Ena Murray Omnibus 26. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Maar was dit dan die spook uit haar verlede?
Die blos verdwyn van haar wange, laat hulle bleek. Was dit Clive Coertze se lippe wat hare gedwing het om oop te gaan in oorgawe? Was dit die herinnering aan Clive se liggaam wat haar Paul teen haar laat vasdruk het met ’n drang wat sy nie geweet het nog in haar kan wees nie? Was dit Clive Coertze se beeld wat in haar gedagtes en hart was toe sy Paul van Drüten se soen beantwoord het?
Vir die eerste keer in jare roep Anmar ’n beeld uit die verlede doelbewus voor haar op, probeer sy om dit duidelik te kry soos toe dit gedurig, dag en nag, verblindend helder tot in die fynste besonderheid voor haar bly sweef het. Verbaas besef sy dat sy nie daarin slaag om dit weer só intens duidelik op te tower nie.
Dis of die jare wat verby is ’n genadige wasigheid daaraan verleen het. Sy probeer stip kyk met die geestesoog, maar al wat sy sien, is vaag bekende gelaatstrekke, en dan is sy ook nie so seker of dit lewensgetrou is nie. Dit is vir haar asof die beeld agter die wasigheid na dié van Paul van Drüten wil lyk. Sy knip haar oë, konsentreer hard, maar kan nie van die gevoel ontslae raak dat die vae beeld dié van Paul van Drüten se gesig is nie.
Ergernis stoot opnuut in haar op. Hierdie Paul van Drüten het selfs nou al in haar verlede begin indring; haar herinneringe só ontwrig dat sy nie eens meer haar eie verlede kan herken nie! Wat is hierdie man besig om met haar aan te vang en hoekom, hoekom was sy so sotlik om haar bedanking terug te trek? Nou eers besef sy dat hy weer, soos altyd, sy sin gekry het. En sy, arme swaap, het onder die waan verkeer dat sy die hef in die hand het. Dat sý die voorwaarde stel.
Voorwaarde. Hoe belaglik! Sy voel iets in haar wegkrimp. Dit was totaal onnodig om so ’n voorwaarde te stel, selfs ná wat die vorige aand gebeur het. Want dit beteken niks. Hoe kan dit? Gisteraand was ’n weerspreking van alles wat tot op daardie oomblik gebeur het.
Wat hom besiel het om haar te soen, weet hy seker self nie. Hy was vermoedelik net nuuskierig om uit te vind hoe die kil, vyandige matrone, wat hom so ontegemoetkomend behandel, gaan reageer as hy haar soen. Moontlik was hy bloot verveeld – of dalk ergerlik gefrustreerd omdat hy so gejaag het om hier te kom en toe is Elsa Dreyer nie tuis nie. Hy het hom waarskynlik by gebrek aan interessanter afwisseling maar met háár vermaak.
En die volgende oggend stel sy so ’n belaglike voorwaarde aan hom, asof sy in gevaar verkeer dat hy sy attensies op haar sal afdwing in die toekoms. Hy moet op hierdie oomblik heerlik in sy hart lag, veral nadat hy haar so uitdruklik verseker het dat daar geen vergelyking tussen haar en Elsa Dreyer is nie en dat hy die gode dank dat hulle nie dieselfde smaak het nie. Wat het haar besiel? Hy sal die indruk kry dat sy iets meer in daardie soen gelees het as wat hy bedoel het en hy sal beslis wonder hoekom.
Ja, hoekom sal ’n soen van ’n man wat sy nie voor haar oë kan verdra nie haar so hewig ontstel? Sy maak sowaar ’n gek van haarself!
Daardie aand vind sy dit nog moeiliker om te probeer slaap. Toe sy wel insluimer, skrik sy ná ’n ruk wakker met ’n bewing in haar ingewande en haar wange nat van die trane. Sy vee vervaard oor haar gesig en wonder suf watter jare laas sy wakker geword het met trane op haar wange. Maar selfs nadat sy opgestaan en haar kamerjas aangetrek het, is dit of die droom nie van haar wil wyk nie.
Sy was in ’n hospitaalgang, ’n lang, eindelose gang wat tot in die verskiet strek. Sy was besig om daarin af te stap, een kilometer na die ander totdat haar voete besig sleep het en sy geweet het dat sy die einde nie sal bereik en nooit weer uit die gang sal kom nie. En toe, meteens, was daar iemand daar ver voor wat in haar rigting aangestap kom. Sy kon hom eers nie eien nie, maar hoe nader hy gekom het, hoe duideliker het hy geword, hoewel sy gelaatstrekke in ’n vreemde wasigheid gehul gebly het. Tog het sy intuïtief geweet wie dit is en sy het hom tegemoet begin hardloop, huilend-dankbaar dat hy haar kom soek het en seker daarvan dat hy haar uit die verskriklike gang kom red het.
