan Carla se sirene af.
Ben sit sy hand op haar skouer. “Carla, nie so hard nie. Kom ons gaan sit hier iewers in ’n restaurant en gesels rustig met Pa. Dis juis tyd vir middagete en ek glo hy’s ook honger.”
“Woonstel,” prewel sy en skud haar kop.
Hulle stap in stilte na die Spur.
By die deur steek Hans vas. “Dit was ’n lang vlug. Ek moet gou ’n draai loop.” Hy leun vooroor om sy tas by Ben te vat. “Ek wil my tas ook hê, daar’s ordentlike seep in. Ek was nie my hande met daai blou jel in ’n lughawe se badkamer nie.”
“Ben, stap saam met Pa,” beveel Carla. “Ek sal solank vir ons ’n tafel kry.”
Ben gee die tas aan haar oor. Dan stuur hy Hans met ’n hand op die rug weg. “Kom, Pa. Daar’s niks met daai jel verkeerd nie.”
“Vertrou julle my nie?” vra Hans verontwaardig.
“Wel, Pa kan ons seker nie verkwalik nie. Ná die vorige keer se disappearing trick maak ons maar net seker Pa vang nie weer iets onbesonne aan nie.”
Hans snork en skud die hand van sy rug af.
In die manstoilet gaan staan hy by die krip. Ben hou hom op ’n afstand dop. Hoeveel keer moes hy nie so staan en wag dat die kind sy ding klaar doen nie? In sy kleinseuntjiedae het Ben geweier om alleen na ’n openbare toilet te gaan, sy pa moes altyd bystaan.
Nou staan Ben by.
Terwyl Hans sy hande was, brom hy: “Hierdie goed ruik aaklig.” Hard genoeg dat Ben kan hoor, maar dié ignoreer hom.
Hulle stap terug na die Spur. Carla wink hulle na ’n tafel in ’n afgesonderde hoek. “Hier kan ons ongesteurd gesels,” sê sy toe hulle gaan sit.
Die kelner is vinnig by om hulle bestelling te neem. Hans besluit op ’n ekstragroot rump steak. As hulle wil aandring op ’n ete, kan hy dit net so wel die moeite werd maak. Wie weet wanneer kry hy weer ’n ordentlike bord kos?
“Ek gaan sommer met die deur in die huis val, Pa,” sê Carla. “Ons gaan nou eers érnstig gesels. En dan, as ons klaar geëet het, wys ons Pa hoe die selfoon werk en dan vat ons Pa na Huis Madeliefie toe.”
“Ek het ander planne.”
“Nee, Pa het nie! Vergeet van enige planne … en dit sluit ’n woonstel in.”
“Bietjie sagter, Carla,” maan Ben.
Dis vir Hans duidelik dat die atmosfeer nie nou geskik is vir onderhandelinge nie. Hy sit agteroor in sy stoel. “Het julle al Suidwes-koekies geproe? Ek het ’n blik vol in my tas. Dalk kan ek vir julle elkeen enetjie …”
“Hoekom sal ons nóú koekies wil eet, Pa?” vra Ben fronsend. “Ons kos is op pad.”
“Hy probeer ons net ontspoor, Ben. Dink ons is nog kinders wat hy met koekies kan omkoop om sy sin te kry.”
Carla leun vorentoe, ’n verbete kyk in haar oë. “Absoluut niks gaan keer dat ons Pa vandag ouetehuis toe vat nie. Niks, niks, níks nie!”
“Kalm bly, Carla.” Ben kyk na Hans. “Is ons op dieselfde golflengte, Pa?”
Hy knik. “Ek sal ouetehuis toe gaan … maar eers oor so ’n jaar of twee. Ek het gedink om in ’n woonstelletjie …”
“Dit kan Pa op Pa se maag skryf en met ’n lappie afvee,” blaf Carla. “Ek wil nie weer één woord oor ’n woonstel hoor nie. Uit en gedaan!”
“Dis nie prakties nie, Pa,” sê Ben meer bedaard. “Hoeveel járre moes ons Pa nie smeek om uit die huis te trek nie? Dit was net ’n seën dat die inbreker Pa nie iets aangedoen het en …”
“Hulle breek nie by woonstelle in nie,” kap hy terug.
Ben skud sy kop. “Dit gaan nie net daaroor nie. Pa kan nie meer alleen bly nie. Pa stap aan in die jare. Wat gebeur as Pa iets in die woonstel moet oorkom?”
“Oorkom? Jy meen dood neerval! Hoekom kan ek dit nie alleen doen nie? En wat is die voordele daaraan verbonde om dit tussen ander mense in die ouetehuis te gaan doen?”
Ben sug. “Ai, Pa, ons praat nie van doodgaan nie. Pa kan ernstig siek word of val en iets breek. In die ouetehuis is daar mense om Pa by te staan. Boonop het hulle ’n wonderlike versorgingseenheid.”
“Ons wil nie onredelik wees nie, maar Huis Madeliefie is ál opsie,” sê Carla, haar stem skielik sagter. “Dis net vir Pappie se eie beswil.”
Hans tuur peinsend voor hom uit. Dit help nie om teen die donderweer te wil poep nie. Hy sal vir eers saamspeel, besluit hy.
“Reg, ek sal gaan. Wys my nou hoe werk daai foon.”
5
Toe hulle voor Huis Madeliefie se veiligheidshek stilhou, kry Hans dieselfde beklemming as destyds toe sy ouers hom vir die eerste keer by die skoolkoshuis afgelaai het.
Die stukkende lugversorger van die Avis-kar wat Ben gehuur het, help ook nie. Die bedompige kajuit laat hom uitermatig warm kry. Sy handpalms is klam en sweet loop in dun stroompies teen sy gesig af. Hulle sê dis die warmste Maartmaand nóg in die Kaap.
Hy weet nie of hy in sy volwasse lewe al ooit só bedremmeld gevoel het nie. Sy laaste, desperate poging om hierdie hel vry te spring, het ook nie gewerk nie. Die kinders het sy betoog dat hy hom eers geestelik vir die ouetehuis wil voorberei deur nog net vanaand in ’n hotel te oornag minagtend verwerp. Trouens, Carla was op die rand van ’n tamaai uitbarsting.
Die hekwag, uitgevat in ’n groen uniform en wit handskoene, kom kiertsregop en met mening nader. Sy vrae is omslagtig en oordrewe suspisieus, klink omtrent of hulle sekerheidsklaring by die Kremlin moet kry. Doel van die besoek? Gaan al die insittendes in die kar die perseel weer verlaat? Geskatte tydsduur van besoek? Volle name van die nuwe intrekker? Foonnommers van naasbestaandes? Adresse?
“Ben, vra of hy nie ons vingerafdrukke ook wil neem nie,” sê Hans vanuit die agterste sitplek.
Carla kyk kwaai om. “Gedra vir Pa! Moet in hemelsnaam nie nóg skandes maak nie.”
Hans snork toe hulle uiteindelik inry. “Mens sou sweer die Krugermiljoene