Hans gee Herklaas horings. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
Hulle lening vir strukturele herstelwerk is goedgekeur. En die bouspan kan môre al inval om die krake in die mure te takel en die stukkende dakteëls te vervang.
Hans is in so ’n goeie stemming oor hierdie verwikkeling dat hy in die ry vir Kleinboet opdrag gee om by Peregrine se padstal in te draai. “Ek betaal vir die koffie en iets om te eet, manne. Ons kan darem nie met leë mae op Hermanus aankom nie.”
“Dis nou nice van jou, Hans!” sê Kleinboet.
Hulle bestel van Peregrine se alombekende vleispasteie met sous. Toe hulle met oorgawe daaraan wegval, is die goedgekeurde lening die groot besprekingspunt.
“Nou sal die bokke immers nie meer so na die drinkplek aangetou kom nie,” sê Hans, maar hy sien Kleinboet se begrip strek nie so ver om te snap wat hy bedoel nie.
“Die klomp gegriefdes sal nie meer die paadjie na my kantoor so uittrap nie,” moet hy verduidelik.
“O,” grinnik Kleinboet, bedeeld met dalk ’n skraps meer verstand as sy ouer broer, “nou verstaan ek. Het vir ’n oomblik gedink jy beplan ’n klein wildtuintjie op die tehuis se werf.”
Hans verduidelik aan hulle hoe gelukkig die tehuis is om die lening te kry. “Met al daai krake en lekkasies sou die inwoners in die winter een ná die ander die ewige slaap ingegaan het.”
“Sê ek vir myselwers dis nie almiskie nie,” beaam Vasie sy stelling.
Terug in die bussie, stem almal saam dat hulle lanklaas sulke lekker pasteie geëet het.
“Waar presies is dié dakwoonstel van jou neef, Vasie?” vra Hans toe hulle weer aan die ry is.
“In die middedorp – uitstekend geleë om sommer te voet al jou inkopies te doen. Hy en sy vrou, Wilhelmina, besit die gebou. In die ou dae was dit die Algemene Handelshuis van Hermanus, waar jy alles en nog wat kon koop. Wilhelmina se pa, wat die eienaar was, moes iewers in die tagtigs die Handelshuis se deure weens die swak ekonomie sluit. Toe rig hy die boonste verdieping in as ’n dakwoonstel en verhuur die onderste deel aan drie sakeondernemings. En sedert sy dood in die laat tagtigs bly Herklaas en Wilhelmina daar. Hulle verhuur die onderste deel deesdae aan ’n vis-en-tjipswinkel, ’n tattoo parlour en die een of ander politieke partytjie wat dit as ’n Wes-Kaapse streekkantoor inspan. Die Havengas leef heel gerieflik op die huurinkomste.”
“Hoe oud is hulle?”
“Albei ook al aan die verkeerde kant van tagtig.” Vasie huiwer ’n oomblik. “Wilhelmina het intussen probleme in haar boonste verdieping opgetel. Haar klawers is nogals erg vals.”
“Hoe so?”
“Nee, jong, haar kop het geheel en al in die verlede vasgesteek. Sy het van kleintyd af haar pa ná skoolure in die Handelshuis gehelp. En toe direk ná matriek voltyds daar ingeval. Sy het elke produk in daardie reuseplek op die punte van haar vingers geken en was op haar dae ’n uitstekende verkoopsvrou.” Hy sug. “Maar deesdae verbeel sy haar sy verkoop steeds ware in die Handelshuis. Dis al wat oor haar lippe kom. G’n mens kan meer ’n sinvolle gesprek met haar voer nie.”
Vasie moes die frons op Hans se voorkop gesien het, want hy lag. “Maar moet jou nie bekommer nie, sy’s ’n onskadelike ou dier. Maak nog lekker boerekos en als. En Herklaas sê haar gebrabbel oor die Handelshuis se produkte, glo oor verskeie dekades heen, klink al vir hom soos agtergrondmusiek. Hy luister nie regtig meer nie.”
“Wat het die Handelshuis als verkoop?” wil Kleinboet weet.
“Die hele boksemdais. Medisyne, kruideniersware, huishoudelike toebehore, landbouprodukte, klere … noem maar op en jy sou dit daar kry.”
“Mens kry nie meer sulke plekke nie,” sê Hans en beduie na die kortbroek-safaripak wat hy aanhet. “Het dié pak in die vroeë sewentigs juis by so ’n handelshuis in die Baai aangeskaf. Maar deser dae kyk die mense by klerewinkels jou mos aan of jy van lotjie getik is as jy vir ’n safaripak vra.”
“Ja, so het die tye verander,” sug Vasie.