Dit was Clive wat met uitgestrekte arms na haar aangekom het, en na wie se omhelsing sy snikkend gehardloop het. Maar net toe sy by hom kom, net toe sy sy arms om haar voel gaan, het die wasigheid wat hom omring het, skielik verdwyn en dit was Paul van Drüten se gesig wat oor haar gebuig het met daardie klein, oorwinnende glimlaggie in die een mondhoek.
Die res van die nag is ’n rustelose, sielstergende gejaag van gedagtes, ’n deurmekaar mengelmoes van die gisters en hedes wat sy self nie altyd kan onderskei nie. Moeg en mat bly Paul van Drüten se woorde in haar kop draai: “Ek verseker jou, jy het geen rede tot jaloesie nie.”
Sy vee moeg oor haar oë terwyl sy vanuit die bed lê en kyk hoe die vroeë oggendlig steelsgewys nader kruip. Sy erken dat dit seergemaak het toe hy suster Dreyer openlik bo haar gekies het om in die teater te werk. Sy erken dat sy kritiese houding, sy foutvindery, die wyse waarop hy haar so te sê uit die hospitaallewe gestoot het, haar seergemaak het. Sy erken selfs in hierdie vroeë môreuur dat sy opvallend vriendeliker houding teenoor almal, veral teenoor Elsa Dreyer, haar ongelukkig maak. Maar dit is tog natuurlik, menslik.
Maar dan weer, van wanneer af het sy meteens so menslik geword dat dit haar moet ontstig? Sy wil tog nie van die man hou nie. Sy sal nooit van hom kan hou nie.
Selfs al verander hy dramaties teenoor haar, sal dit nie help nie. Daarvoor is sy oë, sy mond, selfs sy manier van stap te bekend – dit herinner haar te veel aan die verlede om ooit iets meer as beleefdheid tussen hulle moontlik te maak.
En tog, toe sy hom daardie oggend in die gang raakloop toe sy aan diens kom, tref sy afsydige houding haar dubbel so erg en wonder sy onwillekeurig hoe dit sal voel as hy net een keer teenoor haar glimlag soos hy dit teenoor Elsa Dreyer doen.
“Goeiemôre, dokter.”
“Goeiemôre, matrone.”
Sy stem is so formeel soos hare en sy wil vinnig by hom verbystap, maar hy roep haar tot stilstand.
“Ek het tant Liefie na ’n privaat kamer laat oorplaas. Sy het vanoggend vroeg weer ’n terugslag gehad. Ek is nou op pad na haar toe. As jy wil, kan jy saamstap. Ek het nog nie tyd gehad om vanoggend by haar in te loer nie.” Hy sien haar aarseling en sy gesig verstroef. Sy oë dra meteens ’n ironiese glans. “Ek beloof ek sal jou nie op pad daarheen probeer soen nie.”
Sy ruk asof hy haar geklap het en haar waardige beheerstheid verdwyn soos mis voor die son. “Jy sal nooit weer daardie voorreg hê nie, dokter Van Drüten.”
Meteens kry sy die glimlag waaroor sy oomblikke gelede gewonder het. “Wil jy my wed, matrone?” Sy oë dartel in hare af.
Onseker kyk sy hom aan. Hierdie sy van hom ken sy nie. Hierdie ligte, amper teer terging weet sy nie hoe om te hanteer nie. Die blos, wat deesdae tot haar grootste ergernis so maklik op haar wange verskyn, is meteens weer daar; maar as haar wange warmer word, word haar grys oë beslis killer.
“Verspottigheid pas jou nie, dokter Van Drüten. En onthou asseblief ons gesprek van gister. As jy jou nie by jou belofte gaan hou nie . . .”
“Ai, matrone, ek weet van geen belofte wat ek gemaak het nie. Ek weet jy wil my net op professionele vlak ken, maar ek is ’n professionele man op alle gebiede!”
Sy hartlike lag volg haar in die gang af toe sy omdraai en vinnig in die rigting van haar kantoor verdwyn.
Tant Liefie kyk hom bestrawwend aan toe hy by haar kamer instap. Die ou liggaam is moeg ná die moeilike nag, maar die lewensvuur glinster nog in die kraalogies.
“Hoekom koggel jy altyd met haar, Dokkie?”
Hy lê ongemerk sy hand oor haar pols. “Dan het tante gehoor?” Hy glimlag skeef. “Ek het al alle maniere probeer, maar nie een was tot dusver die regte metode nie.”
“Metode vir wat?”
Hy neem sy hand weg en kyk op haar af, goedig en vol deernis. “Die regte metode om spoke weg te jaag.”
“Spoke? Watter spoke?”
“Spoke – of liewer, een spesifieke spook.”
“Kry ’n Slams uit die Kaap. Hulle is goed met spoke en goëlery en sulke dinge. My oorle pa was mos gegoël, weet jy? Hy . . .”
Hy