Hulle ry in stilte verder. Toe hulle die afdraai Hermanus toe vat, sien Hans sy ou mater het aan die slaap geraak, mond wawyd oop. Hy besluit om ook ’n rukkie te dut.
En eers toe die bussie tot stilstand kom, skrik hy wakker.
“Hier begin ons holiday nou, Hans!” skrou Vasie geesdriftig.
Hulle klim uit terwyl Kleinboet hulle bagasie uit die bakruimte haal. Hans doen eers ’n paar vinnige opwarmingsoefeninge om sy litte geolie te kry. Hy trek sy blou kniehoogtekouse op en vee sy grys leerskoene met ’n sakdoek skoon. Wil darem nie slonsig by die mense aankom nie.
Hulle groet Kleinboet. “Ons sal jou bel as jy ons moet kom haal,” sê Hans.
Die gebou se verf dop plek-plek af, maar andersins lyk dit vir Hans na ’n agtermekaar plek, heelwat groter as wat hy gedink het. Vasie beduie hulle moet om die gebou loop. “Aan die agterkant is daar trappe op na die dakwoonstel.”
Hulle sukkel met hulle tasse teen die trappe op. Die woonstel se buitedeur staan oop en Vasie neem die voortou en stap in sonder om te klop. “Kom ons gaan sit ons tasse in ons kamers neer en gaan verras ou Herklaas. Soos ek hom ken, sit hy nou in die voorkamer se sonnetjie en bak. En ek weet Wilhelmina vat elke dag dié tyd haar middagslapie.”
Die vloerplanke in die gang kraak. Vergeelde familieportrette hang skeef teen die mure en iewers saag iemand balke dat hoor en sien vergaan.
Vasie beduie vir Hans waar sy kamer is. Dis ’n ruim vertrek met ’n dubbelbed en ’n koos by die voetenent op die vloer. Die kamer ruik na kanferballetjies. Hans sit sy tas neer en maak die venster oop. Die plek het ’n ernstige behoefte aan vars lug, dink hy.
Vasie loer by die deur in. “Kom, laat ons gaan kyk waar’s Herklaas.”
Hy volg Vasie deur ’n groot kombuis waar ’n hopie vuil borde in die wasbak en kosreste op die tafel wys dat die Havengas klaar geëet het. Hulle loop in by ’n ruim vertrek wat die “voorkamer” moet wees waarna Vasie verwys het.
’n Voosgetrapte rooi mat bedek die grootste gedeelte van die plankvloer en die twee banke en paar stoele se erg ingesakte sitplekke spreek boekdele van hulle lang diensjare. In die verste hoek, waar die son deur ’n opening in die gordyne syfer, sit iemand, kaal bene voor hom uitgestrek met wollerige vlootblou pantoffels aan die voete.
Hy kom verbaas orent uit sy gemakstoel – ’n klein, krom mannetjie met ’n smal, beplooide gesiggie en twee wawielore. Hy en Vasie val mekaar om die nek. Vasie klap hom so hartlik op die blad dat hy ’n tree of wat vorentoe steier.
“Te lekker om jou lelike bakkies weer te sien,” sê Vasie.
Hy stel Hans en Herklaas aan mekaar voor en hulle skud blad.
Toe Herklaas praat, klink dit vir Hans kompleet soos ’n kokende ketel wat begin fluit – skril en deurdringend. “Julle manne is seker lus vir ’n bietjie boeretroos?”
“Watwou boeretroos,” sê Vasie en kyk vlugtig op sy horlosie. “Sê ek vir myselwers die vliegtuig is lankal verby. Dit kan seker nie kwaad doen om ons vakansie met ’n ou doppie of twee, drie af te skop nie.”
Die geskuifel van voete laat Hans omkyk. Enkele meters van hom af kom ’n lang, maer en wasbleek vrou nader in ’n sakkerige rok wat tot op haar enkels hang. Lyk kompleet vir Hans of sy van die galg gewaai het. Haar roesbruin hare is uiters dun, sodat haar wit kopvel deurskyn. ’n Regte skedel-bob, soos Liesbet altyd verwys na die vroue met sulke dun haartjies by die tehuis. Haar koeëlronde oë, diep versonke, is soos laserstrale op Hans gerig.
“Help nie jy groet haar nie, Wilhelmina registreer nie,” fluit Herklaas se stemmetjie.
Sy neem ’n paar onseker treë vorentoe, soos wat ’n mens van ’n slaapwandelaar sou verwag.
“Bron-tonikum vir floute, steek agter die blad, hartkloppings, suur en winde ná ete, heupjig, stywe litte en ’n lekkende blaas.” Wilhelmina praat in ’n singerige stem wat